SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die kunstenaarskap van Sheila Cussons

— ’n Osmose: digter en skilder

Amanda Botha

Dit is vir my ’n besondere voorreg om by hierdie baie spesiale geleentheid enkele gedagtes met u te wissel oor die kunstenaarskap van Sheila Cussons, gevierde digter-kunstenaar. Om oor haar werk, haar kunstenaarskap en haar menswees te besin, vereis om vooruit reeds te bely dat dit helaas geen volledige beeld kan wees nie, maar slegs enkele kantaantekeninge by werk in woord en beeld, wat sonder behoefte aan my toeligting self aan die woord is.

So deur die Swartland na Piketberg se kant draai daar ’n kronkelpad af wat lei na Velddrif. Onderweg wys naambordjies klein verbyryplekkies aan om uiteindelik berg se kant toe die plase Kapteinskloof, Somerdou, Banghoek en Perdedam aan te dui. Plase wat bakens in die geweste is — en ’n mens sou dus nie ’n fout maak om heeltemal verby MorawiŽ te ry nie. Maar dit is tůg belangrik — want hier, op 9 Augustus 1922, is die digter Sheila Cussons gebore is. Die huis van die stasiemeester staan nog en daar is nog die kamer waar sy haar eerste lewenslig gesien het.

Dis weliswaar geen historiese besienswaardigheid nie, maar die herinnering van die “swinging twenties” het beslag gevind in haar gedig “Geel Affodil”, wat vertel van haar ma se verwagtinge van hierdie eerste baba. Dis ’n kortstondige herinnering, maar tog is daar ’n lewensbaken. Sy is wel in die imposante NG Kerk op Piketberg gedoop en daarna het Sheila se swerwersjare begin. Sy en haar ouers — haar pa was ’n trotse spoorwegman wat dikwels vir bevordering verplaas is — het 22 keer verhuis voordat sy haar matriek aan die HoŽr Meisieskool Pretoria geskryf het.

Oor die jare is baie indrukke versamel — van die Karoostasies en sy mense, van Port Elizabeth waar sy op kloosterskool was, en uiteindelik Pretoria. Van hierdie indrukke is in gedigte verwerk wat later byna outobiografies gestalte vind toe sy met haar jare se verblyf in Spanje terug gedink het aan die goue jare van die gedroomde en verdroomde lewe — ’n tyd wat dui op die viering en omhelsing van die lewe.

’n Dromer was sy altyd — ’n klompie jare gelede het ’n oudonderwyseres van haar laat hoor en die opmerking gemaak dat al wat sy van Sheila kon onthou, was dat sy by die venster uitgestaar het, onttrek in haar eie wÍreld! Sheila wou skilder wees — dit was haar passie en groot belangstelling, ondanks die feit dat haar eerste gedigte in die ATKV Blad, destyds amptelike tydskrif van die SA SpoorweŽ en Hawens, verskyn het. Sy was hier ’n gereelde medewerker met gediggies wat dikwels geÔllustreer was. As twaalfjarige het sy vertalings uit die Griekse mitologie in Afrikaans verwerk wat in die tydskrif as ’n reeks aangebied is. Haar eerste gediggies het op sesjarige ouderdom verskyn.

Haar eerste groot fresco-skildery was in haar ouers se kleinhuisie — ’n Maria-figuur wat haar pa met verslaentheid laat vra het — “hoekom die ongemak in die gemakhuisie”.

Kort na haar sestiende verjaarsdag is sy met ’n studiebeurs na die Universiteit van Natal — kampus Pietermaritzburg, waar sy in die skone kunste gestudeer het. Hier het sy ’n klompie Engelse gedigte geskryf wat in die universiteitsblad verskyn het. Sy het ook Afrikaans as vak geneem by die bekende professor Gawie Nienaber. Hier het sy bevriend geraak met die klein groepie Afrikaners wat destyds hier gestudeer het. Onder hulle was Dirk Opperman, toe ’n onderwyser en ’n vurige ondersteuner van Sheila. Onder sy invloed het sy in Afrikaans begin dig en vandag is sy trots as sy vertel dat sy die latere D J Opperman se eerste protťgť is.

Tydens die beginjare van haar skildersloopbaan — sy het aan verskillende uitstallings deelgeneem — het die jong Afrikaanse digteres ook haar merk begin maak. Vroeg is haar gedigte reeds aangeprys deur onder meer NP van Wyk Louw en WEG Louw wat dit in Standpunte gepubliseer het en ook opgeneem het in die bundel Stiebeuel, ’n voorloper vir die latere Groot Verseboek.

Sheila is getroud met ’n medestudent, Stoffel Nienaber, en hulle het hul studie in die buiteland voortgesit. Voordat Sheila eers na Londen vertrek het om in die skilderkuns te studeer, was sy vir ’n rukkie verbonde aan die Hugo Naudť Kunsskool op Worcester waar sy saam met Jean Welz gewerk het. Kort voor haar vertrek na die buiteland is haar laaste solo-uitstalling in Kaapstad deur Welz geopen.

In Londen het sy kontak gehad met ’n klein groepie Suid-Afrikaners wat net na die Tweede WÍreldoorlog daar was — mense soos Bettie Cilliťrs-Barnard en WA de Klerk. Uit hierdie periode dateer Sheila se eerste prosawerk, Gestaltes ‘45, wat later met die viering van haar 65ste verjaarsdag deur Tafelberg gepubliseer is. Gedigte uit haar debuutbundel Plektrum het ook betrekking op diť ervaring.

In 1946 sluit Sheila haar by haar man in Amsterdam aan, waar sy met haar studies in die kunste voortgaan. Hier het haar verhouding met die digter NP van Wyk Louw beslag gekry en is sy van haar eerste man geskei. In die verbintenis het ’n vrugbare werksperiode vir albei digters gevolg. Hoewel Van Wyk Louw in hierdie periode gepubliseer het, het Sheila met groot ywer geskryf, maar steeds haar werk aan Opperman vir kritiek en leiding voorgelÍ. Sy was gereed vir bundeling, maar Opperman het gemaan: “Verwerk eers die ryk baaierd” van die Europese ervaring. Baie jare het verloop voordat Sheila se debuutbundel, Plektrum, uiteindelik in 1970 verskyn het.

Veel het in die tussenin jare gebeur — hieroor is reeds baie geskryf en dit is ook die onderwerp van ’n groot gedeelte van Jaap Steyn se NP Van Wyk Louw-biografie. Na die beŽindiging van die verhouding met Louw het Sheila in 1956 met die Spanjaard Juan Saladrigas getrou wat sy in Amsterdam ontmoet het terwyl beide by Radio Hilversum gewerk het. Hulle het in Barcelona gaan woon, waar Sheila Katoliek geword het. Twee seuns is uit die huwelik gebore — Jordi, ’n bekende Katalaanse kunstenaar, en Jaime, wat in die toeristebedryf staan.

Na ’n brandongeluk het Sheila, wat gelukkig was om die wonde te oorleef, met erns begin skryf. Eers het die bundel Die Swart Kombuis in 1978 verskyn en daarna het met verbysterende spoed elf bundels binne 15 jaar die lig gesien. Sy het al die groot literÍre pryse in Afrikaans gewen — sommige meer as een keer — en haar werk is daarna in vertaling beskikbaar in uiteenlopende tale soos Hebreeus, Russies, Frans, Duits, Italiaans en Nederlands. ’n Keur uit haar eie werk, wat sy self vertaal het, is onder die titel Poems gepubliseer.

Na haarself verwys Sheila Cussons altyd eers as beeldende kunstenaar en dan as digter. Vir haar staan beeld en woord altyd in wisselwerking met mekaar. Skilderye word gedigte, gedigte word skilderye — letterlik en figuurlik. Haar lewe is verdeel tussen tekeninge en gedigte — vir haar is dit net belangrik om te werk.

Wanneer ek werk is ek die kuns. Ek is die tekening of skildery of die gedig waarmee ek besig is. Slegs wanneer die werk afgehandel is, kry die gedig/tekening/skildery ’n eie lewe, ’n eie individualiteit asof dit vanself ontstaan het, sonder my,

som sy haar eie werk op en voeg dan by:

die hele skeppingsproses en die voltooide werk is ’n misterie.

Oor die taak en die wese van die kunstenaar het Cussons verskeie grootse gedigte geskryf. Vir haar is “kuns en beskouing Írens ťťn aktiwiteit” (Die Blaar). Vir haar gaan dit om die vasvang van woorde en die raakvat van ’n lyn wat gedagtes en emosies vergestalt. Dit is ’n sintuiglike ervaring. “My sintuie is verwisselbaar,/hoor kleure, beluister geure” (Orrel).

Wanneer dit oor haar digterskap gaan, is haar pleidooi sů:

Ek wil woorde hÍ, subtieler
as woorde, subtiel soos ’n blik of fyn gebaar,
iets vinnigs en onverwags
soos ’n nat paddatjie
op ’n boek. Hoe geniaal kan
’n oog nie kyk, ’n hand bedui,
hoe dadelik spring begrip.
O borrels, blink borrels, ondertaals.
                            (Akwaties)

As sy weer as digter aan die woord is, sÍ sy:

Ek praat nie veel, verkies die dink
en skrywe soms iets neer met ink;
van ek my ken knaag dit in my:
die eelt wat in die oester blink.
                            (Digter 1)

Met die fokus op die kunstenaarskap van Sheila het ek wat haar bykans 25 jaar ken, opnuut oor haar veelkantigheid gewonder. Opnuut gedink aan haar herhaalde motto aan my wat ’n onvergeetlike indruk op my gemaak het: “Onthou, die grootste avontuur is die avontuur van dink”, en haar dikwelse verwysing na wat sy doen as ons telefonies praat dat sy “lÍ-dink”, want so maak sy ruimte “vir die engel om deur haar kop te gaan”.

En na alles bly daar tussen al die woorde, indrukke en beelde ’n stuk onverklaarde misterie. ’n Voortdurende stuk verwondering wat my opnuut laat besin oor die vervulling van die mensegees. Waarna hunker die hart? Waarna streef ons? Oor eeue boei die vrae mense, maar tog bly dit met die aanskoue van Sheila Cussons se lewenswerk weer aktueel. Dit is die vrae wat ons elke dag met ons doen en late beantwoord. Ons lewe is ons antwoorde op die vraag na die lewe.

Plato het dit reeds eeue gelede beantwoord met sy verklaring dat ons streef na die Ware, die Skone en die Goeie. Ons vind vervulling in die bereik van kennis, die geniet van wat mooi is en die uitleef van wat reg is. In hierdie verband is die kunstenaar die lewenslange ontdekker en verkenner wat weerstande van onkunde en die illusies van kennis moet oorwin, om ons insigte in die geheimenisse van die waarheid te verryk.

Sů kan ek Sheila se kunstenaarskap dalk iewers vir ’n oomblik vashou — ’n kreatiewe denker, die heldin van die verbeelding wat met nuwe visies en drome ons Afrikaanse geesteswÍreld sou verruim en versugtinge sou stil. Sy is die soeker en verkenner wat haar eie pad volg omdat sy weet dat die mens na meer hunker as die antwoorde van die wetenskap en die kuns alleen. Vrae na waarom en waarheen, na verlede en toekoms, is vir Cussons die antwoorde van die diepste versugtinge van die mensehart.

Sheila Cussons sÍ, soos sy dit self onlangs gestel het, haar eie sÍ en in wat sy sÍ, bied sy ons as leser van haar gedigte of kyker na haar beeldende werk “’n straal sekerheid” dat God Skepper is en in die misterie van die kreatiwiteit hierdie skeppingswerk altyd nuut aan die orde stel.

Haar passie en bewondering is vir die menslike figuur.

Die menslike liggaam is so pragtig en ingewikkeld soos ’n katedraal. Dis ’n pragstuk “bousel” argitektuur van vlees en bloed,

sÍ sy. Vir haar is die naakstudie soos

’n landskap wat deur die oŽ verken word.

Sy vertel graag van haar studiejare aan die Universiteit van Natal en die baie ure wat sy spandeer het om sketse te maak van naak modelle.

Die menslike figuur is die kroon van die aardse skepping. Uitgebeeld naak is ’n staat van skoonheid. Vir die naakte figuur moet daar eerbied wees soos wanneer jy voor of binne ’n wonderlike katedraal staan. Betreding is heilig,

stel sy haar siening en ervaring daarvan.

Alles werk in op mekaar. Die woord en die beeld, die beeld en die woord. Hulle voed mekaar en is ook verlengstukke van elk ander. Dit sluit in en omsluit wat ek as lewe ervaar, ’n alchemie, ’n misterie.

Met die deurkyk van haar tekenboeke wat uit die veertigerjare dateer, die dokumente en foto’s van haar werk wat ek weer deursoek, bly die woorde by my: “Ek het altyd te veel my eie sÍ gehad om te sÍ.” Dit is duidelik. ’n Eie sÍ, ’n eie stem, ’n eie siening, ’n eie mening. In woord en beeld is daar bewys van die “eie sÍ”. Van vroeg af is dit die tekens. Sheila wat anders is, individualisties, en soos sy haarself noem: “’n kluisenaar”. ’n Eie stem met ’n eiesoortige klank.

Ek onthou haar klasonderwyseres by die HoŽr Meisieskool in Pretoria se opmerking: “Sheila het altyd by die venster uitgetuur en haar eie dinge gedink”, en haar mentor DJ Opperman se brief: “Jy het ’n eie stem, verwerk die ryk baaierd van jou ervaringe ...” Daar is ook die opmerking van haar kuns-leermeester Rosa Hope: “You do it your way. It’s different.”

En so het kuns- en letterkundige kritici van vroeg af oor haar werk geskryf. Lees ’n mens nou die kritiek, is dit duidelik dat dit nie oordryf word as die afleiding gemaak word dat Cussons eensoortig is nie.

Ek lees weer ’n ongedateerde aantekening in Sheila se 1942-tekenboek:

Ons is ingewikkelder as wind en water
in namiddag son: meer wisselend
as hierdie laat dag kleure
wat so pyn-stil, so fyn onseker kom en gaan.
                            (Ongepubliseerd.)

Kuns is ’n misterie, sÍ Sheila. Kyk ’n mens na haar tekeninge en skilderye en plaas jy dit naas haar poŽsie, getuig dit van ’n aardsheid wat vir haar ’n religieuse belewing word. Die religieuse ervaring bly egter nie vassteek in die mistieke belewing daarvan nie. Vir haar is die beeld en die woord tasbaar — sintuiglik, ’n viering van die mens as skepping binne die groter Skeppng. Onder die boeke in my besit is twee titels in die Palet-serie — oor Vermeer en Hercules Seghers met Sheila se aantekeninge oor die kunstenaars wat sy later in gedigte vergestalt het. Oor Vermeer is daar ’n essay wat sy kort na haar aankoms in Amsterdam in 1946 geskryf het. Hier praat sy van “die verborge veelvoudigheid” van kuns en die belewing daarvan wat in die kunswerk “oop gevoel, oop gedink” moet word. En dan die stelling:

In alle skilderye behoort daar meer as net die indruk van die eerste blik daarop te wees. Maar iets-meer, of iets-anders wissel van prent tot prent, van skilder tot skilder.

Nou in haar tagtigste jaar wanneer sy op ’n kreatiewe lewe terug kyk wat al op ses jaar begin het, is daar rondom haar statement van vandag ’n “geleefdheid” wat opnuut ’n betekenis gee aan haar jeugwoorde dat kuns “iets-meer, of iets-anders” moet wees. In haar eie werk het sy aan die insig getrou gebly. Sy het altyd haar “eie sÍ gehad om te sÍ”.

Sy word beskou as die belangrikste religieuse digter in Afrikaans en het in haar werk grense verskuif waarin vry en onbevange met God in gesprek getree word. In haar werk omhels sy die lewe — dis ’n viering van behoort — van eiendomsreg.

In die afgelope paar jaar is ’n keur van haar gedigte in twee bundels opgeneem. ’n Engel deur my kop verteenwoordig ’n keur uit haar religieuse werk. ’n Opvolgbundel, die asem van ekstase, gee beslag aan die hoogtepunte van haar niereligieuse gedigte (die keuring wat ek in samewerking met die digter gedoen het).

Sheila was die onderwerp van twee televisie dokumentÍre programme wat in opdrag van die SAUK deur Amanda Botha gemaak is. Talle meesters- en doktorale proefskrifte is oor haar werk geskryf en sy het eredoktorsgrade van die Universiteite van Natal en Potchefstroom ontvang. Sy is ook deur die Vatikaanstad vereer vir haar bydrae tot die Katolisme.

Sheila woon sedert 1981 weer in Kaapstad.

Cussons se werk is ’n viering van lewe, die vergestalting van die vreugde van behoort, en dit is geplaas in die seker wete dat alles wat is, beslag het in ’n groter kosmiese plan.

Die seker wete dat jy behoort, is ’n wesentlike deel van die reis waarop ons is — die reis na God, jou medemens en jouself. Dit is ook gewortel in die besef dat jy altyd onderweg is en jou heelheid vind op reis in en deur die uiterlike en innerlike landskappe van jou menswees. Die voortdurende resultaat is die bewustheid van jou tuiste — die stempel wat jy identiteit noem. Jou tuiskoms bevestig jou menswees.

’n Intrinsieke deel van Sheila Cussons se poŽsie handel oor die tuiskoms in jouself — die viering van jou plek — die herkenning van die stasie van jou bestemming. In hierdie reis word die innerlike en uiterlike landskap verken en gevier. Dit word uiteindelik ’n viering in oorgawe en toewyding, maar ook ’n speelsheid wat die vreugde van menswees omhels.

Vir Cussons gaan dit om die behoort en deel wees. Dit is die skering en inslag van die behoefte om deel te wees — om te behoort aan God, jou land, jou taal, jou mense en jouself. Dit word ’n vreugdereis waar Cussons spelend met haar palet ’n kleurefees van emosies verwoord.

Ons stap met ’n ligter tred — want ons kom daagliks nader aan ons heelheid. Ons kan ons menswees vier en feesklere aantrek.

Lesing gelewer te Bloemfontein-fees ter viering van Sheila Cussons se 80ste verjaarsdag op 9 Augustus.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.