SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Groot Small – oor die lewe en werk van Adam Small

Steward van Wyk*

Huldeblyk gelewer tydens die Woordfees in Stellenbosch, 7 Maart 2006

I

Baie dankie aan prof Van Zyl en die Woordfees vir die uitnodiging om deel van hierdie program te wees.

Ek wil begin deur enkele biografiese besonderhede te noem, waarna ek chronologies na Small se werk sal kyk en ‘n paar temas en vormlike tegnieke sal uitwys.

Adam Small is op 21 Desember 1936 op Wellington in die Boland gebore. Sy familie aan vaderskant is Christelik-Gereformeerd en dié van sy moeder Islamities; dié invloede prent by hom vroeg reeds kulturele en godsdienstige verdraagsaamheid in. Sy vormingsjare is op die plaas Goree buite Robertson, waar sy pa skoolhoof, gemeenskapsleier en lekeprediker van die plaaswerkers was. Sy vroegste herinneringe is van hierdie gebied: van die eenvoud van die mense, maar ook van armoede en veral van die rooibruin aarde.

Sy vader word later skoolhoof in Retreat op die Kaapse vlakte. Dit is hier waar Small die eerste keer kennis maak met Kaaps, die spreektaal van werkersklasmense, wat hy so treffend in sy werk aanwend. Hy woon daarna verskeie Katolieke skole by en matrikuleer in 1953. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad vir ‘n graad in Tale en Filosofie en voltooi in 1963 'n MA cum laude oor die filosofie van Nicolai Hartmann en Friedrich Nietzsche. In hierdie tyd studeer hy ook aan die Universiteite van Londen en Oxford, onder andere onder die wêreldbekende wetenskapsfilosoof Karl Popper.

In 1959 word Small dosent in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare, en in 1960 word hy een van die akademiese grondleggers van die Universiteit van Wes-Kaapland toe hy as die eerste hoof van die Departement Filosofie aangestel word. Hy raak in die vroeë sewentigs betrokke by die Swartbewustheidsbeweging en word een van die intellektuele en segspersone van hierdie beweging.

In 1973 bedank hy onder druk by die UWK. Hy woon daarna in Johannesburg, waar hy aan die hoof staan van die Universiteit van die Witwatersrand se studentegemeenskapsdienste. In 1977 vestig hy hom weer in die Kaap en is tot 1983 werksaam as direkteur van die Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk. Hy keer in 1984 terug na die UWK as hoof van die Departement Maatskaplike Werk. Einde 1997 tree hy uit diens.

II

Van Small verskyn in 1957 Verse van die liefde, gevolg deur Klein simbool (1958), ‘n bundel prosasketse en spreuke. Hierdie bundels van swakkerige kwaliteit word gevolg deur Die eerste steen? (1961), ‘n essay waarin hy die verwydering bekla wat apartheid tussen wit en bruin teweegbring.

‘n Christelike lewenshouding, waarvan die liefde ‘n kernelement is, onderlê hierdie vroeë skryfwerk. Small stel die inherente goedheid van die mens teenoor die onmenslikheid van apartheid. In sy omdigting van 1 Korinthiërs 13 in Klein simbool (nr 20) word die sosiopolitieke implikasie van dié bekende Bybelteks beklemtoon en die waarde van die liefde bevestig:

Al sou hierdie land myne wees, en al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net met sy armoede ...

As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde (34).

Die Christelike liefde is ook die grondslag van Small se gesprek met Afrikaners aangaande die moreel-etiese onhoudbaarheid van apartheid. Apartheid word teenoor Christenskap gestel: wie baas wil wees, kan geen Christen wees nie, sê Small in Die eerste steen? (19). Die selfverloënende liefde van Christus, medemenslikheid, regverdigheid en gelykheid van die mens voor God is van die aspekte waarop Small sy betoog skoei.

‘n Deurlopende tema in Small se werk is die uitbeelding van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap onder die beleid van apartheid. In die digbundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet loods hy ‘n fel aanval op kwessies soos gedwonge verskuiwing, rasseklassifikasie en -diskriminasie en aparte geriewe. Hy maak veral gebruik van satire om die onhoudbaarheid van die stelsel en die valse waardes van gesagsfigure uit te wys.

Die gedig "Doemanie" (15) in Kitaar my kruis is eksemplaries van Small se satirisering van valse Christene:

'n proefiet van Jesus djy?
'n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
en djou woerawarra op die pulpit ...
Dit is veral die grootheidswaan en materialisme by dié figure wat by Small onder skoot kom. In gedigte soos "Huis van God", "Nativity", "Première" en "Crucifixion" in Sê Sjibbolet word onderskeidelik "die pous op sy goue troon", "die selects", "die vrou met die hoë hoed, die man met die stram gesig" en "ons ga-agte leiers" gekontrasteer met die erbarmlike "Liewe Heer" wat die doringkroon dra. Hierdie beeld word ook metonimies uitgebrei na die minderbevoorregtes, die eenvoudiges, en hy dra dié digbundel op aan: "die eenvoudiges wat dink/ en ook mag praat". Die gedig "Wie's hy" sluit by hierdie aspek aan in 'n besinning oor die digterskap:
Die poet
wie's hy
Djulle het so baie bek oorie poet,
ma wie's hy?
Is hy rêrag soes djulle dink
die ou moerie pen ennie ink
wat in sy study sit en poems dink?

Nai,
djulle's mistaken,
nie hy nie
ma djulle is die poets,
djulle wat innie straat in loep
ennie gladde bek verkoep
ma die dinge sien
en soema net daa God tien hulle roep!

Daar word ‘n opposisie geskep tussen die digter wat in afsondering skryf en die gewone mense wat die morele plig opneem om teen onreg te stry. In hierdie gedigte is daar die begeerte van die spreker om hom/haar aan die kant van die eenvoudiges, die "gewone mens op straat", die "Kaapse vriend", "ou bryn pellie" te skaar.

Small se identifikasie met sy karakters vind neerslag in sy gebruik van Kaaps. Sy bemoeienis is om die negatiewe stigma wat daaraan kleef, ongedaan te maak. Daaroor dig hy:

dis 'n taal vannie kitaar
djy lies 'it nie ma' so net op papier, nee
djy moet dit hoor djy moet dit sien, djy moet dit
even proe, dja moet djou hele tong
: experience, mien ek, moet djou hele being ...
Kô lat ons sing!
Hierdie is ‘n omdigting van sy naskrif by die digbundel Kitaar my kruis waarin hy aanvoer dat Kaaps nie is wat sommige gammattaal of capey noem nie, maar ‘n volwaardige taal waarin mense hul eerste skreeu en hul laaste doodsroggel gee.

Met die gebruik van Kaaps is Small ook die voorloper van 'n hele generasie swart Afrikaanse digters, mense soos Patrick Petersen en ander, wat in die dekade tagtig sorg vir 'n opbloei in protespoësie in Afrikaans en die taal vir bevryding aanwend. Dié verskynsel staan teenoor die 1976-strydkreet wat Afrikaans as onderdrukkerstaal merk. Hierdie digters dra grootliks by tot die bewustheid wat tans heers oor die verskillende variëteite van Afrikaans, en Small kan beskou word as een van die eerstes wat daardie bewustheid gekweek het en taalvorme eie aan Kaaps opgeskryf het.

Small maak deurgaans ook gebruik van populêre kulturele uitings soos folklore, liedjies en rympies, en gee sodoende waarde daaraan. Waar dit algemeen aanvaar word dat werkersklaskultuur vergestalt word in orale en populêre vorme, is dit ook ‘n manier waarop hy stem aan hierdie mense gee. Een van die vorme is die ghoemaliedjie.

In hierdie verband toon Small se gedigte raakpunte met die bluesverse van swart Amerikaanse skrywers soos Langston Hughes, veral met die liriese kwaliteit daarvan en die gebruik van die spreektaalvorm. Die gedigte uit die eerste deel van Kitaar my kruis (vgl "Slawehys", "Broadway", "Groot Krismasgabet", “Ghommalied vannie gamiente vannie Here"), asook die musikale interludes van Kanna hy kô hystoe, herinner sterk aan die bluesverse; die gedeelde kenmerke hiervan is tematies die uitbeelding van die onderdrukte se pyn en lyding en op vormlike vlak, die inkanterende refreine, die melankoliese toon en ironisering, vgl die volgende uittreksel uit "Ghommalied vannie gamiente vannie Here" (13):

yt Distrik Ses
yt Windermere
yt Cook se Bos
kom djy o Here Jesus ons verlos

o dank
dank
dank
dank
o dankie God
dja dank
dank
dank
dank
dja dankie God

óns die swart voëls
óns die bryn voëls
óns moet die kroes yt krotte en pondokke
die swart en bryn voëls yt djou vyler hokke ...

In gedigte soos "What abou' de lô", "O oppas, oppas" en "Nôi nôi die lewe nôi" in Kitaar my kruis eggo die gemeenskap se vrese, waarskuwings en aanklagte in die refreine. Die melankoliese toon beklemtoon die persoonlike tragiek wat beskryf word. By Small is daar egter altyddeur die suggestie dat dié tragiek deel van 'n groter patroon is, nl 'n gemeenskap uitgelewer aan 'n ongenaakbare owerheid met sy drakoniese wette. Vergelyk die volgende gedig oor die Wet op Gemengde Huwelike:
Johnie en Joanie het gatrou
o ek onthou nog baie goed
hoe galukkag
hoe galukkag
hoe galukkag hulle was

ma' hulle galuk was in 'n glase kas

o oppas
oppas
oppas
oppas vi' galuk in 'n glase kas

want ons lewe in 'n land
van son se skroei
ons lewe in 'n land van wind se loei
ons lewe in 'n land
van hart se bloei.

Wat in hierdie gedigte opval, is die gebruik van refreine en herhaling. Dit dra daartoe by om gemeenskapsbetrokkenheid by die diskoers te verseker, want in hierdie konteks is bekende en geliefde uitings belangriker as oorspronklike segging, die evangelie belangriker as die individu se siening.

Small se gebruik van die Bybel en godsdienstige gebruike as interteks sluit hierby aan. In sy gedigte word die Bybel dikwels betrek op eietydse gebeure om verdere aksent daaraan te gee.

Small toon ‘n voorliefde vir die Ou Testament, oa die boeke Eksodus en Konings en die profete, maar ook vir die geboorte en wederkoms van Christus. By Small word hierdie gegewe dan op die lotgevalle van onderdruktes van toepassing gemaak, oa die geskiedenis van Moses en die Israelitiese volk onder Egiptiese slawerny. Hierby sluit aan Small se siening van die digterlike roeping: soos Moses met sy staf moet die digter met sy kitaar sy mense lei, maar omdat die taak so moeilik is, word die kitaar ironies ook sy kruis. Small se gebruik van die Moses-troop herinner ook aan die swart Amerikaanse skrywer Zora Neale Hurston wat iets soortgelyks doen in werke soos Moses, man of the mountain.

Oos Wes Tuis Bes Distrik Ses (1973), gedigte met foto’s van Chris Jansen, is Small se ode aan hierdie tragiese landmerk in ons geskiedenis. Soos by postkoloniale skrywers is daar die behoefte om die ontworteling van kolonialisme/apartheid teen te werk. Daar ontwikkel 'n romantisisme rondom plek, en met die opnoem van plekke en name word 'n organiese gemeenskap en multikulturele smeltkroes in herinnering geroep; kyk byvoorbeeld na "Toefie Temoor vannie Tenan'straat" en "Antie Roesiena ... daa oppie Kypflêtslyn". In dié bundel word die burokratiese opset en die onmenslikheid van gedwonge verskuiwing gekontrasteer met die organiese gemeenskap wat met deernis beskryf word.

Vergelyk die volgende vers:

Hoe call djulle vi ons?
- die city se commuters
die labour force
die labour potential
die labour source
en gits!
djulle punch tikkits
en djulle figure vi ons yt in djulle computers in
net so
kant en klaar ...

Nou daai's alles wel en good en grand
ma eintlik issie lot van djulle laat
why?
simply kôs oor mense moet 'n mens praat
net soes 'n mens moet praat oor mense
dja net so
en daa's niks annerste om te glo nie
why?
- kôs very simply
net daai:
mense is mense.

Die holheid van etikette soos commuters en labour force, asook politieke slagspreuke soos workers of de world, unite ontmasker die verdingliking van die mens deur die kapitalistiese ekonomie asook die rewolusionêre ideologie. Hierteenoor staan die mens in sy eksistensiële volheid: mense is mense.

In 1975, tydens die hoogbloei van Swart Bewustheid, verskyn die bundel kwatryne met die titel Black bronze beautiful (1975). Die ontwikkeling van 'n trots in swart-wees, die swart geskiedenis en kultuur en die propagering van die solidariteit van swart volke in die afwerping van wit onderdrukking word in die bundel aangetref. Die meeste van die liriese verse in die bundel is 'n besinging van swart skoonheid en die verheffing van swart-wees tot estetiese objek; vgl die kwatryn 30:

Sing of my rivers: Niger, Congo, Nile
Sing of their basins, of their blackest banks
Sing of the meandering glory of my rivers
Sing even of the treachery and guile.
Die verse word dus ingegee deur die behoefte om ‘n positiewe beeld van swart mense daar te stel. In hierdie tydvak maak Small die bewustelike keuse om voortaan in Engels te skryf as protes teen die apartheidsregering wat sy drakoniese wette in Afrikaans uitvaardig. Dit blyk egter ‘n kortstondige, en nie juis vrugtevolle periode nie, te wees.

III

Small is een van enkele swart Afrikaanse skrywers wat in die kanon van die Afrikaanse letterkunde opgeneem is. Dit word grootliks toegeskryf aan die vormlike vernuwing wat hy teweegbring. Sy drama Kanna hy kô hystoe word deur André P Brink bestempel as ‘n hoogtepunt in die Afrikaanse drama. Dit is vertaal in Engels en verskeie kere ook in die VSA opgevoer.

Die problematiek van die indiwidu wat verskeurd is tussen sy eie aspirasies en dié van sy mense, die aanklag teen ‘n sisteem wat mense in sosiale euwels vasvang, die aanspreeklikheid van die mens vir sy dade, die alomteenwoordigheid van die armes, is van die temas in die drama wat vandag steeds relevansie het.

Van die hoog aangeskrewe tegniese aspekte in die drama is die verskuiwing van tydsvlakke, die achronologiese aanbieding, die suggestiewe gebruik van musiek en dekor, die dialoog en die gebruik van taalvorme as merker van sosiale stratifikasie.

Wanneer die dramaturg byvoorbeeld Kanna se gespletenheid voorstel, gebruik hy Kaaps (vir die gemeenskapsmens wat met sy mense assosieer) en Standaardafrikaans (vir die uitgewekene wat die beter lewe geniet en nie wil terugkom nie).

Die grootsheid van Kanna blyk ook uit die feit dat dit raakpunte met ander drama-tradisies toon. Daar kan onder andere gelet word op ooreenstemming met die Afrika Teater: die polêre spanning tussen indiwidu en gemeenskap is ‘n deurlopende tema in hierdie dramas, onder andere in The Swampdwellers van Wole Soyinka, en neem dikwels ‘n tragiese dimensie aan. daar is raakpunte met die postkoloniale drama, die soeke na selfdefinisie, die stem-gee aan die stemloses en die waardetoevoeging aan volkse uitdrukkings en gebruike.

In die vroeë sewentigerjare behartig Small self die regie van dié stuk vir Dramsoc van die UWK, later die Cape Flats Players. Dié produksies en ook produksies van ander toneelstukke dra by tot ‘n herlewing van kultuurlewe op die Kaapse Vlakte en tot ‘n bewuswording van die rol van protesteater in die demokratiese stryd.

Joanie Galant-hulle (1978) handel oor die gedwonge verskuiwing van die Anthony’s uit Woodstock en die gevolglike verval in hul sosiale posisie. In hierdie drama kry mens die skerpste satirisering van die bruin mens wat sy gemeenskap verloën en met die liberale heul, die “haitie, taitie multi-racial mense”.

Krismis van Map Jacobs (1983) bied ‘n deurtastende ondersoek na die vele gesigte van bruin identiteit, vanaf Map Jacobs, die slagoffer van werkreservering wat in die bendekultuur verval, met sy tragiese soeke na identiteit – soos hy sê: “’Cause ek wil somewhere ge-belong het? Kan jy sien die tattoos, al die merke? ‘It was ‘n terrible gesoek seker, vir identity.” En ook die opportunistiese maar ewe tragiese Mr Cavernelis, wat benewens sy voltydse werk by die “polony factory”, “soft goods, petticoats en panties” verkoop sodat hy eendag die township kan ontvlug na “’n decent coloured area”.

Small poog deurgaans om ‘n genuanseerde beeld van die gemeenskap te skets. In sy dramas kry mens ‘n verskeidenheid randkarakters wat in wisselende mate tot die spel en stemming bydra: groente- en blommeverkopers, kitaarspelers, kersorkes, anties en oompies, bendelede, leeglêers en straatpredikers. Detail word gegee aan hul spraaktipes en daaglikse roetine om daardeur ‘n kleurvolle beeld van die mense te gee.

Daar is verder nog die radiodrama The Orange Earth (1984), vertaal as Goree, en die roman Heidesee (1979).

IV

As rubriekskrywer en polemikus lewer Small bydraes in Die Burger, Rapport en Argus. Een van die sake waarmee hy hom bemoei, is die identiteitskonstrukte Afrikaner, Afrikaanse, kleurling en mulat; en op onverskrokke wyse verwoord hy soms kontroversiële menings, soos toe hy Die eerste steen? opdra aan “my mense, die Afrikaner”. Vanuit die linkse politieke kringe van die sestigerjare – die Teacher’s League of South Africa (TLSA) en Non-European Unity Movement (NEUM) – is Small gekasty vir sy toenadering tot die Afrikaner en is hy selfs beskuldig van opportunisme. Tog illustreer sy uitsprake die liberale waardes van vryheid van denke en spraak waarvoor hy hom strykdeur beywer.

V

Dames en here, Adam Small is ‘n ambivalente en enigmatiese figuur – ‘n loner en indiwidu noem hy homself. Jack Cope verwys na hom as “the odd man out, the awkward guest at a dinner party”; Vernie February praat van “a voice in the wilderness”.

Daar is die afgelope tyd meermale gegis oor Small se stilte, sy onttrekking uit die samelewing. Heindrich Wyngaard, rubriekskrywer van Rapport, beroep hom dikwels op Small in ‘n poging om sy gesaghebbende woord tot die eietydse wildernis te laat spreek.

Small self is deeglik bewus van die betekeniswaarde van stilte. In Kanna staan daar byvoorbeeld: “Dis stil, baie stil. ‘n Ruk lank ervaar die gehoor hierdie stilte, hierdie sprekende woordeloosheid.” En in refleksie op die historiese gebeure van 27 April 1994 skryf hy: “lat ons stil word, dja/ en dink, dja, baie stil.”

Maar dan is daar ook Adam Small se meer bekende en gevleuelde credo: “Kô lat ons sing!” In hierdie jaar van Adam Small se sewentigste verjaardagviering is dit gepas dat die Woordfees hulde aan hom bring, om verskeie redes, en veral vir sy bydrae om die Afrikaanse letterkunde verteenwoordigend van die volle spraakgemeenskap te maak deur diegene wat voorheen uitgesluit was, deel van die hoofstroom te maak.

Kô lat ons sing!

*Prof Steward van Wyk doseer Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy voltooi 'n proefskrif oor die werk van Adam Small in 1999 en doen tans navorsing oor Swart Afrikaanse en postkoloniale skryfwerk.


LitNet: 28 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.