NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Johann Lodewyk Marais
het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en debuteer met die digbundel Die somer is ’n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonkerprys kry. Daarna skryf hy nog vier digbundels, waarvan Aves so pas voltooi is. Hy stel ook twee bundels saam: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en, saam met die Nederlandse digter en letterkundige Ad Zuiderent, Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997). Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort en is verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria.
  Johann Lodewyk Marais

Ander verhale deur Johann Lodewyk Marais:

  • Die repatriasietrein
  • Om Ruth First te onthou

    Man in ’n rolstoel

    Op een van die plase het ’n man in ’n rolstoel geboer. Sy grond was aan die einde van ’n plaaspad wat van die grootpad af uitgedraai en ’n hele ent aangehou het voor dit ver onder by die plaaswerf tussen berge uitgekom het. Die huis met sy rooi dak tussen die bloekombome was sigbaar van die grootpad af wat op die rant ver bo die plaas verbygegaan het.
         Die man kon nie self sy motor bestuur nie en het daarom nie so dikwels by ’n winkel of die maandelikse vendusies op Mont Pelaan of Beuhlaland sy opwagting gemaak nie. ’n Kluisenaar was hy darem ook nie. As dit regtig nodig was om te ry, het sy vrou die grondpaaie aangedurf en hom gebring waar hy wou wees.
         Terwyl ek en my pa een keer gou by Isak Papenfus se winkel op Beuhlaland pos gaan haal en brood koop het, het die man in die rolstoel se vrou hom daar aangery. Hulle twee kinders was ook by.
         Beuhlaland se winkel was net oorkant die berg van ons plaas af en my pa-hulle het sommer soontoe gestap toe hulle nog kinders was en in die ou opstal gebly het. Die eerste winkel op Beuhlaland is deur oom Alec Strachan begin. Daarna het my oom Maans Kritzinger en ’n Engelsman, Mr Doore, elkeen ’n ruk lank daar ’n bestaan probeer maak. Sedert 1961 het Isak, ’n kleinneef van my pa, die winkel gehad.
         Isak en my pa het staan en gesels toe die man in die rolstoel met sy gesin daar ingekom het. Isak het graag grappe gemaak en my pa het daarvan gehou om te lag. Soos gewoonlik het ek eenkant gestaan. Isak en my pa het gegroet toe die klompie mense inkom en dadelik begin gesels. Liza, Isak se vrou, het kort voor lank die gebruiklike tee wat wit besoekers by die winkel gekry het van die huis af gestuur. Vir ’n oomblik was die reuk van die tee skerper as die soet winkelreuke.
         Ek en die kinders het op ’n afstand na mekaar geloer, maar nie kans gesien om nader met mekaar kennis te maak nie. Nie een van hulle het tekens getoon van hulle pa se gebrek nie.
         Met sy verwronge hande het die kreupele moeilik die tee gedrink wat sy vrou vir hom geskink en aangegee het. Ek het staan en kyk en hom intens jammer gekry. Nadat almal hulle tee gedrink het, het die vrou ’n klompie kruideniersware van ’n lysie af gekoop en vir die kinders lekkers gekry. Daarna het hulle gegroet. Die man het sy hand skaars van sy skoot af gelig toe ek my hand na hom toe uitsteek.
         Sy vrou het hom die winkel uitgestoot, ’n swart seun nader geroep om die rolstoel by die trappie af te tel en hom weer in die motor gehelp. Gou was hulle al met die bloekomlaning van die winkels af op pad na die grootpad en na die plaas diep in die berge.
         Isak en my pa het nabetragting gehou oor die seldsame besoek. Een van hulle het gesê dat die man as kind polio gehad het: ’n verklaring wat ek vantevore al gehoor het. My pa moes iets gesê het oor hoe moeilik dit vir hom moet wees om so oor die weg te kom en op ander te moet staatmaak toe Isak met sy wyse woorde ’n bietjie vertroosting bring:
         “Ja, maar hy kan darem nog sy boude roer.”

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.