SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Homoseksualiteit bly onbybels

Dan Roodt

Die Duits-Amerikaanse filosoof Paul Feyerabend was ten gunste van die Katolieke Mis in Latyn, ‘n oënskynlik reaksionêre standpunt. Nietemin is hy allerweë as een van die vrysinnigste denkers van sy tyd beskou. Trouens, in die Filosofiedepartement by Wits, waar ek gestudeer het, was sy naam soos ‘n rooi vlag voor die meeste dosente en ek is eenkeer gestraf met net-net 50 persent vir ‘n opstel omdat dit te simpatiek teenoor Feyerabend se teorie van paradigma-onmeetbaarheid gestaan het.

As ek dus nav die Laurie Gaum-affêre sê dat homoseksualiteit onbybels bly, verteenwoordig dit geen oordeel oor sy persoonlike lewe of oor gays in die algemeen nie, maar stel ek bloot ‘n ongemaklike feit wat die meer vrysinnige teoloë sou wou wegredeneer, maar wat nie ontken kan word nie.

Die Bybel, tesame met die Gereformeerde tradisie, verteenwoordig ‘n stelsel, ‘n paradigma, ‘n samehang, ‘n episteem. Die moderne of eietydse neiging is om slegs dele daarvan te erken en ander dele aan te pas of te ignoreer in ‘n eklektiese of selfs sinkretistiese gebaar. ‘n Ander Duits-Amerikaanse filosoof wat deur vele as die grootste Engelstalige denker van die na-oorlogse tyd beskou word, Willard van Orman Quine, het ‘n ander waarheid oor denkstelsels gekonstateer: ‘n mens aanvaar of verwerp ‘n teorie in sy geheel. Dit het hy “holisme” genoem, in navolging van die term wat deur die Afrikanerdenker en -staatsman, Jan Smuts, gemunt is. (Van die os op die jas: iemand behoort ‘n oorsig oor die Afrikanerfilosofie van die twintigste eeu te skryf, want terwyl ons nogal bewus is van ons literatuurgeskiedenis en al ons boeiende skrywers, is ons nie aldag bewus van al die interessante denkers wat ons oor die afgelope eeu of so opgelewer het nie. En nou praat ek nie noodwendig van ons akademiese filosowe wat eindelose interpretasies van veral Duitse en in ‘n mindere mate Franse denkers gelewer het nie, hoe onmisbaar sulke arbeid ook al mag wees, maar van die handjievol werklik oorspronklike denkers wat ons daarwees-in-Afrika probeer beredeneer het, dikwels ook vanuit ‘n politieke oogpunt.)

Maar terug by die probleem van homoseksualiteit en Christenskap of predikantskap. Ek sien dat Cecile Cilliers in Die Burger beweer dat sy haar "toenemend vervreem [vind] van 'n kerk wat nie weet waaroor die liefde gaan nie, wat nie verstaan wat dit beteken om Christus te volg nie". Dít nou in kommentaar op die versoek van die regskommissie van die Ring van Kaap die Goeie Hoop dat ds Gaum se “bevoegdheid as predikant opgeskort word totdat hy instem om selibaat teenoor persone van dieselfde geslag te bly". Cecile het my op ‘n keer vertel dat sy niks van filosofie verstaan nie, wat kan beteken dat sy niks van die Christelike godsdiens verstaan nie, want by minstens twee geleenthede oor die afgelope twee duisend jaar is dit deur die Griekse filosofie bevrug. Die eerste geleentheid was natuurlik toe Augustinus in die vierde eeu nC ‘n sterk Platoniese inslag aan die Christelike leer gegee het, en die tweede toe Thomas Aquinas tydens die dertiende eeu weer ‘n sterk Aristoteliaanse stempel op die Christelike teologie afgedruk het.

Om dus, soos Cecile Cilliers, te beweer dat Christenskap bloot gelyk is aan “liefde”, verteenwoordig ‘n vereenvoudiging, ‘n reduksie, en selfs ‘n reductio ad absurdum. Miskien voel sy haar nie net vervreem van die NG Kerk nie, maar ook van die Christelike godsdiens self, en sou sy ‘n eenvoudiger kultus verkies waar mense bloot naasteliefde aan mekaar betuig sonder enige intellektuele of skriftuurlike komplikasies.

Terloops, daar is twee woorde vir liefde in Latyn: caritas, wat “barmhartigheid” beteken, en amor, wat erotiese liefde aandui. Anders as die geskrifte van teoloë – ook Calvyn – wat eeue lank in Latyn geskryf het, is die Nuwe Testament natuurlik in Grieks gekomponeer. Twee woorde vir liefde wat daarin voorkom, is agape, wat “goddelike liefde” beteken, en phileo, wat gelykstaande is aan “naasteliefde” of “broederlike liefde”. Maar daar bestaan nog ‘n derde woord vir liefde, eros, wat die ekwivalent van die Latynse amor is en waarvan ons woord eroties afgelei is.

Duidelik verwar Cecile die verskillende soorte liefde. Maar benewens die kwessie van liefde, is daar nog die hele stelsel of episteem van Christenskap wat oor twee millennia ontwikkel het. Soos Smuts sou gesê het, verteenwoordig dit ‘n “geheel” en saam met Quine moet ons dit in sy geheel aanvaar of verwerp. Die Ring van die Kaap van Goeie Hoop, hoe wreed en klinies dit ook al teenoor ds Laurie Gaum mag voorkom, is besig om heeltemal konsekwent met die Bybel en met die Christelike leer wat daaruit voortspruit, op te tree.

In Levitikus 18:22 staan daar in die nuwe Afrikaanse vertaling: “Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ‘n afstootlike sonde.”

Ook in die Nuwe Testament, in Romeine 1:25-27, word daar gesê: “Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.”

En in I Korintiërs 6:9 lees ons: “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”

(Noudat ek na hierdie passasie kyk, lyk dit my asof die NG Kerk daarvan werk moet maak om vir Allan Boesak ook uit te skop, want hy is mos ‘n veroordeelde bedrieër. Waarom net ds Laurie Gaum dit moet ontgeld, weet nugter.)

In die lig van bostaande Bybeltekste - en daar is nog ander – dink ek nie daar kan enige twyfel daaroor bestaan dat homoseksualiteit binne die Christendom onaanvaarbaar is nie.

Hierteenoor kan ‘n mens egter vermeld dat die drie Afrikaanse susterskerke reeds jare lank ‘n verdraagsaamheid teenoor individuele homoseksuele lidmate ontwikkel het. Immers kan die kerk nie die homoseksuele sondaar verwerp sonder om ook die ander tipes sondaars die deur te wys nie. Om hierdie nogal tipiese Afrikanerverdraagsaamheid in perspektief te plaas: in die vrysinnige Nederland het die Nederlandse Hervormde Kerk (wat op daardie stadium ook kon aanspraak maak op die status van “staatskerk”, aangesien lede van die koningsgesin daarin gedoop is) tot 1989 die tug op homoseksuele lidmate toegepas!

Alles in ag genome dink ek nie dat ds Laurie Gaum bloot op grond van sy homoseksualiteit as predikant geskors word nie. Dit gaan ook oor die uitdagende manier waarop hy sy seksuele voorkeur bekend gemaak het, nakend in ‘n Sondagkoerant geposeer het, ens. Iemand in sy amp behoort ‘n rolmodel vir sy lidmate te wees en meer nederig en fatsoenlik op te tree. Die kombinasie van skriftuurlike verwerping van homoseksualiteit en die oorskryding van fatsoenlikheidskonvensies het hom in die moeilikheid laat beland.

Maar wat die NG Kerk ook al finaal besluit, is dit belangrik dat die Kerk ‘n konsekwente standpunt oor homoseksualiteit sal inneem. Hier is die Katolieke Kerk met sy nuwe pous ‘n navolgenswaardige voorbeeld: soms maak Rome haar ongewild by die media en meer progressiewe lidmate, maar ten minste is sy altyd konsekwent.

Indien hy in sy amp wil voortgaan, verteenwoordig die oplegging van die selibaat teenoor ander mans aan ds Laurie Gaum ‘n gepaste en klassieke benadering, wat ook strook met Paulus se voorskrifte vir ongetroude mans.

Indien die bediening sy erns is, meen ek dat ds Gaum dit ook geredelik behoort te aanvaar.



LitNet: 25 Augustus 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.