SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Finale bloeisel

Helize van Vuuren

Sirene van bloeisels
Nou te koop
Sirene van bloeisels
Stephan Bouwer
Human & Rousseau
2000
63 bladsye
ISBN 0-7981-4017-8

“Ek het net vir jou kom sê dat ek weggaan ...” begin die gedig “Exit” in Bouwer se bundel Soldag (1973). In dertig jaar gelede se gedig gaan dit om ’n skeefgeloopte verhouding. Die finale afskeid is ’n digterlike pose. Met sy vierde digbundel, postuum gepubliseer ’n jaar na sy premature dood op 50 in Julie 1999, is Bouwer se oeuvre egter voltooi en die digter finaal in sy eie woorde ’n “verlore stukkie in (die) legkaart” van die Afrikaanse poësie. Hoewel sy debuutbundel, So sal ons uitpasseer (1969), volgens die kritikus A P Grové duidelik “die aandag gevra het”, het Bouwer se digterskap ongelukkig nie op enige merkwaardige manier hierdie vroeë belofte waargemaak nie. Sy debuutbundel, Soldag (1969), en So sal ons uitpasseer (1973) is opgevolg met Portrette, private dele & kanttekeninge (1980). Hierdie vierde en laaste bundel verskyn na twee dekades van digterlike stilte.Waarskynlik sal hy literêr-histories as digter veral onthou word om die gay-tematiek en veral liefdesverse wat hy reeds relatief vroeg in die Afrikaanse poësie ingebring het. Hiermee was hy ’n padwyser en baanbreker namens latere digters soos Johann de Lange en Joan Hambidge.

Sirene van bloeisels is ’n dunnerige bundel wat naas binne- en buitelandse reise, verse oor die huislike sfeer en skrywersblokkasie, veral donkergestemde verse met motiewe soos insomnia, siekte, depressie, selfmoord en dood bevat. Tussen die vyf lykdigte is dit veral die vers oor Koos Prinsloo, “In memoriam: Koos (06.03.94)” wat opval en onwillekeurig ’n vergelyking met Johann de Lange se memorabele gedenkvers, “Koos Prinsloo (1957-1994)” oproep. Bouwer tree in gesprek met die gestorwe skrywersvriend en via ’n oënskynlik lughartige dialoog (“Melina Mercouri / (sy’s mos ook vandag vort: / wat ’n fabulous reisgenoot!”) vang hy iets van die persoonlikheid van Prinsloo vas: “Jy sal altyd sardonies pronk. / En jy bly vir altyd jonk.”

Die bundeltitel is ontleen aan die slot van die kort en enigsins raaiselagtige vers, “Is dit dan reg?”:

    Ons eerste aanraking is ’n klap op die gat
    Ons eerste uiting is ’n bloedstollende gil
    O alla: die geloei van suurlemoenbloeisels

Overgeset synde: ons kom hardhandig in die wêreld, en reageer luidrugtig protesterend daarop. Dié gegil van die pasgebore baba word beeldend blykbaar gelykgestel aan ’n “geloei” — in die titel vervang met “sirene” — van “suurlemoenbloeisels”, d w s van die pas ontluikende. Die vermenging van die romantiese, geurige “suurlemoenbloeisels” met die krasse “geloei” / “sirene” stel twee pole daar wat dwarsdeur sy poësie sentraal staan: skoonheid teenoor aanduidings van geweld, liefde teenoor dood, samesyn teenoor depressie. Die informele spreektaal (“’n klap op die gat”) en humoristiese wendings (“o alla”) is ook tiperend van Bouwer se verse.

Hoewel die bundel klein van omvang is, getuig die taalbeheer van ’n ervare woordkunstenaar. So is “Maanbesoek: ’n verslag” ’n heerlike satiriese vers kompleet met sardonies-beluisterde dialoog oor ’n besoek aan die “maanlandskap” van die Kalahari saam met ’n groep macho-mans. Ook “Blêrwoorde (opgedra aan lawrence ferlinghetti” is ’n vermaaklik-satiriese “proemdra” of prosa-gedig wat getuig van ’n besonderse talent vir die absurde en vir dramatiese voorstelling. Die spreker “word een saterdagoggend wakker met die wete dat (hy) soos ’n skaap blêr”. Hy gaan oral op soek na raad, en lui ten einde sy ma in die hemel:

    “tot ’n mof eindelik antwoord hy sê die hemel se nommer is not listed but I will make an exception in your case because you sound like a sincere mofskaap fok hom ook maar ek wag geduldig terwyl hy met sy rekenaar speel en vir ’n moffie langs hom sê ek gaan maar vir hierdie outjie die hemel se nommer gee hy klink vir my ok ek bel dadelik en sidder oor my telefoonrekening want die vriendelike engel by die hemel se sentrale verwittig my dat hulle nie kollekteeroproepe aanvaar nie ek kom sommer gou by ma mimmie uit wat sê my lam wat ’n heerlike verrassing om van jou te hoor ek sit juis met jou eerste kat aamahl en jou eerste mopshond miss piggy op my skoot kompleet soos die leeus en lammers wat hier saamlê en drink my derde kopie five roses tee maar wag hier is ’n paar ander wat ook bly sal wees om van jou te verneem ...”

Die bundel is besonder mooi uitgegee met ’n treffende omslagfoto van ’n lang beskaduwde pilaregang begroei met rooigetinte klimop-blare. Dis met ’n gevoel van verlies dat die leser besef hierdie bundel sluit Stephan Bouwer se oeuvre finaal af.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.