SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

  Jeanette Potgieter
het voordat sy haar vir die Joernalistiekgraad aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf het, ’n BA in Waarde en Beleidstudie en ’n Honneurs in Politieke Wetenskap verwerf. Sy is in Windhoek, Namibië, gebore en glo vas hierdie woestynland is die mooiste plek op aarde. Sy hoop om vir haarself ’n plekkie in die Suid-Afrikaanse gedrukte media te vind.

Anderkant die grensdraad

Jeanette Potgieter

    Met my lyf bruin gebrand ná die skoolvakansie het ek seker vir hom na ’n baken van hoop in die wit see rondom hom gelyk. In die Engelse klas het hy na my gedraai en gevra: “Is jy een van ons?”

My lewe is nog altyd gereguleer deur reën. Hoe veel of hoe min daar geval het, gewoonlik eerder hoe min. As jy in dorre Namibië grootword, vorm jou emosies hulle bitter vinnig volgens die presipitasie-patrone van die land. In 1990 het dit baie gereën. Dít is wat ek van die jaar van Namibië se onafhanklikwording onthou.

Ek was in standerd 3. Deel van die “rooi, wit en groen” van Orban Skool in Windhoek. Pouses het bestaan uit skinderstories, handtennis en kaas-en-tamatie-broodjies. Die lewe was ongekompliseerd. Ek het wel een keer daardie jaar gedink die wêreld gaan vergaan omdat daar helderoordag ’n kring om die son gespan het. Vir my was die realiteit van skoolkinders wat oorkant die grens in Suid-Afrika vir vryheid betoog, baklei en sterf, nie eens ’n nare droom nie. Want ek het nie daarvan geweet nie.

My pa werk vir dié burokrasie as regsgeleerde en my ma werk as sekretaresse vir een of ander grootkop in die Kantoor van die Eerste Minister. Ek het van kindsbeen af politiek saam met my Pronutro ingekry. Dit is dus nie asof ek heeltemal clueless was oor wat in Suid-Afrika aan die gang was nie. Ek het geweet een of ander verandering was aan die plaasvind. Ek het geweet Apartheid beteken wat die woord aandui en ek het geweet dit was nie reg nie.

Maar ek het dit nooit gesien nie. Behalwe as ons vakansies die Oranje oorgesteek het om langs die Kaapse strande te gaan rus. En dan was dit juis die afwesigheid van sekere mense of dinge wat tot my moes deurgedring het.

Hoekom was daar swart kinders in my skool, maar geen swart kinders op die strande van Plettenbergbaai nie? Hoekom het ons nuwe swart bure gehad, maar in my oom-hulle se buurt in Pretoria was die enigste swart mense die werkers in ander inwoners se huise? En hoekom het ek dit nie opgemerk nie?

Ek sal seker altyd hieroor wonder. Is dit omdat ek toe nog te jonk was en my grootste bekommernis die kleur van my oprolsokkies vir die dag was? Is dit omdat ek nie wóú sien nie? Is dit omdat my ouers nooit my aandag daarop gevestig het nie?

Ek wens ek kon weet, dan sou dit soveel makliker gewees het om my nou teenoor my swart vriende te verdedig. Die verwyte wat jy kry as jy summier in die groep wat nie teen Apartheid geveg het nie, ingesluit word. Dan voel ek ek kan skree: “Ek het niks verkeerd gedoen nie!”

Trouens, my familie het saam met die regering aan ’n vreedsame oorgang in Namibië gewerk. Maar dit vee nie my rekord skoon nie, want ek dra steeds die merk van bevoorregte.

In standerd 1 het die eerste swart seun na ons skool toe gekom. Marlon. Ek het hom jammer gekry omdat hy so verlore gelyk het. Met my lyf bruin gebrand ná die skoolvakansie het ek seker vir hom na ’n baken van hoop in die wit see rondom hom gelyk. In die Engelse klas het hy na my gedraai en gevra: “Is jy een van ons?”

Ek moes ongelukkig “nee” sê. Wat my onmiddellik deel gemaak het van die “hulle” in sy groepering van “ons” en “hulle”. ’n Oomblik tevore het ek nog op die grens gesit en was aanklank ’n moontlikheid.

Marlon was nie lank alleen nie. Baie van sy “ons”-groep het bygekom en kort voor lank was ek as een van “hulle” ook deel van sy vriendekring. “Ons” en “hulle” het geleidelik vervaag. Deesdae, as ek in Desembermaande in die kuierplekke van Swakopmund sit, verwonder ek my hoe min skeiding daar nog is.

So, wat was my persepsie van Apartheid?

Ek kan doodeerlik sê ek het geen persepsie gehad nie. Al persepsie wat ek van Apartheid het, is wat ek nou daarvan leer en hoor. En dit skok my. Dit skok my só dat ek ontsettend kwaad raak oor enige vorm van rassisme.

Die ergste is — ons is almal rassiste. Ons almal sien nog kleur raak. Ons almal trek nog een of ander onderskeid tussen die “ons” en die “hulle”. In die ietwat aangepaste woorde van Koos Kombuis: “Apartheid is nie dood nie, dis net uitgepass.”

Tog is ek uiters versigtig vir die gevolge van kollektiewe skuld. Dit kweek moedeloosheid en mismoedigheid. Kyk maar na Duitsland. Nazi-Duitsland was weliswaar verantwoordelik vir van die wreedste praktyke in die geskiedenis, maar die kollektiewe skuld van die jonger geslag skep net hindernisse vir vooruitgang. Tot onlangs nog was ’n stereotipe Duitser, wat dit ook al mag wees, deel van Hollywood se gunsteling-rampokkerlys.

Maar ek koop ook nie die “just get over it”-argument nie. Dít is ’n naïewe redenasie van iemand wat nie die pyn en lyding eerstehands ervaar het nie. Die nalatenskap van Apartheid is ’n komplekse uitdaging waardeur die mense van die land moet wroeg alvorens ons kan aanbeweeg.

Sonder om in die Reënboognasie-lokval te trap, glo en hoop ek dat hierdie proses in ’n diverse land soos Suid-Afrika uiteindelik sal lei tot ’n interessante, ingewikkelde en fassinerende eenheid. Dit verg tog verskillende dele om ’n geheel te vorm.

In my woestynland het die mense ’n seënwens: Laat dit vir jou reën. My innigste wens vir Suid-Afrika is dat dit vir een en elk in die nabye toekoms sal stortreën.

So, jammer vir die cliché, maar Simunye — Ons kan een wees.

Stuur jou reaksie aan egrundling@mweb.co.za

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.