SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

  Marthinus Jansen van Vuuren
(23) kom van Johannesburg, swot al amper vyf jaar op Stellenbosch (hy’t sy graad in Drama in 2002 voltooi en is nou besig met Joernalistiek). “Ek weet dis ’n moerse voorreg om hier te swot, maar ek kan nie wag om terug te trek Johannesburg toe nie. Kapenaars is té laid back. Dis ’n subjektiewe siening, nes my essay oor apartheid. Dis hoekom ek wil waarsku dat dit nie noodwendig verteenwoordigend is van enige ander Jansen van Vuuren of wie ook al nie.”

Dinge hét verander …

Marthinus Jansen van Vuuren


Hy het vir ’n sluk van my koeldrank gevra. Ek het nee gesê. Hoe durf jy so iets vra? wou ek weet. “Because I’m black,” het hy teruggekap.

Johannesburg, 1984. Vroeg in die oggend skrik ek wakker van die geskree en geskel tussen ’n vrou en ’n groep mans. Dit klink soos ’n swart vrou wat met die polisie baklei. Deur die gordyn in ons sitkamer kan ek sien polisiemanne is besig om ons huishulp, Sophie, se suster in ’n geel vangwa in te gooi. My pa hou vir Sophie vas, probeer haar troos. Sy is histeries.

Ek was natuurlik ook histeries want dit was traumaties om dié vrou, wat soos ’n tweede ma vir my was, so te sien huil en skree. Ek het saam gehuil en geskree. Ek het gedink hulle gaan Sophie én my pa wegvat.

Eers jare later kon ek twee en twee bymekaarsit. Ek het by verskeie familielede verskillende weergawes van die storie gehoor. Een van hulle was dat Sophie se suster se pas (of so iets) blykbaar nie toegelaat het dat sy by Sophie mag oorbly nie en dat sy in ’n klopjag op ons woonbuurt “uitgevang” is. Die ander weergawe was dat sy ’n ANC-lid is.

Ek het eers amptelik bewus geraak van apartheid met die vrylating van Nelson Mandela. Ons hele gesin was dié dag in 1990 vasgenael voor die televisie. Opgewonde oor die vrylating, maar vreesbevange dat iets kan skeefloop. Die skielike vrede en goedgesindheid wat daarmee gepaardgegaan het, was nie vertrou nie. My ouers se woorde, toe ek hulle oor die bohaai vra, was: “Dinge gaan verander …”

Daardie dag het ek besef iets is nie reg nie, iets was verkeerd omtrent die manier waarop wit mense swart mense behandel het, beskou het. Maar ek kon nie my vinger daarop lê nie.

Op ’n warm middag ná skool het ek koeldrank-in-die-hand huis toe gestap toe ek deur ’n swart man gekonfronteer is. Hy het vir ’n sluk van my koeldrank gevra. Ek het nee gesê. Hoe durf jy so iets vra? wou ek weet.

“Because I’m black,” het hy teruggekap. “Things are changing. We are equal!” het hy soos ’n ware vryheidsvegter gebabbel. Ek het my koeldrank oorhandig. Hy het omtrent die helfte daarvan opgedrink. Ek het die blikkie teruggevat en net om hom te wys ek is nie bang nie, het ek die laaste koeldrank voor hom uitgedrink. Dit was die eerste koeldrank wat ek met ’n swart mens gedeel het. Omdat ons nou “gelyk” is. Maar dit was vreemd. Aaklig.

Dit was ’n aanpassing vir ons gesin om swart mense in dieselfde winkels as ons te sien, in dieselfde eetplekke. Dit was nie onaanvaarbaar nie, net vreemd. Ons was nie gewoond daaraan nie. Neem ’n toustanery as voorbeeld: terwyl wit mense altyd ’n afstand van mekaar handhaaf, staan swart mense styf teen mekaar. Net so was dit vreemd toe ons die eerste swart mense met luukse, Duitse motors sien rondry. Grênder as my pa s’n. Die eerste swart mense wat in ons woonbuurt ingetrek het, was net so omstrede. Dit het alles gegaan oor aanpassing. En dit was, en is soms steeds, moeilik.

Ek onthou die eerste swart kind in my eksklusiewe Afrikaanse laer skool, Jan Cilliers. Hoe almal oor hom gefaff het. Toe hy by Die Voortrekkers aansluit, het die grootkoppe van die beweging beswaar gemaak. Ons skool het hom aan Die Voortrekkers onttrek en ’n soortgelyke beweging begin - Die Avontuurklub. Alles oor een swart kind. Leroy was sy naam. Daar het later bruin mense bygekom, en mettertyd het ons gewoond geraak daaraan.

Ons wit kinders sou wel altyd die nuutste klere, musiek, speelgoed - veel meer as hulle - hê. Hulle sou nooit so cool en funky soos ons kon wees nie.

Tot vandag toe wonder ek hoe dit vir Leroy moes gewees het om oorval te word deur oorvriendlike, wit kinders. Wit kinders wat by ouers en onderwysers opdrag gekry het om maatjies met Leroy te wees. Dat hulle nie meer lelik mag wees met swart mense nie. Hoe moes dit vir Leroy gevoel het om die eerste proefkonyn in die skool te wees sedert die afskaffing van apartheid?

Die referendum van 1992. Dit was ook ’n groot issue in ons huis. My ma het ná die referendum ’n klomp JA en NEE plakkate van die lamppale afgehaal. Want dinge gaan verander. Ons moet JA stem.

En 1994. Ja, ons huis was ook een van daardie neurotiese huise wat blikkieskos opgestapel het uit vrees vir chaos wat sou uitbreek wanneer die swart mense, die ANC, die land oorneem. Die chaos kon ook uitbreek weens moontlike wit teenkanting. My pa het oorweeg om ’n noodkragopwekker te koop, maar hy was te besig en het nooit daarby uitgekom nie.

Ek was nie lus om saam met my ma in daardie ellelange tou te gaan staan om te gaan stem nie, maar sy het daarop aangedring. Weer eens is iets in die trant van “Dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie” gesê. Voor ons in die ry was ’n wit vrou met ’n ANC T-hemp aan. Sy het ’n swart man se hand vasgehou en hom elke nou en dan gesoen. Dis mos nie hoe dit hoort nie, het ek gedink.

Stadig maar seker het ek meer polities bewus geraak. Ek was ’n jaar lank in ’n Engelse private skool met ’n aansienlike aantal kinders van die swart elite. Ek het OK met hulle oor die weg gekom. Ek onthou die een ou was nogal cool. Hy het ’n Amerikaanse aksent gehad. Sy ouers was exiles wat teruggekom het.

Ironies genoeg was my eerste “rassekonflik” met ’n wit Engelse seun, Tuffney, by dié skool. Hy het gesê ek is ’n AWB-lid en my ma ry ’n ossewa. Sy het ’n BMW gery. Ek dink hy was jaloers. Hy het my konstant met negatiewe opmerkings gebombardeer. Tuffney was die eerste en enigste mens met wie ek al ’n fisieke geveg gehad het. Ek is kort hierna uit die skool en terug na ’n private Afrikaanse skool toe.

Daar was geen swart kinders nie. Elke nou en dan miskien een of twee, maar hulle het nooit lank gehou nie.

Hoe voel ek vandag oor apartheid? Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat my politieke verwysingsraamwerk ’n resultaat daarvan is. Ek blameer apartheid vir die feit dat ek vandag steeds sku is vir swart mense. Ek doen alles in my vermoë om “anderskleuriges” as gelykes te beskou en te behandel, maar ek kan nie altyd nie. Dis nie weens velkleur nie, eerder oor kulturele gapings. Die swart en bruin boemelaars op straat irriteer my. Soms ook die wittes, maar daar is baie meer swartes en bruines.

Ek weet dis swart mense wat in ons huis ingebreek het. Ek weet dis ’n swart man wat my vriendin sonder rede aangeval, verskeie kere met ’n mes gesteek en haar arm gebreek het. Dis ’n swart man wat my ma se motorruit uitgeslaan het in Johannesburg se spitsverkeer en haar selfoon uit haar hand geruk het. En arrogant weggestap het in die wete dat hy daarmee gaan wegkom terwyl my ma verbouereerd en vreesbevange in haar kar gesit het en niks kon doen nie. Dis swart mense wat vriende en familie in Johannesburg gehijack het. Sommige van hulle is deur die kapers doodgeskiet.

Ek vertrou swart mense minder as wit mense. Ek weet ek stereotipeer, maar ek kan dit nie help nie.

Sommige mense sal dit miskien as ’n maklike uitweg beskou, maar ek blameer apartheid hiervoor. Ons generasie moet die gevolge van ons voorouers se keuses en besluite dra. Net soos daardie swart man daardie dag die helfte van my koeldrank opgedrink het, so gaan ’n swart man of vrou heel waarskynlik eerder die werk kry waarvoor ek aansoek doen. Dit laat ’n bitter smaak in die mond. En dit maak my donners skepties wanneer sake soos nasiebou en die reënboognasie in die prentjie kom.

Om nie eens te praat van die bitter smaak wat in die meeste swart mense se mond moet wees nie. Niks kan die apartheidsjare se onderdrukking en gruweldade regverdig nie. Dit was ’n teelaarde vir haat en aggressie. Dis hoekom daar vandag steeds slagspreuke soos Kill the boer, Kill the farmer geskree word.

My ouers se waarskuwing was geregverdig. Dinge hét inderdaad verander, maar ons hele “reënboognasie” dra steeds die gevolge van apartheid.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.