SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die debat duur voort

  • Jaco Botha se antwoord daarop
  • Weideman se wederwoord aan Botha

    Skrywers ontevrede met uitgewers


    Gespreksdokument sirkuleer


  • George Weideman stuur ’n gespreksdokument aan LitNet waarin besware rondom die verhouding tussen skrywer en uitgewer geopper word. Die dokument sirkuleer al geruime tyd onder skrywers. LitNet plaas die dokument nes dit ontvang is. Uitgewers en skrywers en ander belangstellendes word genooi om op SêNet te reageer op die stellings wat in die dokument gemaak word.




    Geagte Medeskrywer

    Die inhoud van onderstaande dokument is selfverduidelikend. Die idee is dat dit onder ALLE gepubliseerde skrywers (d.w.s. skrywers wat kontrakte het met uitgewers) sirkuleer. Ongelukkig is so iets nie prakties moontlik nie — gewoon omdat dit bykans onmoontlik is om ’n volledige adreslys saam te stel. Dit sal help as u by u skrywersvriende verneem of hulle bewus is van dié gesprekstuk. Indien nie, kan u dit gerus onder hulle aandag bring.

    Laat weet asb. so gou doenlik — verkieslik voor 5 Maart — of u saamstem met die inhoud van hierdie stuk. Indien u nie oor e-pos beskik nie, kan u my skakel by (021) 945-3087.

    Baie dankie vir u samewerking!

    George Weideman

    LET WEL: ONDERSTAANDE IS ’n KONSEPDOKUMENT, ONDERHEWIG AAN WYSIGINGS. DIT IS NIE ’n BESWAARSKRIF NIE, MAAR ’n GESPREKSTUK.


    GESPREKSDOKUMENT OOR DIE BOEKEBEDRYF EN DIE VERHOUDING SKRYWER-UITGEWER, OPGESTEL DEUR ’n AANTAL BEKOMMERDE SKRYWERS

    15-28 FEBRUARIE 2002

    I. TER INLEIDING

    1. Hierdie is ’n konsepdokument vir alle skrywers wat dit wil onderteken en/of kwessies wil byvoeg. Dit sal te gelegener tyd aan alle uitgewers voorgelê word.

    2. Die dokument kan as basis (agenda) vir ’n deeglike gesprek tussen skrywers en uitgewers dien. Die notule van sodanige byeenkoms sal as verdere werksdokument beskou word. Die betrokke uitgewer(s) is verantwoordelik vir die reël van die ontmoeting.

    3. Dit is (by gebrek aan ’n behoorlike databasis) in hierdie stadium onmoontlik om die gespreksdokument aan alle skrywers te stuur. Dit sal wel te gelegener tyd aan LitNet voorgelê word om so ’n wye kennisname as moontlik te verseker.

    4. Dis waarskynlik nie alle skrywers se styl om aan so ’n gesprek deel te neem of selfs om so ’n gespreksdokument te ondersteun nie. Dis hulle goeie reg en dit word gerespekteer. Die dokument is nie bedoel as ’n konfrontasiestuk nie, maar dit is opgestel in ’n gees van wedersydse respek en in ’n poging om moontlike misverstande en/of benadeling uit die weg te help ruim.

    5. Daar is mense wat deelnemers aan hierdie soort gesprek verdag wil maak. Daar is egter ook by ’n groeiende aantal skrywers ernstige kommer oor die boekebedryf en veral oor kontraktuele veranderinge oor die afgelope vier-vyf jaar.

    6. Omdat sekere kommerwekkende sake herhaaldelik in gesprekke tussen skrywers voorkom, is besluit om hierdie verkennende dokument op te stel met Vrae waarop skrywers en daarna uitgewers kan reageer. Die dokument sal geen inligting bevat wat as vertroulik beskou word nie.

    II. AGTERGROND, PERSEPSIES

    1. George Weideman het in die negentigerjare ’n paar artikels geskryf oor die kommunikasiegaping tussen uitgewer en skrywer. Uitgewers van wie hy dit die minste verwag het, het met ontsteltenis gereageer. Die “skuldiges” (op dáárdie tydstip) het stilgebly.

    2. Baie skrywers het daarná probleme waarop hulle nie van hul uitgewers antwoorde ontvang het nie, opgehaal. Dit gebeur steeds. Sommige skrywers voel die feit dat die Afrikaanse Skrywersgilde nie meer bestaan nie, het iets daarmee te doen. Die ASG het indertyd heelwat vir die skrywer (ook nielede) beding. Huidige skrywersverenigings (waaronder die ASV) doen uitstekende werk, maar kan uit hul aard nie beding of onderhandel namens veral die senior skrywer nie.

    3. Skrywers beland in onbenydenswaardige situasies:

      1. omdat hulle daarvoor berug is dat hulle nie hul kontrakte lees nie en omdat hulle gewoond is aan ’n era toe beginsels soos lojaliteit, waardering vir skrywers en professionele etiek aanvaarde praktyk in die boekebedryf was;

      2. omdat uitgewers steeds nalaat om hul skrywers in detail in te lig oor (voorgenome) wysigings aan kontrakte;

      3. omdat die skrywer verwen is deur die skoolboekmark — wat nou in duie gestort het;

      4. omdat uitgewers nie betyds gereageer het op, en ook nie hul skrywers voorberei het op, al die implikasies van die verdwyning van die skoolboekmark nie (dit lyk of hierdie uitgewers — agv die suksesse van genoemde mark meer “sakemanne” as uitgewers — geen Plan B gereed gehad het nie).

      5. omdat uitgewers (om verskeie redes, waaronder genoemde ineenstorting van die skoolboekmark) werklik sukkel en die samewerking van skrywers nodig het;

      6. omdat uitgewers ongeag die ineenstorting van genoemde skoolboekmark nog steeds goeie winste maak, maar nie daardie winste binne die maatskappy self ter wille van die boek aanwend nie (kruissubsidiëring binne ’n uitgewery of uitgewersgroep vind nie meer plaas nie);

      7. omdat uitgewers volgens die nuwe kontrakte skrywers wil vergoed in wat lyk na ’n soort vennootskap, maar in werklikheid verder optree asof hulle slegs te make het met individuele “winsmakers”; die aantal boeke wat verkoop, is ’n al hoe groter wordende faktor.

    III. KOMMER EN VRAE

    Opm. Hier is nie noodwendig sprake van “feite” nie, omdat dit nie in alle gevalle getoets is of getoets kon word nie.

    1. Uitgewers verkeer in ’n relatief benarde finansiële posisie. Hulle moet geld leen vir elke boek wat hulle uitgee, daarom móét elke boek ’n wins maak vir hulle om te oorleef. Kruissubsidiëring bestaan vir baie uitgewers nie meer nie. Potensiële “swak verkopers” (poësie, drama, kortverhale, sekere soorte kinderboeke) kan nie meer deur topverkopers (bv. tuin- en resepteboeke) gedra word nie. Nou is elke boek ’n “winssentrum”.
      Vrae: Is meer redes as net die verdwyning van die skoolboekmark hiervoor verantwoordelik? Waarom kan daar geen kruissubsidiëring plaasvind nie? Wie het dit verbied? Uitgewers is tog primêr afhanklik van hul skrywers, soos wat groot maatskappye ook afhanklik is van hul primêre produsente.

    2. Sommige uitgewerye het die afgelope paar jaar begin met “’n persentasie van die totale wins” as basis vir die berekening van die outeursaandeel. Dit beteken sowat 15% van die netto inkomste uit die eerste druk van ’n werk. Netto inkomste word egter omskryf as die uitgewersprys nadat nie net BTW nie, maar ook die afslag aan boekhandelaars afgetrek is. Die gemiddelde afslag kan so hoog wees as 50%.

      Voorbeeld: ’n boek kos in die winkel R89,98; die uitgewersprys is dus R78,93 (14% BTW afgetrek); daarop was die skrywer se tantieme 12%, dus R9,47.

      Volgens die nuwe kontrakte kom van die R78,93 nog die afslag aan boekhandelaars af (kom ons sê 40%; dit kan hoër wees), dus bly R47,36 oor.

      15% daarvan is R7,10 — dus R2,37 of 25,03% minder as wat die skrywer vantevore volgens die ou kontrakte gekry het. R2,37 per boek minder beteken R2370 minder vir ’n (klein) oplaag van 1000!

      Vrae: Is dit aanvaarbaar dat netto inkomste as rigsnoer gebruik word? Is dit ’n wêreldwye verskynsel hierdie of ’n plaaslike variant? Is hierdie drastiese aanpassing met ALLE skrywers en in detail bespreek? Het ALLE skrywers van hierdie drastiese aanpassing kennis gekry? Is ALLE skrywers genader met die versoek om te help dink hoe hulle die uitgewer uit ’n verknorsing kan help red (indien daar wel sprake is van ’n verknorsing)? Word die werklike situasie nie maar net tydens ontmoetings tussen skywer en uitgewer met grafika verbloem nie?

    3. ’n Kontrak is so goed as die skrywer se vermoë en vaardigheid om daaroor te beding, klousules te bevraagteken en op uitleg aan te dring. Die meeste skrywers is éérstens skrywers en hulle het geen sake- of regsopleiding nie. Buitendien vertrou hulle gewoonlik hul uitgewer(s).
      Vraag: Skrywers het — soos enige ander mens sonder sake- of regskennis — hulp nodig om presies te verstaan wat hul kontrakte behels; nie mistifikasie nie. Aangesien kontrakte sekerlik individueel kan verskil, behoort individuele uitleg en duidelike kommunikasie dan nie hieroor plaas te vind tussen uitgewer en skrywer nie?

    4. Kontrakte wat ’n skrywer laat bereik, is nie aanvaarbaar nie. Daar is inderdaad gevalle van kontrakte wat meer as ’n jaar nadat ’n boek verskyn het, vir die eerste maal aan skrywers gestuur word.
      Vraag: Moet alle skrywers nie vóór publikasie konsepkontrakte ontvang nie, sodat hulle hul kan vergewis van die inhoud/veranderings? Moet voltooide kontrakte dan nie saam met publikasie deurgegee word nie?

    5. Wanneer een uitgewery deur ’n ander (of deur ’n uitgewersgroep) oorgeneem word, of wanneer so ’n uitgewery ophou bestaan, trek die skrywer dikwels aan die kortste ent. State raak deurmekaar of weg; in minstens een geval het ’n skrywer toevallig vasgestel dat daar nog ’n bedrag van sowat R6 000,00 sonder sy wete by ’n uitgewery “lê”; in nog ’n geval was state oor die oor-en-weer uitbetalings vir tekste in veral bloemlesings deurmekaar en weersprekend.
      Vraag: Kan skrywers nie eis dat onafhanklike ouditering in dergelike gevalle op koste van die betrokke uitgewer(s) gedoen word nie?

    6. Die persepsie bestaan dat groot uitgewers se houding oor “letterkunde” drasties verander het. Potensiële winsmakers (waaronder “celebrities”) word verkies bó goeie letterkunde (veral poësie).
      Vraag: Stel uitgewers nog werklik belang in die “individuele talent”?

    7. Dit is ’n feit dat sommige “literêre” boeke goedkoper uitgegee kan word én nog uitstekend verkoop.
      Vraag: Waarom slaag sommige uitgewers daarin om boeke net so netjies en op net sulke goeie papier as ander uit te gee, maar teen verminderde pryse — én met uitstekende verkoopresultate?

    8. Dit is en bly die skrywer se eerste verantwoordelikheid om ’n goeie, oorspronklike boek te skryf. Of dit ’n potensiële winsmaker is, is nie die skrywer se eerste prioriteit nie.
      Vraag: Is dit nie wel die uitgewer/redakteur (en die bemarker) se taak om in alle gevalle die volle verkoopspotensiaal van die boek in samewerking met die skrywer te ontwikkel nie?

    9. Skrywers word vanweë die huidige krisis in die boekebedryf en/of uitgewers se onvermoë om behoorlik met hul skrywers te kommunikeer, toenemend gedwing om hul manuskripte nie net by een uitgewer aan te bied nie.
      Vraag: Watter implikasie het hierdie verskynsel vir die uitgewery?

    10. Daar word gevalle aangemeld van projekte wat deur uitgewers aangekondig word, maar dan soos mis voor die son verdwyn — sonder dat die skrywer kennis kry. In minstens twee gevalle is ’n aansienlike hoeveelheid werk gedoen (en ingelewer) sonder dat die skrywers/samestellers in kennis gestel is wat van die projek geword het. Herhaalde navrae lewer ook niks op nie.
      Vraag: Lei hierdie soort optrede van uitgewers nie in die ergste gevalle tot vertroue- of (mondelinge) kontrakskending nie?

    11. Verwant aan 9. is die volgende: ’n Skrywer se boek (A) verskyn by ’n uitgewery. Die uitgewer versoek die skrywer om nog ’n boek (B) te skryf. Die skrywer deel die uitgewer mee dat ander uitgewerye ook in die manuskrip belangstel. Die uitgewer sê hy wil beslis boek (B) uitgee. Intussen loop dinge skeef met die persklaarmaking en publikasie van die eerste boek. Betrekkinge versuur. Maar die skrywer het ook al vir ander uitgewerye wat in manuskrip B belangstel, nee gesê. Skielik stel die uitgewer nie meer belang in B nie.
      Vraag: Hoe kan skrywer én uitgewer beskerm word tov verliese wat hieruit voortvloei?

    12. Sommige keurders se identiteit word bekend gemaak, ander s’n nie. Wanneer na die gehalte van sommige (resente) tekste gekyk word, duik ernstige bedenkinge op en kom keurderintegriteit in die gedrang. Minstens een geval is bekend waar ’n keurder — ter wille van die skrywer — aanbeveel het dat die manuskrip eers teruggehou moet word. Tog is met publikasie voortgegaan.
      Vraag: Sou dit nie tot groter deursigtigheid, groter vakmanskap in die beoordelingsfase en ’n definitiewer leerproses kon lei as keurders se name wel bekend word nie?

    13. Sommige skrywers kla dat daar ongemagtigde en soms grootskaalse veranderinge in die bladproefstadium aan manuskripte aangebring word.
      Vraag: Moet ’n skrywer nie te alle tye geraadpleeg word voordat finale veranderinge aangebring word nie?

    14. By sommige uitgewerye bestaan klaarblyklik die praktyk om “ontwikkelende skrywers” se werk — hóé swak ook al — sonder meer uit te gee. Proeflesers en redakteurs word dan ingespan om die tekste oor te skryf vir publikasie.
      Vraag: Lei hierdie soort “politieke korrektheid” nie tot ’n skeefgetrekte beeld by skrywer en samelewing nie?

    15. Sommige skrywers dui aan dat hulle feitlik selfstandig (en op eie koste) bemarking moet doen, omdat daar weinig of niks innoverends deur die bemarkingsarm van hul uitgewer gedoen word nie, of omdat bemarking dikwels kennelik ontoereikend is.
      Vraag: Kan dit van ’n skrywer verwag word om self sy of haar boek te bemark? ’n Positiewe ontwikkeling sou tog seker die volgende prosedure kon wees: A. Voorstelle deur die bemarkingspan (dis waarvoor hulle opgelei is), aangevul deur voorstelle van die skrywer. B. ’n Byeenkoms waarby skrywer, uitgewer en bemarkingspan die saak deeglik bespreek.

    16. Nie alle skrywers het toegang tot die elektroniese media of ander inligtingsbronne nie. Uitgewers stel hulself op die hoogte van skryf- en uitgewerstendense wêreldwyd, ook deur boekskoue by te woon. Skrywers weet meestal nie wat alles in die internasionale boekewêreld gebeur nie.
      Vraag: Kan skrywers nie deur inligtingstukke, ’n soort nuusknipseldiens of bronnebank ingelig gehou word oor wat in die buiteland “werk” en wat nié? Behoort uitgewers nie meer inligting oor skryftendense met hul skrywers te deel nie?

    17. Sommige skrywers kla dat hulle outeurstate (veral state oor boeke wat oorsee verskyn) slegs met moeite bekom (bv. vir voorlopige belastingdoeleindes). In ander gevalle word nagelaat om outeurstate uit te stuur; state word slegs met moeite in die hande gekry. Navrae oor moontlik foutiewe state (selfs besoeke aan die persoon wat daarmee werk!) lewer niks op nie; in sommige gevalle word “die (verouderde) stelsel” die skuld gegee.
      Vraag: Is die hantering van outeursbetalings volledig deursigtig? En effektief?

    18. Op outeurstate is ’n kolom wat reklame- en “beskadigde” voorraad aandui. Skrywers het begrip vir die probleem van “rakspasie”, maar die hoeveelhede wat elke ses maande onder hierdie kolom verskyn, lyk soms buitensporig. Navrae hieroor lewer nie altyd duidelike antwoorde op nie.
      Vraag: Is dit moontlik om presies aan te dui hoeveel boeke gratis aan watter instansie gestuur word — en waarom? Watter soort terugvoering ontvang die uitgewer hieroor van “ontvangers”? Voorraad word soms verwyder omdat papier sou vergeel — maar waarom word daardie soort papier dan in eerste instansie gebruik, en behoort die (goedkoper) beskikbaarstelling van dáárdie boeke aan veral plattelandse gemeensappe nie ondersoek te word nie? Hoe korreleer boekprys en (dié soort) papier? Is daardie boeke in eerste instansie behoorlik bemark?

    19. Dit kom soms aan die lig dat nuwe markte onverwags beskikbaar word, bv. elders in Afrika.
      Vraag: Hoe ingelig is Suid-Afrikaanse uitgewers en hul skrywers oor die potensiaal van nuwe markte?

    20. Skrywers kla dat geld van vertalings laat inbetaal of foutiewelik bereken word — sonder behoorlike uitleg van hoe die geld van (bv.) uitgewer A na uitgewer B verwissel of hoe (en óf) rente vir laat oorbetaling bereken word.
      Vraag: Hoe beskerm die uitgewer sy skrywers mbt vertalings?

    21. In aansluiting by die vorige:
      Vraag: Hoe beskerm ’n uitgewer sy skywers wanneer hulle boeke bv. oorsee klaarblyklik klandestien in ’n sg. sagteband-uitgawe verskyn (die “geskenkpakkie”-boeke word by die skrywer afgelewer, maar die state wys nie dat daar boeke gepubliseer is nie).

    22. Dit lyk of uitgewers al die voorspelbare dinge doen: hulle skaal af, rasionaliseer, dank af, gee minder uit. Die internet het ’n verdere stok in die speke gesteek.
      Vraag: Behoort uitgewers nie juis nou méér uit te gee nie, en moet hulle nie meer uit te gee juis van dit wat hulle nou afskaal nie?

    23. Uitgewers verwelkom nie altyd nuwe idees deur hul skrywers nie. Skrywers (veral dié met ervaring in die boekebedryf) noem dat hulle meer as een keer gaan aanklop het met innoverende idees, bv goedkoop kleinformaatboeke, wat dan ook innoverend bemark word. Die antwoord is gewoonlik dat ’n bepaalde uitgewer “verplig” is om van ’n bepaalde drukker gebruik te maak en dié se masjiene is nie opgestel vir kleinformaatboekies nie. Uitgewers wil skynbaar nie van kleiner, goedkoper drukkers vir dié soort projekte gebruik maak nie.
      Vraag: Is ons uitgewers regtig oop vir nuwe idees? By gebrek aan buigsaamheid sál uitgewers ondergaan.

    24. Uitgewers skeep kinderboeke gruwelik af.
      Vraag: Moet ons dan nie, as ons in ons land lesers vir die toekoms wil kweek, van kinderboeke ’n saak van erns maak nie? Daar word selde groot uitstallings van kinderboeke in boekwinkels gesien, daar word selde gekyk na gereelde ontmoetingsessies tussen kinderboekskrywers en kinders in groot winkelsentrums, ook in plattelandse gebiede (wat die potensiaal het om op ’n Saterdag kinders in ’n boekwinkel te kry). So ontstaan ’n vakuum. Kinders sal altyd Amerikaanse of Britse goed aanhang as "local" nie lekker is nie, en as hulle nie eens weet dat "local" beskikbaar is nie.

      Vraag: Watter soort gesprekke vind hieroor tussen die uitgewer en die boekhandelaar en tussen die uitgewer en die media plaas (want lg. is ewe skuldig aan die verwaarlosing van die kinderboek)? Dit lyk of uitgewers kinderboeke uitgee net omdat hulle voel hulle moet. Die persepsie bestaan dat uitgewers tevrede is wanneer hulle hul kwota aan biblioteke verkoop het. En dán kan daar vergeet word van meer verkope.

    25. Kinderboekskrywers kla dat hulle al boekbekendstellings gehad het waar hulle alles self moes reël, bv. roomyse en koeldranke vir die kinders, die lokaal, uitnodigings ens. Die uitgewer daag dan net op met ’n paar eksemplare.
      Vraag: Sou die skrywer in so ’n geval nie minstens op ’n soort toelaag of dalk ’n klein voorskot geregtig wees nie?

    26. Uitgewers ondersteun nie altyd “nuwe” of “opkomende” skrywers met werklike meriete nie. Die fokus op die moontlike winsgewendheid van die enkelwerk (sien punt 1) is verstaanbaar uit ’n sake-oogpunt, maar nie baie slim nie. Dit is ’n korttermynbenadering wat die nodigheid vir ontwikkeling misken.
      Vraag: Is ondersteuning aan niewenners ("also-rans") dan nie soos "saadkapitaal" wat lojaliteit by die skeppers van latere wenwerke vestig nie, wat hulle inderdaad in staat stel om aan te hou skryf/dig tot hulle die topverkoper aan die uitgewer lewer?

    WAT STAAN DIE SKRYWER TE DOEN INDIEN HIERDIE GESPREK TOT NIKS LEI NIE? LOS GEDAGTES WAT AL UITGESPREEK IS, WORD HIER SAAMGEVAT:

    1. Boikot uitgewers wat nie op suiwer beginsels onderhandel nie.

    2. Ondersteun kleiner uitgewerye.

    3. Stig jou eie uitgewery (soos wat skrywers bv. De Bezige Bij begin het).

    4. Bly by jou uitgewer, maar lees jou kontrakte van A-Z, dring aan op uitleg, kry regshulp waar nodig; beding.

    5. Dring daarop aan by uitgewers om te help met projekte waardeur lesers gewen kan word!


    SLOTWOORD

    Hierdie inisiatief spruit nie uit een individu se ontevredenheid nie; dit is saamgestel uit ’n wye verskeidenheid skrywers se kommer. Dat alle skrywers nie dadelik betrek is nie, spruit gewoon uit praktiese oorwegings: hoe om almal bymekaar te kry. Nou word dié stuk so ver moontlik aan almal gestuur — die keuse om deel te neem, berus by die individuele skrywer. Dis ’n oop en vir ’n tyd lank deurlopende gesprek; daarom kan name altyd bykom. Alle bydraes word verwelkom, mits dit op behoorlike gronde berus en nie bloot uit griewe spruit nie. Die doel is nie om spesifieke uitgewers te teiken of te beveg nie, maar om ’n positiewe bydrae te lewer — om op die ou end die leeskultuur te bevorder.


    Koördineerder: George Weideman
    24.02.02

    Teenwoordig toe dokument in sy oorspronklike vorm bespreek is:

    Helen Brain
    Marianna Brandt
    Rachelle Greeff
    Janie Oosthuysen
    George Weideman



    George Weideman het LitNet versoek om uitgewers te vra om op sy skrywes te reageer. Reaksies kan gestuur word aan redlitnet@mweb.co.za.

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.