SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Om te verklaar: ons het nou genoeg gehad

Rudi Buys

'n Tragedie - 'n werklike gebeurtenis, nie 'n storie nie, wat gevoelens van woede, angs en medelye skep en 'n katarsis bewerkstellig, in dié geval 'n kataris in geloof en identiteit - dít is waarmee ons hier te doen het.

Dit is verbysterend dat 'n tragedie van dié afmetings hom kan afspeel in samelewingskringe waar sake van geregtigheid, menswaardigheid en die beskerming van weerloses voorop staan. Dit is naamlik die konteks van die evangelie van Jesus Christus, die sosiaal-maatskaplike en historiese konteks van 'n omvattende bevrydingstryd, en die nasionale grondwetlike konteks van ons samelewing.

'n Verleentheid vir vele: verseker.

Maar laat ons dan nou maar eerlik wees: Het ons regtig iets anders verwag?

Nee, ons het nie.

Waarom nie?

Omrede ons oorbekend is met die angs en huiwering waarmee kerklike strukture die werklikhede van vandag tegemoet loop; met die slakkepas waarmee wegbeweeg word van wettiese teologie; met die stagnering in gesprekke oor kerkeenheid en rasse-integrasie in die kerklike omgewing; met die onbeduidende insluiting van vroue en jong mense in besluitneming op teologiese en kerklike vlak; met die verskraling van grondige vrae tot gefokusde voorskrifte as verskansing teen eerlike interaksie; en oorbekend met die sekuriteit wat strukture vind in die toepassing van opsig en tug, en orde in die kerk.

Ons almal loop met dié letsels aan ons lywe.

Maar laat ons dan nou maar nogeens eerlik wees: Het ons nie ook gehoop en gebid vir iets anders nie?

Ja, ons het.

Waarom?

Omrede ons oorbekend is met die vertroue en oortuiging waarmee gelowiges in plaaslike gemeentes regoor die land, nederig bewus van hulle eie weerloosheid, vandag se gebroke mense versorg; met die snelgroeiende groep buitekerklikes wat Gods liefde en volronde Christelike spiritualiteit en teologie anderkant die kerk se amptelikheid vind; met die eksponensiële groei van vriendskappe tussen tale, kulture, menings en mense buite die kerk; met die streng klem op die beduidende insluiting van vroue en jong mense op besluitnemingsvlak in niekerklike en sosiaal-maatskaplike strukture; met die gewilligheid vir gesprekvoering ten bate van geregtigheid buite die kerk; en met die vaardighede en bevoegdheid vir versoening en herstel en die verdediging van menswaardigheid te vinde buite die kerklike strukture.

Ons almal kan getuig van dié wonderwerke.

Geen "onbekendes" het dus in die hele sage ons tegemoet geloop nie.

En daarom wil ek dit duidelik stel: ek skrik nie vir 'n oomblik vir die stem van die kommissie van ondersoek nie.

Nie vir 'n oomblik twyfel ek daaraan dat die evangelie van geregtigheid en bevryding in die Kruis en Opstanding van Jesus Christus, geensins sal weifel of huiwer voor dié stem nie.

Nie vir 'n oomblik twyfel ek dat die bevryding van die slawejuk van die wet vir alle mense geld nie.

Nie vir 'n oomblik twyfel ek dat alle mense in die beeld van God geskape is, en alle mense daarom geregtig is op aanvaarding, insluiting en volle deelname nie.

Nie vir 'n oomblik twyfel ek dat dié geregtigheid en bevryding radikaal betekenis het vir vandag nie.

Die tyd is ryp dat die luide stem van daardie kerke wat die Wet steeds voorop stel, al predik hulle ooglopend Genade, ingekort moet word. Die tyd is ryp dat dié stemme tot integriteit aangespoor word deur die sagte en onverbiddelike stem wat verklaar dat die skepping en mensdom in die Kruis en Opstanding van Christus, ten diepste nou reeds anders en nuut is.

Uit Afrika met haar geskiedenis van onderdrukking en bevryding kan dié stem téén die dogma van uitsluiting wat uit die Weste oor die Christelike wêreld spoel, verrys.

Die tyd is ryp dat die evangelie van die weduwees, die armes en wese, haar stem verhef en sê: tot hiertoe en nie verder nie!

Om te verklaar: ons het nou genoeg gehad van geduldig wees met die konserwatiewe stem van daardie Christelike kerk wat hom beroep op die evangelie en die stem van God, en mense daarmee links en regs kruisig.

Om te verklaar: ons het nou genoeg gehad van die algehele onbevoegdheid van dié stemme om in die wêreld van vandag te kan leef, wat nog te sê van sinvolle gesprekvoering daarmee.

Om te verklaar: ons het nou genoeg gehad daarvan om met begrip vir generasiegapings, en vir die eise van transformasie in hulle wêrelde, saam te leef en te werk met die gesplete teologie van die kerkvaders.

Om te verklaar: ons het nou genoeg gehad van gesaghebbendes in kerklike kringe wat by die sake waarop dit regtig aankom, naamlik dié van geregtigheid en bevryding deur die evangelie, keer op keer die merk heeltemal mis.

Die tyd is ryp om die droom te verwesenlik van 'n kerklike omgewing in Suid-Afrika wat werklike hoop vir alle mense bring, 'n droom van 'n feesviering van mens-wees voor die aangesig van God.

'n Feestelikheid wat haar afspeel ín gemeentes én daarbuite, tussen mense met verskillende stories, werklikhede, drome en toekomste.

'n Fees waar die ereplekke om die kerkraadstafel gereserveer word vir mense en vreemdelinge in die samelewing en gemeenskap wat altyd uitgesluit word.

'n Feesviering waar ons onsself stroop van mag en dogma en ons oorgee aan die gebede vir die teenwoordigheid van God.

'n Feestelikheid waar mense waardigheid kry wanneer hulle hulself sien as die wonderwerke waarvoor God hulle aansien.

'n Feesviering waar vry mense mekaar ontmoet as afbeeldings van 'n nuutskeppende God.

'n Feestelikheid in die oorwinning van liefde oor onreg.

'n Feestelikheid waarin vyande versorg en aanklaers omarm word.

'n Fees waar kleurryke verskeidenheid gevier word en die lewe wat God ons gegee het, bevestig en omarm word.

'n Feestelikheid waar mense toenemend ingroei in die heiligheid van 'n grondige nuwe identiteit in liggaamlikheid en spiritualiteit.

'n Fees sonder kontrolerende struktuur met verhoudings van innige samesyn (communitas).

'n Fees waar teologie en kerklike styl mense ná God toe slinger.

'n Fees waar die kerk haar God tegemoet dans.

'n Feestelikheid waarin Laurie Gaum ons liturg (begeleier) is.



LitNet: 25 Augustus 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.