SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eerste verslag deur Rachelle Greeff
Eerste verslag deur Henning Pieterse
Tweede verslag deur Rachelle Greeff
Tweede verslag deur Henning Pieterse

Lees die tweede weergawe van dié storie
Lees die finale weergawe van dié storie

Oom Willem en die skottel vrugte

Madelein Smit

Die son bak oranjerooi op die riffels van die sinkdak en selfs die insekte is stil voor die vuur van die namiddag. Die bloekomboom se blare hang bewegingloos oor die stilstaande leivoor en ’n gansveer sirkel dof in die glanslose water.

Ek en oom Willem en Vikus en Dawie speel vingerbord op die stoep. Die swart hond lê hier styf teen my voet op die rooi van die stoep se vloer. Selina het vroegoggend, toe die doudruppeltjies nog aan die punte van ouma Bessie se potplante gehang het, die stoep se vloer gepolitoer. Die oorweldigende reuk van die politoer is tegelykertyd soet en bitter hier agter op my tong.

Dis warm. Vikus en Dawie het hulle hemde uitgetrek en ek kan sien hoe rooi die son hulle gister geklits het toe hulle visgevang het in die spruit. Dit lyk seer. Hulle hare is klam van die sweet. My geblomde rok klou aan my rug vas en die swart hond se tong hang by die kant van sy bek uit terwyl hy na asem hyg.

Vikus skiet eerste. Sy ghoen tref die veelkleurige kringetjie pitte dat hulle alkante toe spat. Dawie juig en gooi sy maer arms in die lug op. Dis my beurt en ek sit my voorvinger versigtig in die ghoen se gaatjie. Die babapoeier wat oom Willem netnou oor die bord gestrooi het om dit glad te maak, voel sag onder my vinger. Ek skiet, maar ek skiet niks raak nie. Die seuns gil soos hulle lag. Die swart hond hou op hyg en kyk gesteurd na hulle. Ek maak of ek niks gehoor het nie.

Dis nou Dawie se beurt. Hy tref ’n wit pit skrams en dit land kaplaks! binne-in die donker gat reg langs hom. Sy tweede probeerslag is mis. Om te wys ek is beter as hulle lag ek nie vir hom nie, maar ’n klein stemmetjie juig hier in my hart.

Nou is dit oom Willem se beurt. Ek en oom Willem is aan ’n kant, want nie een van die seuns wou aan sy kant wees nie. Almal sit en kyk met afwagting vir oom Willem, maar hy haal eers sy ou swart pyp uit sy blokkieshemp se bosak. Die seuns sug en rol hulle oë.

Oom Willem is al oud en hy het nie meer tande nie, maar sy hare is nog mooi swart. Hy het knobbelrige bruin vingers en lang arms. Sy vriendelike gesig is vol plooie, maar ek dink die plooie is omdat hy nie meer tande het nie. Sy wange is hol en nog meer hol as hy aan sy pyp trek. Sy ou swart pyp is áltyd by hom en hy het áltyd ’n hoed op sy kop, behalwe as hy in die huis is. Ouma raas met hom as hy vergeet om sy hoed af te haal in die huis.

Hy krap die ou tabak uit die pyp se ronde bol met ’n klein messie. Die messie se punt is al swart van die ou tabak. Hy stop met sy knobbelrige vingers nuwe stukke tabak in die pyp en stamp dit vas met sy duim. Skielik meng die geur van nuwe pyptabak met nuwe vloerpolitoer en ek snuif die heerlike geur behaaglik in. Oom Willem loer vir my oor sy pyp en glimlag tandeloos rondom die steel. Al sy plooie verander in diep kuiltjies en ek glimlag vir die kuiltjies.

Hy sukkel om die dun vuurhoutjie aan die brand te kry. Eers met die derde probeerslag raak die swael met ’n sjierr aan die brand. Hy druk die geel vlammetjie in die pyp se ronde bol en trek diep aan die pyp. Sy oë is toe en sy wange is heeltemal hol, sodat sy kop soos die skedel in ouma Bessie se ensiklopedie lyk. Hy smak sy lippe en vat nog ’n paar trekke voordat hy uiteindelik sy ghoen optel. Hy mik mooi na die middel van die klomp pitte en skiet ’n allemintige skoot. ’n Wit pit tol deur die lug en land met ’n harde slag tussen die ander pitte.

“Óns skiet die wit pitte, oom Willem,” sing die seuns vermakerig in ’n koor. Oom Willem kyk die seuns skeef aan en gee die pyp ’n harde trek.

Oom Willem drink elke aand ’n hele hand vol pille. Ouma Bessie gee dit vir hom saam met sy aandkoffie wat hy uit die yslike blou blikbeker met die tjip op die kant drink. Oom Willem wil nie uit ’n koppie en piering drink soos Ouma en die ander grootmense nie. Hy sê die blikbeker vat lekker baie koffie en die blik hou die koffie lank warm. Ek dink oom Willem is siek, maar ek weet nie mooi wat hom makeer nie. Ouma sê hy kan nie alleen bly nie, want hy is te siek om vir homself te sorg.

Oom Willem noem my Meisiekind en ek noem hom Oompie. Hy trek altyd my vlegsels, maar nie hard nie en dan sê hy “Tjaa, Meisiekind”. Een dag, toe Blommetjie, die koei, vir Zellie gejaag het en haar oë vol stoffies geraak het, het hy haar op sy skoot getel en die stof met ’n snesie saam met die trane uit haar oë gevee. Zellie het losgeruk en weggehardloop en ná die tyd vir hom tong uitgesteek.

My pa sê oom Willem het op sy kop geval toe hy klein was. Hy het my die plat plek agter op oom Willem se kop gewys toe oom Willem eendag nie gekyk het nie. Pa sê oom Willem het vallende siekte, maar ek het hom nog nooit sien val nie. Hy gee altyd die hoenders kos as Ouma te besig is, en partykeer, as dit koel buite is, speel hy saam met my ghiffie. Hy speel baie goed ghiffie.

Oom Willem hou van blokkieshemde en kakielangbroeke en die nuus op televisie en sy pyp. Hy is lief vir Ouma en vir ons kinders, al lag die kinders partykeer vir hom. Ek sien dit maak hom hartseer as die kinders vir hom lag.

Vikus skiet weer en hy skiet twee wittes ná mekaar in die gat. Dawie lag hard en lekker. Ek skiet per ongeluk my ghoen in die gat en die seuns dans rond van die lekkerkry. Die geel vlekkies bo die swart hond se oë hop op en af soos wat hy van die een seun na die ander kyk. Oom Willem glimlag vir my dat ek net tandvleise sien. “Toemaar, Meisiekind,” sê hy, “netnou vang ons hulle weer.” Dawie skiet skoon mis en oom Willem skiet vier pitte ná mekaar in die gat. Hy lag so lekker uit sy maag en trek weer aan sy pyp.

Dawie is boos. Hy vou sy arms voor sy bors. “Dis sommer kroekens,” sê hy. “Oom Willem kroek altyd.”

Vikus knik. “Is so,” sê hy. “Is so.” Hy klink nukkerig.

’n Diep frons kom sit tussen oom Willem se geelbruin oë en ek sien hoe sy hand begin bewe. “Toe, dis jou beurt,” sê hy vir Vikus. Sy stem is sag en bewerig. Vikus korrel vinnig en skiet ewe kordaat na die wit pit oorkant hom. Van haastigheid skiet hy mis en sy ghoen beland in die gat. Vikus pluk die ghoen woedend uit die gat uit en gee die stoel ’n skop. Die swart hond begin saggies kerm. Hy hou oom Willem dop met sy geel oë.

Ek kry dit reg om ’n swart pit raak te skiet. Dit skuif ’n klein entjie en gaan lê reg langs oom Willem se hand op die bord. Dawie plak sy ghoen op die bord neer en skiet wild. “Ag hel,” vloek hy toe die wit pit reg in die rondte tol en op dieselfde plek gaan lê. Die swart hond se fyn tjankgeluidjies het harder geword. Hy swaai sy stomp stertjie terwyl hy kerm, soos wat hy altyd maak as hy stout was en hy weet Ouma gaan met hom raas. Hy haal nie sy oë van oom Willem af nie.

Oom Willem skiet sonder om te mik. Hy tref my swart pit en ’n ander een en al twee die pitte skuif amper geluidloos in die oop swart bek van die gat in. Vikus en Dawie spring op en gooi hulle ghoens neer, terwyl hulle luidkeels te kenne gee dat hulle nie meer gaan speel nie. Oom Willem staan stadig op en vir ’n oomblik dink ek hy gaan vir die eerste keer in sy lewe met hulle baklei, want sy oë is rooi en starend, en dik, blou are bult lelik in sy nek. Vikus en Dawie bly stil en kyk met groot oë na oom Willem wat skielik lank en donker en gevaarlik lyk.

Dan val oom Willem op die rooi van die vloer neer, vinnig, soos ’n groot, lewende boom wat afgekap is. Die swart hond spring eenkant toe en begin blaf. Oom Willem se lyf trek inmekaar en dan begin hy ruk. Oop en toe gaan sy lyf, soos ’n konsertina wat hard gespeel word op ’n dans. Sy oë is wit en bolle skuim omkring sy blou lippe. Dit lyk of die swart hond hom wil byt. Ek hoor myself skree. “Ouuumaaa!” Die swart hond kom kruip tjankend agter my weg. Ek gryp hom om sy stink lyf, en steek my gesig weg in sy hare. My gesig lig vanself op uit die warm hondelyf en ek sien hoe Ouma die grootogige seuns wegsjoe en by oom Willem gaan kniel op haar jig-knieë. Sy koer saggies vir hom soos ’n mammaduif, terwyl sy oor sy rukkende kop streel.

Stadig bedaar die rukke. Oom Willem trek sy asem diep in en lê stil. Ouma haal haar sakdoekie hier voor by haar rok tussen haar borste uit en vee sy mond af. Die swart hond lek my arm hard en aanhoudend en swaai sy stomp stertjie wild. Ek is bly, want dis asof die hond vir my wil sê toemaar dis verby.

Oom Mike bring ’n glasie water. Ouma vee die sweet van oom Willem se voorkop af. Dit lyk asof hy ’n klein babatjie is wat slaap daar op die rooi politoer-vloer. Al die plooie op sy gesig is uitgevee en vir die eerste keer sien ek hoe lank sy swart wimpers is wat lê op sy bleek wange. Hy is nie rêrig oud nie, besef ek.

Vikus en Dawie loer versigtig om die stoep se pilaar. Hulle kyk na die drie grootmense op die stoep, die twee bekommerdes wat afkyk na die slapende een met die nat kakiebroek en hulle giggel hoog en skril. Skielik haat ek hulle.

Ek storm teen die stoeptrappies af, stamp hulle sweet-stink seunslywe weg voor my en my voete kies outomaties koers na die moerbeiboom toe. Die swart hond galop soos ’n perd agter my aan. Ek klouter na my mik, my eie plekkie toe. My hande gly teen die bas en ek skuur my knieë oop teen die growwigheid. Die pyn voel na niks.

Ek kry my sit in die mik en vou my arms om my knieë. Die bloed dam op teen my arm en vorm ’n waterige straaltjie tussen die stof deur. Die trane druk verwoed hier in my keel en skielik kan ek die rou snikke nie meer keer nie. Ek laat my kop sak in die holtetjie wat my arms maak en ek skree soos ek huil. “Eina, eina, eina,” huil ek. Maar ek weet ek huil nie oor die stukkende knieë nie. Ek weet dit lê dieper, maar ek kan dit nie in woorde uithuil nie.

Die swart hond kerm hier onder die boom. Ná ’n rukkie droog die trane op en loer ek tussen my bene deur na hom toe. Hy sit geduldig en opkyk na die stukkie van my lyf wat hy tussen die blare deur kan sien. Toe hy nie meer snikke hoor nie, gaan lê hy met sy plat kop op sy voorpote. Net sy geel oë loer so af en toe op na my toe.

Die blare begin sag vir mekaar fluister en ek maak my oë toe om te probeer luister wat hulle sê. ’n Koel luggie kom streel hier oor my traannat gesig en die sagtheid daarvan laat my dink aan Ouma wat so teer met arme Oompie gewerk het. Sy was nie bang of kwaad nie, net mooi en sag en vol warm liefde. Haar gekoer en gestreel het oom Willem laat beter word en hom laat slaap.

Ek hoor in my kop die seuns se gegiggel en skielik stroom die trane weer. Nou verstaan ek hoekom die kinders altyd so naar is met oom Willem. Ek verstaan Zellie se tong-uitstekery en hoekom niemand ooit aan oom Willem se kant wil wees as ons vingerbord of kaart speel nie. Ek klim uit die boom uit, my knieë nou styf en seer. Die hond staan op en wikkel sy agterlyf. Hy is bly ek voel weer beter.

Onder die boom lê die ou skottels wat ons op die ashoop opgetel het en waarmee ons gister huis-huis gespeel het. Ek soek die skottel wat die minste gate in het en stap die hitte in op pad na die vrugteboord toe. Die swart hond tou agter my aan, hygend in die son.

Ek pluk perskes en appelkose en sit dit in die skottel. Die geel en goud van die vrugte lyk soos sonkolle teen die swart geroeste skottel. Ek soek die laaste mooi rooi appels en rangskik hulle tussenin. Die son se ergste hitte is weg toe ek oplaas koers kies sementdam toe. Sorgvuldig was ek die vrugte in die lou groenerige water en vryf die perskes se hare af. Die swart hond is ’n geduldige skaduwee wat my bewegings met groot belangstelling dophou.

Die oranje sonnetjie is al besig om te sak toe ek weer die stoeptrappies opklim. Die groot huis is gehul in ’n broeiende stilte. Ek sien die plek waar oom Willem se tabak op die rooi teëls uitgestort het. Iemand het probeer om dit op te vee, maar stukkies bruin-en-geel tabak kleef nog tussen die gleuwe in die rooi teëls. My hart begin tamboer slaan en ’n groot bang kom sit in my keel. Ek vat die skottel vaster en stap rukkerig na oom Willem se kamer toe. Die plankvloer kraak ongeduldig met elke tree wat ek gee.

Die deur is toe, maar ek draai vasberade die koperknop. Dit tjierr droogweg onder my vingers. Die kamer is donker. Ek ruik Vicks en tabak en oom Willem se lekkerruikgoed. Hy lê op sy rug op die bed, ’n reiskombers tot onder sy ken opgetrek. Sy oë is toe. Skielik is dit vir my baie belangrik om met hom te praat en alles aan hom te probeer verduidelik. My stem klink so droog soos die deur se skarniere toe ek praat.

“Oom Willem,” sê ek sag. En toe ’n bietjie harder; “Oompie, dis Meisiekind wat hier is. Maak seblief toggie jou oë oop.” Gehoorsaam gaan die oë oop en ek sien die dofheid en die hartseer en die bang in sy kykers. Ek hou die skottel omhoog. “Kyk, oom Willem, dis vir jou. Lekker vrugte om jou beter te laat voel. Die perskes se hare is af en als.” Oom Willem kyk na die vrugte en dan weer na die traanspore wat lê tussen die stof op my wange. Hy maak sy oë weer toe en sy onderlip, pap sonder die tande, begin bewe. ’n Groot traan glip onder sy ooglid uit en loop eers moeisaam en toe al vinniger oor sy gesonke wang.

“Moenie, seblief, Oompie,” huil ek saam.

Hy gee ’n groot sluk en kyk weer vir my. “Dankie, Meisiekind,” sê hy met ’n toe neus. “Dis ... baie mooi van jou. Dankie.”

Ek sit die skottel op sy knopperige bene neer en vat sy hand. “Oompie moet tog nooit sleg voel oor die ander kinders so lelik is nie. Hulle is lief vir Oom. Dis net, hulle is bang.”

Hy kyk verras op na my en vra stom met net sy oë wat ek bedoel. “Hulle is bang dat hulle ook so siek kan word, Oompie. Hulle wil nie daaraan herinner word dat mens so siek kan wees nie. Dis hoekom hulle met Oom snaaks is. Hulle dink as hulle nie met Oom vriende is nie, sal die siekte hulle nie raaksien nie. En hulle is bang Oom gaan dood en die beste manier om te keer dat hulle hartseer word is om vir hulleself te sê dat hulle nie rêrig omgee nie. Eintlik, sien Oom, is hulle lelik met die siekte, nie met Oom nie.”

“En jy, Meisiekind?” Sy oë pleit by my.

“Ek is ook bang Oom gaan dood, Oom. En ek is ook bang ek word siek, maar ek weet sal nie siek raak net omdat ek vir Oom lief is nie. En ek is nie bang vir die hartseer nie, want hartseer is nie verkeerd nie. Pa sê mens kan baie seer vat voor jou hart doodgaan.”

Ek klouter op die hoë bed en vat die knipmes wat hy na my uithou. Ek skil onhandig ’n vet perske vir hom af en voel hoe die sap koel strepies oor my hand maak. Stukkie vir stukkie gee ek die geel vleisies vir hom aan en dan suig hy dit totdat hy dit kan insluk. Die swart hond sit en grynslag vir ons en af en toe gooi ek ’n stukkie perske vir hom wat hy behendig uit die lug hap. Die lug is stil en kalm in die donker kamer. Iewers blaf ’n hond en twee hoenders baklei luidkeels.

Oom Willem leun vorentoe en druk my taai hand saggies. “Tjaa, Meisiekind. Die ou lewe is snaaks. Partykeer maak hy soveel opdraandes dat mens skoon vergeet hoe voel ’n afdraande. Partykeer laat hy jou die genadeloosheid voel van ander mense se kwaadwillige oë wat niks minder as perfek duld nie. Partykeer verguis hy jou genadeloos totdat jy vergeet van die mooi en die goed. En partykeer, net so voor mens se hart doodgaan van die hartseer kry mens ’n skottel vol vrugte wat warm is van die son en die liefde.”

Hy gee my ’n tandvleise-glimlag wat sy plooie in kuiltjies omtower en daar sit ons drie, ek, oom Willem en die swart hond en ons glimlag dom, maar gelukkig, vir mekaar. Die son steek sy finale goue vinger tussen die gaping in die gordyne deur en baai die kamer vir ’n kortstondige oomblik in ’n warm gloed.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.