SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Tweede verslag - SkryfNet X

Lucas Malan

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Pieter du Plessis
Illona Edwards
Magda Janse van Rensburg
Antoinette Klein
Loammi Wolf


Pieter du Plessis

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "Krismis-regime"
Die sif-beeld in die laaste strofe is verhelder én versterk deur die woord “syfer” met die woord “wurg” te vervang. So word die benouende atmosfeer in gesinsverband tydens Kersfees met al die valsheid aansienlik versterk. Die wysinging en uitbreiding van die daaropvolgende reël is egter nie so geslaag nie. Ons weet wel dat daar talle dinge “om die grense” van “duister woorde” kan “flikker”, maar waak daarteen om die leser te mistifiseer met woorde wat eenvoudig nie sin maak nie.


Oor Gedig 2 - weergawe 2: "Melville nagte"
Die outeur het enkele wysigings aangebring, maar tog verkies om sentimenele frases soos “die voetspore van my eie nostalgie” en “die plooitjies rondom jou mooi oë” te behou. Dit word dus kennelik ‘n kwessie van smaak: In ‘n liefdesvers is emosie die oorheersende element en daarom kan “mooi” woorde tog ‘n plek daarin kry. Goed en wel, maar die frase “jou jonkwees-hand” is nou verander na ‘n nóg minder verstaanbare “jou jonkword-hand”. Hoe ‘n hand deur die begrip “jonkword” oorgestel kan word, kan nie in nugter taal verklaar word nie.

In die voorlaaste reël van strofe 2 (“ons kon verdwyn het in arkades”) is die hulpwerkwoord “het” steurend, want saam met “kon” impliseer dit dat daar so ‘n moontlikheid was, maar dat die betrokkenes dit nie gedoen het nie – terwyl die res van die gedig juis ‘n herinnering aan so ‘n straatwandeling is.

In strofe 3 behoort “koffie kamers” net soos “klaviermusiek” en ander samestellings vas geskryf te word. Die wysiging van die slotreëls (met die weglating van “jou muse”) herstel ook die logika in die spreker se betoog, hoewel die voorafgaande woord “terwyl” weer iets in die tydsverloop versteur. Die gedig het nog aandag nodig.

Illona Edwards

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "Whether paraffin of lampolie"
Hierdie teks het aansienlik gebaat by die redigering van die skrifbeeld. Deur die hoofletters aan die begin van elke reël (waar dit onnodig was) uit te skakel, en deur die versreëls in afsonderlike strofes volgens hul “inhoude” te groepeer, het die gedig aan logika en impak gewen. Die sprekende ek in die gedig se redenasie of uitdagende regverdiging vir haar beroep, met die subtiele selfspot inkluis, kom nou baie sterker na vore.

Nog ‘n enkele wenk oor die skryfwyse van slengwoorde: Die elisie of weglating van sekere klanke in die spreektaal kan verwarrend wees in die skrifbeeld. Woorde soos “ma” (vir “maar”) en “vi” (by “vir”) kan die leser verwar. As die afkapten gebruik word, help dit die leser: ma’ en vi’. Ook die woord “miner” (vir “minder”) in strofe 4 kan verwar word met die Engelse woord vir ‘n mynwerker. Skryf die woord as minner (soos “ommie” in strofe 5) om die leser te help.

In die laaste strofe kan die Engelse lidwoord “a” ook oorgedra word na die volgende reël, en die lang voorlaaste reël kan ná “compare” afgebreek en die res oorgedra word na ‘n volgende reël. Dit sal die reeds treffende slotreël versterk.


Oor Gedig 2 - weergawe 2: "Ek sit op iets met wiele"
Ook hier het die weglating van verwarrende beelde, die meer logiese verloop van die spreker se gedagtes en die indeling in strofes, die gedig toegankliker gemaak. Daar is nog een reël in strofe 1 wat nie wil sin maak nie: “en die rugleuning ‘n jean kan patch”. ‘n Rolstoel se rugleuning is van leer of soortgelyke materiaal gemaak. Waarom wie ook al so ‘n stuk materiaal sal gebruik om jeans te lap, begryp ek nie.

Die problematiek van gestremdes en hul erotiese ervaring of behoeftes word sonder skroom en soms in kru terme voorgestel, maar dis tog of die versreëls nog te maklik met die en -verbinding voortstroom en so moontlike trefkrag verloor. Kyk ook na die frase “dripping tap” waar die woord “tap” nie dadelik as ‘n Engelse woord herken word nie.

Verder is dit hinderlik dat die slotreël wat so belangrik is, steeds eindig met die onvanpaste woord “begewe”. Al word dit as nuutskepping bedoel waarin ons “beskore” en “gegewe” kan herken, sal die meeste lesers dit verstaan as die werkwoord wat optree in uitdrukkings soos “My moed begewe my” of “Waarin begewe ek my nou?”


Magda Janse van Rensburg

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "Kiewiet"
Hierdie gedig het weinig afwerking nodig gehad, hoewel hierdie leser iets van ‘n openbarende insig in die slot wou sien. In watter mate die wysing in hierdie teks aan so ‘n so ‘n verwagting voldoen, sal van individuele lesers afhang.

In reël 8 is die woord “moedwillig” steeds hinderlik. Woordeboeke en die Woordelys gee net “moedswillig” aan.

Oor Gedig 2 - weergawe 2: "Vlieër"
Die vervanging van “krombeen” met “hinkend” in reël 8 suggereer nou dat die kiewiet beseer is, en dalk was dit die bedoeling, want dis bekend dat hierdie voëls voorgee dat hulle beseer is om indringers se aandag van hul eiers af te trek. Die nuwe woord is dus heel gepas.

Die geykte frase “jou hoop en drome” in reël 15 is ook vervang deur die veelseggender “hoop op oorlewing” wat nader aan die natuur en dus die konteks lê. Albei oorwoë en geslaagde wysigings.


Antoinette Klein

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "Brekvis"
Hierdie weergawe is volgens my ‘n nogal skaars voorbeeld van hoe ‘n teks gebaat het by die vorige kommentaar daarop. ‘n Hele aantal reëls en frases (soos “ek wens jy was nader”, “ek wil vir jou brekvis wees” en “in die eierpan”) is geskrap om die essensie van die vers te versterk. Enkele taalfoute is ook opgeruim en die gedig is korter, maar digter. Dis nou ‘n minder sentimentele liefdesgedig waarin ‘n alledaagse, sensuele behoefte aan lyflike genieting in ‘n uitgebreide metafoor tot stand kom. Welgedaan.

Oor Gedig 2 - weergawe 2: "Genesis"
Ook in hierdie gedig het die outeur wenke opgevolg en drasties gesnoei – helaas dalk net-net te veel.

Die versugting na die “paradys” en die “verbode vrug” het nou so versober dat die leser ‘n bietjie afgeskeep of uitgesluit voel. Dit sal nie onvanpas wees om die leser te verras met wat die aard van die “verbode vrug” in “die paradys” is nie – en waarom die spreker nou juis so skuldig voel om dit te begeer en “genade” daarvoor vra. Alle lesers is tog ook mense en aan dieselfde “verlistinge” blootgestel.

Die hersiening en verkorting van die teks is nietemin ‘n stap vorentoe.


Loammi Wolf

Oor Gedig 1 - weergawe 2: "die blues van liefde"
Hierdie hersiene weergawe is problematies omdat dit eintlik ‘n heel nuwe gedig geword het. Die titel is verander, die gedig is langer, die versreëls is korter met verskeie toevoegings soos “heuninglyf” (strofe 1), ook die hele strofe 3 waarin die Franse leenwoord “tristesse” nogal ongemaklik voorkom en so meer. ‘n Cliché soos “skugter tienerdrome” het plek gemaak vir ‘n ander een: “in die doodkis / van verwese drome” en drie strofes vroeër “’n bros granaat / gekneus in liefde”.

Die nuwe weergawe is nog steeds verward in konsep en segging en voor die outeur nie mooi weet wat sy eintlik wil sê nie, sal daar nie veel van hierdie teks gemaak kan word nie.


Oor Gedig 2 - weergawe 2: "koggelmander hoop"
Die verandering van enkele woorde soos “die oor” in strofe 4 na “my oor”, en “die vuis” in strofe 5 wat nou “die klou” geword het, is enigsins verhelderend, nes die bykomende strofe 6 met die reënboog-beeld, maar dan vertroebel die laaste strofe weer die voorafgaande. Met dié bykomende slotstrofe wil dit voorkom of die spreker versoek dat ‘n figuur wat kan “toor” die een of ander kwellende vrees uit die verlede op ‘n magiese wyse moet verwyder, maar dit bly so vaag dat die leser nie juis empaties daaroor kan voel nie.

Poësie hoef nie nadruklik te wees nie, maar te veel verhulling werk weer teenproduktief.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir IL de Villiers se tweede verslag
Klik hier vir Lucas Malan se eerste verslag
Klik hier vir IL de Villiers se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 12 Julie 2006

Wil jy reageer op SkryfNet X? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.