SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Arthur Attwell:
Killing Time

Joan Hambidge

Uitgewer: Snailpress (UCT Writers Series no 4)
ISBN: 1874923698
Datum van publikasie: 2005
Bladsye: 56
Formaat: Softcover

‘n Debuut is altyd ‘n heerlikheid om te beleef as die digter ‘n mens oortuig dat hy iets te sê het en dit veral treffend verwoord.

Vanaf die omslag met ‘n ongeveer sewe jaar oud seuntjie (waarskynlik outobiografies) wat hande in die sakke staan en teen ‘n growwe muur aanlê, tot die laaste gedig, is ‘n mens bewus van ‘n keurige versorging van die gedigte.

‘n Voorblad van ‘n bundel praat altyd saam met die verse: dink byvoorbeeld aan Gilbert Gibson se Boomplaats (Tafelberg), waar die guillotine al ‘n kode aanstip; of Nuwe stemme 3 (Tafelberg), waar ‘n beeld van Claudette Schreuders iets van die toonaard verduidelik; hier het ons ‘n jong kind en in die gedigte die ouer persoon wat terugkyk na die eerste, sublieme ervarings van die lewe. Iets wat in die digkuns bekend staan as die nostalgie, maar dikwels tot gevolg het dat die volwassene wil terugkeer na die ongeskonde, paradyslike bestaan. Hierin het Pablo Neruda voortreflik uitgemunt: om te vertel hoe die eerste gedigte na hom gekom het uit en deur die natuur, en in die fiksionele film Il postino word hierdie krag goed verbeeld.

“Killing time” … Om verveeld te wees. Om te wag op iets. Om ‘n naweekdigter te wees (dalk) soos Wallace Stevens. Dit was ‘n leuen, weet ons, want digters skryf juis wanneer hulle nie skryf nie; dan neem hulle waar, herbesoek inhoude, herinneringe. En in die pragtige, ontroerende “Killing time”, waarin ‘n vlermuis doodgemaak word, sien ons hoe die digter die onsêbare verwoord:

Just after dusk, our parents in the church,
we gathered outside on the patio
killing time. What brought us, then, the gift
of a bat in flight? ...
Die opposisie tussen die kerk (orde) en die kinders se ontmoeting met die vlermuis (simbool van die onsienlike, bose, buitenissige) word in opposisie geplaas. Die kinderlike vernielsug word dan gekoppel aan iets groters: die soeke na die onsienlike. Die terugkeer na hierdie oomblik (‘n belangrike vers in die bundel) is ‘n primordiale ervaring vir die jong digter wat gekonfronteer word met magte groter as hy ...

Die digter dra die bundel op aan sy ouers en in vele verse beleef hy die jeugjare en die onvermydelike verwonding wat dit inhou. Die openingsvers, “My father’s churchyard”, aktiveer ‘n delikate verhouding tussen kind en ouer. Die tuin wat so raak beskryf word, aktiveer ‘n hele Engelse landskaptradisie, en natuurlik praat die digter Robert Frost ook (subtiel) hier saam.

Die simboliese lading van die verse word stiekem hanteer. In “Finding crabs” word dit méér as die vangs. Dit word ‘n onthutsende ervaring van die krap wat geboorte gee aan “sowing crabs” en kinders wat wegswenk van die brose “unguarded belly”. Freud en Melanie Klein het diepgaande geskryf oor die impak wat só ‘n geboorteproses op die jong kind se psige het. In die veelvuldige studies oor melancholie deur Freudiane kan hierdie dwingende proses ‘n geweldige merk laat op die gemoed van die gevoelige persoon – iets waarop die digter en kreatiewe persoon altyd teer, soos Freud dan aantoon in sy studie oor Leonardo da Vinci. Die enigmatiese glimlag van die Mona Lisa het Freud ondersoek en belangrike uitsprake gemaak oor verlies en sublimasie na aanleiding van ‘n oorrompelende ervaring wat die jong kunstenaar gehad het ("Leonardo da Vinci and the memory of his childhood", 1910*1). Maar was dit waar? En presies wát het die kind gesien? ‘n Klein voetnoot: ‘n vertaalfout het ingesluip en ons is steeds vandag nie seker of Leonardo ‘n arend gesien het of nie ...

In ‘n onderhoud op LitNet bely die digter ‘n kennis van Ovidius en “Frog” aktiveer iets van ‘n transformasieproses waaroor hierdie digter so uitvoerig geskryf het. In “Eohippus” is daar ‘n spel rondom die betekenis van die argetipiese perd. Die digter aktiveer ‘n hele intellektuele betekenisveld op so ’n slim wyse dat die leser ook Pegasus hier inlees.

Tekstuele verwysings is bykans in elke vers onder die oppervlak aanwesig: menige leser sal sug en meen dis waarskynlik toe te skryf aan die feit dat die digter hierdie manuskrip in ‘n MA in kreatiewe skryfwerk voltooi het. Die digkuns werk helaas altyd ten beste wanneer ‘n tradisie erken en slim ondermyn word. Juis hierom sou ‘n mens wou weet presies wat Lina Spies bedoel wanneer sy van ware poësie praat en dat hedendaagse bundels haar nie juis behaag nie. Is daar enigsins nie plek vir verskillende soorte diskoerse nie? (“Bloemlesing van ware poësie”, Die Burger 17 Oktober 2005).

Die verwysing na Wallace Stevens se beroemde uitspraak dat alles in ‘n mens se jeug fisies is en later as psigies ervaar word (“Adagia”), loop soos ‘n fynskrif deur hierdie bundel en “Before thirteen” is so skerp, so helder verwoord:

A teacher will carelessly stop your heart like a wrench on a tap.
En tog oorleef ‘n mens al hierdie verliese net as jy dit kies.

In “My first England” imponeer die fyn metaforiek (die verwysings na Turner en s(S)wift veral!) die ware digter se handtekening.

Tot sover die eerste afdeling.

In die tweede afdeling betrek Atwell die skryfproses openlik in “Postcard”. Die gedig-as-poskaart is nie ‘n nuwe gedagte nie; trouens, in Afrikaans het ons ‘n hele bloemlesing wat Poskaarte heet. Tog speel hy interessant met die betredende posisie van die leser wat ‘n gedig lees. Daar is hier ‘n groter betrokkenheid met die grootmenselewe (“Root canal”).

In die derde afdeling skryf hy oor die Karoo-landskap, oor “Officer’s log, the wrecked Cabalva, July 1818”), oor “Ghost lakes”, “Robber’s Grave”, langer, uitgesponne verse. (As ek dit mag noem: hierdie digter is beter in die korter vers, vir my smaak altans.) Die logboek-gedig aktiveer ‘n herinnering na die Titanic-logboek wat ek by Halifax gesien het en die assosiasies wat dit by die kyker meemaak oor presies wat alles by hierdie skriba moes plaasvind. Daar is ook endnotas en ‘n intertekstuele verwysing na Revisitings (Snailpress/UCT, 2002) van Kim McClenaghan, self ‘n opwindende digter.

Om af te sluit: ‘n bundel waarin die digter oortuig dat hy vakman is en iets het om te sê. Dit is ‘n debuut waaroor ‘n mens uiters dankbaar kan wees en een wat gerus gelees kan word deur diegene wat ‘n onbehae met die hedendaagse digkuns voel.

Carthago delendum est.


*1. Freud, Sigmund    The Standard Edition... Five Lectures on Psychoanalysis, Leonardo da Vinci and Other Works. Vol. 11. (1910)   London: the Hogarth Press, 1957.

*Joan Hambidge is direkteur van die Skool vir Tale en Letterkundes aan die UK. Sy is gereelde resensent en polemikus, en behartig weekliks 'n reisrubriek, "Wegkomkans", in Die Burger.

  •  Lees gedigte deur Arthur Attwell op LitNet



    LitNet: 20 Oktober 2005

    Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.