Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ope brief aan Allan Boesak

(Kleur kom nooit alleen nie — die nege jare na Uhuru — ’n persoonlike bruin blik van binne) *

“Every generation blames the one before, until all of their frustrations come beating at your door.” — Mike & the Mechanics

Beste Allan

Ek hoop nie jy gee om dat ek jou op jou voornaam noem nie.

Teen dié tyd weet ons minister Mantho Tsabalala-Msimang hou nie daarvan dat mense so gemoedelik met haar omgaan nie, but then again, jy was nooit (werklik) ’n politician nie, dus neem ek aan jy is nie so vain nie.

Ons ken mekaar nie, alhoewel ek al baie van jou gehoor en oor jou gelees het.

Ek is die ou wat destyds teen die stroom op kant gekies het vir Rachelle Greeff toe daar so sterk gereageer is teen die verskyning van jou digbundel en jou uitnodiging na die jaarvergadering van die ASV. Skrywers is maar ’n weerbarstige klomp, oor die algemeen eerlik, maar ook vreeslik naïef. Dit maar net as agtergrond.

Ek is in elk geval nie van plan om vandag met jou te baklei oor jou gedigte nie — dit is, myns insiens, ’n luukse om hare te kloof oor gedigte terwyl ’n paar honderd mense elke dag sterf omdat teenretrovirale middels halsstarrig weerhou word of Manenberg se kinders elke oggend moet koes vir ’n verdwaalde koeël uit die loop van ’n bendepistool. Nege jaar na die koms van Uhuru, en die flatlands van die Kaapse Vlakte is nog steeds under siege …

Maar ek dwaal af.

Die rede hoekom ek hierdie brief aan jou skryf, is hoofsaaklik tweeledig. Enersyds gaan dit oor die debat wat op Oudtshoorn begin is rondom die konsep “bruin”. Daar is so versigtig-versigtig geraak aan wie die bruin leiers is, en dit het my laat dink aan jou. Andersyds het ek ’n onlangse onderhoud met André P Brink gelees nadat ’n eredoktorsgraad deur die UP aan hom toegeken is. Hy merk onder andere daarin op dat dit verkeerd is om alewig die vorige geslagte of apartheid te blameer, omdat die jonger geslag ook die kans gehad het om keuses te kon maak.

Verskoon dus as ek effe nostalgies raak, want ek skryf aan jou oor verlore kanse.

Terug dan by die eerste punt.

Vergeef my as ek miskien aanstoot gee deur jou die mantel van “bruin leier” om die skouers te hang, maar ek sal probeer verduidelik waarom ek dit doen. Ek voel nou al net so gefrustreerd soos die karakter in David Kramer se liedjie, “Stoksielalleen”, wat op ’n Saterdagaand na ’n dansmaat soek.

Ek kyk oral om my rond na bruin leiers, maar almal wat deesdae suksesvol is, is te skaam, te besig of te bang om te erken dat hulle bruin is. Almal is undercover coloureds , braaivleis-bushies — en dan sit jy met die dilemma dat daar, behalwe vir Rashied Staggie en die 28’s met goud in die tande en hulle BMW’s, geen ander rolmodelle is wat aan die jeug voorgehou kan word nie.

Soos ’n digter iewers geskryf het: “Die intellectuals waver …” Tot ’n mate verstaan ek hulle predicament — ek meen, hulle het die heeltyd vanuit hul intellectual enklave gesê ons is almal swart (al het hulle dit miskien tereg in ideologiese konteks bedoel), maar hoe kan hulle nou gat omswaai en skielik sê, “Sorry, ons het julle confuse, julle is eintlik bruin?”

Ek is skepties oor intellectuals. Paul Johnson skryf dan juis in sy boek Intellectuals as volg:

“Above all, we must at all times remember what intellectuals habitually forget: that people matter more than concepts and must come first. The worst of all despotisms is the heartless tyranny of ideas” (bl 342).

En ons president is juis ook ’n intellectual, ’n internet-intellectual daarby — ’n Smuts met idees en grand planne vir Afrika, maar afgesny van die gewone mense, uit voeling. Mbeki is amper soos Zach du Plessis wat probeer om op Maak ’n Las, Tolla van der Merwe (Mandela) se skoene vol te staan — mission impossible ...

Vir die “sogenaamdes” was kleur maar net soos in Peter Snyders se drama ’n “Political Joke — semantic masturbation”. Hulle het bruin ouers aangemoedig om hul kinders in Engels groot te maak (terwyl hulle voortgegaan het om hul brood en botter te verdien deur Afrikaans te doseer aan nou gesneuwelde Departemente Afrikaans-Nederlands), omdat die kinders beter sou kon inskakel by die ekonomie. As hulle maar versiende was en ook aangedring het op die aanleer van ’n swart taal, dan was die staatsdiens ten minste ook ’n opsie!

Ons onderwyserskorps, vir ’n lang tyd die enigste werklik professionele mense in die gemeenskap, is ewe rigting- en doelloos: hulle stuur almal hul kinders na voormalige Model C-skole, en dis aan die kinders wie se ouers nie die gateway na gehalte kan bekostig nie, nie eens gutter education op nie, maar sewerage education, onbeskaamd en sonder gewete. Kinders in graad agt kan beswaarlik spel of lees. En ons kan nie eens meer apartheid daarvoor blameer nie — dit is doodeenvoudig vrot onderwysers wat nie ’n dooie duit omgee nie.

Die polities korrekte besluit om Rapport Metro op te neem in die groter, wit koerant (weer eens het die intellectuals voor in die koor van aanvaarding gesing), het gewone bruin mense — mense wat, in die woorde van die karakter in Siener in die Suburbs, “net van geweet wil wees” — ontneem van ’n forum. Hul nuus en hartseer en heuglikhede moes skielik meeding met Steve Hofmeyr se kitsch geloofsmenings en Karen Zoid se gulp-glips (dinge waarvoor ons nie ’n damn omgee nie). Die briewerubriek wat voorheen met brood-en-botter-issues te doen gehad het, het hulle opsy geskuif vir die rantings en ravings van Afrikaners — ’n gekweel oor taal en kerk en vloekwoorde in Song vir Katryn of in die Isuzu-advertensie. Fokkit, ek is ook Afrikaans, maar raak nie hees-opgewonde oor elke boertjie (of boerin) wat ’n kitaar gryp en ’n klomp onsamehangende akkoorde en lyrics voorhou as musiek nie. Afrikaners kan nie rock nie — net raas en rumoer.

Maar soos ek sê, daar is geen suksesvolle rolmodelle nie (altans nie op televisie nie, behalwe miskien Bianca, maar ons het meer nodig as aspirant-pop idols wat cover versions sing, en looks hou net ’n seisoen lank). Al waarmee die jeug gedwing word om te assosieer, is die bottelkop-rokende losers wat hul few minutes of fame te danke het aan Freek op Fokus.

Die boodskap is: Hier is julle mense — die dropouts, die dronk dissipels van Bacchus, die nowhere people van die buffer zone, die fatalistiese fokkops van apartheid — terwyl ons inderdaad ook die vissers sonder kwotas is, die onseker bewoners van die kleinhuisies in HOP-republiek, die sku kinders van die Khoi (al het ons voorheen slegs die portrette van die gladdehaar- en lig-van-kleur-voorouers teen die mure in die voorkamer gehang), en — bowenal — die reluctant brothers in arms van Ashley Kriel.

Ek onthou jou.

Jy was vir my en ’n hele geslag die naaste wat ons hier kon kom aan ’n Martin Luther King Jnr. Ons was, in Breytenbach se treffende woorde, as ek reg onthou, “te jonk vir berusting en aanvaarding, te oud vir bittere verset”. Jou hande was skoon. Voor jou was daar baie ander segsmanne vir hierdie bastergeslag wat herderloos vasgevang bly sit het tussen die (wit) eksklusiewe hemel en die (swart) diep donker hel.

Ons ouers is verkoop deur Tom Swartz, teruggekoop deur Sonny Leon, weer uitverkoop deur Allan Hendrickse in sy swembroek op Koningstrand en uiteindelik bankrot (sonder reserwe) wholesale uitverkoop deur Gerald Morkel. Hoekom wonder politieke ontleders dan nog steeds hoekom bruines in 1994 in groot getalle die baas met die bles agterna geloop het? Net om weer eens wreed ontnugter te word. Ons leiers het roekeloos geflankeer en rondgeslaap met FW, Mangosuthu, Mandela. Of meer onlangs: maak ’n bod en ek loop oor, gee my ’n pos en ek sing jou deuntjie. One person, one party!

Maar jy was ’n vars bries en jy’t Afrikaans gepraat — beter as die spanner-en-tyre-brigade wat hulself die Afrikaners genoem het. Jy het die taal van die gewone mense op die platteland gepraat — die wat onbeskaamd bruin was — sonder om die swartes weg te stoot.

Jy’t die magtige NG Kerk aangevat in hulle eie taal, met hulle sterkste wapen, Die Bybel, en vir die wêreld gewys hierdie was nooit Kerk nie, maar ’n klomp meelopers wat teologiese onderbou aan Apartheid gegee het — wat bo alles eerder lojaal sou bly aan die stem van Malan, Vorster en Botha as aan die stem van God.

En jy het vyande gemaak.

Toe die eerste stories begin loop oor jou private lewe, het ek geweet — die lang messe is uit … jy het te hard getrap op sekere tone. “Dirty tricks,” het ons gedink — en jou die voordeel van die twyfel gegee.

Ek onthou graag.

Die begrafnis van die Cradock-vier. Bang, veilig en afgesluit van die werklikheid deur hul Casspirs, gewere en vooroordeel, het die dorp wit en eenkant in sy dop gekruip. Jy triomfantelik op die skouers van die uitbundige skare, die swart township-stadion ’n massa verenig in rou, gebroke maar nie gebreek.

Tutu was daar.

Ons kon almal die oorwinning ruik, vóél, antisipeer. Die skrif was aan die muur.

Dié aand het SAUK-televisie die meeste gemaak van jou voor die rooi vlag, met die hamer en sekel teen die agtergrond. Jy’t die Boere aan hulle knaters beetgehad, Pretoria het die tekens van die tye gelees en ’n noodtoestand afgekondig. En, mind you, al wat jy in jou hand gehad het, was (nee, nie ’n kitaar nie) maar die Woord. Hel, kon jy praat, meesleurend, eloquent.

Ek onthou weer.

In die tagtigs reël die UDF ’n vergadering in Ladysmith, Natal. Die saal bars uit sy nate uit. Almal is daar: Fatima Meer, Mewa Ramgobin, Billy Nair, Terror Lekota (daag effe laat op omdat hy by ’n padblokkade voorgekeer is) en jy. Die ander praat, maar toe kom jy aan die beurt. En jy praat met die oortuiging van iemand wat weet dat hy die geskiedenis, die wêreld, reg en geregtigheid aan sy kant het. En toe jy klaar is, staan daai hele donnerse saal op en gee applous, en niemand wil juis loop nie, want almal het geweet: dié is die wenspan … die krake in die keerwal kon nie meer toegepleister word nie … dit was net ’n kwessie van tyd. Ek wonder of jy toe al besef het dat ook jy ’n duur prys sou moes betaal.

So ’n jaar gelede ry ek trein. ’n Passasier van Jeffreysbaai klim in Port Elizabeth op en reis na Johannesburg. Besig met sy MA in publieke administrasie en gaan eksamen skryf by Wits. En ons praat aanvanklik versigtig-verkennend Engels. Vind later uit ons is meer gemoedelik tuis in Afrikaans. Die gesprek loop wye draaie oor politiek op plaaslikeregeringsvlak, en bloot per toeval kom die gesprek by jou uit. Hy ken jou, was student by UWK, saam gereis na UDF-vergaderings. Naas Biko se ongeleë dood, sê hy, is die verloop van jou lewe seker die land se grootste tragedie. Hy onthou hoe jy voor vergaderings, destyds in die platteland, by die eenvoudigste huis sou ingaan en saam met die mense die nederigste maaltyd sou geniet wat jou aangebied is. Jy was die man vir die mense, sê hy, ’n gebore leier — nie ’n politikus nie.

Maar, soos jy weet, het die lewe met jou allerhande draaie geloop.

Ek onthou verder.

Een aand op televisie. Die nuus — ’n arrogante klein bliksem van Cosas, met donkerbril en drie nagte se slaap hardnekkig in sy hare — hy vee jou met een enkele sin van die tafel: “Comrade Boesak is ill-informed.” Die stem van rede word nou, omdat dit durf verskil, die stem van die waningeligte. Die wiel het ten volle gedraai.

Dit bring my by die tweede punt.

Brink sê ons kan nie altyd die vorige geslag bly blameer nie, maar dit veronderstel sekerlik nie dat ons nie mag antwoorde soek nie. Ek is nie bitter oor die dinge wat met jou gebeur het nie, nog minder wil ek jou verwyt, maar ook jy het keuses gehad — ongelukkig soms verkeerd gekies. In die proses het jy ’n hele klomp mense weer eens herderloos gelaat.

Miskien het almal te veel van jou verwag, maar die Here weet, jy het self al daardie verwagtinge geskep of gehelp skep. Jy het ’n hele klomp mense gedrop (bygesê, nou darem nie so erg en onbesonne soos Percy Sonn nie — nog ’n rolmodel in sy Bellingham-peetjie!). Jy het baie van ons (verskoon die taal) die moer in gemaak. Hoekom? wou ons weet. Maar die vraag is nooit werklik beantwoord nie.

Daar buite is mense wat nie noodwendig ’n politieke leier soek nie, maar ’n rigtingaanwyser, iemand wat genuanseerd hul vrese en verwagtinge kan verwoord.

Selfs die Kerk het die maklike uitweg gekies en swyg — ons het ’n land geword waar jy nasie bou met ’n bier in die hand en jou bek toehou. Ek sien ’n hele klomp gidse wat uitkoms belowe, maar die meeste het wit kieries, se kompasse is stukkend, of bied ’n free ride (in ruil vir ’n stem, natuurlik).

Die akteurs is verby hul beste speeljare — Peter, Marthinus, Patricia (?) — selfs nadat ek hierdie fliek verniet gesien het, sal ek steeds my geld terug wil hê.

Ek sien ook die regering het, helaas, daarin geslaag om ’n monetêre waarde te koppel aan vryheid — ’n lewe was nog altyd goedkoop in hierdie land, maar nou is dit darem amptelik gekwantifiseer.

Wat kan jy koop vir R30 000?

’n Tweedehandse tjor (voetstoots) betaal vir ’n jaar se skoolgeld by ’n nie te wafferse privaatskool, vir vyf kinders Nikes, designer-snit-jeans, tops, ’n armhorlosie en selfoon, of betaal miskien iets af op die agterstallige water-en-eiendomsbelastingrekening voordat die staatshuis onder jou uitverkoop word, of help iets wegsit vir die begrafniskoste vir die baie sterftes aan die siekte wat niemand by die naam mag of wil noem nie. Vir die captains of industry en pragmatiese politici weer, koop dit twee nagte se verblyf in die executive suite by die nuwe Melrose Arch Hotel. Iets ruik nie lekker nie …

Soos jy nou al seker agtergekom het, hou ek van afdwaal. Help om dinge in perspektief te plaas.

Ek dink egter jy sien wat ek probeer sê. Ek het ook vir die eerste keer in 1994 gestem — en my kruisie gemaak langs die foto van die lang maer man met die grys hare — maar ek is geen loyal en disciplined member nie. Baie mense — bruin mense en arm mense — voel ons is (in goeie, verstaanbare Afrikaans) kniediep in die k*k.

Verstaan mooi, hulle moan nie oor die freedom nie (daar is darem Saterdae laatnag gratis porn op e-tv) — dis die onbeskaamde excesses, die semantiese fyndraai, die pragmatic prostitution van beginsels, die silent diplomacy van democracy wat hulle onderkry. Is Democracy dan nie juis die kreupel Kempton Parkse hoerkind verwek deur die slinkse hunk, Katoolsie Capitalism en die aanvallige, wêreldwyse Struggelina von Exile nie?

Wat het geword van die Freedom Charter — wie haal (hang) dit nog deesdae aan?

The doors of learning and culture shall be opened and education shall be free, compulsory, universal and equal for all children.
(Provided you can afford the school fees and keep your teachers sober.)

All people shall have equal right to use their languages, and to develop their own folk culture and customs.
(Hoor, hoor.)

Rent and prices shall be lowered, food plentiful and no-one shall go hungry.
(Get real! Wat het Trevor Manuel op ’n stadium oor die mark kwytgeraak?)

All people shall be entitled to take part in the administration of the country.
(Provided you are one of the designated groups.)

Die mense soek rigting, en of jy dit nou wil weet of nie, baie van hulle (meer as wat jy miskien besef) kyk na jou … hulle wag op ’n kaptein. Maar die intellectuals waver … en intussen vat Marthinus van Schalkwyk die gap en daag, namens me Langenhoven, wit rassiste voor die Menseregte-kommissie!

Is dit net ek, of voel jy ook hier is ’n moerse skroef los?

Ek weet nie of jy Van Morrison se musiek ken nie — donker, droefgeestige lirieke:

And it’s a matter of survival
When you’re born with your back against the wall
Won’t somebody hand me a bible
Won’t you give me that number to call.

Hoe lyk dit?

Die mense is desperaat. En daai storie van “Die Here het gaskommel, en die dice het verkeerd gaval vi’ ons, daai’s maar al” moet nou in Godsnaam end kry. Dit lyk vir my, gegewe die huidige opset, te veel na die easy way out.

Of glo jy die profeet Amos is reg as hy sê:

Dit is daarom dat ’n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is ’n bose tyd?

Jy skuld die land die kans om jou anders te onthou.

Broederlike (bruin) groete.

Clinton V du Plessis

*Die titel is ontleen aan Antjie Krog se digbundel Kleur kom nooit alleen nie en Breytenbach se destydse “Blik van Buite”-toespraak.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.