SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Soms is staan te stewig

Lisbé Smuts*

Klik op boekomslag om by kalahari.net te bestel!

Bestel nou by kalahari.net!
Watervlerk, deur Ilse van Staden. Tafelberg, Kaapstad, 2003.
(Slapband, 60 bladsye, ISBN: 0-6420-4119-0. R79,95.)

Watervlerk van Ilse van Staden is ’n merkwaardige debuutbundel. Die sekure beheer van Afrikaans is opvallend, veral teen die agtergrond van die hedendaagse tendens in Afrikaanse tekste om Engels te laat saampraat vir genuanseerde segging. Hierdie anderssoortige stemmigheid in Watervlerk is egter nie net kenmerkend van die taalgebruik nie, maar ook van die inhoud van hierdie versameling deurdinkte gedigte.

Maar die leser word nie sommer geheg aan die vier en vyftig gedigte in die goedversorgde boek nie. “(D)ié wêreld is ons woning nie”, ’n versreël uit “Gegrond”, eggo die Totius-gedig, maar ook die wêrelduitkyk wat hierdie bundel kenmerk. ’n Bewussyn van die beperkinge van aardgebondenheid, van gegrond wees, sluit terselfdertyd ’n wegkeer van en onttrekking aan die alledaagse, gekultiveerde wêreld in.

Gegrond

Dae val
soos ongevleuelde wesens
daglank in die grond in,
word swaar en donker energieë
wat voete, onder andere, geanker hou
aan dit wat oppervlakkig bekend is.
Ons staan
op ’n relatiewe bodem,
droom ongegronde drome
en vlieg en myn en duik
onrustig, rusteloos, benoud
— dié wêreld is ons woning nie.
Dis net die te swaar krag
van die aarde wat keer
dat ons na ander plekke graviteer.

Die bostaande gedig kry ’n teëhanger in “Grond” met die beskrywing van grond as “lêplek”, “’n skoot”, “’n buik” “wat berge en dale ten spyt / altyd tot rondheid neig.” Die mens se aardgebondenheid kry ’n ander betekenis, ’n evolusionêre aantrekkingskrag miskien, deur die gewaarwording van ’n oeroue, veranderlike, onbeskryfbare “iets”:

daar’s iets waarom die aarde buig
daar’s iets
wat grond onder ons voete bly
al droom ons soms van vlerke kry.

So kry die wêreld, nie as woning nie, maar as as natuurskepping betekenis, en word onkonvensionele natuurgedigte by die Afrikaanse versameling bygevoeg.

Wêreldvreemdheid behels in Watervlerk ’n losmaak van ’n historiese en sosiale omgewing, en sluit verder ’n vreemdmaking van persoonlike leefruimtes in, soos in “Bure” en “Here be dragons”:

Hier is inderdaad drake —
hier in ons huise en tuine,
hier waar die laatmiddag stuiptrek en omkom
en stof word vir môre se maaiers.
Hier in die koninkrykies wat ons ons s’n noem
tussen die teekoppies, die kikoejoe en die tv
slinger die warm asems soms om ons bene
sodat ons sug en die vensters wyer oopgooi vir wind,
hier waar ons kinders met klippies speel,
hiér is
drake.

Die draak, simbool van gevaar en ’n vernietigende mag, verskyn ook in “Monstera deliciosa”; en ’n draak “ ... knip sy oog” in “Vlam” as die drakon (wat etimologies vertaal kan word as die een met die skerp sig/sien). Soos in “Vlam” se slotreëls (“Ek lag en draai my rug. / Toe knip die draak sy oog.”) word die rug hierop gedraai, want die gedigte in Watervlerk gee ’n voorkeur aan gevleueldes.

In die bekoorlike “Pegasus” word die ek-spreker se “wiegende skommelperdrit” beskryf. (Almal wat gereeld Pegasus se epos-ikon op die rekenaarskerm bekyk, gefassineer deur die beeld se sjarmante maar gevaarlike engel-perdelyf, en aangelok word deur bloots ry, moet hierdie gedig lees.)

Pegasus

Op ’n wiegende skommel-
perdrit teen die stormwind in
beur ek
      beur ek
          dungewaai plek-plek
en die wind gaan lê
maar die aarde is swaar
en donker dra ek
aan my vleuels, my vlerk
sleep veerspore voor jou hek.
Jy loer verontrus
by jou venster uit,
maar hou jou erf
teen al my drome dig gesluit.

In die speelse “Eng(el)” word ’n ellelange engel in die moderne, ingeperkte ruimte van ’n woonstel ingepas. Dit is ’n verruiming.

Eng(el)

As mens ’n engel in ’n woonstel kon pas
met vlerke en vleuels en al,
as mens dit versigtig kon invou
soos ’n kind in ’n hoek
met knieë hoog opgetrek teen die bors,
íngeleun onder kosyne deur
en versigtig gedra langs boekkaste en stoele verby;
ás mens ’n engel tussen mure kon pas
op die derde vloer aan die oostekant
tussen potplante en goudvisbakke
sodat dit soggens die mooiste sal wees
as son op vlerke en vinne en blare val,
sal die hele woonstel na hemel ruik
soos slagvere wat sag teen tralies kneus.

Die wêreld en die woning(s) wat nie ’n tuiskoms skep nie, het plaasvervangers. ’n Vrugbare, geiler omgewing word in Watervlerk geskep. Dié omgewing word verbeeld as ’n baarmoederbestaan se “wateroorde” in die gedig “Stil”. Dit word beskryf as ’n “waterblyery” in die gedig “Selakant”, wat ’n onweerstaanbare aantreklikheid vir donkertes en dryf omskryf:

Ek dink daar is ’n ander sy
aan hierdie waterblyery,
dat mens koelbloedig lief kan raak
vir donkertes, en dryf
in die primale prut
se veilige vertroeteling.

In “Dromer I” en “Dromer II” word droomlandskappe onvergeetlik beskryf as ’n waterwêreld. Hier in “die diep seeskap van drome, / daar lê die aarde ver”. Drome is ’n “diep, diep drywende wete / wat agter ooglede ontluik / en soos ’n donkerwatervis / van son en maan en wind / net deur myle weerklinkende / water bewus” (“Dromer I”). Dit is “die donkersee van anderland” en ’n “perlemoenskemering” (“Dromer II”). Die taal van hierdie betowerende gedigte eggo die (droom)psige se geluide.

Vlerke, gevlerktes en vlieg staan sentraal in Watervlerk en simboliseer die kreatiewe beweging deur die denke en verbeelding. ’n Tussenin wêreld, tussen hemel en grond, en ’n drumpelbestaan word geskep. Deur hierdie beweging ontstaan prosesse van verinnerliking en vergeesteliking, soos in “Ligvaart”:

Ligvaart

Op hierdie Aprilse namiddag
ets lig die droë wolke wit
teen die vaalblou lug
so duidelik
dat mens daaraan wil raak
of daarin wil swem
in die onmoontlike verdrinking
van lig:
so sal ek wil gaan,
my verdrink in die middaglig
om vier- of vyfuur
wanneer die dag stiller word
en lomerig teen die rantjies leun,
lig my dan uit dié bestaan
lig sonder liggaam.

Die uitbeweeg uit die konkrete, aktuele omgewing behels bowenal in hierdie digbundel ’n inkeer in taal. Dit is die kreatiewe (om)skepping deur die skrywende hand — die “(v)lerkhand”. “Handvlerkiges kan ... die verskriklike grond vermy” beklemtoon “Vlerkhand” (die inleidende gedig).

Die slotgedig, “Waterskrif”, vorm ’n sikliese samehang met “Vlerkhand”, maar lewer ook ironiese kommentaar as die skryfproses se beperkinge beklemtoon word.

Waterskrif

ek kan net kringe trek
soos waterhondjies
skrywertjies
net een heilige naam

want water is te wys vir liefhê
water weet
my woorde kan slegs momenteel
die ongeërgde oppervlakspanning

breek.

Ten slotte word beklemtoon dat woorde en gedigte “momenteel” ’n uitkoms bied. Die wêreld is ons woning nie, en gedigte is ook nie ’n woning nie.

Máár as staan te stewig word, word omskepping tog weer en weer moontlik deur “waterskrif”, deur te skryf: “ek ruil myself ook om / in ander woorde”, “en slaan my skoene / skoon / onder my uit”, lees ’n mens in “Skonelapper”. Lees word hier ook ’n vorm van omskepping.

Skonelapper

Woorde kan migreer soos vlinders,
letters trek na beter plekke —
’n fratsmutasie van klanke.
Ek ruil myself ook om
in ander woorde
sodat dit sin kan maak
soos visse in water,
klap fladderend met vlerke
en slaan my skoene
skoon
onder my uit.



*Lisbé Smuts is ’n senior lektor in Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy met ingang 2004 vakgroephoof is.



7 Januarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.