Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA rugby se donkerste uur nog nie verby

Blou Bul Braampie

Die terugkeer van Corné Krige het min gedoen om SA rugby se geluk te laat draai. ’n Begeesterde Poemaspan het nuwe leemtes in die beleërde Bok-geledere uitgewys. Die teenwoordigheid van die onbeholpe wedstrydwenner genaamd Koen is steeds besig om plaaslike rugbykenners te teister.

Dit, in kort, is hoe sake nou staan.

Die Drienasies-reeks wat hierdie naweek begin, is deur die Bokafrigter, Rudolf Strooihalm, as “interessant” bestempel. Volgens hom sukkel al drie spanne op die oomblik. Die stelling mag miskien water hou vir die paniekerige Wallabies en die herderlose Bokke, maar beslis nie vir die All Blacks nie. In Nieu-Seeland is daar ’n groot golf nuwe talent uit die Suidsee-eilande wat gereed staan om oor wêreldrugby te spoel. Net die Engelse Rose se gedissiplineerde pak voorspelers kan hierdie swart vulkaan se uitbarsting tydelik vertraag. Ek voel jammer vir spanne soos Fidji en Tonga, wat moet aanskou hoe hulle seuns die Wêreldbeker vir ’n vreemde vaderland wen.

Die Aussies was voor die begin van vanjaar se Supertwaalf vol vertroue dat hulle genoeg talent het om die tuisveldvoordeel in vanjaar se Wêreldbekertoernooi in ’n triomf te omskep. Hulle teleurstellende vertonings in die Supertwaalf, en les bes, hulle drag slae teen die Engelse, het hulle tot die skokbesef gebring dat hulle wenkanse drasties afgeneem het. Baie van hulle voorste spelers se rakleeftyd was verby, terwyl daar nie genoeg jong talent deurgekom het om die ouer garde se plekke in te neem nie. Wallaby-rugby is in ’n afswaaifase en daar is te min tyd om skadebeheer te doen. Aan die ander kant het Australië ’n makliker paadjie na die Wêreldkroon, mits hulle die onvoorspelbare Franse waagartieste in toom kan hou.

Saterdag se openingswedstryd van die Drienasies stuur af op ’n skaakspel soos min. Nie een van die afrigters het nog hulle spanne gefinaliseer nie, maar die geluide uit die Bokkamp klink ontstellend. Indien die gerugte waar is dat Pedri Wannenburg in die koue is, dan voorsien ek swarigheid. Wannenburg is die een speler wat deur die keurders grootgemaak is vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi. Om hom nou opsy te skuif sal die keurders se hele strategie verdag maak.

Die keurders het tot voor die Drienasies hulle goed van ’n moeilike taak gekwyt. Vir die publiek het dit waarskynlik gelyk of hulle rondval, maar ek glo hulle het sinvol geëksperimenteer. Na die vernedering van Twickenham het hulle wyd gesoek om die regte kombinasies te vind. Teen hierdie tyd moes Strooihalm se bende al die regte spelers vir die Wêreldbekeraanslag gevind het. Ongelukkig het al die spelers nie na verwagting presteer nie en staan hulle steeds met hulle rug teen die tekenbord.

As ek my sin sou kry, sou ek die volgende name op die spanlys wou sien: Jaco van der Westhuyzen, op grond van sy deurlopende hoë spelpeil. Hoewel Werner Greeff my eerste keuse sou wees, lyk dit nie of hy van sy hardnekkige besering ontslae kan raak nie. Greeff bly egter een van die min wêreldklasspelers in SA rugby. Op vleuel sal ek kyk na Tinus Delport, Fabien Juries en Anton Pitout. Breyton Paulse sal na so ’n lang periode van onaktiwiteit onmoontlik ’n faktor in die Wêreldbekertoernooi kan wees. Friedrich Lombard en Stefan Terblanche se verdediging is te swak vir die toetsarena.

Op senter is dit verblydend om te sien dat De Wet Barry langs Marius Joubert kans kry. Teen die Engelse op 18 Oktober sal ons vaart, vaardigheid en verdediging nodig hê om die Engelse in toom te hou. Andre Snyman en Grant Esterhuyzen is my tweede keuse. Ook hulle voldoen aan hierdie vereistes. Dries Scholtz is ’n ou karperd wat tussen sy tjommies op die plaasvelde wil speel. Hoewel sommige rugbyskrywers hom wil inskryf, is hy nie opgewasse vir die hoëspoed-spel wat toetsrugby kan oplewer nie. Jean de Villiers was te lank beseer om ’n faktor te wees.

Op losskakel het die Louis Koen-eksperiment nou te ver gegaan. Strooihalm moes Derick Hougaard teen die Wallabies gekies het en gekyk het hoe hy saam met twee vinnige senters kombineer. Ongelukkig is Rudi Joubert deel van die afrigtingspaneel, wat beteken dat daar geen sprake van laterale denke kan wees nie.

Die gevolg is dat ons die Wêreldbeker met tienmanrugby en ’n koudkry-agterlyn gaan aandurf. Nie eens die legendariese Naas Botha is ’n voorstander van so ’n patroon nie. U stem nie saam nie? Kyk gerus maar na die Bokke se drieë op die ‘81-toer na Nieu-Seeland, dan praat ons weer.

Op skrumskakel het die keurders Joost en Enrico January in gedagte. Dit is myns insiens die perfekte kombinasie vir die res van die jaar. January is ’n rugbyterroris wat ’n sleutelrol kan speel in vanjaar se Wêreldbeker. Dit is belangrik dat hy baie tyd saam met die grootmeester (Joost) deurbring in die aanloop na die toernooi.

Voorlangs het Cobus Visagie nie goed gevaar vir die A-span teen Namibië nie. Derhalwe kies Richard Bands homself. Ons voorry lyk redelik, hoewel ek nie vir Dale Sandton as Danie Cotzee se hakermaat sal kies nie. Shimanga is vir my ’n meer afgeronde speler. Enige afrigter wat dink dat hy die Engelse pak gaan papskrum, sal meer as ’n oorgewig Dale Sandton nodig hê.

Die slotte lyk vir my goed, met Geo Cronjé wat, soos wat ek verwag het, sterk na vore tree. Ek verkies hom bo Matfield. Cronjé ploeter nie die hele tyd in die agterlyn rond nie. Dan kom ek maar liewer klaar sonder die twee klapballe wat Matfield by die Engelse gaan steel. Die stryd teen die Rose sal in die vaste los beslis word en dis waar ons die lywe gaan nodig kry. Nie in die agterlyn tussen die senters nie.

Onder die losvoorspelers bly Hendrik Gerber my eerste keuse. Wannenburg is ’n moet, met Skinstad vir kreatiwiteit as Louis Koen speel - anders is daar geen spelskepper nie. Met ’n ander losskakel sal ek Krige of die onbesonge Piet Krause op flank gebruik, met Wannenburg op agtsteman. Krause is ’n ysterman, maar beide hy en Danie Coetzee sal baie intieme ure met die reëlboek moet deurbring voordat die Bokke na Australië toe vertrek. Onthou: Louis Koen is nie al ou wat kan pale toe skop nie!

Oor spelers wat so maklik beseer raak, byvoorbeeld Krige, Paulse en André Pretorius, sou ek twee keer dink. Beserings op kritieke tye kan uiters ontwrigtend op spantaktiek inwerk. Daarom moet spelers wat waarskynlik gaan seerkry, liewer tuis gelaat word.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.