LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die verstommendste verskietende ster ooit

Chris van der Merwe

Op soek na generaal Mannetjies Mentz
Koop nou!
Chris van der Merwe bespreek in hierdie reeks sy twintig beste boeke van die negentigs.

Christoffel Coetzee
Op soek na generaal Mannetjies Mentz
Queillerie
1998

’n Verbasende geval in die jongste Afrikaanse letterkunde. De Kat se romanwedstryd, met ’n besonder groot getal inskrywings, word gewen deur die debuut van ’n skrywer van wie niemand nog gehoor het nie: Christoffel Coetzee. ’n Mens neem aan dat dit die debuut van ’n jong skrywer is; maar dan sien jy sy foto, en hy lyk na ’n patriarg van by die tagtig jaar. Nog later hoor jy hy is pas vyftig.

Intussen wen die boek, Op soek na generaal Mannetjies Mentz, die M-Net-prys; vertaalregte word verkoop vir vertalings in Nederlands en Engels; die boek word tot Afrikaanse toneelstuk verwerk wat groot sukses inoes. En toe sterf hy plotseling. Sekerlik die verstommendste verskietende ster ooit aan die Afrikaans literêre horison. ’n Mens hoor van heelwat gedigte wat nog in die skrywer se laaie rondlê — miskien hoor ons binnekort van ’n belangrike Afrikaanse digter wat postuum debuteer.

Coetzee se roman staan midde-in die honderdjarige herdenking van die uitbreek van die Tweede Anglo-Boereoorlog in 1899. Tot sowat ’n jaar gelede was daar ’n opmerklike skaarste aan Afrikaanse fiksie oor die Tweede Anglo-Boereoorlog. ’n Rede vir hierdie stilswye was moontlik die begeerte om die traumatiese verlede te “vergewe en te vergeet”, as gevolg van die potensieel verdelende effek wat die herinnering daarvan op die samelewing sou kon hê. In die jongste tyd was daar egter ’n kragtige oplewing in die prosa oor die Anglo-Boereoorlog — by verre die sterkste oplewing sedert die beëindiging van die oorlog in 1902. Jeannette Ferreira het drie romans geskryf met die oorlog as agtergrond, en is ook redakteur van ’n versameling kortverhale oor die oorlog; verder het in die afgelope jaar of wat oorlogsromans verskyn deur Eleanor Baker, Johnita le Roux, A H M Scholtz, Christoffel Coetzee, Karel Schoeman, Ingrid Winterbach en Engela van Rooyen.

’n Klaarblyklike rede vir die oplewing in Afrikaanse fiksie oor die Anglo-Boereoorlog is die honderdjarige herdenking van die begin van die oorlog in Oktober 1899, maar dit is hoogs waarskynlik nie die enigste rede nie. Die belangstelling van Afrikaanse skrywers in die oorlog is ’n onderdeel van die byna obsessionele belangstelling in die persoonlike en algemene geskiedenis van die land, met ’n fokus op die rol van die Afrikaners. ’n Stimulus vir hierdie historiese belangstelling is kennelik die feit dat Afrikaners in meer as een sin aan die einde van ’n tydperk gekom het: die einde van ’n eeu, die einde van ’n millennium, en die einde van die era van apartheid.

Onder sulke omstandighede is dit normaal om terug te kyk; en dit is te verwagte dat parallelle getrek sal word met die einde van die vorige eeu, wat ook vir die Afrikaner ’n krisistyd was en die oorgang na ’n nuwe era ingelui het. In albei gevalle moes die Afrikaner sy politieke mag prysgee, met gevolglike gevoelens van angs en disoriëntasie.

Daar is egter ’n kardinale verskil tussen die twee tye. Honderd jaar gelede is die Britse Ryk deur Afrikaners in die beskuldigdebank geplaas; vandag staan die Afrikaner self in die beskuldigdebank. Met (onder andere) die getuienis van menseregteskendings onder die apartheidsbewind wat voor die Waarheids- en Versoeningskommissie gelewer is, is dit te verwagte dat die Afrikaners se persoonlike en kollektiewe skuld aandag sal ontvang by hul besinning oor die verlede.

Twee teenoorgestelde tipes uitbeelding van die Anglo-Boereoorlog is moontlik, wat skakel met verskillende reaksies op die krisis van die hede. ’n Skrywer kan vertel van die oorlog wat algemeen beskou is as die mees heroïese tyd in die geskiedenis van die Afrikaner om sodoende verlore selfrespek te herwin, en moontlik ook wys op die onreg wat teen die Afrikaners gepleeg is — dat die Afrikaners nie die uitsluitlike skuldiges van die geskiedenis is nie. Hierdie benadering is te vinde in die roman Groot duiwels dood deur Eleanor Baker. ’n Ander moontlikheid is om die heroïek van die verlede te relativeer en te dekonstrueer as deel van die konfrontasie met en verwerking van die skuld van die verlede. Dit vind ons in Op soek na generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee en Verliesfontein van Karel Schoeman.

Geskiedenis en fiksie is nóú verbonde in Christoffel Coetzee se roman Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998). Die teks word aangebied asof generaal Mentz ’n historiese figuur was; die inleidende gedeelte is getitel “Redakteursnota”, asof die skrywer niks anders gedoen het as om historiese dokumente te orden en te redigeer nie. In die inleiding is daar ’n aantal voetnotas met onberispelike historiese gegewens en verwysings na historiese persone soos Kommandant Chris van Niekerk en Kaptein Slegtkamp; daar is drie aanhalings uit Commando, die feitelike vertelling oor die Anglo-Boereoorlog deur Deneys Reitz, as stawing van die skrywer se betoog; daar is inligting oorgeneem uit die SA Biografiese Woordeboek; en selfs ’n vermelding van die filosofiese werk van Saul Kripke, Naming and Necessity, as teoretiese basis van die skrywer se argumentasie oor die identiteit van Mannetjies Mentz. Die hele opset is dié van ’n dokumentêre verslag en ’n feitelike betoog.

Die tweede en derde dele van die roman is hoofsaaklik fiksioneel en bevat die storie van Mentz en sy kommando, wat in die berge van die Oos-Vrystaat geveg het na die (historiese) oorgawe van generaals Prinsloo en Roux aan die Britse magte. Die “wraakkommando” van Mentz het dit as hul taak beskou om Boere te bevry wat deur die Engelse gevange geneem was sodat hulle na die Boerekommando’s kon terugkeer. Dit was egter nie hul enigste doelwit nie en, met ’n toenemende ignorering van morele beginsels, is Engelse soldate sowel as Boere wat nie meer wou veg nie op verskriklike maniere gemartel en tereggestel.

Die vierde en laaste gedeelte bevat ’n fiktiewe verslag deur ’n historiese figuur, generaal Coen Brits. Die verslag handel oor generaal Brits se besoek aan Mentz, tydens die Tweede Wêreldoorlog, in die destydse Duits-Oos-Afrika. Die roman is deurgaans stewig veranker in die geskiedenis, selfs al bly dit nie altyd aan historiese gegewens getrou nie. In ’n onderhoud met Stephanie Nieuwoudt in Die Burger het die skrywer genoem dat Mannetjies Mentz ’n fiktiewe persoon is — of “dalk is hy ’n saamgestelde figuur”. Met aanhalings uit Reitz se Commando, en deur herhaalde verwysings na die beroemde Boeresoldaat, kaptein Slegtkamp, suggereer die skrywer dat daar historiese parallelle met die wraakkommando van Mentz was: selfaangestelde groepe wat onafhanklik van die oorlogsleiding van die Boere werksaam was, en wat dikwels meer soos ’n groep struikrowers opgetree het as ’n gedissiplineerde afdeling soldate.

Deur die Huisgenoot-artikels van Dirk Mostert oor kaptein Slegtkamp en die verwerking daarvan tot die boek Slegtkamp van Spioenkop (1935) het Slegtkamp in die volksgeheue tot een van die helde van die Boere stryd ontwikkel. Eleanor Baker, in Groot duiwels dood, beeld Slegtkamp en sy makker, Jack Hindon, dan ook as helde van die Boere stryd uit (pp. 185-’6). Christoffel Coetzee daarenteen, deur die uitbeelding van die onmenslikheid van die wraakkommando van generaal Mannetjies Mentz, en die implisiete assosiasie van hulle met Hindon en Slegtkamp, ondermyn hierdie tradisionele siening. In sy voorstelling van die oorlog laat Coetzee ’n hele aantal Afrikaner mites tuimel.

Boere soldate word nie in die boek geromantiseer nie — maar aan die ander kant is daar ook nie sonder meer Boere aftakeling nie. Mentz en sy manskappe is nie bloot wrede monsters nie, maar ook deerniswekkende slagoffers van geweld. Dis nie die Boere kommando nie, maar die oorlog as verskynsel wat in die eerste plek die oorsaak is vir die eskalering van wreedheid. Die geweld van die oorlog versprei steeds verder, en laat uiteindelik niemand in die land onaangeraak nie. Die vroue word, ter wille van oorlewing, hard en meedoënloos; ook die Witsies, swartmense wat aanvanklik niks met die oorlog te doen het nie, moet genadeloos soos Mentz se kommando word om laasgenoemde te kan verdryf. ’n “Gentleman’s war” bestaan nie; en daar is geen sin in die romantisering van ’n oorlog nie, soos wat so maklik by ’n herdenking gebeur.

Dit is duidelik dat die Anglo-Boereoorlog nie slegs tussen wit mans uitgeveg is nie; wit vroue en swartmense is eweseer daardeur getref. Soms is vroue die ware helde van die Boere stryd. Die vroue voel baie sterker oor die voortsetting van die oorlog, en briljante oorlogstrategieë word soms deur vroue beplan, en nie mans nie (pp 46-48). Afrikaner vroue word in die oorlog gedwing om “mannerolle” te speel, en hulle doen dit voortreflik. Die mite van die tradisionele Afrikaner patriargie, met sterk mans en onderdanige vroue, word duidelik ondermyn.

Nog ’n mite wat in die slag bly, is dié van die tradisionele “apartheid” tussen wit- en swartmense. In ’n hele aantal tonele blyk dit dat seksuele drifte nie deur verskille van ras gekortwiek word nie. Wat meer is, wit en swart vroue is goeie vriende voor die uitbreek van die oorlog; hulle dans saam en hulle bid saam (pp 36-39). ’n Sterk band van vriendskap bestaan ook tussen die wit boer en sy vertroueling, Jan Witsie. Hulle het saam by Majuba geveg, en saam gaan hulle op jagtogte uit. Op hierdie jagtogte blyk daar ’n wedersydse respek te wees tussen die wit man en die Zoeloes in wie se gebied hy jag (pp 140-141). Die oorlog verander egter hierdie harmonieuse saambestaan, en die eerste tekens van verandering kom wanneer, in ’n intens dramatiese toneel, die verteller se moeder vir Jan Witsie beveel om hul plaas af te brand (p 40). Die moeder wil nie die Engelse die plesier gee om die plaas aan die brand te steek nie, maar sy wil dit darem ook nie self doen nie — Jan Witsie moet die vuil werk doen, en hy haat dit.

Dit is duidelik dat die skrywer uitgebreide navorsing oor die oorlog gedoen het. Hy lewer kommentaar op tradisionele geskiedenisbeskouings, en staaf sy beskouings met historiese verwysings. Tog is die boek nie bloot ’n historiese weergawe van die oorlog nie. Sommige lesers het gekla oor die fokus op die negatiewe; maar ons moet onthou dat die Wraakkommando ’n klein wegbreek-groepie uit die Boere magte was. Die roman wil nie beweer: so ’n klomp skurke was die Boere nie. ’n Tradisionele Boere held soos president Steyn word byvoorbeeld met groot waardering in Coetzee se boek genoem — maar dít is nie waar die nadruk in die roman val nie. Die skrywer bring ’n fiksionele element in wat daaraan ’n breër toepaslikheid gee — dit handel oor fundamentele aspekte van die menslike bestaan.

Die roman is ’n studie in boosheid, in die donker “tweede natuur” van die mens wat altyd aanwesig is en in tye van oorlog sterk na bo kom. Die twee sentrale elemente van die “tweede natuur” wat in Mannetjies Mentz uitgebeeld word, is wrede geweld en ongetemde seksualiteit. Die twee vertrouelinge van Mentz, Voss en Niemann, is (soos wat hul name suggereer) nie meer mense nie, maar diere; simbole van gewetenlose gewelddadigheid. Hierdie twee is die mees skrikwekkende verteenwoordigers van die bose, maar geen karakter ontsnap aan hierdie “laere natuur” van die mens nie. Mentz se naam suggereer dat hy ’n simbool van die mens is, ’n Elckerlijc figuur — veral van die donker kant van mens-wees, in sonderheid van die “mannetjiesmens”.

Die roman vang aan met die vraag oor die identiteit van Mannetjies Mentz; algaande blyk dit dat Mannetjies Mentz nie iewers “daar buite” is nie, maar binne-in alle mense. Hiermee word die funksie van die verbinding van fiksionaliteit en historisiteit duidelik; die suggestie is dat Mentz homself inderdaad in die geskiedenis gemanifesteer het, maar dan nie as ’n spesifieke persoon nie, maar as deel van die menslike psige. Selfs die skynbaar “goeie” karakters verloor hul onskuld in die loop van die verhaal. Aunt Soph byvoorbeeld, ’n wyse figuur, soos haar naam trouens aandui, word gekwel deur allerlei teenstrydige gevoelens. Sy neem ’n leidende rol in die stryd teen Mentz; sy is woedend oor sy onbeskaamde gedrag; maar desnieteenstaande begeer sy hom seksueel. Jan Witsie, aanvanklik nie deel van die oorlog nie, pleeg later wreedhede soortgelyk aan dié van Mentz se kommando, in ’n steeds spreidende vuur van geweld. Sommige karakters, hoewel nie skuldig aan wrede dade nie, is tog deel van die kollektiewe skuld deur hul troebel begeertes.

Die roman beeld intens gekwelde karakters uit, magteloos om hul drifte in toom te hou en terneergedruk deur die las van hul gewete. Nogtans, hoewel die boosheid soos ’n aansteeklike siekte versprei en ’n onontkombare skuldgevoel meebring, is daar ook tekens van hoop. Dit word veral bewerkstellig deur die Engelse soldaat Charlie White, ’n uitsonderlik eerbare man (vgl wit as konvensionele simbool van reinheid.) White word onskuldig gemartel en vermoor deur Niemann. Dit is betekenisvol dat, net voor die vertelling van White se dood, ’n vlekkelose lam deur Jan Witsie se grootmoeder geslag word ter beskerming teen die bose. Charlie White en die vlekkelose lam word sodoende op die simboliese vlak met mekaar verbind. Dit is veelseggend dat, kort na die dood van Charlie White, Jan Witsie en sy helpers daarin slaag om die kommando van Mentz te verdryf; die dood van die “slagoffer” White het die verlossing moontlik gemaak.

Witsie en White, “wit” simbole van goedheid en die stryd teen kwaad, oorwin uiteindelik Mentz se kommando. Dit impliseer dat daar ’n “teengif” werksaam is teen die bose — die goeie, soos die kwade, is “aansteeklik” en sprei sy reddende invloed uit. Goed en kwaad, skuld en onskuld is nie slegs persoonlike, indiwiduele kwessies nie, maar ook kollektiewe botsende magte; naas kollektiewe skuld is daar “kollektiewe onskuld”. Hoewel die klem in die roman veral op boosheid val, is dit die goeie wat, danksy White en Witsie, triomfeer.

Nog ’n teken van hoop is die moontlikheid van bieg oor jou kwellinge teenoor ’n simpatieke luisteraar. In die derde deel van die roman vertel Blink Frans aan sy welwillende suster Ounooi van sy duister verlede om daardeur helderheid en vrede te vind. Die leser moet homself aan die een kant identifiseer met die Elckerlijc figuur, Mentz, en met sy trawante in die boosheid; aan die ander kant met Ounooi om die belydenis van boosheid simpatiek aan te hoor. In ’n sekere sin word die leser daartoe gebring om hom oop te stel vir sy eie verhaal. In dié opsig is die roman soos ’n grondige “Waarheids- en Versoeningskommissie”, wat indring in die dieptes van die menslike psige om deur openhartige blootlegging vrede te bring.

Deur die verbreding van die geskiedkundige gegewens tot algemene aspekte van die menslike natuur, verkry die roman van Coetzee ’n relevansie wat nie tot een plek en tyd beperk is nie. Die aktiwiteite van die kommando van Mentz vertoon ’n duidelike ooreenkoms met die ondergrondse aktiwiteite van die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte in die tagtigerjare. Die roman handel nie net oor die trauma van die Anglo-Boereoorlog nie, maar meer nog oor die huidige verwerking van die verlede. ’n Mens se natuurlike neiging, vandag soos in die verlede, is om jouself volkome van die “skurke” van die verlede te distansieer, soos wat die lede van die Mentz familie wat deur die skrywer uitgevra is, alle verwantskap met hom ontken het (pp 18-21). Ons is vandag nog steeds “op soek na generaal Mannetjies Mentz”, en Christoffel Coetzee wys die weg na hom aan, as ’n eerste stap om versoen te word met onsself en ons verlede.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.