SpookNet — rubriek oor aktuele sakeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Teen die tirannie van deursigtigheid, of oor die noodsaaklikheid van onverstaanbaarheid

Johann Rossouw

Daar het in die De Kat van September 1999 ’n merkwaardige artikel uit die pen van Susan Coetzer, aktrise en joernalis, verskyn — ’n artikel waarin sy dit goed dink om haar lesers in te lig aangaande ’n hele rits intieme besonderhede van haar vars huwelik met die akteur Philip Moolman. Die merkwaardigheid van die artikel setel nie in wat ons oor hulle huwelik te wete kom of oor die ontboesemende toon waarop dit geskryf is nie: sommiges sou waarskynlik die artikel as dapper beskou (weens die oënskynlike eerlikheid daarvan); ander sou dit waarskynlik as naïef beskou (weens die feit dat dit byna onmoontlik geword het om iets moois te skryf sonder om sentimenteel aan te doen). Nee, die merkwaardigheid van die artikel setel in die enersydse vervloeiing van die private en die openbare wat daaruit spreek, en andersyds in dít wat dit moontlik maak om vandag so iets te skryf. Hierdie moontlikheidsvoorwaarde wil ek beskryf as die tirannie van deursigtigheid en ek sal hieronder daarop uitbrei.
    Maar wat is die tirannie van deursigtigheid en waar het dit begin? Kortom sou ’n mens die tirannie van deursigtigheid definieer as die aanname dat die hoogste vorm van waarheid die volkome deursigtige is. Hierdie aanname perverteer Plato se insig dat die mens nie sonder waarheid kan lewe nie deurdat dit sonder meer aanvaar dat die waarheid wat hier ter sprake is die een is wat volkome onthul.
    Wat is die ontstaansgeskiedenis, die genealogie, van die tirannie van deursigtigheid? Dit lyk my dat die tirannie van deursigtigheid ’n nederige en onskuldige begin in die Verligting aan die einde van die 18de eeu in Europa beleef het. Behalwe vir die feit dat die Franse Rewolusie ’n belangrike rolmodel vir meer deursigtige staatsbestelle geword het, het Kant en veral Hegel die filosofiese grondslag gelê vir die aanname dat die mens met sy rede die werklikheid na sy aard kan deurskou. Ter verdediging van Kant kan ’n mens darem nog sê dat hy die gesonde aanvoeling gehad het om te beweer dat die “ding-in-sigself” nie volkome geken kan word nie, soos God ook nie volkome geken kan word nie. Hy het dus ’n grens aan die moontlikhede van redelike deursigtigheid geplaas. Hegel, daarenteen, het die hoop gekoester dat die werklikheid en die rede regoor mekaar kan pas met die resultaat van glasheldere deursigtigheid.
    Hoewel hierdie twee here minstens nog behoorlik nagedink het oor die deursigtigheid, kan ’n mens ongelukkig nie dieselfde sê van ons era wat geheel en al met die ideaal van deursigtigheid op loop gegaan het nie. In die openbare ruimte moes ons met die opkoms van demokrasie meemaak hoe die mees demokratiese en deursigtige state geleidelik kenmerke van polisiestate begin vertoon. Foucault het reeds in die jare sewentig daarop gewys dat daardie samelewings nie samelewings van skouspel (Guy Debord) was nie, maar samelewings van monitering. So kan dit byvoorbeeld gekonstateer word dat tot so veel as 40% van Amerikaanse werkgewers vandag hulle werkers op die een of ander manier moniteer, of dat internetgebruikers toenemend onwillekeurig tot die databasisse van groot verkoopsmaatskappye gevoeg word.
    In die private sfeer het die opkoms van die massamedia, tesame met restante van belydenispraktyke uit religieuse rituele, hulle deel bygedra om openbare belydenisse van die private in ’n industrie te omvorm. Die voorbeelde wat hiervan gegee kan word, is legio: dit strek vanaf die opkoms van outobiografie in eietydse letterkunde tot geselsprogramme op radio en televisie, vanaf steelfotografie tot charismatiese kerke se “getuienislewering”. Tot in die fynste besonderhede ryg ons elke greintjie van ons privaatlewens uit in die geloof dat ons nog meer in die waarheid leef en so nog nader aan die ou Platoniese ideaal van die goeie lewe staan, hoewel dit bitter selde so intelligent geartikuleer word. Dit is juis hierdie kulturele praktyk wat dit moontlik maak dat ’n artikel soos dié van Susan Coetzer in De Kat kon verskyn. In die proses roep sy elkeen van haar lesers tot getuies van haar beweerde gelukkige huwelik. ’n Mens sou heelwat kan spekuleer oor die psigiese vrae wat hier ter sprake is — Is meer lesers-as-getuies ’n aanvulling van selfbetwyfeling? Is daar seksuele bevrediging in so ’n media-ontbloting? — maar dit is nie die taak van verantwoordelike denke om sig aan sulke spekulasie oor te gee nie. Die eintlike vraag is: Hoe menslik is volkome deursigtige waarheid?
    Daar is al geruimte tyd in die eietydse filosofie agterdog teen die Verligtingsideaal van deursigtige waarheid vaardig. Heidegger het reeds meer as vyftig jaar gelede in sy beroemde ontleding van die etimologie van die Griekse woord vir waarheid, alétheia, gewys daarop dat hierdie woord beide op onthulling en verhulling dui, sodat hy kon konstateer dat enige waarheid tegelyk onthul en verhul. Meer onlangs wys Derrida in ’n onderhoud met Fragmente (Fragmente 3: 52-53) daarop dat die demokrasie nie sonder die geheim kan bestaan nie en dat absolute deursigtigheid uitloop op polisiëring. Die Belgiese filosoof Rudi Visker stel dit tydens ’n werkswinkel oor universalisme en partikularisme gedurende Julie vanjaar by die Universiteit van Pretoria dat ek vir myself ook ’n ander is, onder meer omdat dinge soos my velkleur, my naam en my moedertaal my definieer sonder dat ek kan sê wat dit presies beteken. My persoonlike gunsteling in hierdie galery van die verdagmakers van deursigtigheid is egter die gereserveerde Franse skrywer Pascal Quignard. In sy diep ontroerende Vie Secrète (Geheime lewe. Parys: Gallimard, 1998) begeef hy hom in ’n reeks besinnings oor die geheim. Oor die liefde stel hy dit dat wanneer twee mense hulle in ’n liefde begeef hulle inderwaarheid saam ’n geheime wêreld stig. Dit is omdat hierdie geheime wêreld altyd neerkom op ’n afstigting van die openbare wêreld dat die gemeenskap altyd aanvanklik negatief staan teenoor ’n nuwe liefde. Quignard stop egter nie by hierdie stelling nie. Hy gaan nog verder deur te beweer dat die huwelik in wese neerkom op die opheffing van die geheim as voorwaarde van die liefde, omdat twee mense wat trou die gemeenskap tot getuies roep, hul liefde publiseer en sodoende die belangrikste voorwaarde van hulle liefde ophef. Vanuit Quignard se verwysingsraamwerk gesien, het Coetzer inderdaad die takelwerk van haar verhouding losgerafel met haar artikel.
    In die verlenging van hierdie galery van die verdagmakers van deursigtigheid wil ek twee opmerkings maak oor onderskeidelik die openbare en die private. Wat die openbare betref, het ons onlangs weer ’n debat oor die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) met die publikasie van Anthea Jeffrey se The Truth About the Truth Commission meegemaak. Jeffrey en ander kritici van die WVK kritiseer die kommissie op grond van die feit dat dit nie genoeg objektiewe en getoetste waarheid oor ons verlede geproduseer het nie. Maar is sy nie hiermee besig om haar skuldig te maak aan die tirannie van deursigtigheid nie? Is daar nie ook die waarheid van gebrekkige geheues en verhale saamgeflans uit pynlike herinneringe nie? Herinneringe waarvan die volle onthulling miskien te pynlik sou wees? Was die blote vertel van brokkige waarheid nie al ’n belangrike stap in die rigting van gedeeltelike herstel nie?
    Wat die private betref, merk ek ’n tyd gelede ’n aanhaling in ’n dagblad op: “Liefde is blind en vriendskap sluit die oë”. In hierdie aanhaling word die waarde van ondeursigtigheid gesuggereer. Die betekenisvolle ander moet vir my ander bly. Deursigtigheid beteken beheer, selfs besit. Wie besit word, is nie meer ’n ander nie. Sonder andersheid is geen liefde of vriendskap moontlik nie. Dieselfde mens wat ’n goeie vriend van een mens kan wees, kan ’n monster by ’n ander wees. Maar hoe sal ek ooit genoeg weet om volkome van sy doen en late sin te maak? Uiteindelik bly hy vir my onverklaarbaar, maar daarom des te meer vriend. Ek laat hom toe om in die beskermende kleed van sy onverstaanbaarheid te leef. Ek vra nie uit oor sy intiemste dele nie, maar wag geduldig op wat my gewys word. Waaroor daar geswyg word, aanvaar ek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.