NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hilde Nel (17 Maart 1961) behaal in 1987 haar M.A. in Antropologie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Eers werk sy as dosent in Antropologie aan die Universiteite van Suid-Afrika en Stellenbosch en daarna vir ’n jaar as mede-redakteur by ’n uitgewer in Kaapstad. Haar eerste gepubliseerde kortverhaal verskyn in Literator, April 1995. Tans bedryf sy haar eie natuurlike gesondheidsbesigheid in Groenpunt, Kaapstad, en studeer verder deeltyds aan ’n vierjarige diploma in Naturopatie.
  Hilde Nel
Nog kortverhale deur Hilde Nel:

Om vry te wees

Vrydag. Die strate is stil. Seker oor die reën. ’n Leë plastiekbottel tol voor haar uit op die nat klipstraat. Sy stap vinnig, koesend teen die koue wind. Groot swart letters op een van die ou geboue trek haar aandag. Weer nuwe politieke slagspreuke! Wie dit ook al gedoen het, waag baie. Te veel. Met die aandklokreël en alles.

Naby die stasie gaan sy ’n ou dubbelverdiepinghuis binne. Jongmense in jeans en jasse staan bo in ’n rokerige vertrek in groepies en gesels. ’n Man en meisie wieg oënskynlik onbewus van mekaar op die maat van sagte instrumentele rockmusiek. Iemand lag uitspattig.
     Hulle het weer pamflette gedruk, merk sy dadelik op. As hulle net wil insien hoe gevaarlik dit is.
     ’n Jong man kom haar groet, omhels en soen haar. Sy lag, bly om hom te sien. Na ’n kort gesprek gaan sy alleen by ’n venster staan en steek ’n sigaret op. Sy hou die jongmense dop. Die jongmense. Hulle wat die militêre regime met soveel ywer en energie beveg. Vreesloos — byna roekeloos. Hulle by wie sy elke Vrydag inspirasie kom soek. Krag om voort te gaan. Weer mens te voel.
     Iemand druk ’n glas wyn in haar hande en verdwyn dan weer.
     “Dankie,” roep sy agterna en sluk die wyn te vinnig af. Sy kyk na die skadupatrone teen die mure, sien die jongmense se monde oop- en toegaan, maar kan nie uitmaak wat hulle sê nie. Die nasmaak van die goedkoop wyn walg haar skielik. Sy staan effens duiselig op en glip stil by die deur uit sonder om iemand te groet.

Buite is die strate donker. ’n Jeep vol soldate ry in ’n systraat af.
     “Die aandklokreël! Hemel, ek het te lank gedraal!” Sy koes agter ’n pilaar weg totdat die klank van die enjin vervaag.
     Die pad na haar woonstel voel korter as gewoonlik. Het sy gedraf? Die hyser werk nie. Hulle skakel deesdae alles af. Selfs die trems loop nie meer nie. Sy stap na die brandtrap. Om en om boontoe. Haar longe brand. Die wind ruk aan haar jas. Haar hart klop vinnig. Haar afgeloopte hakke gly-gly gevaarlik op die staal.
     Liewer nie afkyk nie. Liewer nie.
     Die trappe is nat. Het dit gereën of is dit water wat uit een of ander pyp lek? Sy hoor weer die geluid van die jeep. Haar bene voel lam, maar sy klim vinniger. Nie nou al rus nie. Nie nou al nie.

Tuis val sy op haar matras neer en bly lê totdat haar asemhaling bedaar. Sy skakel ’n swart-en-wit beeldradio aan. Die omroeper praat van stakings en ’n gebou wat afgebrand is. Beeldmateriaal verskyn van ’n woedende skare, vuiste in die lug. Dan kom die soldate.

Sy staan op, soek haar sigarette.
     Nog net een oor.
     Benoudheid kruip in haar op, maar sy steek tog die laaste sigaret aan en hou die rook lank in haar longe voor sy dit uitblaas. Wanneer sy die sigaret halfpad gerook het, maak sy dit versigtig dood, sny die swartgebrande punt af en bêre dit in ’n leë blikhouer.

Sondag. Die strate lewe effens, maar almal is haastig. Met strak gesigte loop elkeen doelgerig op pad iewers heen. Sy stap stadig. Die naaste kafee is gesluit, die rakke leeg. Drie straatblokke verder kry sy nog ’n oop kafee. ’n Ou man staan agter die toonbank. Sy neem ’n brood, betaal woordeloos en gaan dan weer.

By ’n katedraal talm sy. Dit reën liggies. Klimop klou groen teen die eeue oue klipmure. Dan gaan sy in, trap versigtig, want haar skoensole is modderig. Sy kyk na die klipbeelde, die gedenkstene van heiliges. Waarom brand die kerse vandag nie?
     Sy kyk rond of sy nie die priester sien nie, maar alles lyk verlate. Dit maak in elk geval nie saak nie. Die priester sal haar van God wil vertel. God wat iewers bo in die hemel woon. Iewers baie ver.

Die vloer kraak. Sy kyk op. ’n Figuur staan hande in die sak na haar en kyk.
     “Ek het jou hier sien inkom,” sê die man. “Wat dwaal jy so alleen rond? Dis deesdae nie meer goed dat ’n vrou alleen op straat is nie.”
     Sy probeer aan een of ander sinvolle antwoord dink. Bly dan eerder stil.
     “Ek het wyn in my kamer,” sê die man half versigtig. “Kom saam met my.”
     Hy stap nader, neem haar aan die elmboog. Sy voel die hitte van sy hand deur haar jas.

Hulle stap ’n ou gebou binne, neem die trappe na bo. Die plankvloere kraak onder hulle voete. ’n Enkele gloeilamp gooi ’n dowwe lig in die gang. In sy kamer huiwer sy effens, maar gaan dan tog sit. Hy moet in sy vroeë vyftigs wees. ’n Grys-swart stoppelbaard skyn deur sy vel.
     “Dit is koud,” sê hy.
     “Ja.”
     “Bly jy alleen?”
     “Ja. Omtrent almal wat ek ken, is al vort. Soos diere met die vredesmagte se vragmotors weggery. Glo vir hulle eie veiligheid. Maar ek ... ek wil nie nou al gaan nie. Ek bly hier — solank daar nog hoop is.”
     Hy probeer weer om ’n gesprek aan te knoop, maar haar gesig is skielik strak. Later verdwyn hy en kom dan met twee glase terug. ’n Klein transsistorradiotjie blêr eentonige musiek uit. Weer en weer vul hy haar glas totdat die bottel byna leeg is. Sy voel lomerig en staan moeisaam op.
     “Dankie. Dis al laat.”
     Hy gryp haar arm. Trek haar ru terug.
     “Bly tog. Jy kan tog nie in die donker alleen teruggaan nie. Buitendien, wat van die aandklokreël?”

Sy sien die wellus in sy oë. Nie bewondering nie — daarvoor is haar liggaam reeds te oud en vervalle. Dan voel sy sy mond op hare. Sy lippe dwing hare oop. Hy streel oor haar liggaam, sak oor haar neer. Sy asem jaag. Sy voel die hitte van sy liggaam en hoe hy dan ru van haar besit neem.

Sy word wakker en kyk rond, maar die man is reeds weg. Op die bedkassie vind sy ’n nota: Kom asseblief weer volgende Sondag. Asseblief. Net dit. Sy vou die papier versigtig toe en druk dit in haar jassak. Dan tap sy badwater in. Sy lê lank en week. Die water koel af — word blougroen van seep en sweet. In die spieël teen die oorkantse muur sien sy haar eie weerkaatsing dofweg. Haar borste uitgeteer, haar gesig toegewasem met slegs die buitelyne sigbaar. Geen mond of oë nie.

Vrydag gaan sy weer soos gewoonlik na die jongmense. Hulle lag en gesels. Net die jeug kan in hierdie omstandighede steeds vrolik wees, dink sy. Tog vind sy hulle optimisme aansteeklik. Sy gaan by ’n klein groepie sit en kyk hoe hulle plakkate verf: Weg met die militêre regime! Ons eis vryheid!

Die jongmense filosofeer nie oor die lewe nie, dink sy. Nie soos ons jare terug nie. Die bravade — die luuksheid om te kan filosofeer, geld nie hier nie. Vir hierdie jongmense gaan dit oor oorlewing. Oorlewing in ’n vyandige bestel. Wat maak ons debatte van destyds in elk geval saak in ’n tyd soos hierdie? As jy nie altyd weet of jy genoeg kos sal hê om te eet nie, worstel jy allermins met dieper kwessies. Sy dink terug aan al die vurige debatte onder mekaar. Is God en die samelewing dalk een en dieselfde? Aanbid die mens eintlik indirek die samelewing? Is God bloot ’n projeksie van die sosiale struktuur?
     “We are all the creators of our own destiny,” onthou sy ’n student se woorde.
     Wat maak alles nou saak? Wat maak dit saak as jy honger is? As jy nie weet of jy die volgende dag nog vry sal kan rondloop nie? As jy nie weet of jy enigsins nog sal lewe nie?

Sondag breek aan. Sy voel ’n vreemde gevoel van opwinding op die krop van haar maag. Iets wat sy jare laas beleef het. Maar tog ook huiwering. Sy was haar hare met groot sorg. Soek in haar laaie rond na lipstiffie, maar vind niks. Dan gaan sy. Sy stap vinnig, want dit wil-wil reën. By die man se woonstelblok huiwer sy weer, maar klim dan tog stadig met die trappe boontoe.

Sy deur staan oop. Hy kom uit. Sy herken die adellike neus. Die stoppelbaard.
     “Ek wag al vir jou,” sê hy en neem haar dadelik in sy arms. “Ek is bly jy het gekom.”
     Sy voel die hitte van sy lyf. Die lewe onder haar. Haar mond soek syne. Sy soen sy harige bors. Lek aan sy tepels. Ruik die sweet aan sy lyf. Sy volg die kontoere van sy lyf met haar lippe. Vou haar vingers styf om sy ereksie.
     Ek lewe nog, dink sy. Ek lewe nog.

Hulle deel ’n sigaret. Lê opgekrul op sy enkelbed.
     “Ek het vannag ’n aaklike droom gehad,” sê sy .
     “Ek het gedroom dat ek deur donker vreemde strate hardloop. Oral was soldate. Ek het probeer weghardloop maar hulle het my in ’n doodloopstraat vasgekeer. Ek het op die modderige grond neergeval, hulle koppe bokant my gesien. Die wrede oë, die monde wat klanke voortbring wat ek nie kan verstaan nie. Toe het hulle my met hulle masjiengeweerkolwe begin slaan. Ek was later nie meer seker of dit modder of bloed was wat oor my gesig geloop het nie.”
     “Dit was net ’n droom,” sê hy. “Dit was net ’n droom.”
     “Wat is jou naam?” vra sy skielik. “Ek weet nie eers nie.”
     “Los dit eerder,” antwoord hy en staan op. “Dis oorlog. Dis beter dat ons nie te veel van mekaar weet nie.”
     Hy is reg, dink sy. Dis oorlog. Jy leef net van dag tot dag. Met hier en daar ’n uitstaande moment wat jou motiveer om voort te gaan. Soos Vrydae by die jongmense. En nou ook Sondae — Sondae by hierdie vreemde man.

Sy stap winkel toe. Sigarette of brood? Die winkelier lyk ongeduldig.
     “Jammer, geen brood vandag nie. Miskien môre weer.”
     Sy koop ’n pakkie sigarette, besluit om by die jongmense kos te gaan soek. Hulle het hulle maniere om dinge in die hande te kry. Selfs wyn.

Die trappe kraak terwyl sy boontoe stap. Verder is dit onnatuurlik stil. Gewoonlik hoor sy al teen hierdie tyd die musiek. Sy steier toe sy die vertrek binnestap. Bloed en glas. Sy trap oor verminkte jong liggame. Sien die bloederige koeëlgate in die jasse.
     Die soldate was hier! Haar wange gloei. Haar maag begin draai. Dan sien sy hom. Die onmiskenbare neus. Die stoppelbaard. Hy het ’n masjiengeweer in sy hand. Hulle oë ontmoet vir ’n breukdeel van ’n sekonde, maar dan verdwyn hy woordeloos saam met twee soldate trap-af. Sy sak op haar hurke neer. Huil hortend. Gil. Skree. Maar die seer wil nie uit haar bors padgee nie.

Hulle het haar gekry waar sy bene opgetrek in ’n leë steeg tussen die hoë geboue sit en staar het. Dit het hard gereën. Sy het ’n dooie sigaret vasgeklou, stadig heen en weer gewieg. Haar rok het opgeskuif oor ’n modderige broekie. Haar bene was nat van die reën.
     “Wat sit jy hier?”
     Vir ’n oomblik was haar oë met dierlike vrees gevul, maar dan het sy weer emosieloos verder gewieg.
     “Is jy dronk, of wat? Jy reën sopnat.”
     Sy het gewieg en gestaar. Gewieg en gestaar.
     Toe het hulle haar weggevat. Weg, na die buitewyke van die stad waar die vredesmagte se vragmotors op die laaste bittereinders gewag het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.