SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Die Kerk, die Boek en die Institusie

Coenraad Bezuidenhout

“Erger nog is die besef dat hedendaagse oënskynlik-denkendes dit nietemin nodig ag om die tipe geykte religieuse en spirituele higiëne toe te pas wat die NG Kerk na al die jare se dure lesse steeds so roekeloos propageer.”

Leon de Stadler se bydrae tot die debat rondom die NG Kerk se benadering tot homoseksualiteit (Die Burger, 30/08) werp lig. Net soos vir hom, en baie ander, hou die motivering vir hierdie bydrae ook nou verband met persoonlike gevoelens rondom die Kerk se kennis oor, en kennis-praktyk in verband met, homoseksualiteit en die emosioneel-menslike gevolge van die Kerk se besluite. In ‘n poging om nie die hond deur sy eie stert te laat swaai nie, wil ek slegs konsentreer op die gesag wat die Kerk verleen aan die Bybel as die woord van God en die wyse waarop die Kerk op institusionele vlak handel.

Of die taakspan wat vir die ondersoek op Laurie Gaum verantwoordelik was, hulself laat blinddoek het deur ‘n beleid van twee dekades gelede, is nie regtig ter sake nie (SeminaarKamer, 25/08). Ter stawing van die stelling wil ek in die eerste plek dit waarna Carel Anthonissen verwys het as die “The Few Good Men”-sindroom, verder voer. In sosiale wetenskappe word daar formeel verwys na die “risky shift”-fenomeen. Twee aparte reekse eksperimente in die vroeë sestigerjare in die VSA het gevind dat individue in groepe gereeld hoër-risiko-besluite neem as op hul eie. Heel klaarblyklik is die eerste verklaring dat individue in groepsverband verskans voel teen die verantwoordelikheid van verreikende besluite en juis daarom groter risiko’s kan neem. Tweedens, en miskien minder voor die handliggend, is dit gewoonlik die meer gematigde lede van ‘n groep wat sal buig onder druk van meer ekstreme lede om tot hul standpunt te konformeer.

Die tweede fenomeen waarna ek in hierdie verband wil verwys, is “groupthink” – ‘n wyse van dink wat gewoonlik na vore kom in hegte groepe waar die begeerte vir eenparigheid die nodigheid vir ‘n kritiese benadering oortref. In die proses van besluitneming ontwikkel sulke hegte, homogene groepe gereeld illusies wat goeie besluitneming kan stuit. Die uiteinde is dan mislukking, soos in die geval van die bekende voorbeeld van die “Bay of Pigs”-inval van 1961.

Buiten die bogenoemde uit te lig sou dit per slot van sake nie verstandig wees om kommentaar oor die aksies of besluite van die taakspan te lewer sonder nadere kennismaking met hulle en die geleentheid vir observering nie.

Sover dit die betrokke beleidsbepaling aangaan: al was dit gister geformuleer, sou die feit dat dit Bybel-gefundeerd is, steeds ‘n stokkie gesteek het voor ‘n gunstiger resultaat vir Gaum, die jonger. Soos Dan Roodt uitwys, kan ‘n mens nie wat in die Bybel staan, maak pas by jou eie waarheid nie (SeminaarKamer, 25/08). Ek weet nie of dit so erg is dat homoseksuele omgang wel nie bybels is nie, maar ek skaar my graag by dié vir wie die vraag nie so geslote is as wat dit voor kom nie.

Onderliggend aan die NG Kerk, soos by enige ander institusie, is ‘n “reëlnes” wat grense verleen aan dit wat op ‘n betroubare wyse aan sy lidmate bekend is, gereëlmatigd deur hulle beoefen word en vrywillig deur hulle aanvaar word. Die formele komponent van hierdie “reëlnes” word grotendeels bepaal deur die Kerk se beleid. Synde die dat dit deur feilbare mense bepaal is volgens hul interpretasie van die Bybel, kan ‘n mens met sekerheid aanvaar dat beide die gemelde interpretasies, en die uiteindelike NG Kerk-beleid, tot ‘n groot mate subjektief, selektief en dus verdag is. Dit doen die saak dan ook geen gunste aan dat die Bybel self geskryf en saamgestel is deur ewe feilbare mense nie; en dat dit reeds male sonder tal onderwerp is aan verwerkings en vertalings wat nie een sonder teenstand, twis of verwerping uit die een of ander oord die lig gesien het nie.

Al vat baie van ons ver eerder vir God as ‘n Disprin (soos daar eens deur Frederik van Zyl Slabbert na Desmond Tutu se teologiese styl verwys is) voor ons die Bybel vir soetkoek opvreet, beteken dit vir geen oomblik dat die Bybel geheel en al sonder waarde is nie. Behalwe vir die ondenkbare, is dit hoogs onwaarskynlik dat die Bybel ooit in die afsienbare toekoms onttroon sou word as ‘n dokument van ongeëwenaarde historiese en teologiese belang. Ongelukkig kan die hermeneutiek se bene egter ook net só lank gerek word voordat dit belaglik begin raak. Dus is ek dit eens met prof De Stadler dat die andersins direkte, eksklusiewe en absolute betrekking van die Bybel op ons huidige situasie sekerlik nie steeds ernstig aanvaar kan word nie.

As institusie is die NG Kerk tog ook ‘n ligging vir oorheersing en beheer, met ‘n diskoers eie aan homself. As ’t ware verskaf dit aan ons die “reëls vir die speletjie” uit sy eie perspektief. Dit is dus geen verrassing wanneer dit uit onlangse koerantberigte blyk (sien veral “Gay-gesprek in NGK kan nou ontspoor”, Die Burger, 30/08) dat daar aan die hand van hierdie beleid besluit word wat goedgekeur kan word as “in ooreenstemming met die wil van God” en wat nie. Laat die ironie ons dan nou ook nie verby gaan dat die aankondiging deur ‘n sekere “Niemandt” gemaak is en dat hy, luidens berigte, ‘n aktuaris is nie. Miskien kan ‘n mens net byvoeg dat as dit dan nou wel so maklik is om die wil van God te bepaal, en as God werklik net een pad vir ons almal sien, dan moes die destydse boekie maar seker ook eerder Die Eenvoudige God en Sy Vreemde Mense gedoop gewees het!

Erger nog is die besef dat hedendaagse oënskynlik-denkendes dit nietemin nodig ag om die tipe geykte religieuse en spirituele higiëne toe te pas wat die NG Kerk na al die jare se dure lesse steeds so roekeloos propageer. Gemeet teen die huidige kultuur van miskenning van enige buite-bybelse leiding oor hoe ons ons teenoor mekaar moet uitleef is die minagting van menseregte deur die NG Kerk dus nie ‘n openbaring nie (sien “Daar is lewe na die NG Kerk”, SeminaarKamer, 25/08). Inteendeel, dit is geheel en al vanselfsprekend!

In dié verband verbaas die gevolgtrekking wat Joan Hambidge bereik wanneer sy in haar onlangse skrywe wonder oor die woord kerk. As ons moet oordeel suiwer volgens ons blootstelling aan die NG Kerk, is dit dan nie juis ‘n kerk omdat dit met menseregte en geslagsdiskoers handel soos dit doen nie? As ‘n teenvraag vir Amanda Gouws (Seminaarkamer, 25/08): is die NG Kerk dan nie juis ‘n kerk omdat hy diversiteit ontwyk binne sy eie geledere nie? As die antwoorde op hierdie vrae wel nee is, wat se eerbare en substansiële basis sou daar oorbly vir die NG Kerk om aan te hou aanspraak maak en voort te bou op sy klaarblyklike vermoëndheid? Was dit nog altyd net voorgif of het die NG Kerk al ooit oor so ‘n basis beskik?

Carel Anthonissen raak ook die volgende kwyt: “Die geskiedenis het geleer dat sulke tye van onsekerheid, worsteling en frustrasie ook die uur is waarin ons genooi word om dieper te gaan, om grondige hersiening van onsself en ons diepste dryfvere, motiewe en vrese te doen. Dis 'n geleentheid om te leer en te groei.”

Baie mooi woorde! Maar institusionele – en dus ook kerklike – ontwikkeling en groei is iets wat daadwerklike optrede vereis. In die eerste plek moet die nodigheid daarvan erken word. Tweedens sal magsverhoudings tussen die institusionele hoofde en -agente aan die een kant, en hul opponente aan die ander kant, geneutraliseer moet word. In die huidige opset beteken dit dat die Ring-koppe van hul gevestigde belange sal moet afsien en hul toekomstige relevansie as leiers van die NG Kerk op die spel sal moet waag.

Die derde skakel in die ketting sal slegs in werking kan tree as sekere sleutelopvattings en -begrippe algemeen aanvaar word. Ons almal weet natuurlik wat dit beteken: die Ring-koppe gaan homoseksuele omgang op gelyke voet met heteroseksuele omgang moet aanvaar. So – sê nou maar die dag kom wat dit gebeur, dan sal die NG Kerk slegs daarop aanspraak kan maak dat hy die engte oorkom het wanneer hierdie nuwe intrakerklike verhoudings gereëlmatigd beoefen begin word. Slegs dan sal daar aanspraak gemaak kan word daarop dat daar geboorte gegee is aan ‘n nuwe ontwikkelingspad vir die NG Kerk.

LitNet: 12 September 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.