SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die keuse is joune

Nic de Jager

Die NG Kerk se windslukkery oor Laurie Gaum en die posisie van die sg "homoseksuele" herinner 'n mens aan die storie van die bytjie wat, minding its own business, op 'n grashalmpie sit en peins oor die mooi dinge van die lewe toe 'n plaaslike koei hom sonder seremonie saam met die grassie insluk. Hoogs verontwaardig oor hierdie miskenning van sy regte besluit die bytjie dat hy sy angel sal gebruik om sy misnoeë te kenne te gee. Maar namate hy daaroor dink, besef hy dat hierdie daad van protes ook sy lewe sal kos. Na lang en diepe selfondersoek besluit hy uiteindelik dat hierdie opoffering ook tot voordeel van ander bytjies en hul regte sal wees.

Toe hy homself genoeg opgesweep het, knyp hy sy oë toe, steek die koei en verloor sy eie lewe. 'n Edel daad, sou mens kon sê.

Die enigste probleem was dat die koei toe lankal nie meer daar was nie.

'n Mens kry die gevoel dat teen die tyd wat die NGK hierdie weerspannige wa deur die drif geworstel het, die laaste van sy lidmate ook reeds grafwaarts gedra sal wees.

Hoe verstaan iemand wat nie denkgestrem is nie, hierdie uitspraak van die Ring van Kaapstad?

Eerstens is dit myns insiens 'n klassieke voorbeeld van 'n "cop-out"; tweedens, en samehangend hiermee, 'n kommersiële besluit deur die Grys Ooms (niks met hul haarkleur te doen nie); en derdens, 'n houding wat indruis teen die grondwet en wat moontlik strafbaar is.

Dis die ou storie (die "cop-out") waarmee die Kerk homself nog al die jare uit die moeilikheid probeer hou het: God haat die sonde, maar het die sondaar lief. Wat beteken dit? Jy mag liefhê wie of wat jy wil, maar as dit nie deur 'n spesifieke geestelike beskouing gesanksioneer is nie, mag jy nie daaraan toegee nie? Jy mag sogenaamd "homoseksueel" wees, en ons sal jou bydrae graag ontvang, dankie, solank jy net nie aan die onderwerp van jou liefde raak nie, anders raak die perde onrustig.

As die kerk dan so teen die "sonde" is, hoekom sien 'n mens nie plate sinkbaddens waar die susters op spesifieke tye vir drie dae buite die stadspoorte moet gaan sit nie? Waar is die plekke waar die egbrekers gestenig moet word? (Dit sal die lidmate heel moontlik met 'n derde of meer verminder.) Ek sien ook geen waarskuwings op die pakkies volstruis- en varkvleis dat dit 'n gruwel vir die Here is nie. Dit sal ook ons boere ontstel dat daar 'n spesifieke verbod teen die eet van enige vet van 'n skaap, bees of bok is.

Daar was geslagte geestelikes wat die Bybel as hulle eie private fiefdom beskou en as 'n soort letterkundige Rorschachtoets gebruik het om al hulle eie private pyne en vrese met vers en kapittel te probeer bewys. Hoeveel keer het ons nie al gehoor "Ons het die Bybel verkeerd verstaan" nie? By implikasie is dit 'n erkenning dat daar 'n groot mate van vertolking betrokke is by Bybeluitleg. En hierdie vertolking wissel na gelang van die teologiese standpunt wat in daardie stadium aangehang word. Die ou gesegde dat teoloë nie oor God redeneer nie, maar oor die opinies van ander teoloë, is dalk nie heeltemal akkuraat nie, maar 'n mens voel tog 'n mate van waarheid daarin.

Tweedens. Die Tweede Postulaat van Postumus is hier van toepassing: "Ongeveer tien minute na 'n groep begeesterde mense met 'n unieke idee bymekaarkom om 'n organisasie te stig, word die voortbestaan van die organisasie belangriker as die idee."

Laat ons geen illusies hê nie. Daar is by my min twyfel dat die huidige NG Kerk, soos die meeste ander georganiseerde kerke, 'n sekulêre handelsinstansie met 'n heilige sousie geword het - vir wie dit belangriker is om lidmate te behou (dink inkomste) as om 'n sterk morele standpunt in te neem. Die grondliggende boodskap van Jesus Christus, wat gaan oor liefde vir die naaste, respek vir sy goedere en 'n strewe na 'n hoër staat van bewussyn is lankal oordonder deur gewelwe mensgemaakte dogma wat vir 'n redelik intelligente en Godsoekende mens totaal irrelevant is.

Derdens. Die botsing met die grondwet is vanselfsprekend. Dit sal interessant wees as Laurie wel 'n saak teen die kerk maak.

Ek ken Laurie redelik goed en ek het groot respek vir sy medemenslikheid, sy inherente integriteit en die eerlikheid waarmee hy kon redeneer oor wat vir hom belangrik in die bediening is terwyl ons aande lank met 'n glasie rooi wyn in die hand probeer het om sin te maak van die hedendaagse staat van (wat ek beskou het as) die godsverduistering in die Kerk. As die NG Kerk hom moet verloor, sal dit ons almal se verlies wees.

Afgesien van Laurie is ek gelukkig om 'n hele paar ander jong predikante in my dampkring te kan hê, en ek vind onder hulle 'n wye denkspektrum, ontdaan van die meeste van die verstikkende dogma waarmee die Kerk sy lidmate so lank al in 'n dwangbuis hou.

Maar my persepsie is dat die septer nog steeds geswaai word deur die Grys Ooms - dese en gene wat al die jare nog 'n soort stugge onwrikbaarheid met integriteit verwar het. Dink maar aan die Grys Oom wat so 'n paar jaar gelede met selfingenome bombasme kon getuig: "Ek het twintig jaar gelede só gedink, en ek dink vandag nóg so."

In 'n omgewing wat so vinnig verander soos ons s'n, kan ons nie nou sulke Ooms bekostig nie.

Dalk is dit nou weer tyd dat die 95 stellings teen ons eie Schlosskirche se deur opgespyker moet word (sou die deure van die gemeente Moralismepark in die Land van die Blou Bul ideaal wees?).

Laat die jong geslag predikante opstaan teen benepenheid, teen die fundamentalisme, teen verstokte teologiese sienings, en terugkeer na die basiese boodskap: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself en jy moet strewe na 'n mag groter as jyself - of dit God is, of Allah, of 'n Oerkrag, of wat ook al. Die keuse is joune.


LitNet: 31 Augustus 2005


Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.