SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die hipnose van die digkuns:
TT Cloete-gedenklesing

Joan Hambidge*

I

TT Cloete se versamelbundel Die baie ryk ure bevat ’n afdruk op die voorblad van die beroemde verlugte getyeboek-kalender van die hertog Jan van Berry, wat geleef het van 1340 tot 1416, Les très riches heures du duc de Berry, met miniature van die broers Limburg. Die twee afdrukke is van die maande Maart en Junie.

In hierdie titel en voorblad word die essensie van Cloete se digkuns opgesluit, naamlik die gedig as afdruk of herskrywing, interteks, palinode; en die obsessionele, allesoorrompelende bedryf, die digkuns, waarin die hele lewe, sowel die verhewe as die banale, gekarteer word. Dit wat as die “hipnose van die digkuns” beskryf sou kon word.

In só ’n ryk oeuvre sou die leser verskeie (allo)trope uit die digkuns kon beskryf. In hierdie gedenklesing, ook genoem ’n erelesing, word daar gefokus op die gesprekke, die afdrukke en hoe die digter telkens sy leefwyse met die digkuns versoen.

Die “dromende denke” van die digkuns gaan so ver terug as in sy doktorale proefskrif, waarin hy onder leiding van NP van Wyk Louw skryf oor Totius en DJ Opperman se digkuns, Trekkerswee en Joernaal van Jorik wat in 1953 verskyn het. In ’n brief aan Van Wyk Louw, 20 Februarie 1953, meen Opperman dat Cloete dikwels vir Totius oorskat en skryf ook: “Dan nog: verwikkeldheid en breedheid is nog nie skoonheid nie, is nog geen waarborg vir poësie nie” (JC Kannemeyer: D.J. Opperman. ’n biografie, p 189).

Die “verwikkeldheid” en “breedheid” is dan juis dit waaroor Cloete se digkuns handel en die herhaaldelike bekronings deur die jare het alreeds die “waarborg” vir ons as lesers gegee.

Dit is dan juis hierdie verwikkeldheid van hierdie digkuns wat besonder boeiend is. Die jukstaposisie met ander digters, en die enorme tegniese beheer, val op. In die Afrikaanse digkuns is daar waterskeidende oomblikke aan te toon: “Winternag”, Totius, Leipoldt, die gebroeders Louw, Opperman, Peter Blum, Breytenbach, Wilma Stockenström, ea. Met sy debuut, presies in 1980, is dit dan Opperman wat “Angelliera” loof as koningskos. In sy verslag, wat eweneens gedeeltelik opgeneem word in die Opperman-biografie, skryf Opperman oor die klank en spel met idees, die onverwagte wendinge, parallelismes, enjambement “met ’n kort oorstoot en opdammende slotbewegings” (p 415).

Al die reeds genoemde digters is aanwesig in hierdie digkuns, waaroor mense soos Pablo Neruda en Sheila Cussons kan dink dat daar alleen ’n digkuns is, en nie enkel digters nie.

As Cloete verwys na die “dromende denke” (Leopold) van die digkuns, is daar dan “’n waarheid gelieg” ter sprake, omdat die digter en sy persoonlikheid nie in hierdie proses ontken kan word nie. Die intellektuele besinning van Cloete verskil van die religieuse ekstase van Sheila Cussons wat in haar “Christ of the burnt men” soos Thomas Merton die Katolisisme versoen met die Boeddhisme. By Cloete – soos by Totius – is die gesprek met God gevul met ryk ure, maar ook met metafisiese vrae en besinning. Die lykdig by Cloete is dikwels op die menslike leed, die banale ervaring van die dood, en die metafisiese aanvaarding gerig. ’n Digter van die en … en-konstruksie of jukstaposisie. Die afdruk wat staan in die plek van iets anders.

II

Die digterlike geboorte van Cloete, soos hy bely in die openingsgedig “Die ryk ure” in sy versamelbundel, word soos volg beskryf:

my geheimsinnige begin was in donkerte.
Dit is dan die aankondiging van sy geboorte as digter, ’n onbewustelike en primordiale proses waaroor die digter verslag lewer; en wanneer die digterskap gelees word vanuit uit hierdie blikhoek, word ’n nuwe digter gebore, soos daar in die programgedig aangekondig word. By die keuse van ’n honderd van Cloete se gedigte was Charles Fryer, Heilna du Plooy en ekself onafhanklik betrokke. Die soeke na die beste of mees verteenwoordigende in hierdie digkuns, die 100 uitgesoekte gedigte, het desondanks sterk ooreenkomste vertoon. Fryer het, as Cloete se redakteur, uiteraard oor ’n periode van bykans vyf en twintig jaar die digter van raad bedien, terwyl die twee ander lesers ’n meer akademiese benadering tot sy gedigte gevolg het. Tog kan die enorme impak van Cloete se kreatiwiteit en sy digterlike procédé nie op ’n hele geslag jong digters in tagtig ontken word nie: Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais, Johann Myburg, Heilna du Plooy, en die latere Krog, om enkele name uit te sonder.

Die sterk vormvastheid, die gebruik van wit spasies wat versreëls ’n funksie van gelyktydigheid gee, en die gesprekke met én herskrywings van ander digters, kan as Cloete se “handtekening” beskou word.

Wat my egter tans interesseer in hierdie ryk oeuvre, is die bewustelike gesprek óór en mét die digkuns. In hierdie verband is ’n gedig “die gedig as refleks” (uit Driepas, 1989) ’n sentrale gedig:

die gedig is ’n refleks
in ’n enkele woord
en in dié woord hoor
die oor ineen ineens die hele teks

van die versamelde gedig
snel soos die byt van die lip
hom laat insuig of die knip
van die oog teen ’n naald lig

só soos die spiere by flink spel
die hand elektrochemies vinniger prik
as wat lig trek       soos angs of skrik
hoendervleis maak op die vel

dit het selfs iets weg van die vier
van ’n vinnige grap wat banaal
die bomkrag van die taal
laat vuur in le gros rire

die gedig van vreugde of pyn ontplof
uit donsklein geringhede en word
tot ’n wye stelsel uitgestort
van gloeiende asteroïede stof.

       (Die baie ryk ure, p 54)

Ook in “Leopold” word die belang van die digkuns besing (uit Idiolek, 1986, Die baie ryk ure, p 47):

Leopold

die ligte
en die vergesigte
van hemel en aarde       die swart
van die grond en stralende wolke   verward
bewegende mense       strome
water     ploeë   ou bome
voor ou huise       die verkeer
op die paaie       die weer en onweer
die ganse heelal
is daar ter wille van ’n taalkristal

En in “God die digter”, na aanleiding van Neruda se uitspraak: “God is deur ’n digter gemaak” (uit Driepas 1989, Die baie ryk ure, p 58) dig hy:
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak.
Twee seminale gedigte uit Jukstaposisie is “Slaan toe” en “Die afspraak” (pp 70 en 71):
Slaan toe

       Na Pierre Ronsard

Wil jy wanneer jy oud is by die kers
saans voor die vuur met spin en weef verheug
droomdink oor my gedig: my skone jeug
het hy     Ronsard verheerlik in sy vers

Die ouderdom is een saam en pervers
hy stel geen keuses meer    teen heug en meug
moet jy jou skik en wie die vrome deug
wou kies moet dan bedroë tandekners

Ek sal swart slaap diep in die donker land ’n grondklomp sonder   vlees my tong versand
jy stil geboë voor die vuur       jy bewe

en treur oor my     jou eer word ’n verwyt
bedink jou   daar is nog een uur nog tyd
slaan toe   wie weet ons of nog môre lewe

Die afspraak

   na Paul Verlaine

’n vreemde vrou in sewe variante
kom gee haar oor aan my steeds in ’n droom
in sewe gedaantes   die steeds verwante
steeds sonder afspraak en steeds sonder skroom

hoe openhartig en vrymoedig gaan
ons tot mekaar volkome wederkerig
die tyd wat in ons pols sag saamslaan
onderbreek en herhaal ons willekeurig

hoe lyk haar hare   donker   rossig   blond
ek weet dit nie   die oë   neus en mond
haar naam   dat dit   onaards klink en sonoor

stel ek my voor   ek kan haar stem asof
sy dood is en ek my herinner dof
ver weg en ernstig en sereen hoor.

Hierdie “dromende denke” van die gedig speel in op Ronsard se vers.

Die tweede gedig, “Die afspraak”, is kennelik ’n afspraak met die muse via Verlaine. Daar word in die kuns groot gewag gemaak van “oorspronklikheid”, en invloed/beïnvloeding word as negatief of minder ervaar. Nou onlangs is Munch se “Die gil” gesteel en skynbaar verbrand; tog is dit paradoksaal nog met ons deur afdrukke … (’n straatlegende, natuurlik).

By Cloete gebeur iets volledig anders. Hy gee erkenning aan die digter via ’n naam en dan begin hy sjamanisties inbeweeg in hierdie digter se wêreld. Die “dromende denke” is dan as ’t ware ’n toestand van hipnose of beswyming1. Die digter is dus nie by sy positiewe nie en soos ’n pasiënt wat onder hipnose bepaalde feite erken aan die psigoanalis, word gerepresseerde en dus pynlike inligting herhaal.

Een digter gaan ook hier in die onbewuste van ’n ander in. Leon Rousseau, die biograaf van Die groot verlange, het al bely dat Eugène N Marais ’n geweldige impak op sy lewe gehad het. By geleentheid het hy sekere inligting oor Marais na ’n koerant versend. Hy was oortuig daarvan dat hy die gekorrigeerde stiffie gestuur het, maar dat die verkeerde teks in die koerant verskyn het. Die skrywer meen dat hy gepla word deur Marais (Martiens van Bart in “Spook Eugène Marais hier rond?” By, 16 April 2005)2.

Hierdie ekstreme geval van psigiese energie wat as ’t ware oorgeneem kan word deur ’n ander party, word ook in CG Jung se studies behandel. Jung het onder meer geskryf oor die verskynsel van kriptomnesia, dit wil sê, wanneer ons oor inligting beskik waarvan ons nie bewustelik weet nie. By Cloete is hier egter ’n tendens om sowel van die hipnotiese of spook-element gebruik te maak as om met kriptomnesia te werk. Met ander woorde, die digter speel asof hy ’n soort medium is vir hierdie digters. Maar eintlik is hy nie. Dit is alles oëverblindery, omdat hy vir ons die naam onderaan gee wat ons na die digter moet lei.

Nou sal ’n mens jou kan afvra: Watter gedig of wat van die digter se lewe het Cloete aangespreek? ’n Mens sou goedskiks die digter kon kontak, maar so ’n oproep of e-pos sou die hele siening van die hipnose van die digkuns ondermyn. Boonop maak dit eintlik nie saak na watter spesifieke gedig die digter verwys nie. Dis eerder ter sake om te besef dat al sou hy dink hy verwys na ’n herkenbare gedig, hy meer doen as om dit te beskryf, herskryf of te vertaal. As Freud gemeen het dat waar ego is, sal id wees, is Lacan se siening van die onbewuste eerder van toepassing: “Ek dink waar ek nie is nie, daarom is ek waar ek nie dink nie.”

Waarom twee Franse digters, en meer spesifiek Ronsard en Verlaine? Beide hierdie digters, soos ons weet in die literatuurgeskiedenis, het, soos Cloete, ’n waterskeidende invloed op die digkuns gehad, Ronsard oa deur sy gebruik van die vaste vorme soos die villanelle en Verlaine deur sy beeldspraak. Verlaine is ’n simbolistiese digter, ’n spesifieke digterlike stylfiguur3.

III

In die Hertzogkamer, die nagraadse lesinglokaal van ons Departement aan die UK, is daar vele vergete studies oor die Afrikaanse letterkunde. Onder andere staan die boekery van ID du Plessis hier en ook is boeke van Boerneef hier gehuisves. Ons kollega Henning Snyman se boekery, wat tans hier ten dele staan, neem my op die spoor na ’n belangrike versamelstudie: Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie, uitgegee aan die PU vir CHO, ’n projek onder leiding van DH Steenberg wat in 1993 verskyn het. Kollegas Seyffert, Van der Elst en Viljoen is medewerkers aan hierdie belangwekkende studie wat die digkuns van Cloete ook sou kon ontsluit.

M van den Berg se bydrae “N.P. van Wyk Louw en die simbolistiese verse van Rainer Maria Rilke (1875–1926)” is ’n bydrae wat uiters verhelderend is in die beskouing oor die aard van die Simbolisme. In hierdie essay word die belangrikste stylverskynsels van die Simbolisme verduidelik, soos:

1. Die vers libre wat gesien kan word as die mees betekenisvolle bydrae.
2. Die skep van ’n poëtiese werklikheid waarin die simbole die wêreld suggereer.
3. Die “l’art pour l’art”-benadering, waarin politieke en sosiale onderwerpe vermy word.
4. Die vooropstelling van die subjektiewe of private emosie. Musikaliteit en suggestiwiteit speel ’n groter rol as die verstaanbaarheid daarvan. Die raaiselagtige “chiffres” is hier tersaaklik.
5. Die droom en die onbewuste word as belangrike bronne gesien vir die skep of komponeer van poësie.
6. Die natuur en refleksie word ook uitgesonder, omdat daar ’n soeke is na ’n ander transendente werklikheid. Die natuur word dikwels ook ’n refleksie van die innerlike belewenis van die digter. Baudelaire se “correspondances”, of die teorie van universele analogieë, is tersaaklik.
7. Die taal van die digter werk met simbole. Dit is nie konkrete objekte nie, maar dit verwys na ’n transendentale werklikheid.
8. Die ontginning van die magiese krag van die woord (Rimbaud se “l’alchimie du verb”) en die digter wil loskom van die vasgevriesde konnotasies van die woord; argaïsmes/sleng/bargoens/neologismes is opvallend van hierdie digterlike benadering waarin die eksterne werklikheid los staan van die gedig.
9. Dood en verganklikheid is belangrike temas, en die skryf van die onverganklike vers waarin die dood oorwin sal word. Die digter is nie onsterflik nie, maar word deur die kuns onsterflik.
10. Dekadensie en ennui is eweneens opvallende lewensbeskouings waar die natuurwetenskaplike denke verwerp word.
11. Ook is die skoonheidsideaal opvallend, met ’n soeke na die paradysideaal waarin die verlore kindertyd beskryf word (pp 145 – 158).

TT Cloete skryf in “Simboliek in Totius se werk”, wat eweneens in hierdie bundel verskyn, verhelderend oor hierdie proses in Totius se digkuns. Hy wys daarop dat die simbool “vanself en onmiddellik kommunikeer” (p 350) met die leser, en skryf in sy slotopmerking soos volg oor hierdie proses:

Hoe ons die simbool presies begryp, is nie baie duidelik nie. Dit is moontlik dat die sielkunde ons hier iets kan leer van die kollektiewe, on- of onderbewuste begryp, die argetipiese begryp, wat dalk dan tog ’n soort dieper begryp is, ’n omvangryker een, maar oergerig, atavisties. Die simboliese begryp is waarskynlik soos Totius in “Die digter as siener” sê “onmiddellik”. Deur die kollektiewe begryp van die simbool word die digkuns dalk tog die terrein waar ons as mense saamdink, en al praat ’n digter van homself, praat hy tog nie sy eie praat nie. Die digterlike ek is ’n simboliese ek (p 356).
Verder het hierdie leser eers op Totius se uitspraak afgekom na die formulering van die “hipnose van die digkuns” wat ons dan stuur na die Freudiaanse proses van die “unheimliche”. Die digkuns is ’n atavistiese, primordiale proses met die digter as ’n vertolker van die simbole waaraan die leser deelneem.

In ’n belangwekkende essay, “Simbolisme: ’n poging tot definiëring”, lei J van der Elst die lesers na belangrike aspekte van die Simbolisme, soos die sterk indiwidualistiese aard van hul digkuns en die opvallende antitradisionaliteit van hul digkuns – om (in Van der Elst se woorde) te beweer dat dit ’n dryfkrag sou wees om anders te wees as dít wat hulle voorafgegaan het (p 79). Profeetskap en afsondering is ook kenmerkend van hierdie stylfiguur met die droom as toevlug of uitkoms, die okkulte. Ook is die rol van kleure, klanke, blomme en diere opvallend en die vrou word ook misties vereer. Vanweë die “culte du moi” is spieëls ’n simbool van introspeksie, die selfgesprek (pp 80-81). ’n Mens sou ook kon byvoeg dat die hele gedig as ’t ware ’n spieël word van die innerlike proses. Van der Elst som die stylfiguur soos volg op:

Die spanningsveld waarin simbolistiese kunstenaars verkeer, is geleë in die verwoording van ’n transendente of ideële wêreld. Die verwoording hou in dat woorde en taal gebruik moet word om daardie ideële, essensiële wêreld anderkant ruimte en tyd (by A Roland Holst die Elisium) te suggereer en om uiteindelik die diepte van die eie sielelewe uit te beeld (p 82).
Vanaf sy debuut het kritici gewys op Cloete se fundamentele verandering van die kanon. Sy sterk indiwidualisme, sy herontginning van onder andere klank en rym, sy gesprekke met Franse digters, sy ervaring van die droom, laat hom ten nouste hierby aansluit. Wanneer hy as profeet optree, is dit dikwels sardonies-satiries.

Van der Elst wys skerpsinnig daarop dat die swane en poue soos akteurs figureer in simbolistiese poësie. By Roland Holst is die seemeeu so ’n duidelik aanwesige simbool.

FIJ van Rensburg ondersoek eweneens die Simbolisme (“Van Wyk Louw Simbolis?”) en wys op die individualiteit en selfs solipsistiese aard van die Simbolisme. Verder is die tipies Simbolistiese gedig “versluierd” (p 496). Ofskoon Louw nie as Simbolis tipeer kan word nie, is daar wel Simbolistiese trekke in sy digkuns aantoonbaar. Dit sou ook vir die leser van Cloete se poësie dan relevant wees om te verwys na simbolistiese trekke juis omdat ’n beweging wat binne ’n bepaalde kultuuropset plaasgevind het, boonop in die “fin-de-siècle” nie goedskiks getransponeer kan word op ’n ander kultuurtydperk of -beweging nie. Ook wys Van Rensburg tereg daarop dat ’n beweging dikwels helderder omlyn oorgedra word, omdat die kánon en nie die randeiers van sodanige beweging aan skrywers bekend word (p 497).

Dieselfde geld onder andere die modernisme en die hiermee gepaardgaande beweging, die postmodernisme. Bewegings kom dan nie tot abrupte eindes nie (Van Rensburg, p 498) en die Afrikaanse digkuns absorbeer myns insiens eras of modes veel later en ook op ’n unieke manier. Van Rensburg se siening is op S Dresden se uitsprake gebaseer en vir Van Rensburg is daar “’n bewussyn van ’n ander, verborge, versluierde werklikheid, hetsy ’n objektiewe (’n Syn agter die synde), hetsy ’n subjektiewe (’n dieper of ware ek, by name die siel)”. Hierdie twee staan in ’n magiese verbintenis met mekaar en die verborge werklikheid moet gewek word. Die simbool word aan die digter gegee sodat hierdie twee werklikhede as ’t ware onthul en verduidelik kan word (p 508).

Tot sover die belangrikste teoretiese bakens vir ’n benadering tot ’n uiters komplekse beweging in die letterkunde.

IV

Veral Cloete se vertalings en gesprekke met ander digters wys op ’n unieke hantering van die Simbolisme in ’n postmoderne tydvak: die chiffre, of die soeke na die tekens of dit wat aan die digter openbaar moet word, spruit nie uit die werklikheid nie, maar uit ander tekste …

In hierdie opsig is die kritiese essay van Anna-Marie Bisschoff in hierdie versamelbundel, “T.T. Cloete – Transformasies van die Simbolisme in Driepas en Angelliera”, eweneens uiters tersaaklik. Bisschoff is krities oor die toe-eiening en transformasie van die Simbolisme in Cloete se werk. Tog het ek met die lees van haar skerpsinnige essay besef dat die titel Angelliera ’n eiesoortige prosedure aankondig: van teks na teks, eerder as van teks wat soek na die “heilige” waarheid.

Bisschoff betrek die ars poetica; die kuns as ’n soort religie; die onttrekking van die wêreld (asketisme); die kunstenaar as onaantasbare wese; die correspondances; dubbelsinnighede; die sogenaamde ander wêreld; kernsimbole; drome; mitologiese verwysings; die vrou; blomme. ’n Mens kan aantoon dat al hierdie aspekte aanwesig is by Cloete, maar in ’n aangepaste vorm. Die mees opvallende afwyking is dat God die grootste digter is vir Cloete.

Die Baudelaireaanse “correspondances” word by Cloete die jukstaposisie, die soeke na die simbool, die teken word ook veelvuldig ontgin. Bisschoff meen die werkwyse vertoon Simbolistiese trekke eerder as dat dit volledig as Simbolisties gesien moet word.

Sy het gelyk hier, want Cloete dig binne ’n ander klimaat. Die Simbolisme is premodernisties, terwyl Cloete debuteer in 1980 in die tyd van politieke onrus, en hiermee saam, die postmodernisme soos dit bedryf is binne die Afrikaanse digkuns met palinodes, gesprekke, parodieë en intertekste. Ook het hierdie digter ’n besondere tegniese beheer vanaf die debuut vasgelê en hierdie invloed het, soos reeds uitgewys, in jonger digters se werk geresoneer.

“Impasse”

- ik weet het niet?

Ons staan in die kombuis, ’n vrou en ek.
“Waaroor, Kokkie, wil jy dat ek moet skryf,
Voorsitster van die Reg van Vrou en Wyf,
kom sê so ongeveer in die bestek

van veertien verse, slim Doktor Ciclopia,
kom sê wat wíl jy hê?” “’n Strak sonnet,
metries, vol leestekens, en ek belet
dat jy swaar woorde kies, skryf dom, ek vra

dat jy my nié moet irriteer nie – vir my
ook géén Latyn nie, net wat moeiteloos
kan lees terwyl ek afval voorberei.

Streel my, maak my plesierig, my ou bielie,
en geen erns, net teer emosies soos
’n veer wat prettig oppervlakkig kielie.”

Die gedig tree in gesprek met Nijhoff se “Impasse” en lewer ook felle kritiek op die resepsie van Afrikaanse poësie, en meer spesifiek op die bundel Angelliera (1980) deur Cecile Cilliers wat beswaar gemaak het teen Cloete se gebruik van neologismes en vreemde woorde. Trouens, ’n bekende Latynse frase is verkeerdelik as ’n neologisme aangesien. Cloete se gedig word ’n manjifieke manifestasie van sy dubbel-blik op alles. Enersyds gebruik hy die bekende Nederlandse gedig as uitgangspunt om andersyds ’n boodskap oor te dra, en meer nog, satiriese kritiek te lewer op die letterkundige sisteem van die tyd. Nuwe wyn in ou sakke dus. Bykans soos die metafoor wat bestaan uit die “tenor” en “vehicle” wat saam iets nuuts presteer. Die bundel-titel Jukstaposisie dui ook op dit wat as simbolisties gesien kan word, te wete die saam-beleef van opposisies, soos die banale en die verhewe, die foto en die werklikheid, historiese werklikheid en die digkuns, en so meer.

Ook deur sy intertekste skep hy dus ’n nuwe verbintenis met die ou teks. Sy aansluiting by bekende Franse digters – soos die reeds genoemde Franse Simboliste en Baudelaire veral – sou ten beste beskou kan word as ’n hipnotiese staat. Die digter word deur ’n ander digter gehipnotiseer sodat sy ware aard paradoksaal juis in hierdie gehipnotiseerde staat na vore kom. Soos die gehipnotiseerde dikwels toertjies sal uithaal wat hy andersins nie sou kon of wou doen nie, is die digter wat gehipnotiseer word deur ’n groter digter, totaal betower en verlam, of doen hy iets onmoontliks of anders. By Cloete is dit altyd laasgenoemde. Hy word nooit deur sy voorgangers verlam of verlei nie. Hy skep ’n nuwe ruimte waarin die oorspronklike teks as ’t ware begoël word.

Nou onlangs is die Afrikaanse letterkunde geskud met ’n plagiaat-aanklag teen ’n bekroonde digter. Vir die gewone leser was dit gewoon onvergeeflike letterdiefstal; vir die psigoanalitiese leser beslis iets méér: sy is verlei deur haar interteks in so mate dat sy in ’n verlamde en selfs verblinde stasis ingegaan het en die teks, in vertaling, as haar eie aangebied het.

Ek weerhou my van ’n morele uitspraak oor die insident. Vir die letterkundige speurder was dit ’n oortreding, ’n onvergeeflike fout. Skrywers het in die algemeen hul weerhou van verdoemende uitsprake hieroor, juis omdat alle skrywers klassieke modelle ken, palinodeer, verander, verbuig, vervoeg, parodieer. Trouens, daar is geen digters nie, net ’n digkuns, aldus Neruda en Sheila Cussons.

En boonop is God vir Cloete die grootste digter wat in al die paradoksale en konflikterende groot(s)hede van die natuur, die lewe, uitsonderlike poësie skryf.

’n Hele digtergenerasie is deur Cloete beïnvloed en sy invloed op die tegniese aspekte van die digkuns is alreeds uitgewys, oa sy heraktivering van rym in Afrikaans, die semantiese uitbuiting van die ellips en wit-eindes in die gedig en sy gebruik van die simbool.

’n Simbolistiese digter kan hy nie wees nie. Hy vertoon egter wel Simbolistiese trekke, met ’n hoofletter, en binne ’n postmoderne beweging is sy soeke na die teken of waarheid opgesluit in ’n ander teks. Sy voortreflike psalmberymings praat met Totius se tekste.

V

Om Cloete se invloed op ander digters te wys, bespreek ek vervolgens sy Marilyn Monroe-gedigte.

Ek plaas die verse soos wat dit in Brink se verseboek verskyn, met die wete dat Cloete eerste was, dan Hambidge, Peter Louw, Gouws en Spies. Cloete se pakkende gedig praat telkens die sterkste in elke digterlike antwoord. Elke antwoord word as ’t ware deur ’n soort poltergees van die oorspronklike vers beïnvloed.

Die “hipnose van die digkuns” sou goedskiks iets te make hê met A Roland Holst se studie Over den dichter Leopold, eweneens aangetref in die Hertzogkamer van ons gebou. Leopold se gedig “De Molen” wat Cloete só inspireer dat dit sy denke vorm, is aan die basis van hierdie gesprek. Cloete het ook in die sewentigerjare aan die Vrije Universiteit ’n kursus oor hierdie digter se werk aangebied.

Hierdie outydse studie van Holst neem my opnuut terug na Freud se ingewikkelde verhouding met hipnose, wat volgens die meeste kommentare die voorstudies was vir vrye assosiasie, een van sy tegnieke waarmee die terapeut as ’t ware die onbewuste kan bereik. In die versamelde Pelican-reeks van Freud (volume 3), Studies on Hysteria (Joseph Breuer and Sigmund Freud), word hipnose skerp omlyn. In sy analise van Frau Emmy von N, ’n persoon wat aan kompulsiewe paramnesia ly, skryf Freud op ’n sluwe wyse oor die invloed en effek van hipnose. Trouens, dit is duidelik dat Frau Emmy twee stories te vertelle het. In ’n tweede hipnotiese staat vertel sy die storie duideliker en helderder.

Dieselfde geld die digkuns van Cloete: die eerste staat van hipnose is Cloete en Leopold se verhouding; die tweede staat van hipnose is Cloete en ander digters. Opnuut dan ook die invloed terug van hierdie digters in gesprek met Cloete. Beïnvloeding, intertekstualiteit, gesprekke tussen tekste, Freud versus Frau Emmy von N is nie ’n enkellynige proses nie. Dit is ’n proses van simultaneïteit: die oomblik wanneer die tweede gedig of antwoord geskryf word, het dit ’n invloed op die wyse waarop die eerste of oerteks gelees word. Ons begryp Leopold beter en duideliker deur Cloete se poëtika. Die vele Marilyn Monroe-tekste aktiveer die ironiese, en passant-opmerking van die gedig dat ’n bysaak soms ’n hoofsaak word.

Wat is die bysaak waarop hierdie gedig draai? Simone de Beauvoir en die feministiese en nonfeministiese kommentare wat hierdie gedig al ontlok het. Van beide genders. Lina Spies verset haar teen die “geswymel”, maar skryf onder Cloete se hipnotiese invloed ’n vers wat die seksuele dimensie aktiveer. Vir die duur van die gedig (’n onbewuste glip-van-die-tong) swymel sy wel oor Monroe, maar fynlees laat die leser besef dat die “duur van die gedig” eintlik verwys na die magistrale, oorspronklike vers van Cloete wat haar moveer om hierdie huldeblyk aan sowel Marilyn Monroe as Cloete te skryf. Hoe ironies dat die gedig van Hambidge eindig met “die dood is net ’n droom” waarin die “dromende denke” hom netjies inpas! Op “haar naakte beste onverleë” praat Tom Gouws weer saam met Cloete wat by herhaling die dood as ’n verleentheid beskryf en dat ’n lyk in wese verleë ding is.

“Die poësie laat hom geld met delikate geweld,” skryf Cloete in “Zeus vandag” (Driepas, p 14).

Net soos ’n groot digter soos Cloete hom laat geld met delikate geweld, en ’n mens sou fyner speurtogte kon onderneem na invloede op Johann Myburgh, Johann Lodewyk Marais, en selfs by Krog invloede kon uitwys. En ’n klein belydenis: hierdie gedig van Cloete het my so geraak dat ek met erns begin verse skryf het.

Lina Spies (geb 1939)

Marilyn Monroe: foto in goud

Die kleur van heuning en van hars,
van seesand by ’n somersee:
kartels ougoudse rooi streel
à la Botticelli se Venus
die slank nek.

Die badjas gee niks bloot
wat dit bedek:
daar is tinte branderblou
waar die skuimwit handdoekstof
oor hals en skouers vou
en waar dit wegskuif is onopsigtelik
die regterbors toevallig effens oop,
’n paar los hare vee tot teen
die lagplooitjies om die linkeroog
met sy helder, onbevange blik
onder die breë wenkbrouboog.

Die hande palms op mekaar
is soos van ’n kind wat inslaap
die kenmerkende gebaar
of soos vir handeklap gelig,
die glimlag is skaars kyker- en kameragerig:
“Dit is maar skyn dat ek poseer:
mooi is ek – lewensbly en eg.”

Oor jou, Marilyn, het ek nooit geswymel;
as tiener jou nie in my sterboeke geplak,
maar nou meteens deur dié een foto geraak,
wil ek vir die duur van die gedig
jou ook as ikoon vereer:
laat digters vir wie jy muse en kultus is
– wat met die dood flankeer,
   met slaappille speel en met die see –
besef: voor die blond gebleikte prikkelpop
– groot geverfde mond, beauty spot, pendun wenkbroue –
was jy ’n goue meisie rossig in die son.

    (Die skaduwee van die son. Human & Rousseau, Kaapstad. 1998.)
T.T. Cloete (geb 1924)

Marilyn Monroe foto in blou

een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – PIERRE KEMP

dikskaamtelik skrylings sit Marilyn Monroe
in ’n volstrek
leë blou
ruim vertrek

die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ’n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel

asof dit by alles pas
– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy ’n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor

hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos ’n gekoesterde soet kriewelige wond

vir die nakende detail in die bygesprek
– met ’n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek

deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot

wat gloei onder die valsegte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit

vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie

    (Angelliera. Tafelberg, Kaapstad. 1980.)
I Silhoeët van Beatrice

… e ciascuna con instinto a lei dato …
PAR. 1 113-114

Frontaal gaan vanaf die voorkop
die ronding oor in die verfynde wip
van die neuspunt, buig dan trug en weer op
sag in die welwende bolip.

Soos ’n klein watergolf puil
die onderlip wat diep duik
trug na die ken met die klein kuil
en oorgaan in ’n volronde kaaklyn. ’n Kruik

is die hals. Daarvandaan langsaam
gaan die bors fyn uittas na die tuit
en golf na die buikstootjie trug geskaam.
Die lyn loop in die lang bobeen uit

in ’n effe boog wat stadig gestrek plooi
tot die sagte knieronding, terug
buig en oorgaan in die effense skeenboog, afglooi
af aarde toe tot in die ronde voetbrug.

Dít is soos die frontlyn golwend afstrek.
Agter van bo na onder
loop die ronde skedel af na die dun nek
en is daar ’n soepel wonder

van konvekse skouers, die rug se konkawe krul
af deur die vlesige boude, die dye en kuite se swel.
… Tussen die baie dwalinge só vervul
bewaar sy die getroetelde model

van die kurwe, die diep ingebore instinto
wat neig in die ronding van die appel
of die haai en die leeu of die koedoe
se grasie en in haar entelegiese sublieme lynwil.

II Mooi Marilyn Monroe foto in rooi

nè pur le creature che son fore
d’ intelligenza, quest’arco saetta,
ma quelle c’hanno intelletto ed amore

   Par. 1. 118-120

Ne le sue braccia mi parea vedere una
persona dormire nuda, salvo che
involta mi parea in uno drappo san-
guigno leggeramente

   Vita nuova

sy lê diagonaal
op ’n plooi
op plooi fluweelrooi
kleed somaties geniaal

haar huid kyk
het van rosig tot sag
blosend tot teer gesproet soos die vag
van ’n abessynse kat diep tyk

sy is gemoduleerde lug
wynrooi sag golwend asof
van diep binne uitgepof
holrug asof sy elasties dans of ekstaties vlug

die lewende omtrek
tref dié nofret
met haar silhoeët
fundamenteel perfek

’n fenomeen
liefderyk
deur ’n lenige Volmaakte Vinger gestryk
skrander van skedel tot skeen

   (Idiolek. Tafelberg, Kaapstad. 1986.)
Joan Hambidge (geb 1956)

Marilyn Monroe: foto in rou

Beskeie waag ek
vanaand ’n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou

ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyks

besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort

my onvermoë word nou
net ’n oomblik lank
opgehef

wanneer ek met ’n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien

dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!

net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was

jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik

jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare

O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe

moeg?
die dood is net ’n droom.

   (Hartskrif. Human & Rousseau, Kaapstad. 1985.)
Peter Louw (geb 1950)

Mej. Monroe in die oggend

Marilyn eet ’n melkontbyt
en druk die laken stywer vas,
maar skuins-af styg vanuit ’n plooi
’n breë dybeen, sak ’n kuit.

Marilyn kom uit die kussings
wat rondom opgestapel was;
sy gly verby die leë skinkbord:
sy sit ’n voet op die tapyt.

   (Tantalus. Tafelberg, Kaapstad. 1989.)
Tom Gouws (geb 1961)

marilyn monroe foto in grou

op ’n smal tafel lê sy oop en ongetooi
en wag op die patoloog se flitsende lem. wie
sou kon raai dat dit marilyn m. dié is? nie
eens die ademlose minnaars wat haar mooi

en warm liggaam gestreel het, sal haar só
herken nie. uit hierdie somber grou
foto sal selfs jfk met moeite probeer onthou
dat hy haar eens geken het. so is dit glo

met dood die geval: dit is die sagte bang asem
wat jy bemin, nie die naakte feite van die lyf
nie. die gespitste toon, die soepel been verdryf
die hartstog hier. die oop wond sluit sy himen

dig. gestol in wit en swart is die kop sonder effek
agteroor gegooi, die hare ongekartel teruggevee.
sonder die masker van maskara het sy ongeklee
met net ’n ligte jassie van parfuum haarself onbedek

aan almal wat so begerig wou sien, volkome oorgegee.
uit die toe mond klink geen kloklaggies of gedempte gille,
die oë bly gesluit. geen bykomstigheid of frille
hier en nou, just marilyn, op haar naakte beste onverleë.

vir dié huiwerende oomblikke so binne bereik
en tog so los van kyk en ruik en van gebruik.

   (Troglodiet. Human & Rousseau, Kaapstad. 1995.)

VI

Wat presies is die Idiolek van Cloete? Waarskynlik veral die inskryf teen ander tekste.

In ’n gedig soos “Amalgaam van ’n gedig” (p 99) verwys die digter soos volg na die werklikheid:

   die prewel
van ’n skemerende herfsgedig
van wes-transvaal.
In sy reeks verse oor Job, Hooft, Leopold, Nijhoff en Leipoldt word die tekstuele proses, die oneindige spel met ander tekste, bevestig:

Leopold

die ligte
en die vergesigte
van hemel en aarde   die swart
van die grond en stralende wolke   verward
bewegende mense   strome
water   ploeë   ou bome
voor ou huise   die verkeer
op die paaie   die weer en onweer
die ganse heelal
is daar ter wille van ’n taalkristal (p 63).

Die “idiolek” is dan ook gelyk te stel aan Paul Ricoeur se “ipse” beskryf in Time and Narrative (1992) wat by Cloete manifesteer as die self gedefinieer in en deur ander tekste. In die postpostmoderne leesbenadering is die versplintering van die self in al sy konsekwensies ’n tekstuele proses, “’n skemerende herfsgedig”. Die palimpses is dan ook hier ter sprake en die terugbeweeg in Leopold se “dromende denke”, oftewel dan die hipnose van die digkuns waar alles sig aanbied vir die taalkristal. Talle verse by Cloete huiwer of weifel tussen die droom en die uiteindelike direkte belewenis van die lewe.

Identiteit in Latyn is “being the same” (idem) – oftewel, “oneself as self-same” (p 165).

Dit wat die digterlike persoon dus vir ons presenteer, die storie wat hy weergee, is sy ipse.

Vanselfsprekend kan dit verander. Of dit kan ook ’n konstante bly binne die karakter wat geskep word. Daar is dan idem/ipse-identiteite in ’n karakter wat herken of geïdentifiseer kan word.

Tereg wys Rensia Robinson in “Die ‘wellus van die vorm’ as ’n poëtologiese oriëntering” op die “dromende denke” nie alleen as ’n gesprek met Leopold nie, maar ook na die Freudiaanse stramien by Cloete, te wete die “Traumgedanken”. Vir Robinson is die “dromende denke” se uitkoms die metavers en sy bewys hierdie stelling deur sowel Leopold as Cloete te betrek in haar argument.

Cloete bly dus getrou aan sy aard met sy voortdurende inbeweeg op ander digters, gedigte en oertekste, ook tekste wat hy self geskep het. “O goedheid gods hier nooit volprese” kan ’n mens skryf oor ’n digterskap wat soveel tekste uit ander letterkundes op ’n nuwe wyse vir ons aanbied. Die nuwe wyn in ou kruike.

En hier dink ’n mens ook aan die Amerikaanse teoretrikus Harold Bloom se The breaking of the vessels en die Hebreeuse siening van die kruik wat moet breek sodat iets nuut geskep kan word.

VII

Freudiaanse hipnose was ’n tegniek om die pasiënt tot heling te bring, net soos gesprekke met ander digters – heen en terug – die digterlike proses verryk en verruim. Moderne psigoanalise ontken dat die analis ’n bevoorregte posisie bó die analisant beklee, net soos wat die digterlike “antwoord” die oorspronklike teks se betekenis kan verander en verruim.

Die epogmakende studie or Anton Rupert, Anton Rupert – ’n lewensverhaal deur Ebbe Dommisse in samewerking met Willie Esterhuyse, bring my vanaand by die slotopmerkings, ’n post scriptum tot hierdie erelesing: Hoe sou ’n biografie oor die digter TT Cloete daar uitsien? By ’n voorste sakeman kan ’n mens die lewe aanstip: hoogtepunte, oorwinnings binne die politiek, ontmoetings met bekendes en beroemdes, raadgewer, beskermheer van die kunste.

Die afgelope paar jaar het belangwekkende biografieë, onder andere oor Leipoldt, Uys Krige en Jan S Rabie (deur JC Kannemeyer) verskyn. Verder terug is daar Leon Rousseau se Die groot verlange oor Marais, en JC Steyn se twee bande oor Van Wyk Louw.

Die gedig is alreeds ’n biografie van die digter: dikwels andersoortig as die lewe wat die digter lei as voormalige hoogleraar, psalmberymer, literatuurwetenskaplike, skerpsinnige resensent, kenner van Italiaans, Frans, Hebreeus, Nederlands.

Die digkuns van Cloete, en die hipnotiese invloed daarvan, bevat dikwels teenstrydighede met die lewe van die hoogleraar. Juis omdat die digterlike proses iets karteer wat buite woorde lê: die onsegbare, die stilte, die chora (Lacan/Kristeva). Om ’n biografie van die digter Cloete te skryf, sou dus ’n ander lewensloop neem as die lewe van die akademikus. Dit sou iets veraai van die “baie ryk ure”, die onstuimige gemoed van die “dromende” denker, van die digter wat in gelyktydigheid by ’n vakansiehotel die gil van ’n jong vrou koorsagtig verwoord en beaam. Juis hierom is die hele digterlike oeuvre alreeds ’n komplekse, teenstrydige, briljante (outo)biografie gevul met baie ryk ure, vol hipnotiese verse. Inderdaad is die hele lewe daar vir sy taalkristalle.

In haar jongste studie oor die digkuns, Break, Blow, Burn, bring Camille Paglia hulde aan Harold Bloom, haar mentor. Hy was die enigste een wat haar studieveld begryp het en hy was dan ook die promotor vir haar Sexual personae. Hierdie erelesing is dan my huldeblyk aan die digter en kritikus TT Cloete, wetend-onwetend my digterlike mentor.



* Joan Hambidge is direkteur van die Skool vir Tale en Letterkundes aan die UK. Sy is gereelde resensent en polemikus, en behartig weekliks 'n reisrubriek, "Wegkomkans", in Die Burger.



Bibliografie

Bloom, Harold: The breaking of the vessels. University of Chicago Press, Chicago. 1982.

Breuer, Joseph en Freud, Sigmund: Studies on Hysteria. Pelican, Londen. 1974.

Brink, A.P. Groot Verseboek 2000. Tafelberg, Kaapstad. 2000.

Cloete, T.T. Allotroop. Tafelberg, Kaapstad. 1985.

Angelliera. Tafelberg, Kaapstad. 1980.

Die baie ryk ure. Tafelberg, Kaapstad. 2001.

Driepas. Tafelberg, Kaapstad. 1989.

Idiolek. Tafelberg, Kaapstad. 1986.

Jukstaposisie. Tafelberg, Kaapstad. 1982.

Met die aarde praat. Tafelberg, Kaapstad. 1992.

Uit die hoek van my oog. Tafelberg, Kaapstad. 1998.

– “Simboliek in Totius se werk” in Steenberg, D.H. (red): Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Dommisse, Ebbe. Anton Rupert – ’n lewensverhaal. Tafelberg, Kaapstad. 2005.

Dresden, S. Symbolisme. Wetenschappelijek Uitgeverij, Amsterdam. 1980.

Kannemeyer, J.C. D.J. Opperman. ’n Biografie. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986.

Paglia, Camille. Break, Blow, Burn. Pantheon Books, New York. 2005.

Sexual personae. Art and decadence from Nefertiti to Emily Dickinson. Penguin, Londen. 1990.
Roland Holst, A. Over den dichter Leopold. A.A.M. Stols, Maastricht & Brussel. G.J.

Ricoeur, Paul. Time and Narrative – Volume 3. University of Chicago Press, Chicago. 1988.

Steenberg, D.H. (red.). Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.


Artikels

Bisschoff Anna-Marie. “T.T. Cloete – Transformasies van die Simbolisme in Driepas en Angelliera” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Robinson, Rensia: “Die ‘wellus van die vorm’ as poëtologiese oriëntering”. Internet: http://academic.sun.ac.za/afrndl/tna/robinson98.html.

Van den Berg, M. “N.P. van Wyk Louw en die simbolistiese verse van Rainer Maria Rilke (1875–1926)” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Van der Elst, J. “Simbolisme: ’n poging tot definiëring” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Van Rensburg, F.I.J. “Van Wyk Louw Simbolis?” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.



Endnote

1.My dank ook aan Wilhelm Jordaan vir sy skerpsinnige opmerkings by die lees van die lesing. Hy gebruik eerder die term “hipnogogiese toestand van beswyming”.

Die sogenaamde transtoestand soos opgeteken in Victor Nell se Lost in a book.

Die hipnogogiese toestand bedui “being lost under the spell of the text”. Dieselfde simptome eie aan die toestand van hipnose word vertoon.

2.Reza de Wet, 16 April 2005, By (Die Burger). “Spook Eugène Marais hier rond?” Internet: http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/2005/04/16/BY/11/01.html.

3.Evan Goodwin, "little blue light - Paul Verlaine", Littlebluelight (May 30, 2003 Edition), Evan Goodwin (ed.) Internet: http://www.littlebluelight.com/lblphp/intro.php?ikey=29.




LitNet: 15 November 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.