SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die verhaal staan sentraal

Heilna du Plooy

Die swye van Mario Salviati
Koop nou!
Die swye van Mario Salviati
Etienne van Heerden
Tafelberg-Uitgewers
Kaapstad
2000

Dit gaan goed met die roman in Afrikaans. Die afgelope dekade het ’n ryk oes opgelewer en die lesers van Afrikaanstalige prosa kon kies en keur uit ’n verskeidenheid van style en soorte romans. Nogtans het ek na die lees van Die swye van Mario Salviati van Etienne van Heerden gevoel ek moet dadelik na my literÍre woordeboeke gaan en weer kyk hoe word die roman gedefinieer. Tydens die lees van die boek het ek toenemend die gevoel gekry dat ’n mens hier met ’n klassieke roman te make het.

Nou sÍ daardie woordeboeke met variasies min of meer almal dat die roman ’n uitgebreide verhalende prosawerk is en daarna begin hulle onderskei tussen die verskillende soorte romans. Die kern van die omskrywing van die roman gaan dus oor die verhalende aard en die omvang van die soort teks en Van Heerden se nuutste werk is in beide opsigte meer as duidelik roman par excellence.

1. Die verhalende rykdom van die roman

Die swye van Mario Salviati is inderdaad ’n omvangryke boek, maar dit is veral ’n verhaalryke boek. In die roman word daar ’n groot aantal verhale vertel:

  • die verhaal van Ingi Friedlšnder, wat die beeld genaamd Visman Steier van Jonty Jack Bergh moet gaan aankoop op die dorpie Tallejare, is die verhaal wat die hede van die roman vorm;
  • die verhaal van die Krugerponde wat tydens die Anglo-Boereoorlog verdwyn het, is ’n verhaal wat die hele twintigste eeu oorspan en wat van die begin van die roman tot aan die einde die aandag gevange hou weens die geheime rondom die verdwyning van die swart wa met die goud;
  • die verhale van die hede en die verlede word vervleg, vanaf die dae van Titi Xam! en SlingerVel Xam! en kaptein William Gird tot by Ingi Friedlšnder wat reg uit die jaar 2000 met haar wippende rugsakkie deur die strate van Tallejare loop;
  • die verhaal van elke karakter word uiteindelik uitvoerig ontwikkel en vertel, met herkoms en afkoms, met hoogtepunte en laagtepunte, van elkeen sowel die helder dae as die swart tye waarop net met afgryse teruggekyk kan word;
    • daar is die geskiedenis van die flambojante Meerlust Bergh, sy pragtige Indonesiese vrou Irene Lampak en hulle volstruispaleis;
    • daar is die verhaal van Rooibaard Pistorius en die swart wa vol goue ponde en die verhaal van ouma Siela Pedi;
    • daar is die verhaal van Italiaanse krygsgevangenes wat tydens die Tweede WÍreldoorlog na die Karoo gestuur word, veral die wat daar agterbly, soos Mario Salviati en Duiwelsklap Lorenzo;
    • daar is die verhaal van Groot Karel Bergh en sy drome en ideale van grootheid, sy gefassineerdheid met die wet van Bernoulli en ook sy huwelik met Lettie Pistorius;
    • daar is die verhaal van Jonty Jack Bergh en sy beeldetuin en veral die wonderlike beeld van Visman Steier;
    • en nog ’n klomp kleiner verhale ook.

Uiteindelik bou die roman ’n hele stamboom op van die mense van Tallejare en vertel die geskiedenis van die dorp soos ingebed in die geskiedenis van die land.

Maar hierdie verhale is nie net aan mekaar verbonde in die sin dat dit gaan om die geskiedenis van die belangrike families van die dorp Tallejare nie of selfs in die sin dat die geskiedenis van Suid-Afrika hier in ’n kleiner sfeer en deur spesifieke karakters uitgespeel word nie. Die verhale tree op veelvuldige maniere met mekaar in interaksie en lewer oor en weer kommentaar sodat ’n mens gekonfronteer staan met ’n beeld van die mens: daar is grootheid en goedheid, daar is verderflikheid en swakheid, vir elkeen is daar ’n dryfkrag en positiewe oogmerke, maar elkeen het ook daardie donker plekke wat liefs vermy wil word. En uiteindelik moet elkeen by die punt kom dat hy of sy die werklikhede van hede en verlede in die oŽ kyk, elkeen moet uiteindelik in die woorde van die roman “die skerpioen se rug streel” (p 344-345).

Die verhale belig mekaar ook tematies en verkry daardeur reliŽf: Mario Salviati se doofheid en sy latere blindheid maak van hom ’n mens sonder die sintuie wat gewoonlik as die sterkste beskou word. VanweŽ die gebreke is hy aangewese op gevoel en op reuk en in sy verhouding met mense, veral sy vrou met die wonderlike stem, en Ingi, word sy gebrek aan sintuiglikheid juis die instrument om sintuiglikheid as sodanig te beklemtoon.

Groot Karel Bergh vlug voordat sy droom waar word en beskik ironies genoeg in sy dood oor die geheim van die goud. Die swart wa en die goud is die gemeenskap se verlede, maar kan dalk ook hulle toekoms bepaal. Ingi is die een wat hulle daartoe bring om ook hierdie skerpioen se rug te gaan streel. En so is al die verhale oor en weer vervleg om allerlei betekenisse en eggo’s van betekenisse te genereer.

2. Die soort roman

’n Fassinerende aspek van die roman is die manier waarop dit by verskillende romantradisies aansluit, as ‘t ware ’n kompendium van soorte vertellings word. Uit ’n seker hoek bekyk, het ’n mens hier ’n historiese roman wat geskiedenisse vanaf die tyd van ABO en uit die tyd van WOII vertel. Maar dit sluit ook aan by die tradisie van die plaasroman, eintlik meer die dorpsroman of streekroman aangesien die landelike omgewing hier absoluut geÔntegreer is in alles wat die roman sÍ en vertel. ’n Menigte anekdotes van die mense wat die streek en die dorp bevolk — hulle eksentrisiteite, hulle geheime, die dorpslegendes, word vertel in die roman, maar die volksmites en -legendes van die Afrikaanse wÍreld in ’n wyer sin word ook in die roman ingevleg, word trouens kernlyne in die roman: die gebrek aan water en die drome vir ’n wonderbaarlike en permanente oplossing vir droogte sowel as die Krugermiljoene wat al honderde kere gesoek en verloor en, wie weet, dalk gevind is.

Die historiese inslag bring die roman ook deurlopend by die probleme wat Suid-Afrika as ’n land en as ’n politieke konsep kenmerk, die kleurproblematiek, die oorloŽ waarby die land en sy mense betrokke geraak het, die politieke aksente van die hede. Daar is egter ook deurgaans ’n sterk bewustheid van die psigologiese ondergrond van wat mense motiveer, individueel sowel as kollektief: sommige van die verdringde geestesinhoude sweef en stap inderdaad tussen die Tallejaners rond. Die roman werk ook soos ’n avontuurverhaal in die pogings om ’n tergende geheim op te los. Die roman slaan ’n brug tussen hede en verlede en kyk na die verlede met die kennis van die hede: dit is dus literatuur wat gemoeid is met die problematiek van ’n gemeenskap oor ’n eeu en kan dus in ’n milde sin as betrokke literatuur beskou word. Die fyn sensitiwiteit vir psigologies verantwoorde handeling en die aanvoeling vir die sterk spanningslyn en romantiek van ’n boeiende storie word egter deurgaans gehandhaaf en die roman gee sy romanmatige integriteit nooit prys nie.

Want ’n sterk eienskap van die roman is die goeie en sterk storie en ’n skitterende plot. Die stories is opgebreek en word om die beurt vertel sodat die leser se aandag regdeur behou word. Daar is ’n rustigheid en ’n rypheid in die roman — met die grootste sorg word elke karakter uitgebeeld, met net soveel sorg word die atmosfeer van die Karoo vasgevang, die lig, die lug, die gevoel van die plek. Oor hierdie stilistiese eienskappe wil ek twee dinge sÍ.

3. Styl

Die swye van Mario Salviati is ’n roman wat met groot virtuositeit geskryf is. Eerstens die gebruik van die taal — ek het die hele tyd gedink, die roman moet oral gelees word en moet dus direk vertaal word. En dan het ek dadelik gedink, ja, maar hierdie segging is so sterk en direk Afrikaans, dit sal ’n yslike vertaaltaak wees om alles vas te vang. Van Heerden doen iets baie besonders met Afrikaans — hy is welsprekend en vermaaklik en buit die taal tot sy uiterste vermoŽns toe uit, sonder om ooit plat of hoogsprakig te wees. Die stilistiese veelsydigheid en veral gesofistikeerdheid maak die lees van die roman ’n deurlopende vreugde. Die taal borrel en blink regdeur die boek. Daar is verskeie frases wat ’n mens sommer net met een lees onthou. Die beskrywing van daardie Amerikaanse sangeres op die boot in 1943 — toe almal hulle met ’n bykans voltydse vryery teen die oorlogsangs verweer het — wat haar aandrok afstroop tot by haar naeltjie en met “bibberende borste gospel blues sing”, sal ek nie weer vergeet nie en ook nie Meerlust Bergh se gevleuelde woorde aan Rooibaard Pistorius nie: “Jy is ’n stofpoeper. Dis ’n rang waaruit ’n mens nie bevorder kan word nie” (p 310).

Maar hierdie roman is ook met ’n ferm hand gestruktureer en het ’n uitstekende plot. Al die verhaallyne word vervleg en met mekaar in opposisie geplaas, maar uiteindelik is daar ’n afronding en bymekaarbring van al die elemente. En daarmee raak ek aan ’n groot probleem in die verhaalkuns. Daar het ’n idee ontstaan dat die roman met ’n oop einde ’n goeie roman is, dat die oop einde sommer vanself meerduidigheid beteken. En dan staan die leser dikwels met ’n gevoel dat jy gekul is, in die steek gelaat is omdat die storie jou sommer so in die middel van nÍrens los.

Om te weet waar al die karakters inpas en wat met elkeen gebeur, het niks te make met ’n verlies aan meerduidigheid nie. Ware meerduidigheid lÍ in die grein van die vertelling en die woorde en in die samespel van al die gegewens in die roman. Een van die groot Russiese romanskrywers het gesÍ dat as daar ’n spyker agter die deur genoem word op die eerste bladsy van die roman, dan moet die hoofkarakter hom aan die einde van die roman aan daardie selfde spyker ophang. En hier kry ’n mens daardie gevoel van balans en samehang, van beplanning en afronding. Dat die bolaag van die teks dus verhalend bevredig, hou die leser aan die lees en dan werk die assosiasies van taal en interaksie van gegewens teen hoŽ rewolusies om die betekenis te kompliseer.

Dit is myns insiens die sleutel tot die sukses van baie groot romans — daardie wonderlike verhale wat hulle vertel: die verhaal skep en bevestig en behou die kommunikasie en dan kan daar op hierdie sterk stramien na hartelus geÔmproviseer word.

As jy weet wat gebeur, moet jy in elk geval nog uitvind wat dit beteken. Die proloog sluit af met die kaart en aan die einde van die roman staan Jonty met die as van die verkrummelende kaart in sy hand. Maar die ontwykende aard van die goud, dit wat die mens soek omdat hy dink dat dit iets beter sal maak, bly steeds buite sy bereik. Die goud word byna ’n soort graal, dit waarna daar altyd slegs gestrewe kan word, maar wat nooit bereik kan word nie. Trouens as dit werklikheid word of wanneer dit lyk asof dit werklikheid word, dan kom al die bose onderliggende drange na bo. Die soeke is dus veel heilsamer as die vind.

4. Trefwydte

Die roman gaan onthou word vir sy sterk figure, die flambojante Meerlust Bergh, die droomgedrewe Karel, die doofstom Salviati wat as die stilste mens in die sentrum van die dorpslewe te staan kom asof hy deel is van die landskap self, die ontwykende Jonty Jack wat so droewig op die dorpsmense skel as hy sy daggatee in het en die soekende Jodinnetjie Ingi Friedlšnder, wat hier in hierdie onwaarskynlike omgewing iets van haarself terugvind.

Maar veral tref die roman met sy geskakeerdheid in die siening van mense. Daar is gierigheid en wreedheid, daar is vergrype vanweŽ ware boosheid, maar ook vanweŽ ’n gevoel van uitgelewer wees aan omstandighede, daar is liefde wat eis en liefde wat onselfsugtig net gee en daar is nog baie ander voorbeelde. Verder is die wisseling in toon opmerklik en uiters vaardig hanteer: dan is die vertellerstem lig en vrolik, dan spottend, soms deernisvol, maar soms sterk en direk en konfronterend. Dit bly die leser boei en meevoer.

5. Slot

Miskien is een van die geheime van hierdie roman die manier waarop dit met die uitgestelde begeerte werk — in al die liefdesgeskiedenisse, elkeen met ’n ander aard en aksent, veroorsaak die komplekse aard en motivering van mense komplikasies en moet daar gewag word vir die vervulling, wat in sommige gevalle nooit kom nie. Oorgawe is nooit maklik nie en vervulling ook op ander lewensterreine bly ook meestal uit.

Die roman illustreer die verganklikheid van menslike belewenis, maar ook die duursaamheid daarvan, want dit is die hartstogte van die verlede wat die hede bepaal.

Die roman as genre is ’n merkwaardige tydsdokument en hierdie een is dit by uitstek. Wat nie in die openbare diskoers of in die filosofie of in die historiografie ondervang kan word nie, kan in die roman ’n plek kry en breed uitgewerk word en daarom is dit dalk te begrype dat daar soveel sulke goeie romans tans in Afrikaans geskryf word.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.