Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Paar gedagtes oor die drie groot kunstefeeste in Suid-Afrika

Deon Opperman

Dat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nou die grootste kunstefees in Suid-Afrika is, kan aan verskeie faktore toegeskryf word, maar die belangrikste faktor is sonder twyfel die feit dat die KKNK, anders as die Standardbank Nasionale Kunstefees (SNK) te Grahamstad, ’n unieke kulturele ervaring is, aangebied in ’n unieke geografiese gebied. Dit poog nie om neutraal te wees ten opsigte van die groep wat dit dien nie. ’n Duidelike “bewussynsgemeenskap” word bedien.

Voor ek aangaan: die begrip “bewussynsgemeenskap”? In Engels: “community of consciousness”. Ek skep hierdie term eerder as om die enger “kultuurgroep” te gebruik, omdat “bewussynsgemeenskap” ’n groep mense, ongeag ras, taal or geslag wil beskryf, anders as “kultuurgroep”, wat gelaai is met eksklusiewe skakerings. Maar belangrik: die begrip sluit nie kultuur as sulks uit nie. Inderdaad, dit sluit dit doelbewus in, maar wys eerder op daardie elemente van ’n bepaalde kultuur wat deur verskillende mense uit verskillende “kulture” waardeer en geniet kan word.

Die KKNK bedien dus ’n bepaalde bewussynsgemeenskap, een wat gekarakteriseer word deur die viering van Afrikaans en Afrikaansheid in die breedste sin van die woord, en ook die Klein Karoo self as die plek waar uiting aan hierdie bewussynsgemeenskap gegee word.

Hierdie twee begrippe is kardinaal: “Afrikaansheid” en “Klein Karoo” — vandaar dan ook die geografies-spesifieke naam van die KKNK teenoor die geografies-neutrale “Standard Bank National Arts Festival”. Om dit in ’n neutedop op te som: by die KKNK is selfs die kos ’n uiting van die karakter van die bewussynsgemeenskap wat deur hierdie fees bedien word, teenoor die Standardbank Nasionale Kunstefees waar die Wimpy, Steers en ander kultureel-neutrale eetplekke aan die orde van die dag is. Die “Engelsheid” van die SNK word nie openlik verkondig nie en die “Oos-Kaapsheid” daarvan word minimaal, indien enigsins, beklemtoon, erken of uitgebuit.

Dus: in ’n poging om uiters neutraal te wees en gevolglik iets vir almal te wees, is die Standardbank Nasionale Kunstefees niks vir niemand nie — vandaar die daling in bywoning by daardie fees met die groei van die KKNK waar ’n kultureel-en geografies-spesifieke ervaring aangebied word. Die fees te Grahamstad se beheptheid met neutraliteit word verder geïllustreer deur die feit dat die naam van die 1820 Settler Foundation ’n paar jaar gelede verander is na die “Grahamstown Foundation”, om sodoende enige verbintenis tussen die organisasie wat daardie fees behartig en die identiteit van sy herkoms te elimineer.

Die fundamentele verskil tussen hierdie twee feeste kan verduidelik word deur die verskillende wyses waarop die beheerrade van die feeste die begrippe “liberté”, “equalité” en “fraternité” interpreteer. Oor die eerste twee word daar saamgestem: beide feeste onderskraag vryheid van assosiasie — almal is welkom om die fees by te woon; en almal is gelyk en word gelyk behandel, ongeag ras, geloof of geslag (nie altyd die houding van die feesgangers self nie!). Maar die derde begrip, “fraternité”, word heeltemal anders geïnterpreteer, die een (SNK) uit ’n liberaal-demokratiese ideaal, en die ander (KKNK) uit ’n republikeinse ideaal. Die liberaal-demokratiese interpretasie van “fraternité/broederskap” se doelwit is die ontkenning van verskil (“denial of difference”). Die republikeinse interpretasie van broederskap, daarenteen, is een wat verskil erken (“acknowledgement of difference”) en toelaat binne die breër opset van ’n demokratiese staat. Die liberaal-demokraat vrees die erkenning van verskil omdat die radikale erkenning daarvan lei tot die radikale toepassing daarvan in die vorm van diskriminasie en eksklusiwiteit. Die republikein vrees die ontkenning van verskil omdat die radikale ontkenning daarvan lei tot die afwatering van kulturele identitiet — ’n soort kulturele “one size fits all”.

Die liberaal-demokraat se vrees vir die erkenning van verskil is verstaanbaar, aangesien die radikale erkenning daarvan die Nazi’s en Apartheid tot gevolg gehad het. Tog mag die baba nie met die badwater uitgegooi word nie. Die republikeinse erkenning van verskil, met die nodige maatstawwe daar gestel om die radikale erkenning daarvan te vermy, lei ironies tot ’n dieper verdraagsaamheid tussen kulture juis omdat die viering van daardie kulture aan almal beskikbaar gestel word en sodoende beter verstaan en geken kan word. (My Engelse studente geniet die KKNK byvoorbeeld baie meer as die SNK.)

Die Duitse Oktoberfeeste wat elke jaar in die land gehou word, is ’n goeie illustrasie van hierdie standpunt. Daar is geen Spaanse dansers of “gumboot dancers” of boereworsrolle by die Oktoberfeeste nie. Dit is ’n unieke Duitse kulturele ervaring met Duitste bier, Duitse musiek en Duitse kos en tog woon derduisende feesgangers verteenwoordigend van baie ander kultuurgroepe die Oktoberfeeste by, sonder enige ervaring van diskriminasie.

Die KKNK se krag lê juis daarin dat dit sterk en bewustelik uit ’n bepaalde kultuur en geografiese gebied tot ’n identifiseerbare bewussynsgemeenskap (wat nie slegs Afrikaanssprekendes insluit nie) spreek, teenoor die SNK wat beide wil vermy. Die SNK is ’n “kunstefees” — klaar. Die KKNK is ’n kunstefees met ’n openlik erkende klem op Afrikaans en Afrikaanse kultuur (in al sy vorme) wat baie spesifiek in die land van die volstruis aangebied word. Neem een van hierdie aspekte weg en hy verloor sy identiteit. Toeskouers weet wat hulle koop as hulle die KKNK bywoon. By die SNK is die toeskouer nie seker nie. Om nog ’n metafoor te gee: die SNK is ’n “no name brand”, die KKNK ’n baie spesifieke “brand” — en enige bemarkingsagent sal weet dat ’n herkenbare en identifiseerbare “brand” die eerste stap in ’n suksesvolle bemarkingsveldtog is. Verbruikers wil weet wat hulle koop. Dan kan hulle kies. (Terloops, ek verstaan wel dat ’n “no-name brand” naderhand self ’n “brand” word wat ’n sekere verbruiker lok, maar ek twyfel of dit met die SNK die geval gaan wees.)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees (ANK) lê iewers tussen die ander twee, en oorleef huidiglik gedeeltelik omdat dit so lekker na aan Johannesburg, Pretoria en Klerksdorp is. Die SNK het Port Elizabeth en Oos-Londen; die KKNK het Kaapstad en George (en iets van Port Elizabeth); maar Johannesburg en Pretoria ... dis ’n ander saak. Maar een ding is seker: ’n bepaalde bwussynsgemeenskap word deur die ANK bedien; die enigste probleem is, mens is nog nie heeltemal seker wat daardie gemeenskap presies is nie. In die breedste sin: vir mense wat ’n bietjie fees wil vier, maar teen die KKNK is, is Aardklop ietwat neutraal en karakterloos.

Die vraag moet gevra word: Waar is die swart Suid-Afrikaners? By al drie feeste? Die antwoord: hulle is nie daar nie. Hulle sal ook nooit in groot getalle daar wees nie. Want die nasionale kunstefeeste is ’n Europese fenomeen, en al is die een dalk meer kultureel-spesifiek as die ander, het hulle al drie dit gemeen: wat ookal die bewussynsgroep van die feesgangers, hulle het dit gemeen dat ’n Europese kommunikasietradisie, nl. teater, die ding is wat mense by ’n fees gaan soek. En dis okay, solank enige een kan kom as hy of sy wil, en kan wegbly as hy of sy wil. Maar die beheerraad van enige van hierdie drie feeste wat dit nie besef nie, sal ervaar wat die SNK ervaar het toe hulle met hulle polities-korrekte aanbiedings begin het — 27% en 23% daling in bywoning twee jaar na mekaar. Ken jou mark (bewussynsgroep) en te hel met die res.

’n Woord aan Grahamstad: sit ’n bleddie pynappel op julle poster en vier die Oos-Kaap. Die feeste is nie “nasionaal” nie, al wil julle dit dink; hulle is streeksfeeste, en dis absurd om dit te ontken. Bied ’n vibe aan wat nie by een van die ander twee feeste gekry kan word nie, en julle sal oorleef.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.