SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Francois Bloemhof se tweede verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Wag

Fanie Viljoen

“Lubrication,” sê Frikkie. “Dis al wat sy nodig gehad het. Net ’n bietjie nattigheid om haar moving parts weer aan die move te kry.”
    “Uh,” sê Liefie, maar sy klink nie geïnteresseerd nie, suig net aan haar sigaret en kyk dan hoe die kooltjie sagter gloei.
    “Sy het ’n ruk lank geloop soos ’n droom. Frikkie se dream machine  … en toe vrek sy weer. Morsfokkendood.”
    “Uh,” sê Liefie weer, gooi die stompie voor haar voete neer en trap daarna met haar pienk skoene. Sy voel die sigaret brand deur haar skoensole en laat dan haar oë so dwaal oor die karre. Frikkie se bek is nou stil. Hoogtyd ôk. Sy alewige gepraat van karre  …
    “Daarsy, Kotie, daarsy!” roep Liefie skielik uit en stamp na Kotie wat kop onderstebo langs haar op die muurtjie sit. Kotie ruk regop. Haar oë groot geskrik. “Daar’s jou mense, hol!” En Kotie hol. Haar crimplene blommetjies skirt skuif op oor haar dik bobene en haar wit plakkies klap-klap op die sypaadjie. Liefie kyk hoe Kotie maak soos sy haar geleer het. Sy vat die kaartjie uit die windscreen wiper en staan so effe weg van die kar. “Moenie so gepanick lyk nie, Kotie,” het sy altyd gesê. “Jy lyk soos ’n donnerse vlakvark in ’n kar se headlights. Relax en wag lat die mense self vir jou geld gee. Moenie vra nie. Wag lat hulle self gee.”
    Sy sien hoe Kotie wag, haar kop effens onderstebo. Sy kon nog nie die panicked look afskud nie, nou kyk sy maar vir haar voete. Vir die vuil merke tussen haar tone.
    Liefie sien hoe Kotie so bly staan en sy sien hoe die mense wegtrek sonder om haar te betaal. Stingy bastards, dink sy. Kan ’n blêrrie BMW bekostig, maar nie vyftigsent vir die mense wat na hulle kar kyk nie. Sy kyk hoe Kotie terugstap. Haar plakkies kliks-klaks nou stadiger. Liefie beduie vir haar sy moet teruggaan. Daar gaat nou weer iemand kom wat sy kan vra. Kotie draai om en stap terug. Sy doen alles wat Liefie sê.
    Langs haar sit Frikkie en tel sy geld. Hy sit die twintigsente en tiensente langs mekaar op ’n hopie, dan die vyftigsente en dan die drie randstukke. Daar was nog niks groter vandag nie. Hy voel-voel na sy gatsak en haal twee tienrandnote uit. “Hei, Liefie, watch my space, hé. Ek gaan gou Shoprite toe, okay? Ek gaat daai jumpers koop. Ek het nou genoeg.”
    “Om te wat?”
    “Virrie jumper leads, man.”
    “Ek weet dis vir die blêrrie jumper leads, maar om te wát?”
    “Om die karre weer aan die loop te kry. Jy weet as hulle hulle ligte aan vergeet.”
    “Watter karre brand nou ligte in die dag?”
    “As dit reën brand hulle. En dan vergeet die mense dit aan. Sien, omdat hulle dit so min doen. En dis waar my scheme begin.”
    “Jy het altyd ’n scheme.”
    “Hierdie een gaat werk. As hulle karre gevrek het, gaat ek hulle my jumpers leen en dan gee hulle my ’n tip en dan maak ek meer geld as wat ek net karre watch.”
    “En waar wil jy die jumpers inplug? In jou gat?”
    “Aan ’n battery.”
    “Wat jy waar kry?”
    “Wat ek voor spaar, maar in die meantime leen ek sommer die passers-by se batteries.”
    “En as die passers-by vir jóú vir ’n tip vra?”
    “Jy is net suurgat omdat jy nie daaraan gedink het nie.”
    “Ek is nie só stupid nie, man. Wannir dink jy gaat dit in elk geval reënt? Kyk op. Sien jy enige wolke?”
    “Wat praat julle?” klik-klaks Kotie nader en gaan sit onnatuurlik hard op die muur langs Liefie.
    “Frikkie het weer ’n scheme gekry, nou vertel ek hom net hoe stupid dit is.”
    “Oo,” sê Kotie en maak haar oë toe om te hervat waar haar slaap netnou opgehou het.
    “Sorry oor die kar van nou-nou, Kotie.”
    “Ag,” sug Kotie.
    “Wat sê die mense?”
    “Niks. Maak net of hulle my nie sien nie. As hulle weet dat ek ’n bybietjie hierbinne dra sal hulle nie so maak nie. Dis nie nice nie, hê, Liefie?”
    “Jy moes sommer ’n duik in die agterdeur geskop het. Dit sal die ryk bitch leer,” sê Frikkie en sit sy gewig op sy ander boud.
    “Wit Cortina! Wit Cortina! Mister Loewies! Hol!” Liefie is soos die leierbobbejaan wat altyd eerste sien as daar ’n kar gaan uittrek of ’n nuwe intrek of, soos nou, as Mister Loewies kom.
    Liefie is op haar pos en loop op en af asof sy dit al ure lank doen, maar Kotie moet nog eers straataf hol na haar spot toe en Frikkie moet oor die straat kom sonder dat Mister Loewies hom sien. Hy koes tussen die karre en spring dan regop anderkant ’n rooi bakkie en loop ook stadig, stywe been langs die motors verby asof hy hulle fyn dophou soos belowe op die groen kaartjie in die wipers.
    Mister Loewies stop sy wit Cortina sommer so in die straat naby Liefie, druk sy toeter en dan moet almal weer terughol na hom toe. Die baas wil praat. Liefie en Frikkie is eerste daar, maar Kotie sukkel nog, haar arms werk verbete langs haar sye asof sy enige oomblik gaan begin hardloop, maar haar bene vertel ’n ander storie. Hulle wil net nie wegkom van die aarde af nie. Haar voete loop al skoon langs haar plakkies. Teen die tyd dat sy langs Mister Loewies se kar staan, tap die sweet so uit haar hare en oor haar voorkop en in haar oë dat sy niks kan sien nie. Sy voel net haar bors ruk-ruk onder die oranje glimjassie en hoe die lamheid gaan lê in haar knieë.
    “Hoe gaan dit hier?” vra Mister Loewies en wikkel sy snor asof dit sy neus kielie.
    “Nee, okay, okay,” sê Liefie en Frikkie in ’n koor en Kotie maak maar net haar mond oop en toe asof sy saampraat, maar sy kry nie ’n woord uitgewurg uit haar toe keel nie.
    “En waar is Toel?”
    “Toel?”
    “Ja, Toel.”
    “Seker afdag  …” sê Frikkie vinnig, maar Liefie praat hom morsdood.
    “Net gou kêffie toe om vir ons ’n koeldrienk te kry  … en siegrets. Baie warm vandag. Kyk net hoe sweet arme Kotie.” Alle oë draai na Kotie en sy staan nog net daar met haar oop en toe mond en sweet wat blink spore oor haar voorkop maak en teen haar ken afloop. Jy sien skaars haar oë agter die toegewasemde bril.
    “Kotie, waar’s jou man?” vra Mister Loewies weer.
    “Dis soos  … soos Liefie sê. Hy’s kêffie toe, Mister Loewies. Vir siegrets en goete.”
    Mister Loewies sit stil asof hy besluit of hy dit wil glo. “Okay dan.” Hy vat die clipbord wat langs hom op die sitplek lê. “Hoeveel commission het julle al vir my?” Sy pen staan by Frikkie se naam. “Frikkie?”
    “Nee, dis maar stil vandag. Ek het omtrent nog net vyf rand gemaak. Hy haal ’n handvol sente uit sy broeksak.
    “En wat is daar in jou gatsak.”
    “Nee, daar’s niks nie.”
    “Haal uit ek sien.”
    “Daar’s niks nie.”
    “Frikkie!” Frikkie steek sy hand in sy agterste broeksak en haal die twee tienrandnote en die paar silwer muntstukke uit wat hy netnou nog getel het.
    “O, jy wil my verneuk, nè! Wat is hierdie dan?”
    “Dis die geld wat ek gespaar het, Mister Loewies. Dis vir my jumpers.”
    “Moenie kak praat nie. Jy wil my verneuk! Ek kan dit op jou gesig sien. Jy lieg sleg, jou klein bliksem. Jy hoef nie môre te kom werk nie. Of beter nog, jy kan sommer nou al waai.”
    “Maar Mister Loewies.”
    “Moenie my ’Mister Loewies’ nie. Ek is nog die baas hier rond. Dink jy ek is stupid? Ek het gesien hoe hol jy na jou spot toe toe ek aankom. Jy het natuurlik weer onder die bome gesit en ginnegaap.”
    “Maar Mister Loewies  …” Daar is nou ’n paniekerigheid in Frikkie se stem.
    “Die mense betaal jou mos, Frikkie. En jy doen nie waarvoor jy betaal word nie. En jy gee my nie my share nie, Frikkie. Ek is klaar met jou.”
    Frikkie se oë soek ’n sagte plekkie om te val in Kotie of Liefie se oë. Hulle het tog saam met hom daar gesit. Dis net pure luck dat hulle nie ook gesien is nie. Hy soek vir ’n stem wat sê dat hulle almal onder die boom gesit het, maar dit kom nie. As hulle almal sê is almal sommer dadelik sonder ’n job.
    Frikkie trek die oranje-glimmende plastiek jassie oor sy kop en probeer dit opvou voor hy dit teruggee vir Mister Loewies, maar sy vingers is lomp. Dit lyk of Mister Loewies lekkerkry. Dis nou sommer ook ’n les vir die ander. Dit sal almal ’n ruk lank in toom hou. Jy sukkel nie met Mister Loewies nie.
    Ek moes nie geluister het vir Liefie nie, dink Frikkie. As ek my jumpers loop koop het, sou dit nou nie met my gebeur het nie. Dan sou die ander ook so vir hom geskerm het soos wat hulle vir Toel skerm, maar as jy jou job kan verloor hou jy jou bek en moet elkeen maar die slae vat wat na hom toe kom.
    Toe ry die wit Cortina weg. En die drie staan daar, verslae. En Frikkie voel leër as die ander twee. Hoe leeg moet jy nie wees as jy nooit werklik vol was nie?
    “Wat gaat jy maak, Frikkie?”
    “Ek sal sien. Ek sal sien. Dalk gaan ek op my eie. Dalk begin ek my eie car watch business. Dit sal mos werk. Sal julle vir my kom werk?”
    “As jy ’n nice spot kry, sal ons kom,” sê Liefie, maar sy weet dit sal nie gebeur nie, want al die nice spots is al klaar gevat.

Teen laatmiddag kom Toel eers daar aan op sy bicycle. Sy hare is deurmekaar en hy het nog gister se T-shirt aan waarop staan I gave blood again and again and again and again. Die bloedskenkingsvereniging het dit uitgedeel as jy vier keer gaan skenk het. Hy is ’n ou gesig daar, maar Kotie sê dat hulle sy bloed wegneuk sodra sy skurwe bruin hakskene by die deur uit is. Wie wil nou bloed van só ’n vuil man hê? En sy weet hy lieg vir hulle. Sy het al gesien watse vrae vra hulle op daai voorafblaadjies en hy sal ’n helse klomp van hulle verkeerd hê. Maar hy lieg en daarom vat hulle dit. As hulle weet hoeveel keer het hy al ’n jeukerigheid tussen sy lieste gehad en watse pille hy alles suip en waar hy oral loop inkruip as hy dink sy weet nie, sal hulle hom nie eers by daardie deur laat inkom nie.
    Liefie ruk haar kop weg as Toel naderkom. Hy ruik na drank en sy oë lyk of hulle te stadig in sy kop beweeg.
    “Wa’ was jy, Toel? Mister Loewies het jou al kom soek.”
    “Hy moet ma’ soek. Ek is my eie mens.”
    “Ja, jy en jou eie mens gaat nog met julle gatte op straat sit as jy dit nie watch nie. En wat gaan dan word van jou vrou en die bybie?”
    “Ek hoef nie te worry oor my Kotie nie … en wat de fok het dit in elk geval met jou uit te waai? Wie het gevrek en jou leierouderling gemaak?”
    “Ek sal jou sê wat het gebeur. Frikkie het gebeur, dís wat. Frikkie is gefire net omdat Mister Loewies hom oor die straat sien hol het en omdat hy hom wou verneuk met die commission! Waar gaat jy vandag commission kry om vir hom te gee? Jy weet hy vat vyftig persent van alles. Hy dink jy was nog die heeldag by die werk.”
    “Het julle vir my gelieg?” vra Toel. Dit laat hom goed voel dat hulle hom dit waardig ag om vir hom te lieg. “Wat het julle gesê?”
    “Ons het gesê jy is kêffie toe,” sê Kotie sag en kyk vir haar voete. Liefie sê alles wat sy sou wou sê, maar nooit kon nie. As sy kwaad raak vir Toel bly die kwaai woorde net in haar kop. As sy dit probeer sê gaan sy so aan die hakkel dat hy net vir haar lag en dan raak sy kwater en dan hakkel sy meer en dan los sy maar, want later sit sy met so ’n migraine dat sy heelaand voel sy kan haar oë uitkrap.
    “Ek laaikit as ’n girl my so laaik dat sy vir my sal lieg.”
    “Dissie laaste keer, Toel. Jy moet jou gesuipery los.”
    “Ek suip nie.”
    “Ek ruik jou. Ruik jy hom ôk, Kotie?” Kotie knik. “Moenie dink ons is stupid omlat ons arm is nie. Gaan park jou bicycle lat jy ’n paar pitte kan kry anders eet julle weer vanaand nie.”
    “Jy weet, Liefie, jou man moes jou meer gemoer het dan was jy nie nou so bossy en losbek vandag nie.”
    “Nee, Toel, as daar te moer is in ’n huwelik, dan sal ek die moerwerk doen.”
    “Ag, ek is nie lus vir julle gechat nie. Ek waai weer. Kotie, bring vir ons van daai viennas in die blikkies vanaand huis toe. Ek het lankal lus daarvoor. En appelkoosjam vir die brood. As ons alleen is, sal ek jou vertel waarvoor ek nog lus het,” en hy vat so voor aan sy adidas kortbroek.
    “Jou vrou is pregnant. Jy los vir haar uit.”
    “Sy is my vrou. Sy het gesê ‘I do’ en ‘through thick en thin’ en as ’n man dun is, moet ’n vrou volmaak.”
    “Jy los haar!” skree Liefie kliphard agterna as Toel die sypaadjie opry. Die mense in die straat kyk na haar waar sy, hande in die sye staan en agterna skree: “Jou Moegoe!”

Die volgende dag is dit net Liefie wat opdaag by die parkeerplek. Sy kyk op haar horlosie met die pienk streppies. Frikkie is gefire en Toel lê seker nog dronk by die huis, maar Kotie moes ten minste al hier gewees het. Sy is nooit só laat nie. Wat sê sy vir Mister Loewies as hy nou kom?
    Die eerste karre kom al aan en Liefie hol haar bene af om almal te serve. Dis belangrike werk hierdie, maar dit maak haar moeg. Sy voel hoe knyp haar rug van al die staan. Vroegoggend is dit nog okay, maar teen tienuur voel dit vir haar sy kan haar naels in haar handpalms inslaan soos sy stry teen die pyn.
    Toel is ’n halfuur laat. Hy park sy bicycle teen die een-uur-parkering-paal en sluit dit toe met ’n helse ketting en ’n Viro-slot.
    “Jy’s laat, Toel. Jy’s laat. Kyk net hoe staat die karre al gepak.”
    “Ag, los my tog net. Jy’s nie my baas nie.”
    “Unofficially is ek.”
    “Sê wie?”
    “Almal weetit.”
    “In your dreams, Liefie, net in jou drome is jy die baas.”
    “Waa’s Kotie?”
    “By die huis.”
    “Sy moet hie wees.”
    “Sy sê sy’s nie lus vir werk vandag nie.”
    “Nonsens, waar’s sy?”
    “Sy’s moeg. Sy bly by die huis.”
    “Moeg van wat?”
    Toel bly stil. Hy trek sy oorjassie aan en skuif sy geldbelt reg. Hy zip die voorste sakkie oop en haal ’n handvol kaartjies met sy naam op uit en druk dit in sy sak. Dan, met lui treë, stap hy oor die straat.
    Liefie voel dit so aan haar lyf dat hier iets verkeerd is. Toel is ’n pes. Jy kan in sy swart oë inkyk en niks weet van wat binne-in hom aangaan nie. Hy sal jou so aankyk met daai oë en vir jou smile en dan ’n knipmes in jou pens laat wegsak. Dis wat hy gemaak het met Barrel in die Sunshine Bar een Saterdagaand toe die drank te volop was. Net so. In sy pens. Die volgende oomblik was Barrel op sy knieë en die bloed het by sy bek uitgeloop. Iemand het vir Toel na die manstoilet toe gevat voor hy vir Barrel aan die keel ook beetkry. Barrel het bly leef, maar Toel is vir ’n paar jaar tronk toe. Toe hy daar uitkom was hy ’n groter stuk rubbish as voorheen. En Kotie vat hom wragtig terug.
    Nou is iets verkeerd. Sy moet gaan kyk. Kotie sal nie sommer net wegbly nie. Sy sou op die een of ander manier laat weet het. Liefie trek haar rug regop, besluit of sy vir Toel moet sê sy loop nou, maar dan begin sy sommer net stap.

Die son is warm op die agterkant van haar nek as sy by Kotie-hulle se tuinhekkie instap. Oor die tuinpaadjie buig bruin stingelbossies, teen die stoepmuur staan ’n ry geroesde blikke met sand in. Twee van die sitkamervensters is stukkend.
    Liefie klop en wag. Niks. Sy klop weer, maar dié slag stoot sy sommer die deur oop. “Kotie,” roep sy en die naam klink hol in die leë huis. “Kotie!” Sy stap kamer toe en hoor haar eie voetstappe oor die kaal plankvloer. Die kamerdeur staan toe. Sy klop liggies en gaan binne.
    “O, Here! Here!” Liefie steier teen die muur, haar oë vasgenael op die bloedkol in die hoek van die kamer en die ding wat in die bloederigheid lê … en die twee breinaalde met die bebloede punte. Liefie val by die deur uit. In haar keel stoot die suur op. Sy kruip toilet toe, deurmekaar, op haar hande en knieë en laat die naarheid haar oorweldig.
    As sy beter voel en haar gedagtes weer helder word, kom sy regop en met haar hande steunend teen die muur stap sy uit die huis uit. Die vars lug laat haar beter voel en haar treë word vinniger en vinniger. Sy is nie bewus van die mense met die stram gesigte wat verbete vasklou aan handsakke of inkopiesakke nie. Sy is nie bewus van die blaas wat nerfaf gaan op haar hakskeen nie. Sy wil nou net een man sien: Toel.
    Sy wil weet wat het hy gedoen. Sy wil weet wat gaan aan. Waar is Kotie? Dan sien sy hom en dis asof hy in dieselfde oomblik ook vir haar sien.
    “Mister Loewies het jou kom soek  …”
    Sy gee hom ’n almagtige stamp. Hy het dit nie verwag nie en land op sy rug. Sy kop stamp teen ’n kar se agterdeur en los ’n duik agter. Hy lê daar, verdwaas, sy bene uitmekaar en kleingeld wat oor die sypaadjie rol.
    “Ek sal vir jou fokken vrek maak, Toel.” Sy kry hom beet daar op die grond. Toel soek vir hulp in die nuuskierige gesigte om hom, maar hulle los hom. Hulle wil nie betrokke raak nie. Liefie se hande sluit om sy keel. “Waar’s Kotie? Waar’s Kotie?” skree haar stem paniekerig en helder bo die ander mense se stemme uit.
    As Toel sien hy gaan nie hulp kry nie, wurg hy die woorde uit: “Hospitaal. Hospitaal.”
    Stadig verslap die greep en staan Liefie op, sy stamp twee vroue uit die pad, maar draai dan weer terug. “Sleutel, Toel. Gee my jou bicycle se sleutel.”
    “Nee.”
    Sy ruk sy geldbelt van sy lyf af. Maak die zip met ’n vinnige pluk oop. Groen kaartjies en nog kleingeld rol oor die sypaadjie, maar sy kry die kopersleutel tussen haar dik vingers beet en stap oor die pad om die fiets te gaan haal.

Minute later kom sy by die hospitaal aan. Sy stoot die fiets tot by ontvangs, maar hulle weier om haar te help totdat sy die ding uitvat. Sy vat hom tot by die deur, tel hom op en smyt hom die trappe af.
    “Ek soek na Kotie.”
    “Is u familie?”
    “Vriendin.”
    “Gaan u vir haar betaal? Sy kan nie sê wie gaan betaal nie. Iemand moet betaal. Ek ken julle mense. Wil net altyd iets vir niks hê. Die dokter was nie eens lus om uit te kom nie. Julle maak net altyd moeilikheid. Sies, witmense!”
    “Waar is sy?” Liefie moet keer of sy klap die vrou ’n snothou, maar as sy dit doen sal hulle haar nie hier laat inkom vandag nie.
    Die vrou gee die vloer en die bed.
    “Dankie, Mevrou. Ons sal kyk vir die geld.”

Sy kry vir Kotie, wit soos die lakens waaronder sy lê. Haar gesig is weggedraai na die venster, maar somehow weet Kotie Liefie is daar.
    “Hy het hom gevat.”
    “Kotie?”
    “Hy het my bybietjie gevat.”
    “Die bloed?” Liefie kom staan langs Kotie, vee die hare uit haar oë. Sy lê roerloos.
    “Die bybietjie was al wat ek nog gehad het. Dis al present wat ek nog in my lewe gekry het. Hy het gesê hy het hom vir my gegee en hy kan hom weer wegvat.”
    “Hoekom?”
    “Die duiwel was weer in sy gat. Toe ek by die huis kom wou hy weet waa’s die goed wat ek moes koop. Ek vra toe met watse geld. Ek moes alles net so vir Mister Loewies gee. Fifty percent vir my commission en fifty percent vir Toel se commission. As hy kom werk het sou dit nie gebeur nie. Toe klap hy my lat ek op my boude gaan sit in die voordeur. Hy’t my kamer toe gesleep aan my arm en my op die matras gegooi. Trek uit, het hy gesê en sy eie broek begin’t losknoop. Ek sal jou leer, het hy gesê. Ek het gesê: Nee, nie vanaand nie, Toel. Sy broek het op sy knieë geval en hy het daar gestaan: kaal en gereed. Jy gaat die bybietjie seermaak. Met hierdie ding maak ek nie bybietjies nie, ek maak bulle, het hy gesê. Hy’s ’n baie groot man. Jy gaat die bybietjie seermaak, het ek gesê. Maak oop, het hy gesê. Ek het geskree. Hy was bo-op my. Ek kon sy harde ding voel druk aan my lyf. Soek.
    “Die Here weet waar ek die krag gekry het, toe stamp ek hom van my af. Hy was die hel in. Ek het gesien hy staan op en loop uit die kamer uit. Ek dog hy gaat my nou los. Toe hoor ek net kaste klap. Klap. Klap. Hy het iets gesoek. Ek het in die hoek van die kamer gesit. Bang. Ek het net my maag vasgehou. Dat die bybietjie nie ôk moet skrik nie. Toe kom hy terug. In sy een hand het hy ’n pistool gehad en in die ander twee breinaalde. Sy oë was flitsend swart. Hy het die naalde na my toe gegooi en die pistool op my gehou. Ek was so bang. Toel? het ek gesê. Haal daai bybietjie uit. Toel? Nee dis myne. Hy het sy tande opmekaar gekners. Ek het hom vir jou gegee en ek sal hom terugvat. Haal hom uit. Dit sal jou leer om jou man te disrespect. Toel, dis ’n bybie, het ek hom gesmeek. Ek het gehuil. Hy het die pistool oorgehaal. Dan vrek jy en jou bybie vandag net hier. My hande het so gebewe toe ek die breinaalde vat. Hy het gesê ek moet dit in my opdruk. Here Liefie, ek moes my eie bybie doodmaak!”
    “Toemaar, dis genoeg  …”
    Haar oë het steeds bly staar na die bome se blare wat buite die venster heen en weer wieg. Asof alles nog orraait is met die wêreld.
    “Ek moes my eie bybie doodmaak.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.