SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wat is SkryfNet
SkryfNet I SkryfNet II SkryfNet III

Henning PieterseTerugvoer deur Henning Pieterse

Eerste verslag

Drie lewens deur Ilse van Wyk
Fontein Marchelle van Zyl
(.) in f8 deur Pierre du Toit
Skaapkop deur Hannes Lotter
Oom Willem en die skottel vrugte deur Madelein Smit

Ek behandel die verhale in die volgorde waarin ek hulle gekry het en gee telkens eers algemene kommentaar en dan spesifieke voorstelle.

Drie lewens deur Ilse van Wyk

’n Kort skets of kortkortverhaal met ’n sterk eksistensialistiese inslag waarin die “menslike toestand” metafories belig word aan die hand van ’n videospeletjie. Die “everyman/everyperson”-effek kom na vore wanneer die naamlose hooffiguur haar naam bloot as “EKKE” skryf. Die kafee-eienaar is ook naamloos, hy is bloot “die Griek”. Ek hou van die suggestie van die soeke na sin: “Wat lê aan die ander kant van die grot ...”

Voorstelle

Die verhaal kan sekerlik uitgebou word om meer betekenisvlakke tov die “drie lewens”-tema te aktiveer, maar dit werk redelik goed soos wat dit nou staan. Een voorstel: skrap dalk die laaste twee paragrawe (wat vir my ’n effe van ’n “stertjie” is en nie werklik tot die teks bydra nie, alhoewel die instap die nag in die uitsigloosheid versterk) en kyk wat gebeur: die fokus val meer op die naamlose figuur, en die naamloosheid en onpersoonlikheid word byna meedoënloos versterk.

***

Fontein deur Marchelle van Zyl

’n Redelik troostelose verhaal in drie snitte. Die titel hou ’n positiewe konnotasie in, maar dit word gou duidelik dat “fonteine ... net trouble [spel]”. Ek hou van die “sekonde-styl” in die eerste en derde snitte.

Voorstelle

Skryf dalk die eerste en derde snitte in die teenwoordige tyd — dringendheid word daardeur versterk. ’n Probleem wat daardeur kan ontstaan, is: hoe geloofwaardig is die lang, verhalende terugflits na voorafgaande gebeure, gegewe die verteller se desperate situasie op die platform? Dalk kan dit opgelos word deur ’n sin of twee na “Gryp die lewenslyn en ontsnap” in te bou waarin ’n “pouse” bereik word; die refleksie kan dan meer geloofwaardig wees. Gebruik “Ek kan (kon) nie” as losstaande sin; dit gee tyd vir “asemskep” en berei die leser meer voor op “Net soos die keer ...”

Die taalgebruik van die verteller is nie konsekwent nie. In die middelste snit word ’n spesifieke sosiolek/sleng gebruik wat nie in die eerste en derde snitte voorkom nie. My voorstel sou wees om die styl van die middelste snit regdeur te gebruik.

“Sy het seker die trane op die vars grond sien drup.” Te melodramaties.

***

“(.) in f8” deur Pierre du Toit

Die verskillende “bewegings” in hierdie skets is goed — ’n telkense “zoom”-effek van buite na binne, tot in die “binnekamer”, en van figuur tot figuur. Ek hou baie van die “stream of consciousness”-effek en die geteleskopeerde slot waarin ’n sirkelgang bewerkstellig word, soos ’n nimmereindigende rol film.

Voorstelle

Die taalgebruik kort aandag. Telkens word “wie” gebruik as betreklike voornaamwoord i.p.v. “wat”. “haarself geniet” is anglisisties. Woordorde: “... langs die see kan ontspan en ook rots klim.” “buitensporig gevaarlike kanse”. “Sy hero is Kerkorrel en hy is dus ...”

***

Skaapkop deur Hannes Lotter

’n Lekker spannings-/wraakverhaal, merendeels fyn gelaai met tekens of sleutels, soos die jaagtog in die openingstoneel wat die latere jaagtog (wat tot die verteller se ondergang lei) voorafskadu. Ek hou van die dubbelsinnige titel en die dubbelsinnigheid in “Sonder om te wag vir Kerneels se kop ...”. Die konflik en spanning tussen die verteller en Kerneels word slim voorgestel en die spanningslyn goed volgehou. Die beskrywing van die oopbreek van die skaapkop dien as goeie “voorspel” tot die moord op Kerneels. Die ontknoping is dalk te toevallig en te veel in die trant van Roald Dahl, maar dit kan werk. Die verhaal bevat talle stilistiese slordighede.

Voorstelle

Enkele taalkwessies: “en ... sprei triomfantelik reënwater ...”. Wat sprei die reënwater? “vir dit gestem”. “Beula eet ... en hulle kyk ...”. “Die ander lag met los tonge.” (Hoe lag mens met ’n los tong?) “Kerneels trom ...”. “Ek offer my sigarette ...”

Die telkens irriterende gebruik van “en”: “Joan is die ene konsentrasie ... en dit byna soos biltong eet en maak ...”. Plaas liewers ’n komma in die plek van die eerste “en”. Ditto in die sinne “Dan loop sy by my verby ...”, “Sy gaap egter net en sit die leë glas onhandig neer ...” en “Koel los ek die petrolpedaal ...”.

“Ons het nie een woord gepraat huis toe nie.” Waarom verlede tyd hier? Ditto “ ... die parkering was ongemerk”.

“Ek draai saggies die knop en maak die geoliede deur stadig oop ... kan deurskuur”. Reeds aan die begin van die paragraaf word dit genoem dat die skarniere vars geolie is.

“onbesproke vraag”?

Enkele sinne kan “opgebreek” word tot nuwe sinne om die gang en dramatiese effek te versterk: “Amper as ’n nagedagte sit ek die dolk in my sak.” “Maar dan glinster die lig op die goue hef ...” “Dan slaan ek die ruit gedemp stukkend met ’n baksteen.” “Ek knik my kop liggies. Die weerkaatsing ...”

Skep dalk nuwe paragrawe: “Sekuur trek ek die blou oorklere aan ...” (“sekuur”?) en “Die Burger se druktyd is met dertig minute uitgestel ...”.

Kyk weer na die sinne:”Haar oë dof van die pyn ...” en “Sy het Kerneels se liggaam ontdek ... op die selfoon te praat. Elsa het vertel ...”.

Ander hinderlike kwessies: Daar word oor die algemeen meer gesuggereer as uitgespel, behalwe in die grafies sinvolle moordtoneel (wat aansluit by die skaapkop-etery). Daarom is die uitspel van die “wit slaappille wat ek [in die whiskey] opgelos het” mi onnodig; versluier dié gegewe deur dit bv. later te insinueer mbt die wyse waarop Beula slaap. “ ... en sien eers die vrees en toe die dood in sy oë”. Te veel, te melodramaties. Ditto “... en vir ’n oomblik mesmeriseer haar naaktheid my ...”. “Later die middag het die dokter aan Beula dieselfde slaappille voorgeskryf as wat in die whiskey was.” Te maklik, te toevallig. Versteek hierdie gegewe eerder; laat Beula die pille bv. later aan die verteller wys.

“Caprice”/Capri?

Laat Osman vra: “Hoe laat was u by die huis?”

“Ek trippel die trappe af om die gedokterde whiskey op die grasperk uit te gooi ...” Ek dog die glas is leeg — sien twee bladsye terug.

Die foto is die verteller se doodsteek. Sal alle lesers weet watter besonderhede op so ’n foto verskyn? (Datum, plek, tyd?)

Moet die verteller nie eerder oor die bonnet van die Capri opgooi nie? (Hy sal teen ’n redelike hoek moet mik om oor die wiel te kan opgooi.)

***

Oom Willem en die skottel vrugte deur Madelein Smit

’n Sensitiewe verhaal met ’n effens argaïese allure, vertel vanuit die perspektief van ’n naïewe verteller. Deurgaans word verskillende sfere fyn, sintuiglik en redelik oortuigend opgeroep.

Voorstelle

Daar is ’n aantal stilistiese hinderlikhede. Ons lees “Oom Willem is al oud en hy het nie meer tande nie ...”. Die omskrywing in dieselfde paragraaf “ ...omdat hy nie meer tande het nie” asook die woord “tandeloos” verder aan, is lomp. So ook die beskrywing op die voorlaaste bladsy: “ ... pap sonder die tande”; mens weet darem teen hierdie tyd dat die tande uit is!

“Hy druk die geel vlammetjie in die pyp se ronde bol en trek diep.” “aan die pyp” is vanselfsprekend hier.

Bladsy 2: Drie beskrywende paragrawe wat begin met “Oom Willem ...(drink, noem, hou van) ...”. Hier word te veel direk uitgespel en die effek is stomp. Vervleg en versluier die gegewens oor oom Willem meer met die verteller se gedagtegang.

“Maar ek weet ek huil nie oor die stukkende knieë nie.Ek weet dit lê dieper, maar ek kan dit nie in woorde uithuil nie.” Is dit heeltemal kongruent met die beeld van die naïewe verteller en haar kennis? Gaan kyk hoe verhul Henriette Grové naïewe vertellers se kennis in Jaarringe.

Ditto die uitgesponne verduideliking in die paragraaf “Hulle is bang dat hulle ook so siek kan word, Oompie ... Eintlik, sien Oom, is hulle lelik met die siekte, nie met Oom nie.” Kort hierdie in.

Oom Willem se slotwoorde is ook te veel van ’n toespraak/opgebondelde “wysheid”. Kyk wat gebeur as die sinne “Partykeer laat hy jou die genadeloosheid voel ...” tot “... totdat jy vergeet van die mooi en die goed” geskrap word. ’n Sin soos “Partykeer, net so voor mens se hart doodgaan van die hartseer, kry mens ’n skottel vrugte” behoort die effek beter weer te gee. “warm van die son en die liefde” is wel liries, maar vir my te veel.

Snoei ’n paar van die adjektiewe, veral in die eerste en laaste paragrawe — “bewegingloos, stilstaande, dof, glanslose” — opeenhoping; sny een of twee. “finale” kan in die laaste paragraaf geskrap word.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.