SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

'n Verskeurde mens se soeke na heling en gemoedsrus

Chris van der Merwe

Bestel hier’n Stringetjie blou krale
E K M Dido
Kwela Boeke
R69,95

In J M Coetzee se Disgrace spreek die hoofkarakter die oortuiging uit dat “English is an unfit medium for the truth of South Africa”. Dit gaan in die betrokke passasie veral om die vertelling van die verhale van swart mense; die implikasie is dat dit in ’n inheemse taal vertel moet word. Sou Afrikaans geskik kon wees vir die verhale van swart mense? Wel, so pas het ’n roman verskyn, so van Afrika as wat kan kom, oortuigend en eg, en dit sowaar in Afrikaans. Ek bedoel E K M Dido se derde boek, ’n Stringetjie blou krale.

Dit handel oor ’n vrou wat in ’n kraal grootgeword het in een van die “laere” van die Transkei. (Wat ’n mooi woord vir wat ek geleer is om ’n “stat” te noem.) Om ’n goeie skoolopvoeding te kry, verlaat sy die laer en word deur bruin mense aangeneem sodat sy ’n skool vir bruin kinders kan besoek. Mettertyd vergeet sy heeltemal van die familie waaruit sy voortgekom het. Wanneer ekonomiese ontwikkeling stagneer met die “vrywording” van die Transkei, vertrek die gesin na die Kaap, sodat die bande met die Oos-Kaap skynbaar finaal verbreek word. Die hoofkarakter voltooi haar opleiding as verpleegster en word ’n dosent in verpleegkunde.

Dan begin die nagmerries haar egter pla, met ’n geheimsinnige vrou wat telkens in haar angsdrome verskyn. Op advies van haar pleegouers besoek sy ’n sangoma, wie se “stringetjie blou krale” allerlei pynlike herinneringe by haar wakker maak. Haar moeder het naamlik sulke krale gebruik om haar kinders se ouderdom te onthou — elke jaar is een kraaltjie bygevoeg by elkeen se string. Dit blyk later dat die vrou wat die hoofkarakter in haar drome besoek, in werklikheid haar moeder is — sy ervaar nou die gevolge van die vergeet van haar kinderjare en van die onderdrukking van ’n deel van haar identiteit.

Die sangoma vra haar oor haar agtergrond uit, en tydens hul gesprekke word die hoofkarakter se verlede geleidelik ontvou. Twee verhale word ineengevleg: die verhaal van die verlede, vertel in die verledetydsvorm, en die verhaal van die hede, vertel in die presens. Die verstrengeling van die twee verhale dui op hul verbondenheid: die stresvolle situasie van die hede is naamlik ’n uitvloeisel van die storie van haar jeug.

Die krisis van die hoofkarakter is ’n identiteitskrisis. Sy is iemand met twee name wat met twee identiteite verband hou — die Kleurlingvrou Nancy Hendriks (wat deur haar huwelik ’n verdere naam kry: Nancy Karelse) en die Xhosa-meisie Nomsa. Wanneer die sangoma haar adviseer om na haar huis te gaan, is die probleem dat sy twee huise het: die huis van haar pleegouers en die huis in die laer in die Transkei. Sy het ook twee ouerpare: die bruin mense Jan en Siena en haar Xhosa-moeder in die Transkei. Wat dinge verder kompliseer, is dat haar biologiese moeder haar pa se tweede vrou was; daarom het haar pa se eerste vrou, die senior vrou, ook in sekere opsigte as haar moeder opgetree.

Nancy ly op ’n intense manier deur iets wat baie mense in Suid-Afrika, waarskynlik die meeste, in mindere of meerdere mate ervaar: veelvuldige identiteite, trekkragte in verskillende rigtings. Ter wille van geleerdheid en materiële vooruitgang word sy genoodsaak om haar oorspronklike agtergrond te verstoot; maar dit is juis hierdie versaking wat haar in haar latere lewe groot sielkundige probleme besorg. Sy moet leer hoe om dit wat sy by geboorte ontvang het, te versoen met dit wat sy in die loop van haar lewe aangeleer het; om al die verskillende kante van haar persoonlikheid te aanvaar; en om niks van wat sy is, voor ander of vir haarself te ontken nie.

Nancy se innerlike genesing moet op verskillende maniere tot stand gebring word. In die eerste plek moet sy die verlede wat sy oor soveel jare verberg het, aan die sangoma openbaar. Ook moet sy die laer van haar kinderjare besoek om die verwaarloosde skakels met die verlede te herstel. Verder moet sy haar skuld teenoor twee Xhosa-ma’s bely en van hulle vergiffenis ontvang. ’n Stringetjie blou krale is die verhaal van ’n verskeurde mens se soeke na heling en gemoedsrus.

’n Leser van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena het destyds verklaar dat die boek haar met nuwe oë na haar tuinier laat kyk het. Dido se Stringetjie blou krale sal baie mense met nuwe oë laat kyk na hul landgenote wat “anders” is. Wat in Dido se boek besonder boeiend is, en dikwels uiters humoristies, is die verwondering waarmee die een wat “anders” is, kyk na dinge wat vir die meeste lesers vanselfsprekend is. Nancy / Nomsa word soos volg deur haar ma voorberei wanneer sy na die bruin mense van die dorp vertrek:

“‘Die dorp se mense is snaaks met snaakse maniere,’ het sy gesê. ‘Hulle het nie ons goeie maniere nie. Selfs van ons ‘ander mense’ wat daar bly, het die dorp se slegte gewoontes aangeleer. Daar in die dorp is die vrouens nie tevrede met hoe hulle geskape is nie. Hulle dra broek. Nes mans. En dan dra groot getroude vrouens weer kort rokke nes jong meisies.’ Sy’t haar neus opgetrek en in die vuur gespoeg terwyl ons na asem gesnak het. Vrouens wat broek dra! Ek het gewonder hoekom hulle my dan na so ’n plek toe wou stuur.”

Soms lei die moeder se verwondering haar tot hiperbole:

“Die wit man is nes hulle geroep word. Hulle is wit en uitgebleik. Nes daai laken wat ek en julle mama vir julle oorle tata uit die meelsakke gemaak het. Yhu! Hulle oë! Lelike grasgroen goed wat weerlig blits as hulle kwaad raak. En in die donker blink hulle. Nes ’n kat s’n. ’n Mens is vir jou hele lewe lank ongelukkig as jy in daai groen oë kyk. Sommige van die bruin mense het ook sulke lelike oë. En die wit man se hare lyk soos droë geel gras. Lank en reguit. Dis so lank dat dit op die grond sleep” (pp 48-49).

Die verwondering is wedersyds wanneer die ontmoeting plaasvind. Joyce, Nancy se nuwe Kleurlingvriendin op die dorp, kan haar oë nie glo dat Nancy geen “bloomer” dra nie:

“Jirre, hoe’s dit dan met julle mense? Maak julle dan nie julle dose toe nie?” wil sy weet (p 58).

Soos Poppie Nongena, is ’n Stringetjie blou krale in meer as een opsig ’n reisverhaal. Dit vertel van fisiese reise wat ook geestelike reise is; van die reis van die laer na die dorp, van die Oos-Kaap na die Wes-Kaap; van Xhosa tot Kleurling. Dit is ’n innerlike reis van identiteitsveranderings en aanpassings wat dikwels heroïese afmetings aanneem. Naas die innerlike reis van Nomsa tot Nancy, vind ook ’n teenreis plaas, van Nancy tot Nomsa, terug na haar wortels.

As mens én as skrywer, is Dido in wese verpleegkundige. Sy is soos MER, geïnteresseerd in die oplossing van maatskaplike vraagstukke; in Dido se geval, in vraagstukke soos identiteitsverloëning, rassisme in die “nuwe Suid-Afrika” en die trauma van egskeiding. Die didaktiese element doen selde afbreuk aan die meevoerende verhaal waarin hierdie kwessies aangeraak word. Slegs heel teen die einde, by die trauma van Nancy se egskeiding, het ek gevoel dat die didaktikus die oorhand oor die verteller kry. Deur ’n toevallige gebeurtenis word die verhaal gemanipuleer sodat haar gewese eggenoot sy straf ontvang en Nancy se verhaal in die rigting van ’n “happy ending” neig.

Maar my oorheersende reaksie op die boek is: ’n Stringetjie blou krale behoort verpligte leesstof vir almal in Suid-Afrika te wees. Is dit te idealisties om te hoop dat dit (onder andere) in al die landstale vertaal sal word? In die innerlike konflikte van Nomsa / Nancy is baie van die verdeeldheid van ons land saamgevat; haar reis tot versoening is ’n reis wat vir elkeen ter sake is. Dis lank laas dat ek ’n boek gelees het wat so boeiend, so relevant en so hoopgéwend is.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.