SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Kyk, dis lente: die vyeboom bot!

Só oorleef die NG Kerk sy winter

Bobo van Zyl

“Wat die gesprek oor homoseksualiteit wat tans in die kerk gevoer word, moeilik maak, is die gedagte dat die sonde waarvan ons in Paulus se sondelys lees, van ‘n ander aard is as die verskynsel van homoseksuele verhoudings in ons dag ...”

Ek het kennis geneem van die besluit van die Ring van Kaap die Goeie Hoop rakende Laurie Gaum. Ek wil begin deur die lede van die Ringskommissie te verseker van my voorbidding. Dit was ‘n gewigtige taak wat aan hulle opgedra was. Ek kan my goed indink dat dit vir hulle slapelose nagte teweeg gebring het. Hulle moes immers hulle taak verrig met die wete dat die oë van die wêreld op hulle is, dat die wyse waarop hulle hulle taak sou verrig, die risiko van kerkskeuring inhou, maar bowenal diep bewus van die feit dat die geloofwaardigheid van die evangelie van Jesus Christus, die evangelie van God se genade, op die spel is.

Ek was self al in ‘n soortgelyke posisie. Die punt is dat ‘n saak soos dié wat hulle moes hanteer, vir jou wat daarby betrokke is en verantwoordelikheid vir die uitkoms daarvan moet aanvaar, niks minder as ‘n gewetensaak is nie – om met jou aandeel aan die uitkoms van so ‘n saak uiteindelik ook te moet sterwe en voor die troon van Christus moet gaan staan.

Ek wil kies om te glo dat my broers in Christus in daardie Ring hulle taak met bewende hande, láág op hulle knieë sou verrig het. Ons wat in Christus is, weet immers hoe afhanklik ons van God is, hoe groot ons (eie) sonde en ellende is, en dat die hande waarmee ons God se werk moet verrig, niks anders as die leë bedelaarshande van die tollenaar in die gelykenis kán en mág wees nie.

*

Gegee my eie ervaring van die werk van Ringskommissies, wil ek ook kies om te glo dat die Ring van die Kaap die Goeie Hoop hulle broer in Christus (ja, vir Laurie – vir wie ons hart bloei) met liefde en respek en deernis sou behandel; die goue reël van die koninkryk van genadige geregtigheid teen hulle harte sou vashou; en biddend die heil van hulle broer sou soek.

Dit is vir my geweldig ontstellend dat ‘n persepsie by skynbaar skares van mense bestaan dat die kerk ‘n liefdelose en genadelose plek is. Ek sal later daarop terugkom, en hier maar net my oortuiging uitspreek dat mense wat sélf leef van God se genade, nooit bewustelik sal kan kies om enige medemens genadeloos te behandel nie – en allermins iemand wat langs my kniel voor die goeie God van die evangelie.

*

‘n Persoonlike woord aan Laurie: Laurie, ek kan my nie indink in die diepte van jou pyn nie. Die leë plek in jou lewe van iemand vir jy lief was; die geweldige gewetenslas wat hy (dalk onberekend) op jou gelaai het; die verguising wat jy uit soveel oorde moet verduur; die trauma wat jy moet verwerk om selfs op die voorblaaie van koerante verhoor te word – mense wat jou die een dag (as dit vir hulle lyk of hulle daarby kan baat) beswadder en verkleineer, net om die volgende dag vir jou tot een of ander ikoon te verhef; en, miskien bo alles, die teleurstelling wat jy moet dra in die kerk wat jy liefhet.

Laurie, wil ek my woorde kort sny, en maar net naby jou kom staan: Gansbaai is nie ver nie – as jy wil! …

Miskien net dit: Is dit vir jou enigsins moontlik om tog êrens in jou hart ‘n stukkie begrip te vind vir die netelige posisie waarin die kerk haar tans bevind – al sou dit dan ook vanweë ons eie sondigheid en ons sonde wees dat ons in die posisie is? En dalk, saam met die stukkie begrip, ‘n stukkie lankmoedige verdraagsaamheid – omdat ons, ten spyte van alles, nogtans op die Hére van die kerk vertrou om op Sy goeie tyd ook die NG Kerk deur hierdie nóú poort te bring?

Ou Laurie, onthou, want môre (wie weet?) moet jy dalk weer vir mý daaraan herinner: ons swaard is die Woord!

*

Ek wou self al dikwels wegloop uit die kerk uit. In my verhaal lê talle kere dat ek moeg en kwaad was vir die kerk.

Inderdaad het die kerk – en by name die kerk wat ek ken, die NG Kerk, ‘n skadukant. Die kerk is immers ‘n versameling van sondaars. Die gemeenskap van die heiliges is tegelyk die gemeenskap van die sondiges. Dit wat die kerk ánders maak as die wêreld, is nie dat die kerk minder sonde as die wêreld het nie, maar eintlik maar net dat die kerk mense is wat ‘n genadige God (en dus vergifnis van sonde) ken. Trouens, juis daarin bestaan die diepste éénheid van die kerk: ons gedeelde kennis ván en vertroue óp ‘n genadige God. En op ‘n vreemde manier lê daarin ook die heiligheid van die kerk: nie in sondelose volmaaktheid nie, maar in die erkenning en die belydenis van ons sondigheid en ons sonde voor die aangesig van hierdie lofwaardige en aanbiddingswaardige God van genade.

Dit is dan juis ook daarom – omdat ons die grootste sondaar van almal in die kerk vind – dat die kerk nie altyd ‘n aangename plek is nie. (Alhoewel ek tog vermoed dat dit veel aangenamer is in die geselskap van sondaars as in die geselskap van hoogheiliges.) Ja, die kerk is óns – met ál ons sonde en ongeregtigheid. In die kerk waarvan Jesus Christus die hoeksteen is, vind immers net sondaars ‘n plek – die ware christelike kerk is vir sondaars alleenlik. Martin Luther se dikwels skeefgetrekte woorde kry hier betekenis: “hoe sondiger, hoe heiliger; hoe heiliger, hoe sondiger”. Ons wat in die kerk skuil, soos kuikens onder die vlerke van die moederhen, is die sondaars en tollenaars op wie die Fariseërs en die skrifgeleerdes spuug, maar wie in die woorde van Jesus die stem van die sondaarsliewende God gehoor het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.”

Dit was uiteindelik altyd weer ‘n nuwe ontdekking van my eie sondigheid en sonde, en daarom ook my eie aandeel aan die skadukant van die kerk, wat my gekeer het om weg te loop. Die punt is: Waarheen sal ek immers gaan? Waar sal ek Jésus vind, vir Hom wat die woorde van die lewe het, sonder sondaars onder Sy vlerke?

En daarom weet ek dat hoe groot die versoeking om uit die kerk uit weg te loop ook al mag wees, my kinders my eendag uit die kerk uit – begraafplaas toe – sal wegdra. Want sien, dit wat my in die kerk áfstoot, is juis dit wat my in die kerk váshou – en wel op so ‘n manier vashou dat niks my daarvan kan losruk nie.

Die gebeure rondom Laurie Gaum het my opnuut laat besef en opnuut laat kies: waarlik, daar ís geen saligheid buite die kerk nie!

*

Ek aanbid nie die kerk nie. By name nie die NG Kerk nie. (O wee, hóé verlore sou ek gewees het as die NG Kerk my God was! Hoeveel maal sou my God my teleurgestel het. Diep teleurgestel het.) Maar wat tog van my waar is: ek glo wel met my hele hart in die Gód van die kerk (ook deur my twyfel heen).

Ek het eenmaal woorde gelees wat ek in die moeilike tye in die kerk styf teen my hart probeer vashou. Daardie woorde klink so: “Moenie in óns – die christene – glo nie. Maar glo in ons Chrístus, want wie in Hom glo sal nooit teleurgestel word nie.”

Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek moeilik dié artikel in die apostoliese geloofsbelydenis wat oor die kerk handel, oor my lippe kon kry. Die woorde “ek glo aan die kerk” het in my keel vasgesteek. Totdat ek tot die insig gekom het dat ons in daardie artikel van die geloofsbelydenis nie bely dat ons ín die kerk glo nie, maar dat ons áán die kerk glo. Dit was bevrydend. En hierdie insig het my met oorgawe aan die kerk gebind.

Nee, ek aanbid nie die NG Kerk nie, maar wat wel ook van my waar is, is dat ek die NG Kerk liefhet. Dit is ‘n vreemde liefde. Dit is ‘n liefde wat meermale met groot stukke opstand en woede saamloop. Maar dit is ‘n liefde wat tog oorleef. Miskien het dit maar net daarmee te doen dat ek as kind in hierdie kerk my eerste Bybelwoorde geleer het – Bybelwoorde wat vir my dáár gevind het – nog voordat ek kon kies, kon vra. En dan was daar genadiglik in my kinderjare (anders as skynbaar in soveel ander se lewens, as ek reg na hulle luister) kindervriendelike gesigte: dominees en Sondagskooltannies en kategete wat my in hulle teenwoordigheid veilig en waardig laat voel het (al was my pa maar net ‘n onderdorpse myner!) – ja, in die ruimtes van hierdie kerk die belewenis dat ek kósbaar en geliefd is in die oë van die Here!

En dan is daar natuurlik die geloofstradisie waarin die NG Kerk staan. En so duidelik vertolk word in die (so dikwels geminagte!) drie formuliere van enigheid: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die belydenis van Dordt.

In die NG Kerk was ek bevoorreg om in my vormingsjare in die gereformeerde geloofstradisie van die christelike geloof onderrig te word. En ek kon leer van die drie pilare waarop ons kerk as geloofsgemeenskap gebou is, nl die drie soli’s: deur Christus alleen, deur genade alleen, deur geloof alleen. Ja, reeds in my kategese het ek op my eie Martin Luther-vraag: “Waar vind ek ‘n genadige God?” die vertroostende, bevrydende antwoord van die kruisevangelie gevind – wat my bekend gestel het aan die gans andere God wat hom nie skaam om die God van sondaars genoem te word nie.

Sien, dit was in die NG Kerk dat ek reeds vroeg in my lewe kon rus vind vir my siel; my onrustige hart wat tot rus gekom het in die arms van die Verbondsgod – wat met kosbare bloed ook my naam (onuitwisbaar) by Sy beloftes ingeskryf het.

Dit was op die harde banke van hierdie kerk dat ek reeds as kind geleer het om te sing: “Jesus min my, salig lot, dit leer my die Woord van God, al is ek ook swak of blind, nógtans noem Hy my sy kind.” Ja, nógtans … die nogtansliefde van die God van hierdie kerk; genadeliefde waarmee selfs ék liefgehê word – net soos ek is …

*

Omdat ek die NG Kerk liefhet en met my hele hart op die God van hierdie kerk vertrou, droom ek ook ‘n droom vir die NG Kerk – ‘n gebedsdroom.

Terloops, ek was deel van die groot klas wat aan die Kweekskool op Stellenbosch klaar gemaak het met ons studies in 1981. Ek het my klasmaats onlangs weer (58 van ons!) in Bloemfontein by die groot konferensie van die NG Kerk gesien. En ek het net wéér besef: God het die gebrokenes der gebrokenes gekies om in die NG Kerk die evangeliebedienaars te wees. Dit is in óns hande dat die God van die kruis die kosbare skat van die evangelie (juis) vir gebrokenes geplaas het. My droom vir die NG Kerk is noodwendig ‘n droom wat vir ons as dominees omsluit. En dit is my droom – in ‘n neutedop: dat die NG Kerk ‘n kerk sal wees wat sóveel genadeliefde aan gebroke genadebehoewende mense in ons samelewing sal uitdeel dat die wêreld ons sal wil kruisig; ja, dat ons sóveel sal liefhê dat die wêreld ons sal haat …

*

Die NG Kerk word in ons dag uit alle oorde gekruisig. Ek vermoed dat ons na al die kritiese stemme (selfs dié wat lelik vloek) aandagtig moet luister. Ek vermoed dat daar onder hierdie stemme profetiese stemme skuil. Ek glo dat God selfs die duiwel en sy pelle (téén hulle wil in en sónder dat hulle dit besef) as profete kan gebruik. En ek glo dat God krisisse in die lewe van die kerk (soos in elkeen van ons se persoonlike lewens) in wonderlike geleenthede kan omskep. Ek wil glo dat hierdie slegte tyd in die lewe van die NG Kerk in die toekoms sal blyk ‘n geseënde tyd te gewees het – ‘n tyd van groot bekering en hernude toewyding aan die waarheid van die kruisevangelie.

    • Ek het al begin glo dat God deur die verloop van die geskiedenis al geleer het dat die NG Kerk (so tipies aan die Afrikaner) as ‘n reël nie in goeie tye nie, maar pas deur krisistye heen, bereidheid tot hervorming toon.

    • Die NG Kerk het homsélf natuurlik vir baie van sy eie moeilikheid en pyn te blameer. Ons apartheidsverlede is bagasie wat ons waarskynlik tot met die wederkoms met ons sal saamdra.

    • Maar ek het tog hoop. Ek is dankbaar trots dat ons oor die laaste aantal jare bereid begin word het om risiko’s ter wille van die evangelie te loop – soos byvoorbeeld om ons aandadigheid aan die pyn wat ons apartheidsteologie aan die mense van hierdie land berokken het, as sonde teen God te bely. Die uitdaging is natuurlik dat ons ons berou en skuldbelydenis sal lééf.

    • En dan is ek veral hoopvol vanweë die feit dat hierdie kerk vandag bereid is om die pyn van homoseksuele mense op sy agenda te plaas. Dit sou tog ‘n veel makliker pad gewees het om hierdie potensiële kerkskeuringsaak bloot te ignoreer of te ontduik.

*

Ek is deel van ‘n ekumeniese broederkring. Ek wil waag om te sê dat die NG Kerk in hierdie kringe tans baie alleen staan as dit kom by ‘n klomp sake – en by name as dit kom by homoseksualiteit. Dit is my ervaring dat in die grootste gros kerke in hierdie kringe grootliks kláár gedink is oor hierdie komplekse saak en dat daar breë konsensus is dat homoseksualiteit gewoon, uit en klaar, ‘n gruwelsonde is. Ek ervaar dat om in daardie kringe die benadering en die denke van die NG Kerk oor hierdie saak te verteenwoordig, byna ‘n stuk verleentheid skep, en by tye selfs dreig om hierdie kerke van die NG Kerk te vervreem.

Dit is daarom ook vir my bitter sleg dat slegs die NG Kerk moet deurloop en rondom die saak van homoseksualiteit uitgesonder word om in die spervuur te moet staan. Ek is oortuig dat in die NG Kerk ‘n véél meer ope benadering tot en ‘n véél meer sagte hantering van hierdie saak bestaan as in die oorgrote meerderheid van ander kerke in ons land. Ek kry somtyds die idee dat dit wat daar in ánder kerke oor homoseksualiteit geglo, gepraat en gepreek word, onregverdiglik op die rekening van die NG Kerk geplaas word.

*

Ek is wel pynlik bewus van die feit dat die NG Kerk dit moeilik vind om uit een mond te praat en dat dit ernstige vrae na die integriteit van die kerk oproep.

Ek is daarvan bewus dat daar in die NG Kerk vanaf verskillende kansels verskillende, teenstrydige boodskappe gebring word. Ek het onlangs nog weer die ervaring gehad van hoe twee NG-dominees radikaal met mekaar verskil oor ‘n bepaalde saak. Albei lees die Bybel, dien in dieselfde NG Kerk dieselfde gemeente, en tog is hulle teologiese beoordeling van ‘n bepaalde saak direk teenstrydig. Dit is merkwaardig dat teenstrydige teologieë in die kerk juis in die teologiese beoordeling van eties-morele sake registreer. En in hierdie opsig is die saak van homoseksualiteit ongetwyfeld ‘n toetssaak in die kerk. Dit is my waarneming dat die NG Kerk se dominees tans min of meer in die helfte verdeel is rondom die teologiese beoordeling van die saak.

*

Dit is lank reeds dat die teologiese gespletenheid van die NG Kerk vir my ‘n groot bron van kommer is. Ek maak dalk ‘n blik vol wurms oop as ek dit nou gaan sê, maar laat ek dit sê: daar is, wat my betref, basies twee konflikterende teologieë in die kerk. Daar is die teologie van die gereformeerde belydenisskrifte, maar dan is daar ook (en volgens my waarneming groeiend in populariteit) ‘n Arminiaanse of doperse teologie. Ten diepste verskil laasgenoemde teologie van die eersgenoemde dat dit in die plek van die drie soli’s waarna ek hier bo êrens verwys het, drie semi’s plaas. Dit kom dan daarop neer dat die weë van hierdie twee teologieë op hierdie beslissende punt uiteengaan: vir die gereformeerde teologie word die verlossing van die sondaarmens van voor tot agter as ‘n daad van God geloof, terwyl die ander teologie die verlossende daad van God aanvul deur aan die mens ‘n aandeel aan sy/haar verlossing toe te ken. (Om ‘n beeld te gebruik: Arminiane en dopers plaas naas die kruis ‘n plusteken – ‘n plusteken wat die mens se bydrae tot sy/haar verlossing verteenwoordig.)

Hoe hierdie twee teologieë van mekaar verskil, raak veral dan ook duidelik in twee verskillende doopbeskouings. In die gereformeerde teologie is die doop ‘n daad van God (die sogenaamde genadedoop) – waarin dit God is wie na die mens toe kom, die volle pad, Sy hand op daardie mens plaas en Sy beloftes van genade aan die dopeling beseël. Hierteenoor is die doop by die ander teologie ‘n daad van die mens (die sogenaamde geloofsdoop of bekeringsdoop) – waar die mens se geloof en/of bekering as die mens se aandeel aan sy/haar verlossing bereken word).

Sonder om nou hier te ingewikkeld te wil raak, volstaan ek met die volgende opmerking (en dit is die blik vol wurms waarvan ek praat): dit is my waarneming dat in die kringe in die NG Kerk waar die Arminiaanse of doperse teologie inslag vind, ook dié kringe in die kerk is waar daar tans met groter oortuiging gewerk word met die gedagte dat homoseksualiteit as sonde veroordeel moet word en homoseksuele mense tot bekering opgeroep moet word – hierdie mense se bekering dan as voorwaarde vir byvoorbeeld toelating tot die ampte … en inderdaad selfs by sommige uiterstes, voorwaarde vir lidmaatskap van die gemeente.

*

Ek raak partykeer bang as ek na preke luister. Die laaste tyd het ek ook ‘n paar keer in die banke van die NG Kerk sit en bang raak. Ek dink aan die woorde van ’n evangelis wat, nadat hy na die preek van ‘n ander evangelis geluister het, teenoor die prediker opgemerk het: “No, your God is not my God; your God is my devil.”

Ek raak bekommerd oor die teologie van my kerk. Partykeer wonder ek vertwyfelend of ek die Bybel verkeerd lees. Ek begin vrae vra oor my teologiese opleiding. Ek begin twyfel of ek werklik die evangelie verstaan. Ek begin veral twyfel aan my begrip van God se genade – of my verstaan daarvan regtig in lyn is, in akkoord is, met die betekenis van daardie woord genade soos dit in ons Bybels betekenis gegee word. Want dit lyk vir my dat dit op hierdie punt is – by die verstaan van Bybelse genade – dat dit wat die Bybel as die suiwer leer en die dwaalleer teenoor mekaar stel, duidelik word.

Ek self skrik partymaal vir hierdie woord – binne my verstaan daarvan. Vir my is genade so ‘n radikale begrip. Dit is so radikaal, so lyk dit vir my, dat indien ons die betekenis daarvan werklik sou deurtrek in die kerk, en die volle konsekwensies daarvan prakties in ons bediening gestalte sou gee, ons groot teenspoed te wagte kan wees.

Sien ons werklik kans daarvoor – om ‘n kerk te wees wat onverdunde, egte christelike genade aan die wêreld bedien?

Soos ek dit verstaan, is genade ontsaglik duur. En (vreemd genoeg) dan juis so ontsaglik duur omdat dit so ontsaglik verníét is – so volledig onverdiend. So gratis, sonder prys, dat geen geld daarvoor kan betaal nie. Dat geen mens dit op enige manier kan verdien of verwerf nie. Maar dan – Goddank – ook nie hóéf te verdien of te verwerf nie. Omdat dit van voor tot agter ‘n geskénk van God is. Sonder voorwaardes.

*

Dit is ironies, gegee die geloofstradisie waarin ons staan, maar dit lyk vir my of ons nog maar altyd met egte evangeliese genade in die NG Kerk gesukkel het. Of dat ten minste groot dele van die kerk daarmee gesukkel het. Dink maar net weer aan hoe maklik ‘n apartheidsteologie van ons besit geneem het.

‘n Dure les: dat egte evangeliese genade ‘n struikelblok en ‘n aanstoot is.

*

Die ding van genade is mos dat dit die mens plat maak, van sy hoë troon afruk. Daardie troon van hoogmoed en eiegeregtigheid. Dat dit jou op jou knieë dwing. Dat dit jou voor God bankrot laat staan.

En in die proses die groot gelykmaker is wat mense – oor alle grense heen – gelyk maak voor die aangesig van God. Gelyk – met net ons leë hande.

Wie onder die evangelie van God se duur genade en die mens se leë hande tot bekering kom, leer om te weet (deur die nou poort heen) dat ek broers en susters op vreemde plekke het!

*

Ek wil ‘n vraag vra: Verbeel ek my, of is dit regtig so dat in dié kringe in die NG Kerk waar die saak van kerkhereniging met die bruin en swart kerk (steeds) ‘n stuk weerstand oproep (en waar daar selfs ook rondom hierdie saak met kerkskeuring gedreig word), min of meer dieselfde kringe is waarin die sterkste weerstande lê rondom die saak van homoseksuele mense in die kerk en in die ampte?

*

Vandag, in retrospeksie, is dit so ooglopend, helder en duidelik dat ons apartheidsteologie boos was. Ja, soos vandag met die gesprek rondom homoseksualiteit het ons ons tekste gehad. Ons kon met die Bybel teen ons hart selfs ons kinders oorlog toe stuur (en offer) om dit waarvan ons so diep oortuig was, te regverdig. In terugskoue is dit byna ongelooflik dat die waarheid ten opsigte van apartheid in God se Woord so oop en bloot voor ons was, maar dat ons so ideologies besete en verblind was dat ons dit nie kon sien nie.

Ek wil pleit dat ons in ons gesprek rondom die saak van homoseksualiteit baie nederig in ons soeke na ‘n Bybelse antwoord sal wees. Laat dit in Godsnaam nie weer met ons gebeur dat ons nog ‘n geslag van onse kinders op die afgodsaltaar van ideologie sal offer nie!

God weet, daar is min dinge so boos soos ‘n ideologie wat in godsdiens gedoop is. Daar is min dinge so gewelddadig soos godsdienstige geweld.

*

Duur genade. Ek het reeds daaroor iets gesê. Maar ek wil probeer om dit nog duideliker te sê. Want dit is só belangrik dat ons dit reg sal verstaan.

Dit was die teoloog Bonhoeffer wat die uitdrukking goedkoop genade (Engels: “cheap grace”) gemunt het.

Bonhoeffer het die kerk van sy dag daarvan beskuldig dat hulle goedkoop genade aan die volk bedien het. Dit was die tyd van Nazi-Duitsland. Vir Bonhoeffer was dit ‘n saak wat ten hemele geskrei het: dat die Duitse christene die politieke ideologie van Hitler so gemaklik kerklik en teologies kon omarm. Vanwaar Bonhoeffer gekyk het, was dit vir hom duidelik dat die politiek van sy dag van die duiwel was. Hoe was dit moontlik dat die christene met soveel oortuiging daarby kon inkoop?

Bonhoeffer het die oorsaak by die kerk gesoek – ‘n kerk wat die duur genade van God (so duur dat dit niks minder nie as die bloed van Sy seun gekos het) goedkoop genade gemaak het. Die wrange vrug van die bediening van goedkoop genade, aldus Bonhoeffer, was dat die kerk tot ‘n volkskerk verword het.

Goedkoop genade, het hy gepreek, is ‘n soort genade wat uiteindelik daartoe meewerk dat mense met sonde in hulle lewens kan vrede maak en God se gebod uit hulle lewens kan uitskuif.

Wat betekenisvol is, is dat genade goedkoop word die oomblik wanneer ‘n mens met die (teologiese) idee begin werk dat die mens ‘n aandeel aan sy verlossing het. Dit is betekenisvol omdat dit skynbaar juis ándersom behoort te werk. ‘n Mens sou verwag dat genade juis goedkoop word wanneer daar teologies met die idee gewerk word dat die mens géén aandeel aan sy verlossing het nie, en sy verlossing louter ‘n saak van God se genade is. Maar vreemd genoeg werk dit juis andersom. In hiérdie vreemdheid registreer die vreemdheid van die evangelie – presies daardie vreemdheid van die evangelie wat vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs in die tyd van Jesus so ‘n aanstoot en ‘n struikelblok was.

In die teologie van die skrifgeleerdes en die Fariseërs was genade iets wat verdien moes word. Daarom was hulle dan ook (vanuit ‘n bepaalde hoek beskou) toegewyde godsdienstige mense. Want sien, met die idee dat genade, God se guns, verdien moes word, het hulle hulle daarop toegespits om soveel as moontlik verdienstelike goeie werke in terme van wetsgehoorsaamheid te doen. Só, het hulle gereken, langs dié weg, versamel ek vir my punte in God se goeie boekies.

Die tragiese ironie was egter dat juis hierdie (skynbaar) toegewyde godsdienstige mense die grootste vyande van God geword het! Hoe het dit dan só gekom? Die verklaring daarvoor lê in die sondige natuur van die mens, in sy bedrieglike hart: hulle het naamlik die mens se aandeel aan sy verlossing so goedkoop en maklik as moontlik gemaak – sodat dit in die godsdienstige praktyk (in die woorde van Jesus) daarop neergekom het dat God bloot “met die mónd gedien is en nie met die hárt nie”; ja, dat ‘n mensgemaakte godsdiens geskep is waardeur dit in werklikheid die méns is en nie Gód nie, wat verheerlik is; ‘n uiterlike skynheilige godsdienstigheid aan die hand van allerlei godsdienstige rituele en mensgemaakte tradisies waarin voorgegee word dat dit God en Sy gebod is wat gedien word, maar in werklikheid ‘n godsdiens is waarin die mens homself kan handhaaf en sy eie belange kan dien.

En dit is presies hoe die kerk in die tyd van Bonhoeffer gelyk het: die christene het kerk toe gegaan, eredienste en bidure gehou, gereeld die nagmaalstafel gedek, hulle kinders getrou ten doop gebring, hulle offers in die kerk se skatkis geplaas … selfversekerd dat hulle saak met God reg is omdat hulle godsdienstig hulle kant gebring het …

Maar, en dit is ‘n groot maar, terselfdertyd kon hierdie christene uit die kerk uit terugstap huis toe om met dieselfde tong waarmee hulle tot God gebid het, hulle medemense te vervloek, te verontmenslik, en met dieselfde hande waarmee hulle die brood gebreek en die beker vasgehou het, hulle medemense te gryp, te verwond, en te vermoor.

Dit was Bonhoeffer se oortuiging dat net genade die kerk van sy dag kon red – dat die enigste hoop vir die kerk in sy dag was dat die evangelie van God se duur genade hulle weer op hulle knieë sou bring.

Genade, egte evangeliese genade, het Bonhoeffer geleer, is ‘n krag wat ‘n effek het in mense se lewens – dit verander mense hartgrondig, deur bekering heen – en die beginsel van hierdie verandering in mense se lewens is dat hulle hulle geestelike bankrotskap voor God besef; ja, besef hoe diep hulle sondige aard is, welke verworde skepsels die sonde wat in hulle bloed lê, van hulle gemaak het, hoe totaal gekorrupteerd hulle van nature is, en hoe ‘n gruwel in die oë van die Here die sondes is wat hulle pleeg – in so ‘n mate dat dit hulle vir enige moontlike verdienstelike loon by God diskwalifiseer.

Ja, egte evangeliese genade – daardie genade waarin die kruis van Jesus as vloekhout geplant staan – bring mense op hulle knieë voor God … en dit is presies dan ook daar, op hulle knieë voor God, dat dieselfde genade wat hulle op hulle knieë gebring het, hulle optel in ‘n nuwe lewe: ‘n lewe waarin die sonde (en bowenal my eie!) van harte gehaat word en die lewegewende ware gebod van God van harte omhels word.

*

‘n Kerk wat God se genade goedkoop maak deur genade tot ‘n stuk verdiende loon te degradeer, is ironies genoeg ‘n kerk wat gewoonlik veel te sê het oor sonde – en met lang sondelyste werk. In sulke kerke loop moralisme (op die lees van Fariseïsme) dik. Moralisme wat sektarisme as ‘n bloedbroer het. En sektarisme wat ten diepste ‘n mentaliteit is – presies soos dié van die outydse Fariseërs – daardie mentaliteit van ék (op my hopie morele hoë grond) wat minder sonde het as ander en daarom vóór in die ry staan vir God se guns.

Was jy al in so ‘n kerk? Dan sal jy weet waarvan ek praat.

*

‘n Kerk waarin daar van God se genade alleen geleef word, daardie genade wat onvoorwaardelik deur God geskenk word, van voor tot agter ‘n stuk vrye guns van God is, is ook ’n kerk waarin sonde hard en duidelik aangespreek word. Dit is ‘n groot misverstand dat in ‘n kerk waarin God se genade gepreek word, daar oor die sonde geswyg word. Wie die evangeliese woord genade sê, sê met dieselfde woord sonde. Die evangelie van God se genade vir die sondaar is tegelykertyd die evangelie van God se vervloeking ván en oordeel óór die sonde van die sondaar.

Maar hier word daar tog ánders oor sonde gepraat. Anders as in daardie kerk waar sonde vanaf moralistiese sondelyste afgelees word en waar die vervloeking van die sonde tegelyk die vervloeking van die sondaar is.

*

In die gesprek wat tans in die NG Kerk oor die saak van homoseksualiteit gevoer word, is dit van die allergrootste belang dat daar oor sonde gepraat sal word. Wat egter deurslaggewend belangrik gaan wees, is hóé ons oor sonde praat. Dit is inderdaad moontlik dat ons in ons gesprek kan dínk dat ons oor dieselfde ding praat, maar dat ons intussen vanuit twee totaal verskillende definisies van sonde praat. Ek sou wou sê dat die uitdaging is dat ons ‘n egte evangeliese definisie van sonde moet kan gee. En ek sou wou waarsku dat indien ons onsself van sonde-definisies uit die moralisme gaan laat lei, dit die kerk oneindige skade gaan berokken. Maar inderdaad nie net die kerk nie. Ook ons samelewing gaan seerkry (net nog verder seerkry).

Ek herinner my op hierdie punt aan die volgende woorde wat ek iewers gelees het: “Die slegste ding wat met ‘n samelewing kan gebeur, is as die kerk verfarisieer.”

Daar is min dinge wat so boos is soos farisese godsdienstigheid. ‘n Kerk, ‘n christendom, wat in sektariese moralisme / moralistiese sektarisme verval, is ‘n duiwel in die weg van die koninkryk van God na die wêreld.

Ek verwonder my dikwels oor hoe ernstig ons in die Bybel teen dwaalleringe en ‘n verdraaide evangelie gewaarsku word. Terselfdertyd is dit vir my kommerwekkend dat daar so min van leertug in die kerk gemaak word. Ek kry soms die indruk dat die NG Kerk so akkommoderend is ten opsigte van dogma dat feitlik elkeen wat Here! Here! sê, daarin ‘n tuiste vind.

Ek wil beweer dat die NG Kerk toenemend onder druk gaan kom om weer ‘n duidelike konfessionele standpunt in te neem en die saak van leersuiwerheid hoog op die agenda te plaas. Die heil van die NG Kerk lê in (‘n spoedige) hernude ontdekking ván en toewyding áán sy/haar gereformeerde belydenisgrondslag.

*

Ek is daarvan bewus dat die woord gereformeerd by baie mense ‘n slegte, uiters negatiewe, betekenis dra. Soortgelyk aan die woord Calvinisme. Hoor mense hierdie woorde, roep dit by hulle die gedagte van bekrompenheid , konserwatisme en wettiesheid op (in Suid-Afrikaanse konteks ook die gedagte van ‘n boerse Afrikanermentaliteit, nasionalistiese ideologie en rassisme).

Onlangs nog lees ek in een van Koos Kombuis se artikels hoe hy gif spoeg oor die Calvinisme. Ek kan hom nie regtig kwalik neem nie, want dit is ongetwyfeld waar dat hierdie woord deur die kerkgeskiedenis heen erg misbruik is.

Ekself is by die onlangse konferensie vir NG-predikante in Bloemfontein in my fondamente geskok om te moes hoor wat predikante onder gereformeerdheid en Calvinisme verstaan. Trouens, ek het daar ontdek dat selfs die mees óngereformeerde en óncalvinistiese teoloë gereformeerdheid en Calvinisme vir hulle claim. Wat my die meeste ontstel het, is die fundamentalistiese Skrifhantering wat daar onder hierdie mense aan die orde is.

Ek wil regtig pleit vir ‘n ernstige gesprek in die NG Kerk oor ons gereformeerde identiteit.

*

Sentraal in die hele kwessie rondom homoseksualiteit in die kerk is Skrifgedeeltes in die nuwe testament waarin die beoefening van homoseksualiteit in sogenaamde sondelyste opgeneem is. Hierdie sondelyste vind ons in die briewe van Paulus – en veral die sondelys in 1 Korinthiërs 6 is hier ter sprake. Ek vind dit nodig om oor hierdie teks ‘n paar dinge te sê. Maar voordat ek dit doen, wil ek eers die volgende belangrike perspektief gee op die gesprek wat tans in die kerk plaasvind.

Dit is belangrik om presies te weet hoe hierdie saak op die agenda van die kerk gekom het. Die feit is dat dit nie van buite die kerk af op die kerk se agenda geplaas is nie, maar wel van binne die kerk self. Dit was ons medegelowiges, ons broers en susters, wat Sondae saam met ons in die kerk is, wat vanuit hulle worsteling na ons toe gekom het met die vraag hoe ons hulle seksuele oriëntasie – wat van ons s’n verskil en vir sommige aanstoot gee – beoordeel en hoe hulle bepaalde seksuele oriëntasie hulle posisie in die kerk en die gemeente beïnvloed.

Die punt wat belangrik is om te begryp, is dat hierdie saak as ‘n bínnekerklike pastorale aangeleentheid, bínne die gemeenskap van die gelowiges, op die tafel geplaas is.

Boonop was die broers en susters wat met hulle eksistensiële geloofswoordteling voor ons kom staan het, mense wat in hulle homoseksuele verhoudinge volgens die waardes van respek, liefde en sorg leef. Nee, hierdie saak is nie van buite af op die kerk se tafel gegooi vanuit ‘n kring van seksuele losbandigheid, vulgariteit en promiskuïteit nie.

Wie dit begryp, behoort dan ook te verstaan waarom die NG Kerk gekies het om hierdie saak wel ter tafel te neem, en dit wel ook te doen binne die ruimte van broederlike liefde, ontferming en medelye. Vir die NG Kerk is hierdie gesprek (of altans so behoort dit te wees) nie ‘n blote akademiese gesprek nie. Dit is ‘n gesprek met ‘n pastorale uitgangspunt en styl. Wanneer die NG Kerk hierdie gesprek voer (ag, mag dit van ons waar wees!), sien ons gesigte en ken ons name. Om presies te wees, ons sien gesigte saam met ons om die nagmaalstafel sit en ons ken hierdie name as name wat eenmaal by die doopvont uitgespreek is.

Dit het dan ook vir my geweldig baie waarde dat die studiegroep wat deur die kerk gestuur is om hierdie saak biddend teologies te gaan uitklaar, ‘n studiegroep is waarin ook van ons homoseksuele geloofsgenote dien. In hierdie studiegroep word daar nie óór mense gepraat nie, maar mét hulle … trouens, met ons arms rondom hulle (so hoop ek!).

*

Terug na Paulus se sondelys in 1 Kor 6. Ek wil die volgende kantaantekeninge daarby maak:

    • Hierdie Paulus wat hierdie sondelys neergeskryf het, vertel vir ons in die Bybel sy verhaal – sy verhaal wat hy in twee groot hoofstukke opdeel: die tyd van sy lewe vóór Christus en die tyd van sy lewe ná Christus. Wat sy verhaal betref, weet ons dat sy naam eers Saulus was. Ons weet van die beslissende gebeure in sy lewe op die Damaskuspad. Ja, ons weet dat hierdie Paulus wat eers ‘n Fariseër en ‘n vyand van Christus en Sy evangelie was, deur God se genadige ingryping in sy lewe ‘n christen en ‘n evangeliedienaar gemaak is.

    Die punt wat ek wil maak: toe Paulus hierdie sondelys opgestel het, het hy dit nié (meer) as Fariseër nie, maar as ‘n christen gedoen – met Christus se hand op sy hart. Ons moet dus hierdie sondelys as ‘n evangeliese sondelys en nie as ‘n farisese sondelys hanteer nie. Dit is vir die uitleg, die teologie van hierdie Bybelteks, van beslissende belang.

    • Die hand wat hierdie sondelys neergeskryf het, is dieselfde hand wat onder andere ook die volgende Bybelwoorde neergeskryf het: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde” (1 Kor 2 vers 2); en: “Dit is ‘n betroubare woord wat sonder voorbehoud aanvaar kan word: Jesus Christus het na die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom het God my begenadig sodat Jesus Christus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms [ek skryf in: ook in die jaar 2005 in die NG Kerk] in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry” (1 Tim 2 vers 15 vv); en: “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem” (Kol 2 vers 14); en: “ God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom 5 vers 1). En so sou ons die tekste kon opstapel. (Ag, lees asseblief die hele brief aan die Efesiërs en let op die ontsaglike evangelieboodskap wat Paulus verkondig in terme van die uitverkiesing!)

    Die punt is: as Paulus hier oor sonde praat – en bepaald binne die kring van christengelowiges – praat hy daaroor bo alles as vergééfde sonde. Ja, ook die sonde wat nog deel van ons is en ten opsigte waarvan ons tot bekering en heiligmaking opgeroep word, ook daaroor word as vergeefde sonde gepraat;

    • Ek wil vir ‘n oomblik die sonde waarna daar in die sondelys verwys word as die beoefening van homoseksualiteit, uit die lys verwyder. Dit is bietjie moedswillig, maar dit het betekenis. Ek vermoed dat wanneer ons nou – nadat die sondelys so gesuiwer is – daarna kyk, ons skielik sal ontdek dat hierdie lys mos ook van mý sonde praat! Ek glo dat dit presies die bedoeling van Bybeltekste in ons lewe is, nl dat dit in die eerste plek met niemand anders nie as met mý wil kommunikeer. En ek glo dat wanneer ek waarlik evangelies oor sonde wil praat, die Bybel allereers vir mý in my eie spieël wil laat kyk. Ja, eers wanneer ek met my eie sonde voor oë oor die sonde van ander mense praat, kan ek begin om so daaroor te praat soos God wil – God se taal te praat oor ander se sonde.

    Terloops, ek wonder telkens weer hieroor: Waarom sou iemand by die lees van hierdie teks énige van die vermelde sondes as die grootste sonde sou wou uitsonder? Iewers het ek in hierdie verband hierdie treffende woorde gelees: “O, hoe verskriklik lyk my sonde wanneer iemand anders dit pleeg!”

    Ja, waarom sou ons sekere van hierdie sondes uitlig en daarvan ‘n issue maak? Ek vermoed dat ons issues almal ‘n sosiologiese en psigologiese verklaring het. En wat betref die gesprek oor homoseksualiteit glo ek dat min van ons Afrikanermans werklik in staat is om onbevooroordeeld en objektief daaraan deel te hê. Kyk maar net hoe lyk die meeste van ons se huwelikslewens en hoe ‘n geweldige suigkrag pornografie op ons uitoefen!

    • Dit is baie duidelik dat Paulus met sy sondelys wil sê dat sonde – en bepaald dan sonde by christene – nie OK is nie én dat hy op ‘n ondubbelsinnige wyse die sondes in hierdie sondelys evangelies bestraf. Miskien het ons in die kerk hierdie gesprek oor homoseksualiteit juis baie nodig, omdat dit ons kan dwing om weer ‘n slag ernstig met mekaar in die kerk oor ons sonde te praat.

    Hoe dikwels lyk dit by ons in die kerk selfs erger as in die wêreld . daarbuite! Dink maar hoeveel pyn en lyding die sondes in Paulus se sondelys nie net buite nie, maar ook binne die kerk tot gevolg het. Ja, hoe kan die kerk in ‘n samelewing van morele verval ‘n hoopgewende en genesende invloed laat uitgaan as die kerk hierdie verval in homself dra?

    • Dit is duidelik dat Paulus met hierdie teks nie in die eerste plek die wêreld nie, maar wel die kerk tot bekering van sonde oproep. Dalk moet ons as kerk hier ‘n les leer: om nie so gou en so maklik oor die sonde van die wêreld te praat nie – nee, voordat ons daaroor praat, is daar eers ‘n ander gesprek nodig.

    • ‘n Laaste aantekening: sou ons die vraag vra wát dit dan nou presies is wat van dié dinge in Paulus se lys sónde maak, vra ons inderdaad ‘n wesensbelangrike vraag. Met hierdie vraag vra ons immers die vraag na die wese van sonde: hoe, waar en wanneer iets (evangelies gesproke) sonde word.

In my bediening het ek ontdek hoe ‘n vlak sondebegrip baie van sons lidmate het. (En weer eens moet ons natuurlik vir onsself afvra wat die aandeel van die kerk, die bediening van dominees en geestelike leiers in ons gemeente hieraan is).

Onlangs het ons in die gemeente juis oor hierdie ding van sondebegrip ‘n goeie gesprek gehad. En ons het opnuut ontdek dat baie van ons sondelyste eintlik niks anders van sonde maak nie as ‘n kostelike grap. (So byvoorbeeld het ‘n dame vir ons haar sondelys uit haar kinderjare voorgelees – en net om vir jou ‘n idee te gee: op daardie sondelys was ook grimering en geplukte ooghare as sonde aangeteken!)

Kyk ons mooi en goed na Paulus se sondelys, sal ons hierdie een belangrike ding (hopelik) raaksien: dat vir Paulus al dáárdie dinge sonde is – dit wat ons is en wat ons doen – wat tot gevolg het dat medemense wat met ons te doen kry (in ons lewensruimtes inbeweeg, naby ons kom, in verhouding met ons tree), séérgemaak word. Dit is die punt van insig! Ja, alles wat ‘n medemens seermaak – dít tel vir Paulus as sonde. Alles waaraan ek deel het en wat negatiewe, destruktiewe gevolge het vir iemand anders: hom/haar verneder, beledig, beroof, verontmenslik, verwond – dít is die sonde ten opsigte waarvan Paulus vir ons – en bepaald vir ons as christene – in 1 Kor 6 tot bekering oproep. Soos iemand gesê het toe sy kind vir hom vra: “Pa, wat is sonde?” en hy geantwoord het: “My kind, omtrent álles wat by jou medemens bloed of trane tot gevolg het.”

O, ek droom van ‘n kerk, van ‘n christendom (wil jy nie asseblief my droom met my deel nie?) – wat weer geleer het om dié sonde waarteen die evangelie (om Christus ontwil) protesteer, te haat! Want in die haat van dié sonde lê die ware “Christus-like” líéfde vir ons naaste opgesluit!

*

Is die beoefening van homoseksualiteit sonde? Dit staan immers uitdruklik, swart op en wit, in Paulus se sondelys (in elk geval dan wel in die nuwe vertaling van ons Afrikaanse Bybel)?

Ek wil beweer dat wat deurslaggewend sal wees in iemand se antwoord op hierdie vraag, die prentjies is wat hierdie vraag by hom/haar oproep – en natuurlik, wat ágter daardie prentjies lê, dit wat daardie prentjies geteken het.

Ek kan my baie goed voorstel dat iemand in wie se verhaal daar ‘n persoonlike negatiewe ervaring in hierdie verband lê – dink byvoorbeeld hier aan die nagmerrie-ervaring van ‘n seun wat onder die geweld van ‘n pedofiel deurgeloop het – met ‘n gillende ja van vernedering en woede op die vraag sal antwoord.

Maar net so kan ek my voorstel dat iemand in wie se verhaal ‘n positiewe ervaring in hierdie verband lê – en hier sou jy aan ‘n eie voorbeeld kan dink – ‘n ander antwoord op die vraag sal gee.

*

Wat die gesprek oor homoseksualiteit wat tans in die kerk gevoer word, moeilik maak, is die gedagte dat die sonde waarvan ons in Paulus se sondelys lees, van ‘n ander aard is as die verskynsel van homoseksuele verhoudings in ons dag – en bepaald dan die soort homoseksuele verhouding waarin die broers en susters wat hulle saak op ons agenda geplaas het, staan.

‘n Sterk faksie Nuwe Testamentiese teoloë deel hierdie standpunt. Volgens hulle is die sonde wat Paulus in sy sondelys aanspreek, ‘n homoseksuele verhouding of daad van geweld en onsedelike misbruik – ‘n sonde waarvoor hulle dan die woord sodomie sou gebruik en wat spesifiek na die gruwelike sonde in die verhaal van Sodom en Gomorra in die Ou Testament sou verwys. Hulle argumenteer dan dat die sonde waarna Paulus verwys, tog wesenlik anders is as dié tipe homoseksuele verhouding wat vir beoordeling op die kerk se tafel neergesit is en ten opsigte waarvan die kerk ‘n uitspraak moet maak – synde dan ‘n tipe homoseksuele verhouding van liefde, respek, ontferming en trou tussen twee mense van dieselfde geslag.

Persoonlik voel ek sterk hieroor – dat die NG Kerk ‘n geweldig groot verantwoordelikheid het om doodseker te maak hoe ons daardie sonde in Paulus se sondelys moet verstaan. Daarom het ek dan ook groot waardering vir die feit dat die kerk tyd gegee het en die nodige toegewydheid toon en die nodige energie spandeer om hierdie saak teologies so goed as moontlik na te vors en uit te klaar.

Op hierdie punt het ek dan ook moeite daarmee om te verstaan hóé mense die kerk kan verkwalik dat die kerk by die laaste Sinode bely het dat ons, wat hierdie saak betref, “nie weet nie” en daarom behoorlike tyd gevra het om na ‘n antwoord te gaan soek. Ek sou eerder dink dat die kerk daarmee ‘n lofwaardig verantwoordelike pad gekies het en bewonderenswaardige integriteit aan die dag gelê het. En dan wil ek sommer hier ook weer pleit dat die kerk nie sal swig onder druk nie, en al die tyd wat nodig is om tot ‘n antwoord te kom waarmee ons voor die Here kan gaan staan, sal neem. Uiteindelik is ons immers nie aan mense nie, maar aan die Here (en ons kwesbare naaste in Sy arms) verantwoording verskuldig.

*

In die debat oor homoseksualiteit word daar dikwels gefokus op die vraag of hierdie bepaalde seksuele oriëntasie ‘n aangebore preposisie is (dus ‘n genetiese onderbou het) of dan aangeleerde gedrag is. Kom ons praat ‘n bietjie daaroor.

Daar is christene en kerke wat erg bang is om aan homoseksualiteit as ‘n stuk geskapenheid te dink. Want indien dit sou waar wees (dat God die homoseksuele mens só geskape het), is hulle teologies in diep moeilikheid.

Dit is daardie kerke en christene wie se Godsbegrip geen ruimte daarvoor laat om menslike lyding en God se liefde bymekaar te kan uitbring nie. Dit is kerke en christene wat alle vorme van lyding op die rekening van die duiwel en/of menslike sonde neerskryf. By hulle word ‘n reguit lyn tussen lyding aan die een kant en die werk van die duiwel en/of die gevolg van die menslike sonde aan die ander kant getrek.

So byvoorbeeld is dit vir hierdie mense onmoontlik om ‘n gestremde kind as ‘n liefdeskepsel van God te sien en te ontvang. ‘n Eerste vraag wat hulle by die geboorte van so ‘n kind vra, is die vraag na wie se (sonde-) skuld dit is dat hierdie kind gestremd is. ‘n Eerste gedagte wat daar gedink word, is dat daar waarskynlik een of ander vloek of binding op hierdie kind (of dan op sy/haar ouers) rus. ‘n Eerste optrede by hulle sal dan ook wees om byvoorbeeld die duiwel uit hierdie kind te verdryf en/of te bid vir die vergifnis van die ouers van hierdie kind. Maar géén ruimte word gelaat vir die moontlikheid dat die geboorte van só ‘n kind die wil en die bedoeling van ‘n liefdevolle God kan wees nie.

Waar homoseksualiteit in hierdie kringe dan as ‘n stuk abnormaliteit of gestremdheid of afwyking beskou word, kan jy vir jouself dink wat die vrae is wat hierdie mense daaroor vra, die gedagtes is wat hulle daaroor dink, hoe die gebede klink wat hulle in konfrontasie daarmee bid, en hoe hulle bediening aan homoseksuele mense sal lyk.

By die meeste van hierdie kerke en christene word egter verkies (om klaarblyklike redes) dat homoseksualiteit niks met geskapenheid nie, maar alles met aangeleerde gedrag te doen het. Die keuse vir so ‘n beoordeling van homoseksualiteit maak dit immers vir hulle teologies makliker, aangesien die genesing van homoseksuele mense dan doodgewoon van die bekering van hierdie mense en die aanleer van ‘n nuwe gedrag verwag kan word.

Mý vraag op hierdie punt in die debat is doodgewoon dit: Is dit régtig relevant om hieroor uitklaring te moet kry? Die punt is dat ons die homoseksuele mens ontmoet as homoseksuele mens (wat ook al die verklaring vir sy/haar homoseksualiteit is ) en dat hiérdie mens – soos hy/sy hier en nou voor my as christen staan – aan my die evangeliese uitdaging stel om aan hom/haar die gesig van my God te wys en met hom/haar die taal van my God te praat. Martin Luther sou sê: die roeping om vir hierdie mens hier en nou ‘n christus te wees. Want uiteindelik is daar – daar waar wel genesing en bekering nodig is – tog niks wat daardie genesing en bekering kan bewerk nie as net die lewendmakende evangeliewoorde van God. En dít is wat ons het. Dit is ál wat ons het. Maar dit is ook álles wat ons het. Ons hét hierdie woorde!

Goeie teologie leer ons dat die sondaar nie eers tot bekering kom en dán eers deur God in Christus met onvoorwaardelike liefde en vergifnis omhels word nie, maar dat die sondaar ín hierdie omhelsing van God tot bekering kom.

En op hierdie punt my laaste woord: o, hoe het God nie al vir ons geseën met hulle wat ons so maklik gestremdes noem nie! Hoe het hierdie skepsels van God (ja, my teologie maak dit vir my moontlik om so oor hulle te dink!) nie al met hulle lewens van hierdie wêreld ‘n beter, sagter, mooier plek help maak nie!

*

Ek glo (en dit, Koos, is die hárt van my Calvinisme) dat daar géén oortollige mens op hierdie aarde is nie. Ek glo dat élke mens wat ek op hierdie aarde teenkom, deur God bedoel is om te leef. Ek glo dat elke mens wat leef, ‘n beelddraer van God is. Ek glo dat elke mens ‘n kunswerk van God is. Ek glo dat God elke mens wat leef, in die skoot van sy/haar moeder aanmekaar geweef het. Ek glo dat God elke mens wat leef, rééds liefgehad het toe hy/sy nog in die skoot van sy/haar moeder was. Ek glo dat ons eendag, wanneer ons van aangesig tot aangesig sal sien, sal sien dat elke mens se lewe deur Gód sin en betekenis gegee is en diensbaar gemaak is aan Sy vreemde koninkryk waarin die eerstes laaste is en die laastes eerste is. Ek glo dat ons kragtens ons geskapenheid almal gelykwaardig voor God is en dat ons dit aan mekaar verskuldig is, kragtens ons herskepping in Christus, om God se son van genadige en barmhartige geregtigheid met mekaar te deel.

*

Ek sukkel waarlik om te glo dat die wyse waarop die homoseksuele mense wat ek ken en wat saam met my hulle knieë voor Jesus Christus buig, hulle homoseksualiteit uitleef, sonde is. Ek wil vra: Hoe kan dit sonde wees as twee mense die lewe vir mekaar mooi maak, mekaar met onvoorwaardelike liefde dien, mekaar met volhardende trou vashou, in hulle huise hulle vriende en hulle gaste met hartlike gasvryheid ontvang, elkeen wat oor hulle huise se drumpel tree, met deernisvolle menswaardigheid behandel – ja, as twee mense saam die Here Jesus dien, mekaar help, as geloofsgetuies in mekaar se lewens, om op Jesus Christus voluit te vertrou, en mekaar aanspoor tot goeie werke in die Here?

*

Maar sê nou net (o, God, my God!) dat die NG Kerk die genade ontvang om wel daardie moeilike tekste in die Bybel oop te breek tot op die waarheid, en dit dan tóg blyk dat my broers en susters in sonde leef – wat dan?

Weet jy, daaroor lê ek wakker. Maar één ding weet ek – nee, twéé dinge: ek weet dat my God dan nog meer liefde van my vir hulle sal verwag. En ek wéét dat hulle die genade by my God sal ontvang wat dit vir hulle sal moontlik maak om ín God se oordeel ook God se liefde te ontdek.

En ek wil waag om te sê: saam sal ons dan die NG Kerk probeer uitbou tot ‘n hawe van God se genade vir al die kwesbares en die swakkes en die hulpeloses en die verdruktes en die vertraptes in ons samelewing. Tot eer van ons ewig lofwaardige en aanbiddingswaardige God.

*

Moenie verbaas wees as ‘n volgende geslag van die kinders van ons Reënboogland met trots sal sê dat hulle kerk die NG Kerk is nie! En as hierdie kerk van afgrondelike sondigheid en menigvuldige sondes – eens verguis – nog die baken van hoop vir die wêreld gaan word nie!

Terwyl ek dit sê, hoor ek hoe sê daardie ander stem in my (sinies, ongelowig): “Dit sal niks minder as ‘n hengse wonderwerk kos nie!”

Maar dan: dan ís ek mos maar ‘n dwaas – ek glo dan dat my God die gekruisigde Jesus uit die dood uit opgewek het!

Kyk, dis lente: die vyeboom bot!


LitNet: 7 September 2005

LitNet: 8 April 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.