Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

onderhoude / interviews
  Tuis /  Home
tuis / home
attraksies / attractions
publikasies / publications
kunstenaars / artists
links / skakels
voorsmake / previews

Best of vol 1. Omslag: Joe Dog
Best of vol 1. Omslag: Joe Dog
  Kort voor Kersfees 1998 het die Suid-Afrikaanse comicstrip-kunstenaars Anton Kannemeyer en Conrad Botes Best of Bitterkomix Vol. 1 (eerste Engelse uitgawe) geloods. Ofskoon LitNet deur 24.com die launch van die negende uitgawe van een van Suid-Afrika se mees omstrede publikasies bygewoon het met die doel om weldeurdagte vrae aan die Bitterbende te stel, is deur die loop van die aand besef ’n nugter gesprek oor die komix-kultuur is nie beskore nie. Die volgende oggend douvoordag het LitNet aangemeld by Botes se woonstel in die Kaapse kunstenaarsbuurt Observatory vir wat sou uitloop op ’n intensiewe onderhoud met ’n stukkende kassetopnemer

Woorde: Pieter Redelinghuys
Sketse van Kunstenaars: Anton Kannemeyer, Conrad Botes en Mark Kannemeyer

“Het leukste en mooiste Zuidafrikaanse stripblad heet Bitterkomix: Het blad gaat over seks, dwelms, geweld en plesier. Dwelms, dat zijn natuurlijk drugs. Vaste tekenaars zijn onder meer Conrad Botes en Joe Dog (Anton Kannemeyer) — ... (Bitterkomix) ... een strip over porno en vliegreizen en een strip over Zuidafrikaans geweld...”
Resensie in Het Laatste Nieuws (22 Junie 1997)

“Radical adult comic book Bitterkomix has been excluded from this year’s (1998) Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKK) in Oudtshoorn, despite a successful show at last year’s event. The organisers have given conflicting reasons for the exclusion; Bitterkomix’s editors say they suspect censorship by stealth...”
Berig deur Africa News Service (26 Maart 1998)

Bitterkomix is humor uit die laagste rakke. Dit is wonderlik vir ieder en elk wat die opstuur en afskil van clichés wil sien. Die jongelinge stuur nie net blomme nie, maar heelparty keer ontplof die teks met ’n bom, ’n semiotiese voorstelling van presies wat hulle dink van al die clichés en leuens waarmee ons moes grootword...”
Joan Hambidge in Beeld se Kalender (27 Oktober 1994)

Best of vol 1. Omslag: Konradski
Best of vol 1. Omslag: Konradski

“Dit is onredelik van mnr. Kannemeyer om afstootlike resultate van sy obsessie met seks in die gesig van die publiek te smyt...”
J. Heydenrych (Departement Skoolkuns) soos aangehaal in Beeld-hoofartikel

“Myns insiens is dit slegte literatuur” — Venter Malan (lektor)
“Kuns is dit nie” — Wilma Nel (kunskenner)
“Klink vir my sommer na ’n hoop kak!” — Jan Brand (komiekheld)
“Die mense” oor Bitterkomix-pulp, Bitterkomix nr 6 (Maart 1996)

Dis die oggend na Bitterkomix 9 in The Jam, De Villiersstraat, Kaapstad geloods is. Conrad Botes skink koffie in die kombuis van sy woonstel in Observatory, Anton Kannemeyer voeg suiker en melk by. Bitter en soet, swart en wit binne ’n oogwenk van mekaar: is dit hoe die proses verloop met elke Bitterkomix wat die lig sien, werk die twee as ’n span al is daar ’n verwydering in woon- en werkplek (Botes vanuit Stellenbosch en Kannemeyer in Pretoria) en ’n verkil in tekenstyl?

“Dis nie asof ek en Anton gaan sit en dink en beplan oor hoe die ding moet loop nie — elkeen neem sy eie idees en eie rigting. Dit kom natuurlik,” verduidelik Botes. “Ja, daar is ’n verskil in ons styl, maar op die ou einde gaan dit oor jou eie identiteit, dit waarmee jy kan relate.”

So dit wat julle aanbied is persoonlike ervarings wat met die leser gedeel word wat hom daarmee kan identifiseer?

“Dis nie so eenvoudig nie. Die karakters in Bitterkomix is nie noodwendig ek of Conrad nie. Al resemble die karakter in die strip my gesig is dit bloot ’n karakter binne ’n komic,” gaan Kannemeyer voort. “Wat ons by die leser probeer tuisbring is: werk die komic vir jou, kan jy jou identifiseer daarmee, wat beteken dit vir jou en word jy inspire deur dit wat jy ervaar, sien of hoor.”

Bitterkomix nr. 1 is in 1992 geloods. In ’n resensie in Joernaal (Die Burger, Augustus 1992) beskryf Timo Smuts dit as ’n “deurbraak in Suid-Afrika op die gebied van die strip (die “comic” of strookverhaal) as kunsvorm”. Deurbraak is dit gewis, maar hoe ervaar hulle dit — het die komix-kultuur sedert ’92 gegroei en is dit ’n kunsvorm wat in ’n ernstige lig beskou word plaaslik?

“In Europa is die komix-kultuur ’n gevestigde een. Daar is winkels wat uitsluitlik strips verkoop en daar is derduisende lesers. Dis ook nie net gewilde komix-karakters soos Tintin en Asterix wat aftrek kry nie, daar is kunstenaars wat ernstige stories teken/skryf,” begin Botes. “Plaaslik het Bitterkomix ’n stewige cult-following opgebou, maar dit is nie naastenby vergelykbaar met wat in Europa aan die gang is nie.”

Wat dink hulle is die rede vir die trae groei — versigtigheid dalk, vrees vir die onbekende, Christelik-Nasionale vervloeking as jy met Bitterkomix betrap word?

“Postmodernisme het die skeidslyn tussen hoë en populêre kunsvorms uitgewis. In Amerika het die ondermyning van die konvensionele strokiesverhaal reeds in die jare sestig begin, die komix-kultuur is lank reeds daar ’n genre wat alternatiewe role models en helde skep en lesers skok deur middel van seks, geweld en humor. Hier sukkel dit maar. Sensuur deur die ou wetmakers en ’n konserwatiewe Christelik-nasionale opvoeding in die geledere van die Afrikaner-kultuur het die onwikkeling van so ’n kultuur gesmoor — soveel so dat Bitterkomix nou nog, teen die draai van die millenium, weens sy uncompromising inhoud steeds as taboe beskou word deur baie (Afrikaner) mense,” verduidelik Kannemeyer.

Die verwarring tussen strokiesprent en die “strip” soos hy in Europa en Amerika bekend is, skep ook probleme. Bitterkomix is nie noodwendig komies van aard nie. Dis ook nie leesstof vir kinders nie, maar ’n ernstige vorm van “sosiale kommentaar” as dit dan kan ’n etiket moet dra. Beslis nie vir taalpuriste en sensitiewe lesers nie, die humor is sinies en swart, elke uitgawe het sy eie subtitel — “Verreikende Leesstof vir die emosioneel armoedige” (nr 1) “Pulp vir papkoppies” (nr 3) “Verkoop jou siel vir sekuriteit” (nr 4) “Ek sal vergewe, maar nie vergeet nie” (nr 5) en “Op die randjie van ’n dieper insig” (nr 7). Die redaksionele voorwoord in Bitterkomix no.1 stel dit duidelik: “(Dis die) eerste tweetalige komix-tydskrif vir huishoudelike burgerlikes en uitgeworpe, emosioneel-armsalige uitwerpsels.” Die held is die swartskaap, in opstand teen die burokrasie en die maatskappy waaraan hy oorgelewer is.

Omstredenheid en Bitterkomix gaan skynbaar hand aan hand — is dit frustrerend of gee julle nie ’n flenter om nie, dis tog immers goedkoop advertensie?

“Ons maak nie geld hieruit nie. Die een uitgawe se verkope lei tot die publikasie van die volgende,” sê Botes. “Ons dit doen omdat dit lekker is. Net sekere soort mense koop en lees dit, en dit is in die haak so. Dis bog dat ons doelbewus omstrede is — en die mense wat beweer ons het ’n obsessie met seks en geweld weet nie waarvan hulle praat nie. Vir ons bly die bottomline: hoe minder mense reageer op die inhoud van Bitterkomix, hoe beter.”

Maar maklik is dit nie. In die redaksionele kommenaar van Bitterkomix 8 (April 1998) skryf Botes/Kannemeyer soos volg: “die industry het intussen die morele waghonde geword wat ons snags wakker blaf. Vier printers weier reeds om ons skurwe blad te druk. In Februarie 1998 het die Oudtshoorn Klein Karoo Nasionale Kunstefees ons nr.8 launch en uitstalling op die Rimpelfees geweier...”

Kannemeyer het later in ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht in Beeld-Kalender hom as volg oor die fees uitgedruk:

“Die fees is ’n ontnugtering. As jy hierheen (KKNK) kom en sien watter kunstenaars optree, dink jy die Afrikaanse kultuur is in ’n krisis. ’n Fees soos dié moet Afrikaans die kans gee om homself deur middel van kreatiwiteit te bevry, maar dit gebeur nie. Almal gaan net aan met ’n trip van melktert, singsongs en countrymusiek.”

Lorcan White

Ondanks die terugslae steur die kunstenaars hulle nie aan kritiek en aanvalle op hul meer omstrede werk nie. Kannemeyer antwoord op ’n brief in Menings van Ons Lesers (Die Burger, 11 November 1995) die skrywer as volg: “Die kontroversiële inhoud van Bitterkomix is vir minder dooie mense verantwoordelik as byvoorbeeld die SA Weermag se werwingsbrosjures. Oscar Wilde sê tereg: — The books that the world calls immoral are books that show the world its own shame...”

’n Etiket wat Kannemeyer en Botes ’n kramp gee op ’n plek waar die son nooit skyn nie, is “alternatief”. Bitterkomix probeer nie “anders” wees nie, en hulle besou hulself beslis nie in die Suid-Afrikaanse mileu as baanbrekers op hul gebied nie. Tog kan ’n mens nie anders nie as om te dink dat hul werk ’n groot invloed gehad het (en steeds het) op ’n jonger geslag Afrikaner, een wat grootgeword het met wyer media-blootstelling, slapper sensuurwette en ’n beter idee van vryheid van spraak. Is hulle tevrede met wat hulle bereik het sedert 1992?

“Ja, daar is hoogtepunte en daar is hoop. Maar daar is steeds te min kunstenaars wat mense uitdaag om ’n bietjie wyer te dink as die hier en die nou,” reken Botes.

’n Koning word nooit in sy eie land geloof nie, lui die spreekwoord en dis ook van toepassing op die Bitterkomix duo. Nie dat daar enige hard feelings is nie. Inteendeel, Kannemeyer en Botes is eerste om te erken hulle weet waarvoor hulle hulself ingelaat het.

“Kyk, selfs oorsee voer sommige bekende stripkunstenaars ook maar ’n oorlewingsbestaan. Geld was nog nooit vir ons ’n kwessie nie en sal ook nooit wees nie. Ook die feit dat ons net tot ’n klein groepie — noem dit maar ’n following — spreek is OK. Die belangrikste is dat ons doen wat ons graag wil doen en dat ons nooit sal agteroor buig (of buk as jy wil) om ander mense tevrede te stel nie. Ons werk spruit uit ons gewaarwordings as Afrikaners in ’n redelike fucked-up samelewing ... daar is baie stof tot nadenke, daar is nog baie stories wat ons moet vertel aan diegene wat wil luister,” som Kannemeyer hul gevoel op.

Dat die ouens van Bitterkomix gereken word as vooraanstaande kunstenaars van die stripkultuur spreek uit die feit dat hulle genooi is om einde vandeesmaand aan die 26ste internasionale Comic Festival in Angouleme, Frankryk te gaan deelneem. ’n Nederlandse resensent het onlangs na Angouleme verwys as “het belangrijkse stripfestival ter wereld”. Naas die skeppers van die strokiesverhaal Madam & Eve is die Bitterkomix duo die enigste Suid-Afrikaners nog wat uitgenooi is om saam met ’n groep uitgelese stripkunstenaars uit te stal.

Bitterkomix 9, wat pas uitgereik is en by ’n paar uitgelese boekwinkels beskikbaar is, is spesiaal uitgebring om saam te val met die fees. Dis ’n Best of Bitterkomix — van Kannemeyer en Botes se sterkste stories (uit nrs 1 tot 8) is in Engels vertaal om dit meer toeganklik te maak vir die Europese feesgangers.

Is dit miskien die break waarop enige plaaslike kunstenaar hoop — internasionale blootstelling en moontlike erkenning vir harde werk, lang ure en baie kritiek? Miskien wel. Maar dit is die laaste ding wat Botes en Kannemeyer in gedagte het. Vir hulle gaan dit eerder daaroor om skouers te skuur met hul grootste invloede in die stripwereld.

Hierna volg ’n internasionale uitstalling in Suid-Afrika, wat op 12 Mei in Johannesburg open. Ofskoon dit onafhanklik van die Angouleme Festival is, sal 11 Franse kunstenaars hul opwagting hier maak . Die uitsoekgroep is genooi is om ’n komic te maak oor ’n spesifieke topic: “Die jaar 2000”. ’n Paar plaaslike kunstenaars gaan aan ’n Suid-Afrikaanse weergawe van die uitstalling deelneem: “Die jaar 2000 in SA”.

En daarna is dit terug na die tekenbord vir Kannemeyer en Botes, want dis die groot rede hoekom Bitterkomix reeds vir agt jaar lank bestaan.

Konrandski

Ons groet na die onderhoud en terug by die huis blaai ek met nuwe oorgawe deur my Bitterkomix versameling. Dis toe die woorde van die skrywer Ryk Hattingh, vriend en “confidante” van Botes en Kannemeyer, my opval, ’n uittreksel uit ’n toespraak wat hy gelewer het met die bekendstelling van Bitterkomix 6 (28 Maart 1996):

“Ons moenie die fout maak om te dink dat Bitterkomix ’n corporate identity aan die ondergrond gegee het nie. Want as jy na Bitterkomix kyk, dit optel en daardeur blaai, weet jy wie dit gemaak het. Jy weet wie die kunswerk doen, jy weet wie het met die drukker onderhandel, jy weet wie het die paar kartondose vol komix gaan optel, jy weet wie het van stad tot stad en winkel tot winkel getoer om dit aan skeptiese winkeliers te verkwansel sodat dit uiteindelik op die rak kan kom sodat ek en jy dit teen ’n belaglike prys kan koop en kan lees en dit kan geniet. Jy weet dis Anton Kannemeyer en Conrad Botes. Dis net hulle twee. Onafhanklik, op eie stoom, het hulle vir Bitterkomix ’n infrastruktuur uit die labarint van korporasies en monopolie geskep. En dit werk.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.