Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bouers en brouers

Clinton V du Plessis

Ek lees Koos Kombuis bou aan (sy huis en die nasie!).

Sterkte broer, sterkte.

Daar is ’n paar dinge in die lewe wat jy net eenvoudig moes doen alvorens jy daarop aanspraak kan maak dat jy voluit gelewe het.

Koop en verkoop aandele, skryf (en publiseer!) ’n boek en bou aan by jou huis. Daar is nog een of twee ander dinge, maar dié los ek vir ’n ander geleentheid! Alles lewensverruimende belewenisse. Jy sal baie gou agterkom bouers, of dan ambagsmanne, is ’n spesie van ’n ander planeet. Uitgeslape, straat-slinks en weet van kleinspeel (met ander woorde, onderdanig voorkom).

Daar is nie nog ’n gemeenskap wat so laat aanbou en groter maak as juis die bruin gemeenskap nie. Hoofsaaklik omdat die meeste van hulle munisipale huise besit, wat net vir die basiese voorsiening gemaak het. Ry maar deur van die suburbs in die voormalige bruin woonbuurte en jy sal sien bykans elke huis is aangebou of verander.

Kom óns bou aan, besluit ek ook.

Die planne is geteken en goedgekeur, en ek besluit om individuele ambagsmanne te huur. Goedkoper as ’n kontrakteur — altans so het dit aanvanklik gelyk.

Hulle daag sommer uit die niet op. Gehoor ek gaan bou en hulle kom soek ’n skroppie (werk). Die een beter as die ander gekwalifiseerd — naas vroue en sakemanne op die gholfbaan is ambagsmanne seker die grootste skinderbekke wat jy kan kry. “Sien meester die Volkskas Bank? Ek het die facebrick-werk buite om gedoen.” Die een kan beter as die ander. “Maak prys,” vra ek. Hy bekyk die plan. “Vier klinker-columns voor en twee arches binne.” Hy probeer my beïndruk. Maak somme agterop ’n sigaretdosie. Hy maak prys. “Is dit nou vir alles?” wil ek weet. “Ja, alles,” beaam hy.

“Nee, dit is hopeloos te veel,” skop ek vas. “Kom ek huur jou per dag.” Dit is net wat hy wou hê. “’n Ietsie vir twakgeld?” vra hy kappie in die hand.

Die volgende dag is hy daar. Sonder enige gereedskap.

“En?” vra ek. “Nee, die saak staan so,” verduidelik hy. Omdat ambagsmanne nie gereeld werk het nie, moes hy sy tools gaan verpand om die pot aan die kook te hou. As ek hom dus “aan die hand kan vat” met ’n “ietsie”, kan hy sy tools gaan “los” en begin. Wel, studeerkamer-sosialis wat ek is, help ek hom.

Dit was net na agt die oggend. Tienuur bel ek om te hoor of daar al begin fondasie gegrawe is. Nog niks. Die messelaar is nog nie terug nie. Middagete verkas ek huis toe. “Nou net gekom,” maak hy verskoning. Het sy tools “gelos”, maar moes ’n handlanger soek.

“Kan meester nie iets gee vir ete nie, nog niks vandag geëet nie.” Hy lyk erg verleë met sy voortande uit (ek dink hierdie ding van jou voortande trek is ook ’n “brown thing”). Weer help ek. Die man het al sy dag se loon weg, besef ek, en daar is nog geen steek werk gedoen nie. Teen vyfuur kom ek tuis en daar is nie veel gevorder nie. Môre is nog ’n dag, besluit ek.

Volgende oggend is hy daar — ook sy vrou en kind en die handlanger en ook ’n benoude drankwalm. “Agge nee, wat dan nou?” “Nee, meester sien, die saak staan so.” Die munispaliteit was gister daar en dreig om hom uit te sit as hy nie voor elf iets op die rekening betaal nie. So, hy’t nou maar gewonder of die meester hom nie weer “aan die hand kan vat nie”, dan trek ek dit nou môre af van sy loon. Nee, ek sal help, maar dan moet hulle darem nou begin om werk te maak van die fondasie.

Die aand is die fondasie klaar gegrawe. Ek voel ingenome. Uit waardering gee ek hom die dag se loon en sê dat ek teen die einde van die week die geld vir die tools gaan aftrek. “Nee is reg,” lag hy. “Die Here sal meester seën.” “Hoekom vat jy dan jou tools saam?” vra ek hom. Nee, hy’t nog ’n klein werkie om te doen.

Wel, die volgende oggend bly hy weg, en die dag daarna, en die dag daarna. Hy’s net weg — moer toe die distrik in, met apologie aan die skrywer van Moer toe die vreemde in. Huur jy per dag, rek hulle die werk uit. Huur jy vir die hele kontrak, voorskot hulle so vinnig die geld op dat jy vind die volume werk wat nog gedoen moet word, vergeleke met die geld wat nog oor is, laat jou aan die kortste end trek.

So karring dit aan. Vier weke en drie bouers later is ons heel agter skedule. “Waar,” vra ek radeloos vir my buurman, “is die messelaars wat dan kwansuis 1 000 stene per dag kan lê!” “Jy kry hulle nie meer nie,” antwoord hy. “Maar try vir Kalbas, ek hoor hy is goed.”

Kalbas daag op met ’n baadjie en sy sewe- of agtjarige seuntjie. Kaalvoet, snotterig, ’n week se slaap sit taai in die hoeke van sy oë. “Is dié my redder?” wonder ek.

“En die kind?” vra ek.

“My handlanger,” antwoord hy kortaf.

“Maar jy kan tog nie,” beswaar ek.

“Nee meester, help nie meer hulle gaan skool nie, daar is tog nie werk nie; ek leer hom van kleins die ambag.” Kalbas hou net twee ure, toe fire my ma hom. Sy’s ’n ander ene. “Hoe de donner kan hy met ’n baadjie aan staan en werk?” vra sy. “En daai handlanger van hom … dis ’n sonde.”

Nee wat, nou huur ek ’n oom van my wat van die beste werk op van die omliggende plase gedoen het. Maar, o wee. Die werk vorder vinnig, maar wat ’n volslae gemors. Die muur wat ek aanvanklik gevra het met klinkers gebou moes word en netjies joints gestoot moes word omdat ek nie die binnekant wou pleister nie, se lae loop so skeef dat ek uit desperaatheid dit laat toepleister. Toe ons die deur moet inbou, is die opening te klein. Toe die skrynwerker die kappe wil opsit, is die muur amper ’n voet uit. Dit is die laaste strooi. “Vat jou goed en $%#&@,” snou ek hom toe.

Na ses maande trek ons uiteindelik in.

Die huis is veel ruimer.

Maar as dit reën, moet ek my rekenaar skuif, anders lek daar ’n straal water binne-in die blikbrein in; en as die wind erg waai, flapper ’n los dakplaat my die hele nag wakker. Soms skop die krag af as ek die haarsnyer gebruik as die stoof ook aan is; die hekkie by die stoep is onderstebo aangesweis en staan ek in die kombuis en korrel teen die muur af, maak dit na die onderpunt so ewe swaai soos ’n binnesenter wat ’n voorspeler flink sidestep.

Soos hulle sê, ’n dokter begrawe sy foute, ’n prokureur laat syne opsluit … En ’n bouer?

Sy foute bly lewensgroot staan vir almal om te aanskou. Jy moet maar met ’n bietjie verf en sement die beste maak van ’n slegte saak.

Miskien dié dat Kalbas altyd baadjie dra. Wie weet watter flaters steek hy weg.

Of maak daai Vakman nie foute nie?

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.