SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

In stede van die liefde: Etienne van Heerden se Gesamtkunstwerk

Andries Visagie*

Van Heerden, Etienne.
2005.
In stede van die liefde.
Kaapstad: Tafelberg.
ISBN 062404324X.
213 bladsye
R195.00


Liefhebbers van die Afrikaanse prosa koester hoŽ verwagtinge van Etienne van Heerden as die intellektuele prins van die Afrikaanse Tagtiger-generasie. Tagtigers soos Joan Hambidge, Koos Kombuis, Daniel Hugo en Johann de Lange is steeds toonaangewende skrywers, maar dit is veral Etienne van Heerden wat met sy skerp kritiese waarnemingsvermoŽ daarin slaag om die boustene van die eietydse bestaan bloot te lÍ en te bevraagteken. In stede van die liefde is, net soos Marlene van Niekerk se Agaat, 'n ambisieuse roman wat lesers wegroep uit die oppervlakkige begogeling van die media- en verbruikerskultuur en hulle uitdaag om terug te keer na wesenlike vrae soos: Wat is waarheid? Wat lÍ aan die grondslag van ons bestaan? Is daar nog enigiets wat werklik en eg is in hierdie tydsgewrig wat oorheers word deur veranderlikheid en verglyding? In sy nuwe roman hou Van Heerden hierdie vrae voor aan 'n wÍreld wat toenemend besig is om te skuif "van erns en aandagtigheid na videobeeld en interaktiwiteit".

Uit verwysings na sy vorige romans soos Toorberg, Casspirs en Campari's en Die swye van Mario Salviati, word dit duidelik dat dit vir Van Heerden 'n saak van erns is om met sy jongste boek tot 'n sintese te kom van die idees wat sy poŽtika tot dusver gekenmerk het. In stede van die liefde is Etienne van Heerden se Gesamtkunstwerk, nie net omdat dit 'n sintese van sy oeuvre is nie, maar ook omdat dit so 'n omvattende ondersoek is na die diversiteit en veelstemmigheid van die menslike bestaan aan die begin van die 21ste eeu.

Etienne van Heerden neem sy leser op 'n toer deur die hedendaagse Suid-Afrika, maar met die hoofkarakter, Christian Lemmer, se besoeke aan stede soos Antwerpen, Berlyn en Harare word die blik op die Suid-Afrikaanse aktualiteit verruim en gekompliseer. Christian staan aan die hoof van 'n aanlyn-kunsbedryf, Africart.com, wat die integriteit van ernstige Afrika-kuns probeer beskerm teen die druk om te kommersialiseer en boedel oor te gee aan die internasionale kuriomark. Christian is 'n ridder in die stryd van ware kuns teen warekuns. In stede van die liefde is egter 'n verwikkelde teks van uitgebreide parallelle en kontraste en Christian se ideale vir die kuns word geplaas teenoor die nogal misplaaste romantiese beeld van kunstenaars wat Hildegard Heuer (oftewel Miss Edelweiss) in Matjiesfontein probeer oordra aan haar talentvolle jong vioolleerling, Snaartjie Windvogel. Miss Edelweiss moedig Snaartjie aan om risiko's te neem en om deur die ontdekking van haar seksualiteit na nuwe hoogtes in die kuns uit te reik. Sy hou egter nie rekening met Snaartjie se behoeftige omstandighede as die dogter van 'n plattelandse draadspanner nie. Vir Piet Windvogel, Snaartjie se pa, is sy dogter se musiek slegs belangrik indien dit sy wedrenduiwe tot groter prestasie kan aanvuur.

Die verhaal van Snaartjie Windvogel se verdwyning uit Matjiesfontein, en die verhaal van Christian en sy gesin in Johannesburg, Stellenbosch en Seepunt, word toenemend met mekaar vervleg namate die vertelling vaart kry. Met die Matjiesfontein-verhaallyn moet die haastige leser egter heelwat geduld aan die dag lÍ, aangesien die vertelling in die eerste helfte van die boek grotendeels wentel rondom die uitgebreide karaktertekening van die eksentrieke vreemdelinge in die dorp. Daar is die Duitse Miss Edelweiss en ook Eaglejohn Fieldhouse, die bestuurder van die Lord Milner Hotel, wat sy identiteit na willekeur skoei op historiese figure soos Raspoetin en Rudyard Kipling.

Etienne van Heerden het In stede van die liefde geskryf met al tien sy vingers op die polsslag van die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing. Hy skryf oortuigend oor die groeiende gaping tussen ryk en arm, die misdaad van die bendes in Kaapstad, prostitusie en die dwelmkultuur. Sy representasie van die hiŽrargie van bevoorregting in Suid-Afrika is ontstellend akkuraat. In weerwil van wit mense se huidige paniek oor regstellende aksie is dit 'n wit man, Christian Lemmer, wat in Van Heerden se roman voor hardloop. Christian se atletiese prestasie as skoolseun word 'n metafoor vir sy rustelose strewe na sukses; volgens sy vrou Christine is hy 'n oorpresteerder. Die vinnige pas wat hy volhou, lei tot sy hartprobleme, en in sy geheime woonstel in Seepunt snuif hy kokaÔen wat aan hom 'n gevoel van verrukking en energie gee. Soos so dikwels in die Westerse literatuur is dit ook in hierdie roman die prerogatief van die wit man om kanse te waag. Hy staan aan die voorhoede van die samelewing en kyk moedig namens die res van die mensdom die dood in die oŽ. Verder is dit juis Christian wat te staan kom voor die moeilike vrae van die hede in sy vele reise na invloedryke wÍreldstede waar die agenda van globalisering bepaal word.

In die hiŽrargie van bevoorregting is wit vroue in Van Heerden se roman relatief welvarend. Christine is desondanks nie daartoe in staat om met selfvertroue uit te reik na 'n lewe buite haar eie kokon van sielkundige leed nie. Die karakter Christine het as 'n weeskind grootgeword en daar word gesuggereer dat sy as kleuter seksueel gemolesteer is deur haar biologiese pa. In 'n klaarblyklik eindelose helingsproses probeer Christine om die leegte binne haar, haar persepsie van identiteitsloosheid, die hoof te bied. Haar onderdrukte geheue oor haar pynlike verlede is volgens Christian ook 'n simptoom van die sestiger- en sewentigerjare van die vorige eeu waarin hulle grootgeword het:

Amptelike swye wat oor allerlei sake gehandhaaf is, die onderdrukkende regime van daardie jare - dit moes uitspeel op persoonlike vlak; die openbare wat privaat word. Christine in die doofpot.
Soos vantevore in Van Heerden se werk is die lewens van die bruin karakters 'n afspieŽling van die wit protagoniste se doen en late. Hierdie procťdť (die gekleurde as 'n skadufiguur van die wit man) uit die tradisie van die koloniale literatuur word gelukkig nie enduit volgehou nie. Met die voortreflik getekende karakter Fielies Jollies, 'n suksesvolle polisieman wat sy ondersoeke as ontluikende stories benader, bied Van Heerden 'n blik op veranderinge in die magshiŽrargie tussen wit en bruin.

Die gesinsomstandighede van die Lemmers, spesifiek Christine se geskiedenis as 'n getraumatiseerde weggooikind, word gespieŽl aan die verbrokkelende gesinslewe van die Windvogels op Matjiesfontein. Die bedreiging van die dwelmkultuur en ouers se verwaarlosing van hulle kinders is enkele van die ooreenkomste tussen die Lemmers en die Windvogels. Die Windvogels se situasie is egter uitsigloos, terwyl die Lemmers kan uitsien na 'n beter toekoms danksy Christian se standhoudende liefde vir sy vrou en seun.

Teenoor sy bruin alter ego, Stanley Syster, wil Christian verskoning aanteken oor die onreg wat bruin mense in die verlede moes verduur weens wit oorheersing, maar hy vind verskonings onvoldoende:

Dis nie, Stanley, omdat ek dink verskoning is nie in orde nie. Dis net nou reeds so voorspelbaar en byna ongeskik in die gebrek aan resultate daarvan.
Met In stede van die liefde slaag Etienne van Heerden daarin om op 'n dwingende manier die aandag te vestig op die siklus van armoede waarin so baie bruin mense steeds vasgevang is en waaraan die wit bevolking tot dusver nie veel kon of wou doen nie.

Die Wes-Afrika-migrant is 'n relatiewe nuweling in die Suid-Afrikaanse samelewing. Van Heerden vind in sy uitbeelding van NigeriŽrs in Suid-Afrika aansluiting by die stereotipe van die Nigeriese dwelmsmous. Festus Osundare en sy makkers is die vreemde element wat grootliks daarvoor verantwoordelik is dat die Windvogels se gesinslewe vernietig word. Hoewel daar in die roman krities besin word oor xenofobie, die diskriminasie waarmee "inkommers" te kampe het, is dit teleurstellend dat die voorstelling van die Nigeriese karakters maar bra eendimensioneel is.

In sy resensie van Kleinboer se opspraakwekkende Kontrei het Andrť P Brink (2004) diť teks 'n "behoudende boek" genoem na aanleiding van die belang wat die verteller aan burgerlike gesinswaardes heg. Myns insiens bepleit In stede van die liefde 'n terugkeer na die gesin as 'n skans teen die eise wat sosiale omwentelinge stel. Christian verken wel 'n uiteenlopende aantal idees en lewenstyle wat fatsoen en konvensie uitdaag, maar sy flirtasies met radikale nuwe reaksies op die tydsgees word uiteindelik ondervang deur sy "gesinspatriotisme". In stede van die liefde wat hy vir sy gesin koester, oorweeg hy byvoorbeeld 'n meer egoÔstiese bestaan van dwelmeksesse en avonture met verleidelike vroue in die buiteland. Daar is egter geen bevredigende plaasvervanger vir die liefdesband tussen gesinslede nie: in die slot van die roman keer die Lemmers saam terug na hulle gerieflike gesinswoning in Stellenbosch, en Christian begin om sy geheime aan Christine te bely in 'n poging om sy liefde vir haar te beseŽl. Vir sowel Christian as Christine is dit 'n uitdaging om vanaf die "other side" waarvan Leonard Cohen sing, met ander woorde die gekwelde ervaringswÍreld wat vir die ander in die liefdesverhouding verborge is, na mekaar uit te reik.

In die slot van die roman sien Christian in sy geestesoog al die kinders, onder wie Christine en Snaartjie, wat deur hulle ouers verontreg is en nie die stabiliteit van 'n liefdevolle gesinslewe kon geniet nie. Die erns waarmee hy die integriteit van die gesin bejeŽn, dui op sy vasbeslotenheid om ten minste in sy eie gesin 'n einde te bring aan die geskiedenis van gesinsontwrigting waarvan Christine en Snaartjie die slagoffers was. Gesinspatriotisme is weliswaar nie 'n rewolusionÍre of vernuwende tema in die literatuur nie, maar In stede van die liefde bied nietemin 'n boeiende perspektief op die spanninge waaraan die familie tans blootgestel word. Dit kan interessant wees om Van Heerden se simpatieke representasie van Christian as vaderfiguur te stel teenoor die opstand teen die vader as gesagsfiguur wat die Afrikaanse literatuur van die 1980's gekenmerk het.

In stede van die liefde is een van Etienne van Heerden se mees verwikkelde romans tot dusver. Baie lesers gaan nog lank moet nadink oor kwessies soos onder meer die onderdrukte geheue, verglyding en plaasvervangerskap wat van hierdie roman so 'n uitdagende leeservaring maak. In stede van die liefde is nie so 'n vlot en meesleurende roman soos Van Heerden se vorige roman, Die swye van Mario Salviati, nie, maar dit bied heelwat meer vir die leser wat van 'n intellektuele uitdaging hou.


Bronverwysing

Brink, Andrť P. 2004. "Kontrei is koning".
Insig
191, Maart, 76-77.

* Andries Visagie doseer Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban.


LitNet: 20 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.