SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wat is SkryfNet
SkryfNet I SkryfNet II SkryfNet III

Rachelle GreeffTerugvoer deur Rachelle Greeff

Eerste verslag

(.) in f8 deur Pierre du Toit
Skaapkop deur Hannes Lotter
Drie lewens deur Ilse van Wyk
Oom Willem en die skottel vrugte deur Madelein Smit
Fontein Marchelle van Zyl

’n Paar generiese gedagtes

Vyf kortvlerk-swaels maak nie ’n kortverhaal-somer nie, maar kom ons veronderstel vir dié oefening die vyf stories is ’n aanduiding van ’n huidige geestesklimaat. Hiervolgens sit Suid-Afrikaners nostalgies oorsee, en is op ’n afstand bykans sieklik sentimenteel oor dit wat hulle as Suid-Afrika onthou. Plaaslik is ons geketting aan goor mense, siektes, weemoed, allenigheid en/of bisarre gedrag.

Aldus my positiewe invalshoek. Wat die vyf skrywers probeer sê, kry hulle in mindere of meerdere mate reg. Die lyne raas nog en “breek op”, plek-plek, maar die moontlikheid van duidelike ontvangs is nie uitgesluit nie.

Die stories wissel in trefkrag. En dis in orde so; die skrywers is immers nuwelinge in die literêre speelveld. Intussen is daar reeds genoeg om die leser uit haar/sy gemaksone te lig, te verwonder, mee te voer of te bedruk.

Tweedens, ek was verbaas oor die skoon kopie: die afwesigheid van vingerfoute, spelmisbaksels en ander stofwolle. Agterna hoor ek dis deur LitNet “skoongemaak”. Wat my herinner aan ’n briefie van die skrywer en redakteur Petra Müller destyds met my maak van my debuutstories vir Die rugkant van die bruid. Ja, sy weet dis duur, maar gee maar daardie ekstra bietjie geld uit op ’n nuwe en ’n goeie tiklint (sic), want die meeste redakteurs werk saans, hul oë is hul instrumente en as hulle swaar lees, raak hulle sommer moerig. Haar presiese woorde ontgaan my nou, maar you get my drift.

Die aanvanklike lesers van manuskripte (voor dit met genade en die vasberadenheid van ’n bulterriër boek word) is uitgewers, hul buitelesers, akademici, beoordelaars en/of agente. Dié mense doen baie van hul leeswerk aan die einde van ’n lang dag waarin hulle ook gesit en lees het. Loop vra hulle maar. Dit is so. En dis net menslik waar dat jy meer positief ingestem is jeens ’n stuk werk as dit nie soos die hond se jislaaik lyk nie. Leesbare lettertipes, die afwesigheid van tipografiese foefies, eenvoudige aanbieding, die gebruik van woordeboeke (oor en oor en absoluut sonder einde) en algemeen aanvaarbare grammatika-reëls is, en bly, belangrik. Dit het absoluut niks met tendense of talent of wat ook al te doen nie. Is ook deel van goeie PR.

Derdens ’n gedagte oor titels. Die titels, met die uitsondering van Skaapkop, is oninterressant. Sekerlik sal dié titels binne ’n bundel (titels) anders reflekteer, maar net so enkel en alleen het dit my koud gelaat. Jy weet sekerlik ’n titel is daar, onder meer, om ironiese kommentaar op die storie te lewer (of op ander stories binne ’n bundel), as samevatting van die storie of as sleutel om die verhaal vir die leser oop te sluit.

Maar in ’n kortverhaal het ’n titel ’n verdere funksie. Dis ’n teaser. Dit moet jou leser verlei. Dit moet so interessant/anders/catchy wees dat jou leser nie anders kan nie as om die eerste sin van jou storie te wil, nee, te móét, lees. Nou dadelik. Die sin wat op die eerste volg moet dan, hopelik, jou leser dwing na die tweede. En so word die sinne paragrawe en die paragrawe ’n storie en dalk het jy jou leser end-uit gevang.

Sien jou potensiële leser as iemand wat moeg, besig en lui is. Boonop is daar waarskynlik minstens tien ander dinge wat hy/sy kan doen. Dink maar net: die internet, koerante, tydskrifte, televisie, seks, kos en allerlei onnoembare ander eksotiese aktiwiteite. Jou titel moet meeding. Jou titel moet wen. (Tensy jy net vir persoonlike terapie skryf. Of vir jou ma, wat in elk geval wéét jy’s die beste skrywer wat Afrika nog opgelewer het.)

Die hieropvolgende kort opmerkings oor elke individuele storie is uiteraard persoonlik van aard. Daar’s skaars reëls. Die skryf en herskryf en wéér herskryf (ek doen dit tot vyf-en-twintig maal) is deel van die proses. Sien dit dus as voorstelle. Maak daarmee soos jy goed dink. Luister maar na jou derms ook. Dit volg alfabeties volgens die skrywer se van:

(.) in f8 deur Pierre du Toit

Besonder treffende, interessante gebruik van die foto, en die kamerawêreld, as metafoor. En dit word end-uit volgehou.

As die leser haar/sy kamera-storie ken, sal hy/sy weet wat f8 is. Ek weet bykans niks van fotografie nie en het die storie male sonder tal gelees, maar weet steeds nie wat ( .) is of impliseer nie. Ek dink jou waarskynlike leser gaan ook hiermee sukkel. Ek stel voor jy gaan soek jou titel, byvoorbeeld, by daardie “mik-en-drukdag”.

Ek kan met die anonimiteit van die karakters saamleef, maar hoekom in hoofletters? In die laaste deel van die storie geld ’n ander lettertipe (dalk is dit ’n rekenaaroordraagbare blaps?). Hoekom? Die poësie-tipografie het die liriese en nostalgiese van die inhoud bevestig, maar dis al. Ek hoop ek het dit reg gelees; ek weet nie. Die oop slot werk nie vir my nie. Dit kan ’n oop, anonieme slot wees wat die vergetelheid en vergeetlikheid van ou gesigte op ou foto’s bevestig, maar só oortuig dit my nie. Nou lyk dit of daar ’n stuk teks iewers weggeraak het. Jy kan enigiets doen as jy skryf, weet dit, maar dan moet jy dit goed doen. En hoe vreemder of raarder dít wat jy inspan, hoe sekerder moet jy die leisels in jou hand hê.

“Kaalgat plaasdam witboud swem.” Nee, nie vir dié leser nie. Dis geyk en dis sentimenteel. Pasop vir clichés. Veral as ’n mens oor ’n verlede skryf wat nou op ’n manier positief voel, is daar ’n duisend slaggate. Bv. “broeders en susters van die gemeente”. Dis lankal nie meer snaaks nie. En van “braaivleis” kom ons ook in aller ewigheid nie weg nie.

Sommige van jou foto-karakters is heel enigmaties, moenie ’n fout maak nie. Soos die meisie wat “haar lover se sportmotor gespuitverf het as straf vir sy ontroue”. (Ontroue of ontrou?) Go, girl, go!

Gaan kyk weer na sulke opeenstapelings soos “droë uit die weg uit dorpies”. Kyk ook na spelling. Paviljoene met ’n v, eerder as ’n w. Mode-dasse lees net beter met ’n koppelteken.

Laastens, wie kyk na die foto? Wie onthou? En van waar? Dit kan dalk net jou storie ’n nodige verdere skakering, of skop, gee.

Skaapkop deur Hannes Lotter

’n Bisarre riller wat goed reeds op eie voete staan. Die soort storie wat ’n mens, as dit verskerp word, vir baie lank sal onthou. Daardie skaapkop wat “tot op die naat oopvlek soos ’n ryp granaat”. Sjoe.

Maar die skrywer moet die storie reël vir reël nagaan vir taallomphede. Ek noem net ’n paar voorbeelde:

  1. Hoekom die weglating van kommas op die tradisionele plekke: dra dit iets tot die verhaal by? Nee.

  2. Gaan kyk in verklarende woordeboeke, onder meer, na die verskil in brutaal en bruut. Watter woord soek jy eintlik?

  3. Hoe val ’n kuif “bewend”?

  4. Sekerlik lê Beula se lyf swaar “teen” hom en, in dié oomblik, nie “op” hom nie.

  5. Ril ’n mens “saggies” of “liggies”? (Indien enige.)

  6. “Vyf aan hierdie tafel het vir dit gestem”. Vir dit?

  7. Ek kan, met die beste wil in die wêreld, nie ’n goue hef gedwee tussen Kerneels se hande sien wink nie.

  8. En soms is daar net te veel woorde. Bv “Elsa lag ook alhoewel ek weet sy het nog nie eers ’n slukkie van haar wyn gevat nie.” Wat van: Elsa lag ook hoewel ek weet sy’t nog nie eens ’n slukkie wyn gevat (of gehad of geneem) nie. Bedink ook die verskil tussen “eens” en “eers”.

  9. En dan ook clichés soos “onheilspellend aangluur”. Hierop volg daar ook weer een te veel “dringende” hande of knieë.


Drie lewens deur Ilse van Wyk

Hoe neerdrukkend, en met elke lees meer so. Oortuigende leë strakheid van ’n stedelike bestaan soos gesimboliseer deur die Adventure Island-masjien. Die lotto-kaartjie is nou so deel van ons soos die braaivlies, lyk my, en die “Griek se kafee”.

Ek veronderstel die drie lewens dui op die kafee-eienaar, die eilandbewonertjie (wat, ironies, meer lewe het as die twee mense) en die verteller.

Werk met lomphede. Kyk waar die direkte rede nie beter sal werk as die indirekte nie. Kyk na dialoog in aanhalings in die middel van ’n sin. Daar’s ook een te veel gemompelde‘s. Kyk, byvoorbeeld, na jou laaste sin (en die laaste sin moet bykans soveel trefkrag soos jou titel hê). Jy skryf: “Sy neem die kaartjie en met ’n gemompelde “dankie” verdwyn sy die nag in.” Ek stel iets voor soos: Sy neem die kaartjie en mompel dankie. Sy verdwyn die nag in.

Waar jy hoofletters gebruik, sal ek kursivering voorstel. Hoofletters ruk die lesende oog erg uit sy vloeigang.

Met die tyd sal die storie volkome uit die verf kom, soos redakteurs so lief is om te sê. Tyd = laat hom lê, skryf ander goed, lees en bekyk hom dan weer op ’n afstand met ’n kouer blik.

Laasgenoemde sê ek sommer vir al vyf stories.

Oom Willem en die skottel vrugte deur Madelein Smit

Dis ’n ontroerende storie wat in dié stadium mank gaan aan oordrewe gebruik van byvoeglike naamwoorde. Maak jou storie skoon hiervan, en ook van geykte uitdrukkings (bv. rou snikke). Die vertelling sal enorm baat hierby. Ewenees geyk, maar dit maak die punt duidelik: less is more.

Goeie waarnemingsvermoë (bv. hoe oom Willem vir die verteller lyk op die stoep ná die aanval), aandag aan detail en deernis met menslike flenters (“sy koer saggies vir hom soos ’n mammaduif”) tel in jou guns, maar moet dit nie oordoen met frillerige mooiskrywery nie. Tree terug van jou storie en bekyk dit met ’n kil oog. Asof dit iemand anders se storie is. Soos dit nou staan, neig dit na tydskrif-soppigheid.

Met die hoeveelste herlees het “die swart hond” vir my simbolies geword en dit moet dan bly. Maar daar is, soos bo gesê, te veel geblomde rokke en knobbelrige vingers en rooi stoepe en veelkleurige kringetjies.

Ander hinderlikhede is stelwyses. Byvoorbeeld: Hoe stap sy “rukkerig”? En: “Sy oë pleit by my.” Haal die “by my” uit, want dis net die eerstepersoonsverteller wat hier ter sprake is.

Ek hou van Meisiekind se verduideliking oor hoekom die seuns naar is met stomme oom Willem. Dis nodig dat ’n mens hieroor skryf: gesonde mense se vrees vir, en afkeur aan, ander minder gelukkiges se fisieke gebreke en letsels. Ek wonder net in dié stadium hoe oud ons verteller is? Sy’t nog vlegsels. Indien sy nege jaar oud is, bv., sou sy dié soort insig kan verwoord?

Bly by die gevoeligheid van hierdie laaste paragrawe, maar delete asseblief die oordrewe sentimentaliteit. En die aaklige holrug geryde segswyses, soos daardie finale goue vinger van die son.

Fontein deur Marchelle van Zyl

Basie, Barend en die verteller is ’n besonder armsalige troepie. En duidelik skroom die skrywer nie om hul neerdrukkende verhaal te vertel nie en sy kry dit redelik goed reg, maar dié storie is nog nie klaar nie.

Die storie wil gil, maar kry dit nog nie reg nie. Ek stel weer eens die remedie van tyd voor. Ek dink ook die verhaal vra vir meer spasie om in vertel te word. Hier gaan nog baie aan, vermoedelik.

Ek hou van die gebruik van kort sinne en paragrawe, veral in dié soort verhaal. Daar’s uitstekende frases ook. Soos: fonteine spel net trouble.

Die eerste paragraaf oortuig my glad nie. “Die brom het begin grom en die bries het begin wind”? Nee. Of mis ek iets? Ek vermoed die skrywer weet hoe dit voel om daaraan te dink om voor ’n trein in te spring. Of weet hoe lyk iemand ná dié gespring het en die trein van hom/haar maalvleis gemaak het. Dit wil ek alles loud and clear lees in die begin van die storie. In woorde en in wit spasies. Moenie uitroeptekens gebruik om die erns van iets aan te dui nie. Skryf dit uit jou uit.

Wanneer speel die storie af, wonder ek. Hier word gepraat van “die republiek”. Dalk maak dit nie saak nie; ek weet nie. Aangesien dit ’n eerstepersoonsvertelling is, is sommige frases soos “het ek besluit” onnodig. Barend stamp die verteller te gou weg. Ek wil voorberei wees op dié fisiek geweldadige deel van sy persoonlikheid, net effentjies. Hoe “fladder” die lugstrome/wind wat ’n bewegende trein maak?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.