SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Om oor voëls gedigte te skryf[1]

JOHANN LODEWYK MARAIS


Dames en Here

Ek kan nie oor Aves buite ’n konteks praat nie. By hierdie geleentheid wil ek daarom kortliks aan twee onderwerpe aandag gee:

  • eerstens, die klimaat of omstandighede waarin hierdie bundel ontstaan het en gepubliseer is, en

  • tweedens, meer oor die bundel self.

    Hopelik sal hierdie voëlvlug u ’n kykie in die werkswinkel van die eietydse digter gee en u miskien ook lus maak om die bundel aan te skaf en te lees.

    Die digter is vandag in ’n enigsins onbenydenswaardige posisie en daar kan met reg gevra word watter betekenis dit het om (nog) gedigte te skryf. Tradisioneel is die poësie waarskynlik beskou as die belangrikste genre in die letterkunde en is die status van die literatuur gevolglik vir ’n lang tyd aan die prestasies van sy digters gemeet. In die Afrikaanse literatuur was digters ook groot figure: C Louis Leipoldt, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, DJ Opperman en Peter Blum. Die afgelope jare het veral digters soos Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström, Antjie Krog en TT Cloete hulle by hierdie hooffigure in die Afrikaanse literatuur gevoeg.

    Verskeie faktore het egter meegebring dat die digter, en bowenal die Afrikaanse digter, vandag nie meer seker is van sy posisie nie. Die volgende los versreël uit een van my aantekeningboeke van ’n klompie jare gelede is gewoon nie meer waar nie:

    Die digter is nie ’n bedreigde spesie nie.

    Die belangrikste faktore wat tot hierdie veranderde posisie bygedra het, is die volgende:

    1. Die onseker posisie van Afrikaans.
    2. Kwynende studentegetalle in Afrikaans aan tersiêre inrigtings.
    3. Die swak verspreiding van Afrikaanse boeke en digbundels, ten spyte van ontkennings in hierdie verband.
    4. Die onwilligheid van uitgewers om digbundels te herdruk.
    5. Die min digbundels wat Afrikaanse uitgewers (veral Human & Rousseau en Tafelberg) in die loop van die afgelope dekade gepubliseer het.
    6. Die stand van die Afrikaanse poësiekritiek en die afwesigheid van studies oor eietydse digters.
    7. Die gebrek aan voldoende tydskrifte waarin digters hulle werk kan publiseer.
    8. Die reputasie van “eksklusiwiteit” wat aan die Afrikaanse poësie kleef.

    Boonop beklee die poësie vandag wêreldwyd nie meer die uitsonderlike posisie wat hy vantevore gehad het nie. Volgens Jonathan Culler het die situasie gedurende die twintigste eeu dramaties ten gunste van die prosa verander en is die poësie nie meer as die verpersoonliking van die literatuur beskou nie.

    Maar die letterkunde is steeds soos ’n eksosisteem: as één genre in gevaar is, kom die hele sisteem onder druk. Die feit dat die poësie deesdae onder druk is, behoort dus as ’n waarskuwingsteken te dien. Alle genres in die Afrikaanse letterkunde behoort gesond te wees en alle aspekte van die sisteem moet in gesonde wisselwerking verkeer. Daarom deel ek ook die kommer onder baie mense oor wat tans in ons uitgewersbedryf aan die gebeur is.

    Dit is moontlik nie die regte noot om ’n gesprek oor die poësie op te begin nie, maar dit is belangrik om realisties te wees oor die posisie van die skrywer. Daarom is dit des te meer vir my ’n vreugde dat u vanaand wel hier saam met my kan wees om die verskyning van Aves te vier. Daar is immers één uitgewer, Nicol Stassen van Protea Boekhuis, wat nie by my in die beskuldigdebank staan nie. Anders sou daar nóg ’n manuskrip in die laai gelê het en was daar nóg ’n gefrustreerde digter.

    Aves was immers vir my ’n besondere projek, soos die werk van ander digters sekerlik ook vir hulle besondere projekte is. Met hierdie digbundel het ek naamlik oor ’n onderwerp probeer skryf wat my om meer as een rede geïnteresseer het. My belangstelling in die voëls is immers vroeg reeds geprikkel, soos uit die volgende gedig duidelik behoort te wees:

    In die begin

    En Pa het gesê: “Laat ons ’n boek kry
    sodat ons die voëls se name kan leer,”
    en op die dorp Prozesky se Ons voëls
    by Havenga Boekhandel gaan bestel.

    “Maar kyk, die boek het dan nie prente nie!”
    kla Pa nadat dit afgelewer is.
    “Hoe weet ons watter een is watter een
    as ons op die plaas na die voëls wil kyk?”

    Saans het die tarentale oor die werf
    na hulle rusplekke toe aangekom
    en die twee rooivlerkspreeus het lank gefluit
    en onder die stoep se plat dak kom slaap.

    Toe Pa een aand weer in die boek rondblaai,
    begin ’n tortel in die reën te koer.
    “Luister! Oorle Ma het altyd vertel
    hy sê vir ons die son gaan môre skyn.”

    Die volgende dag loop ons op die bult
    al met ’n nat paadjie langs toe meteens
    sewe ylerige langbeenveldvoëls
    naamloos en verskrik deur die kort gras draf.

    Op die plaaswerf in die distrik Harrismith waar ek grootgeword het, was daar baie voëls: mossies, vinke, jangroentjies, digtebye, witgatspreeus, kuikendiewe. As ons in die berge gaan ry het waar my pa gespekuleer het, het hy dikwels vir my die voëls langs die pad gewys: bleshoenders, bloukraanvoëls, aasvoëls, lammervangers, wildekalkoene. Maar die meeste van hulle sou eers veel later name kry.

    Hierdie “veel later” het gekom toe ek een van duisende Suid-Afrikaners (en miljoene mense dwarsoor die wêreld) geword het wat begin het om voëls te kyk. So laat as 1988 het ek my eerste voëlgids aangeskaf: Kenneth Newman se Voëls van die Nasionale Krugerwildtuin. Dit was die eerste van die sowat veertig voëlgidse en ander voëlboeke wat ek oor die jare gekoop het. Met hulle kleurfoto’s en kleurplate is hulle van die mooiste boeke wat daar is. Ek kon heeltemal goed verstaan waarom iemand soos CF Finch-Davies nie sy hande van hierdie kleurplate kon afhou nie.

    Maar daar was ook ander prikkels. Gedurende die negentigerjare het my loopbaan by die RGN ’n ander wending geneem as wat ek beplan het. Nadat ek enkele jare lank as letterkundige navorser gewerk het, het ek ná een van die organisasie se talle pynlike herstrukturerings as sosiale navorser die geleentheid gekry om heel uitgebreid navorsing in landelike gebiede te doen. Daar kon ek met mense onder maroelabome en by hulle huise oor armoede, dambouprojekte, landbou-organisasies, bestaansboerdery en onwettige immigrante gesels.

    En voëls kyk. En ook iets vir die voëls doen toe ek as mede-outeur van ’n impakstudie ’n vername en oorywerige ingenieur verhoed het om vir die Dorpsraad van Nylstroom ’n dam te bou wat ’n nadelige invloed op die Nylvloedvlakte sou hê. Die pyplyn vanaf die Roodeplaatdam waarop uiteindelik besluit is, is nog steeds iets waarop ek trots is en een van die min konkrete dinge waarop ek as navorser kan terugkyk. Luister dan net hoe die voëls om die voëlkundige Warwick Tarboton, wat saam met ons teen die dam baklei het, se huis saamgetrek het:

    Huis van die ornitoloog
    Vir Warwick Tarboton

    Die huis van die ornitoloog groei bruin
    uit die vleigrond van die vaal savanne.

    Snags kom die roerdomp se dreunende roep
    by die helder, wagtende vensters in.

    Die huis van die ornitoloog hou uit
    op hierdie krimpende grasvloedvlakte

    waar die rooidatareier weer ’n keer
    tussen rysgras en riet haar eiers lê,

    die koringvoëls in die geel soetdorings
    paar en haastig hulle grasneste bou,

    en beskeie blousysies gelok word
    na die saad op die somerdroë werf.

    Die roerdomp se geroep uit die palmiet
    verwen die huis van die ornitoloog.

    Dit was tydens hierdie jare as sosiale wetenskaplike wat ek intens met ander dissiplines kennis gemaak het, toenemend in die verhouding tussen literatuur en wetenskap geïnteresseerd geraak het, en begin het om die digotomie tussen hierdie wêrelde grondig te bevraagteken. Wat byvoorbeeld gemaak as ’n mens in sowel die kuns as die wetenskap geïnteresseerd is? As die figure wat jou van kleintyd af die meeste geboei het, min of meer in chronologiese orde soos ek hulle leer ken het, die hartchirurg Chris Barnard, die digters Dirk Opperman en Pablo Neruda, die viskundige JLB Smith, die filosoof Martin Heidegger en die etoloog Jane Goodall was en jy “weier om te kies”?

    Jy probeer om in “verskillende” wêrelde te leef en oor die grense te beweeg. Daar was immers al voorbeelde van bellettristiese skrywers wat goed in die wetenskap onderlê was en daaroor geskryf het. Van hierdie skrywers het bygedra tot die popularisering van die wetenskap, wat dikwels vir die gewone publiek moeilik verstaanbaar is. In die Afrikaanse literatuur kan die name van skrywers soos Eugène N Marais, Leipoldt, Jan Rabie, Cloete en PC Haarhoff in dié verband genoem word.

    Dames en here, ons leef in ’n era wat ’n hoë gebruikswaarde op dinge, ook die natuur, plaas. Ons hoor immers dikwels dat diere as ‘t ware vir hulle reg tot voortbestaan moet betaal of anders die gevaar van uitsterwing moet loop. Uit die insigte van die natuurwetenskappe kan ons aflei dat elke spesie uniek is en op ’n unieke wyse geleer het om hom aan te pas. Daarom was dit vir my belangrik om in Aves in die individuele gedigte oor die voëls vir elkeen sy wetenskaplike naam te gee. Elkeen het ’n reg op voortbestaan ook buite die wêreld van die mens, soos die paradysvoëls van Nieu-Guinee waaroor die evolusionis Alfred Russel Wallace en daarna die natuurkundige en TV-aanbieder David Attenborough en die digter TT Cloete hulle verwonder het. Of die waterploeër wat ons in die noorde van Botswana kan gaan besigtig en waaroor die volgende gedig in Aves handel:

    Waterploeër
    Rynchops flavirostris

    Hy vlieg bo die water verby,
    ’n bruinwit pyl wat daaroor gly
    en die stroom in twee dele sny:

    die Okavango verdeel en bly
    deur sy snawelpunt geskei  
    alkant papirus, en daartussen hy.

    In Aves is op uiteenlopende maniere erkenning gegee aan digters, natuurwetenskaplikes en gewone mense wat my gehelp het om die uniekheid van die wêreld van die voëls raak te sien. Dit is ’n manier om dankie te sê. Vanaand wil ek egter ook dankie sê aan ’n hele aantal persone wat die verskyning van hierdie bundel moontlik gemaak het. Aan Renée my opregte dank vir haar hulp. Aan Martjie Bosman, Johann de Jager, adv Henk Havenga, vader Bonaventure Hinwood, Ina Stahmer en Paula van Rooyen, wat almal op een of ander manier gehelp het met die verbetering van die manuskrip. Aan die keurders van die manuskrip, drr DPM Botes, Karen de Wet en Daniel Hugo, vir hulle verslae en voorstelle. Aan Karen ook vir vanaand se toespraak. Aan prof Morne du Plessis, direkteur van die Percy FitzPatrick Instituut vir Afrika-ornitologie aan die Universiteit van Kaapstad, wat die wetenskaplike korrektheid van my beskrywing nagegaan het. Aan mnr Ulrich Oberprieler van die Nasionale Dieretuin, by wie ek drie voëlkursusse bygewoon het, wat my horisonne verruim het. Aan Hendrik en Teresa en al die ander wat saam met my gaan voëls kyk het. Aan mnr Jo Roos, wat die tekening vir die omslag gemaak het. Aan Tienie du Plessis, wat die tipografie en ontwerp op so ’n manier gedoen het dat dit vir my een van die mooiste digbundels is. Aan Jeanette Ferreira vir haar insette. Aan Leti Kleyn vir die entoesiastiese en voortreflike reëlings vir vanaand. Aan Louis Pretorius vir sy pragtige voorlesings uit my gedigte. En laaste maar nie die minste nie, aan Nicol Stassen wat vertroue in die bundel gehad het en my aangemoedig het toe die bundel nie uit die dop wou kom nie. En aan u almal vir u teenwoordigheid.

    Dankie.


    [1]Toespraak gelewer tydens die bekendstelling van Aves op 9 Mei 2002 by Up the Creek in Pretoria.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.