SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Vyf

Johann Lodewyk Marais
Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing

Johann Botha: Groot Vyf: Spoor van ’n dekade. Kaapstad, Pretoria en Johannesburg: Human & Rousseau, 1997. ISBN 0 7981 3775 4. Prys: R54,98 (BTW ingesluit).

In natuurkundige kringe verwys die benaming “groot vyf” na die versameling groot diere van Afrika wat vir hulle krag en aggressie bekend is: die leeu, luiperd, renoster, buffel en olifant. Hulle is van die mees gesogte diere wat deur die jagter geskiet of deur die ekotoeris by sy lysie van waargenome diere gevoeg kan word. Hulle mitologisering en popularisering spruit uit die feit dat hulle in ’n mindere of meerdere mate met uitwissing bedreig word en in sowel Suid-Afrika as talle ander Afrikalande nog net in bewaringsgebiede voorkom.
    Johann Botha debuteer in Groot Vyf: Spoor van ’n dekade met vyf verhale wat elkeen as titel die naam van die “groot vyf” dra. Die verhale is van wisselende lengte, en as lengte ’n betroubare maatstaf van subgenres was, sou ’n mens die eerste drie tekste kortverhale kon noem en die laaste twee moontlik novelles. Opvallend en betekenisvoller as die lengte van die verhale is egter dat die skrywer hierdie vyf tekste tot ’n hegte bundeleenheid struktureer deur byvoorbeeld sommige van die personasies in meer as een teks te laat optree en deur die Nasionale Krugerwildtuin (of “Kruger Wildtuin”, soos hy meestal hierna verwys) ’n bepalende ruimte vir al vyf tekste te maak. Die eenheid wat die skrywer sodoende hier tot stand bring (kyk ook die Marthinus Versfeld-motto van die bundel), is vergelykbaar met dié in Alexander Strachan se ’n Wêreld sonder grense (1984), wat al ’n kortverhaalbundel, ’n novelle en selfs ’n roman genoem is. In die toets van genregrense en -kenmerke is Botha se werk duidelik postmodernisties en in ooreenstemming met eietydse tendense in die Afrikaanse letterkunde. Is dit nietemin betekenisvol dat daar op die agterblad van Groot Vyf na ’n “boek” verwys word?
    Groot Vyf maak erns met die geskiedenis van die ruimte waarin die verhale hoofsaaklik afspeel: die Nasionale Krugerwildtuin. Die leser wat vertroud is met ander boeke oor die Krugerwildtuin, soos David Paynter en Wilf Nussey se Die Krugerwildtuin in woord en beeld (1986), sal gevolglik ’n goeie sleutel tot die wêreld van Groot Vyf hê. Paynter en Nussey bespreek in fyn besonderhede talle aspekte wat ook deur Botha betrek word: die geskakeerde natuurlewe (diere, voëls én bome) van hierdie belangrike bewaringsgebied, die rol van historiese sleutelfigure soos Louis Tregardt, en Harry Wolhuter en kol James Stevenson-Hamilton (wat onderskeidelik in “Buffel” en “Olifant” betrek word) en bestuurspraktyke soos die uitdun van olifante (wat in “Olifant” ter sprake kom). Is Paynter en Nussey se boek dus ’n voor die hand liggende interteks? Moontlik, ja, maar daar is waarskynlik ook talle ander intertekste. Van groter belang is dat die subtitel van Groot Vyf: Spoor van ’n dekade aandui dat dit bowenal die onlangse verlede is wat in die tekste betrek word. Groot Vyf gee veral rekenskap van die invloed van die sosiopolitieke woelinge en omwentelinge van die afgelope dekade op veral die Afrikaner as amptenaar en as mens.
    Botha se boek handel dus nie (soos talle tekste van Sangiro, die Hobson-broers of PJ Schoeman) in die eerste instansie oor die diere van Afrika nie. Die boek is ook veel minder gemoedelik as byvoorbeeld Kobie Krüger se Boskonsert: Stories van ’n Wildtuingesin (1991), wat ook in die Nasionale Krugerwildtuin afspeel. In “Leeu” word daar op verskillende maniere ’n verwantskap tussen die mens en die dier beskryf, maar die verhaal handel as geheel eintlik oor menslike verhoudinge (ook tussen man en vrou) teen die agtergrond van die Nasionale Krugerwildtuin. Die tekste in Groot Vyf is nie diere- en jagverhale in die tradisionele sin van die woord nie. Van “jag” kan daar eintlik ook nie meer sprake wees nie, want die wilde en ongerepte Afrika van selfs enkele dekades gelede nog bestaan nie meer nie. Die natuur van vroeër het verander in ’n ruimte wat deur die mens getransformeer is en nou “bestuur” moet word. Die mens se toetrede en handelinge in hierdie omheinde ekosisteem is as ’t ware allesbepalend. Miskien is dit die rede waarom Groot Vyf vir my, in die geheel gesien, meer oor mense as oor die “natuur” of “omgewing” handel. In “Olifant”, byvoorbeeld, word selfs die olifante vanuit ’n antropomorfistiese perspektief uitgebeeld. Natuurlik is laasgenoemde vandag ook in die etologie (die bestudering van die gedrag van diere) nie meer totaal onaanvaarbaar nie. Toe Cynthia Moss gedurende die vroeë sewentigerjare in die Amboseli Nasionale Park in Kenia oor olifantfamilies navorsing begin doen het, het sy aan elke olifant ’n naam gegee. Vandag is hierdie praktyk vir etoloë glad nie meer vreemd nie.
    Die leser wat in die natuur en in omgewingsletterkunde belang stel, sal Groot Vyf boeiend vind. Deur die boek maak die leser ruim kennis met die bewaringswêreld en die mense wat hierdie wêreld verteenwoordig. Maar dit is ook ’n wêreld waarin die ontnugtering groot is, soos vir Henk Steenkamp, die Senior Opvoedkundige Skakelbeampte by die Parkeraad in “Leeu”, wat voel dat hy ’n “rat in die burokratiese meule” (p 9) geword het. Dit is ’n veranderde wêreld, waarin daar in “Luiperd” byvoorbeeld ’n VIP-boskampie vir reënboog-burokrate aangebied (moet) word:

    Die gastelys sluit mense in soos [...] Eduan de Beer van Goue torings, Cindy Zuma wat nuus lees vir TV1, Sarel Niemann van die ANC se cultural desk. Daar is ’n bemarkings-iemand van SAB en ’n sosiologie-prof van die Universiteit van die Noorde, ’n ouerige kêrel wat seker Noord-Sotho of Sjangaan of iets praat met die kamppersoneel. (p 30)

In “Renoster” maak die leser kennis met Ernst Siebritz de Swardt (alias Blackie, alias Noster), wat eers ’n draai in die polisie en veiligheidspolisie gemaak het voordat hy met bloed aan sy hande (’n Vlakplaas-geval!) as veldwagter in die Nasionale Krugerwildtuin beland het. Daar word hy uiteindelik vasgetrek en tronk toe gestuur vir die onwettige skiet van onder meer renosters. Ook in die laaste teks, “Olifant”, kom bekende figure in die bewaringsgemeenskap voor - weliswaar onder skuilname. Die verteller doen byvoorbeeld oor die lotgevalle van mens en dier in die bewaringswêreld verslag en lewer kommentaar op die nogal kunsmatige manier waarop dr Andrew-Lloyd Humphreys (’n duidelike toespeling op dr Anthony Hall-Martin) die legende van die “Manjifieke Sewe”-olifante van die Nasionale Krugerwildtuin geskep het. Hierdie mitologisering is vergelykbaar met wat met die “groot vyf” gebeur het.
    Die boek kan voorts in ’n sekere sin gesien word as ’n voorbeeld van die popularisering van wetenskaplike kennis. Hiervan is die beskrywing van die gedrag van die olifante in “Olifant” miskien die beste voorbeeld, en die gedeelte oor die olifantbul “in volle musth” is besonder interessant. Hierdie verskynsel by olifantbulle is naamlik betreklik onlangs die eerste keer deur die etoloog Joyce Poole beskryf. (Sy skryf bv in Coming of age with elephants (1996) hieroor.) In “Olifant” word ’n bul wat in volle musth is soos volg beskryf:

    Hy stap vorstelik, want hy is ’n bul in volle musth. Die temporale kliere langs sy beneukte oë is tot bulte geswel, sy wange nat van die uitsypeling. Sy penis hang geswolle. Om sy skede is ’n taai groen skifsel met ’n skerp muskusgeur. So ver hy stap, sprei hy straaltjies urine op die grond. (p 195)
Hierdie bespreking van Groot Vyf: Spoor van ’n dekade raak slegs enkele aspekte van ’n ryk en geskakeerde boek aan. Die afsonderlike tekste betrek veral mense wie se wel en wee op ’n besondere manier met die natuur en natuurbewaring verweef is. In hierdie wêreld is liefde en die seksuele uiteraard vir sowel mens as dier belangrik (soos reeds ten opsigte van “Leeu” genoem is). Maar dit is ook ’n boek wat aantoon hoe verwikkeld hierdie verhouding is. Miskien is dit dié dat ek ook bly wonder het of die skrywer daarin slaag om veral die andersoortigheid van die wêreld van die dier (ook die “groot vyf”) uit te beeld — in die mate waarin so iets hoegenaamd moontlik is. Ons kan vanuit ’n menslike oogpunt oor die natuur en die “groot vyf” skryf, maar die peiling van die gans andere wêreld van die dier bly vir ons ’n uitdaging. Dalk het die skrywer hiermee voor ’n nuwe uitdaging te staan gekom. Hy beskik duidelik oor die vermoë om nog ’n belangrike bydrae tot die groen gesprek te kan lewer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.