Die skrywersberaad open op 12 Julie, waarna ses paneelbesprekings op die internet sal volg. Die beraad sal oor n aantal weke strek.
Heindrich Wyngaard
MOTIVERING
Onder Afrikaanssprekendes gis en woel dit tans soos in die geledere van geen ander taalgroep in Suid-Afrika nie. Ongekende energie word gegenereer in Afrikaanssprekendes se strewe om hulself binne n nuwe magsbedeling te posisioneer en die skeppende energie van Afrikaans verder te ontgin.
Dit is noodsaaklik dat hierdie gesprek volgehou en uitgebrei word na alle Afrikaanssprekendes.
Gedagtig aan die historiese Sestiger-byeenkoms aan die Universiteit van Kaapstad in 1973 en die Afrikaanse Skrywersgildeberade van die verlede, wil LitNet en die Taalsekretariaat, in samewerking met die UK en die UWK, opnuut n skrywersberaad aanbied maar hierdie keer op die internet.
LitNet geniet tans ongeveer 90 000 bladsyversoeke per maand en word beskou as dié sosio-literêre en taalpolitieke gespreksruimte vir Afrikaanssprekendes op die internet. Die hoofbestuurder en uitvoerende redakteur van LitNet is die skrywer Etienne van Heerden.
Die Taalsekretariaat van André van der Walt beywer sigself vir die bevordering van Afrikaans en die ander inheemse tale as toereikende kommunikasiemiddele van sowel moedertaal- as niemoedertaalsprekers. Die Taalsekretariaat borg al geruime tyd projekte by onder meer die Iilwimi Sentrum vir Veeltaligheid en Taalprofessies aan die UWK.
Die beraad sal kosteloos deur enige internetgebruiker wêreldwyd gevolg kan word. Enige beraadganger kan onmiddellik op referate reageer deur sy opinie per e-pos aan LitNet te stuur en só deel van die beraadgesprek word.
AARD VAN DIE BERAAD
Die LitNet/Taalsekretariaat Afrikaanse Skrywersberaad sal volledig op die internet plaasvind, op die LitNet-webruimte by litnet.mweb.co.za. Dit sal op 12 Julie n aanvang neem en oor n aantal weke strek.
Ses paneelbesprekings sal aangebied word, met verskeie virtuele referate per paneel. Bykans 40 Afrikaanse skrywers en denkers neem deel.
n Webruimte (SêNet) sal vir die duur van die beraad beskikbaar wees om vir 24 uur per dag reaksies van die publiek op die referate te plaas.
Hou kykNET (DStv) se Kunskafee dop (die LitNet-gleuf) vir verdere beraadnuus, asook LitNet se gleuf op Boekepunt, Radio Punt se boekeprogram, gelei deur Susan Booyens.
Die referate asook die openbare reaksies sal op LitNet geargiveer word en vir n onbepaalde tyd beskikbaar wees vir navorsers die beraad behels dus gesprek sowel as internetpublikasie.
ADVIESKOMITEE