Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Teater by die KKNK

Braam van der Vyver

Lees die resensies van:

  • Haaks
  • Eet alles
  • Kom terug, Saartjie

    Haaks

    Teks: Chris Vorster
    Regie: Pierre van Pletzen
    Met: Chris Vorster en Elma Postma
    80 min

    Die beproefde kombinasie van Chris Vorster en Pierre van Pletzen span weer kragte saam in Haaks, 'n komedie oor die spanning binne 'n huwelik en ná die egskeiding. Vorster sorg vir die teks en Van Pletzen vir vaartbelynde regie. Die eindresultaat is 80 minute se topklas feesvermaak.

    Haaks volg op Steeks, 'n soortgelyke komedie waarin Vorster (beter bekend as Ryno in 7de Laan) en Anna-Mart van der Merwe se huweliksbootjie in stormagtige vaarwaters beland. In Haaks is Elma Postma (Dezi in 7de Laan) die eggenote wat die spit moet afbyt.

    Vorster en Postma speel beide briljant. Laasgenoemde pas uitstekend in die rol van die ontnugterde vrou. Vorster se teks is vlymskerp, veral as die wedersydse beledigings kophoogte begin rondvlieg.

    Haaks is topklas feesvermaak wat nie misgeloop moet word nie. En wie't gesê sepie-akteurs kan nie regtig act nie?

    Eet Alles

    Teks: Malan Steyn
    Regie: Francois Toerien
    Produksie: Vleis, Rys & Aartappels
    Met: Joanie Combrink, Deon Coetzee, Morné Visser, Martelize Kolver en Altan Ungerer
    Oorspronklik geborg deur Aardklop
    100 min

    Hierdie toneelstuk, wat al op Aardklop 'n draai gemaak het, handel oor die Afrikaner-groupies van die tagtigs en wat van hulle geword het. Die groot sterk punt van die teks is die gemak waarmee daar van die hede na die verlede beweeg word. Terselfdertyd hou dit ook 'n lokval vir die dramaturg in - een waarin hy pens en pootjies beland. Die spelers se spreektaal bly onveranderd. Hulle temas verskil wel in die verskillende tydsgrepe, maar nie hulle woordeskat nie en dis 'n leemte. Dit doen egter nie afbreuk aan die lekker spitsvondige spreekbeurte nie.

    Aan die pluskant moet vermeld word dat die stuk vaardig en vermaaklik aangebied word. Al die spelers is gemaklik in hulle rolle, met Joanie Combrinck so 'n trappie bo die ander. Dis lekker om haar met soveel oorgawe te sien speel. Toerien se regie is, in teenstelling met Vrededorp, vaartbelyn en oortuigend.

    Eet alles speel heerlik met politieke temas sonder om te hoogdrawend te raak. Dit bied uitmuntende feesvermaak.

    Kom terug, Saartjie

    Teks: Hans Pienaar
    Regie: André Stolz

    Die programbeskrywing maak melding van 'n verband tussen Saartjie Baartman en Charlize Theron. Die stuk handel dan ook oor 'n aktrise by name Christel Human en haar ma, Hanna, wat uit Hollywood terugkeer. Die doel van haar besoek is tweeledig: om 'n toespraak by die graf van Saartjie Baartman te gaan maak, asook om met 'n potensiële afperser te onderhandel. Daar is ook ander ooreenkomste met die Charlize Theron-"sprokie", onder andere die moord op haar pa.

    Ten spyte van die gevaarliggies wat bovermelde programbeskrywing laat flikker, kom Pienaar tog met 'n interessante teks na vore. Hoewel die Saartjie Baartman-kwessie bloot aan die hare bygesleep word en die "afperser" se motiewe nooit behoorlik duidelik word nie, werk die teks as 'n verhoogstuk. Puik spel (veral deur Riana Wilkens as die ma-figuur) en Pienaar se interessante dialoog blaas lewe in 'n konsep wat so maklik kunsmatig aangebied kon word. Milan Murray oortuig as die Hollywood-aktrise, terwyl Deon Coetzee ook sy moeilike, ongedefinieerde karakter baas raak. Die einde is egter ongelukkig 'n bietjie flou.

    Ek glo dat Pienaar nog heelwat aan hierdie teks sal moet werk, maar wat op die verhoog gesien is, het verrassend goed gewerk. Pienaar verdien lof vir die handhawing van die spanningsvlak en sy vermoë om die gehoor aan die raai te hou. Hy gaan ook gemaklik met politieke temas om - iets wat baie van die ander dramaturge op die fees laat struikel het.

    Kom terug, Saartjie bied goeie, verteerbare feesvermaak.



    LitNet: 13 April 2005

    Wil jy reageer op hierdie KKNK-teater resensies? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.