SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersberaad-argief

Skrywersberaad




  Joan Hambidge
is digter, teoretikus, kritikus en romanskrywer. Haar poŽsie is bekroon met die EugŤne Marais-, Litera- en Poetry Institute of Africa-pryse en daar het al sestien bundels uit haar pen verskyn. Sy het ook drie romans gepubliseer. Lykdigte is reeds in die tweede druk en was sowel Beeld as Die Burger se boekklubboek van die kwartaal. Haar jongste bundel, Ruggespraak, verskyn in November 2002. Sy is professor in Afrikaans en Neerlandistiek aan die UK. Sy bied onder meer ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan, en ook ’n MPhil in kultuurstudies. Sy is tans besig met ’n vertaling van haar verse in Engels: The Coroner’s Wife.

Hibriditeit en die internet

Die bestaan van die internet het ’n verregaande uitwerking op ons denke. Kennis kan verkry word deur op ’n enkel knoppie te kliek (search) en van webruimte na webruimte — so dansend tussen die verskillende planetestelsels — word inligting binne ’n ommesientjie aan die leser / ondersoeker bekend gestel.

Swart koring
Donker Labirint
Geslote baan
Die swart sluier
Lykdigte
Nou te koop
Daar bestaan eweneens vele tekste wat as sogenaamde rigtingwysers fungeer vir die ondersoeker wat dikwels te staan kom voor die uiteenlopende en problematiese kwessie van hibriditeit. Op LitNet, byvoorbeeld, ’n tydskrif van die internet, word hierdie kwessie uiters goed geÔllustreer. In die briewe-afdeling, SÍnet, word lesers se griewe / menings / wyshede uitgestal.

Die onlangse Boetman-debakel, te wete die ope brief van Chris Louw in Beeld aan dr Willem de Klerk, het ook op LitNet sy beslag gekry. Maar nie alle menings het ewe of gelyke waarde nie. Dit is juis dan een van die opvallendste probleme van die sogenaamde internet-gesprek of -debat. Dit illustreer die implikasie van die postmodernisme: die gemiddelde deelnemer kan nou onmiddellik sy stem “hoor” of sy brief “sien”. In die ou dae met Tydskrif vir letterkunde en Standpunte was daar letterkundige keurders, en strenges daarby, waardeur die brief / gedig / verhaal moes gaan. Dan het dit ook langer geneem vir die teks om te verskyn en die jong skrywer sal ook onthou met hoeveel trots sy / haar debuut in Standpunte aangekondig is. Selfs ’n oproep van Ernst van Heerden, saliger, het die goedkeurende stempel gedra. Die net se gate is groter en kleiner vissies swem neffens groot walvisse.

Dit is dus nou gouer, selfs makliker om te “debuteer” op LitNet. Die ou-wÍreldse snobisme van D J Opperman en ander hekwagters het plek gemaak vir ’n loslit, sÍ-sommer-aanslag. Die implikasies van die postmodernisme, naamlik die verdwyning van grense tussen hoŽ en populÍre letterkunde, het aangebreek. Daar word dikwels ook ’n nuwe skrywer aangekondig en by die lees van die verhaal wonder ’n kritiese leser of die verhaal werklik so goed was. Maar volgende week is daar ’n nuwe inval, ’n ander stem.

Ook is die hibridiese aard opmerklik uit die skep van identiteite, skuilname, nom de plumes, of watookal. Was en is Chanel Britz ’n regte persoon of eerder ’n hibried van verskeie beswaarmakers teen die heersende gevoel oor taalvermindering?

Die dood van die outeur, in Roland Barthes se terme, is dus eweneens aanwesig. Die skrywer kan ’n persona skep (Perfidia Pansegrouw, Koekie Ziervogel) wat deelneem aan letterkundige debatte as sou hulle “werklike” mense wees. Daar is dus nou groter ruimte vir personasie-spel.

Ook het e-pos deel geword van ons daaglikse denke. Selfs al reis ’n mens, ontvang jy jou korrespondensie. Die brief het nou ’n vinnige boodskappie geword. Terwyl ek hierdie essay skryf, dink ek aan die verreikende en verrykende aspek van hierdie medium. My kollega Etienne van Heerden nooi my uit om deel te neem via e-pos en in die verre VSA, waar ek daagliks my pos via MWeb se sogenaamde “airmail” lees, ontvang ek sy uitnodiging.

Ek lees die boodskap in Soho, New York in ’n internet-kafee. Begin skryf aan my bydrae op my Compaq Armada. Die teks sal via “airmail” vanaf mwj.ham@mweb.co.za versend word na etiennev@mweb.co.za. Op voorwaarde die sogenaamde aanhangsel of “attachment” raak nie verlore iewers in die kuberruim nie.

So word tydsgrense eweneens opgehef. Ek hoef nie te wag totdat ek in Suid-Afrika is nie. Ek kan vanuit Cambridge, Massachusetts my siening oor hibriditeit versend. So hibridies is hierdie ruimte dat my siening van die VSA — voorheen was jy in die vreemde, ver van huis en haard — opgehef word deur in te gaan op e-pos. Sodoende kan ek onmiddellik (die ses ure tydsverskil daargelaat) bewus wees van die jongste polemieke, skandale, rugstekery, et al.

So vinnig as wat die leser / ondersoeker beweeg op die e-pos, kan dit ook natuurlik ge-”foreward” of aangestuur word na ’n nie-aangesprokene. So kry stories gouer lewe en word die oorspronklike bedoeling (for your eyes only) opgehef en word een leser vermenigvuldig tot verskillende lesers. Daar is dus geen privaatheid nie. Die enkel leser word ’n vliegoog van verskillende (onbedoelde) lesers.

Ook is die metafore interessant wat tot dusver gebruik is en ironies genoeg illustreer dit juis die hibridiese aard van die medium: planetestelsel; visnet; vliegoog.

Edgar Allan Poe se verhaal “The purloined letter” bied die titel vir Janet Malcolm se The purloined clinic. As teoretikus het sy belangrike studies oor veelheid en hibriditeit geskryf (onder meer oor Sylvia Plath in The silent woman). Ons ken almal die verhaal van die brief wat wederregtelik geneem word, maar nie raakgesien kan word nie, omdat dit reg voor ons staan en dit neem die wyse ou Dupin om ons hierop attent te maak.

Dieselfde geld die implikasies van hibriditeit. As ego-grense verskuif, privaatheid opgehef word, alles hier reg voor jou sit, moet dit implikasies hÍ op ons definisie van self, letterkunde, privaatheid, teks.

Die self wat sowel lees as skep, is nie meer enkel nie, maar gesplete, meervoudig. Letterkunde word letterkundige praktyk want verskillende seggings vorm deel van die diskoers. Privaatheid word opgehef, tensy dit ’n personaspel is. Interteks is nou inter-inter-teks.

Meer nog, die gebruiker van die internet kom voor nuwe kwessies te staan: virusse, die “airmail” wat weier om oop te gaan weens die besige internetverkeer, ’n verkeerde toesending van ’n boodskap (wat per ongeluk) na die verkeerde leser mag gaan. Frustrasie is aan die orde van die dag.

Janet Malcolm bespreek dan ook Stuart Schneiderman se belangrike teks Jacques Lacan: The death of an intellectual hero wat in 1983 verskyn het. Wat het Lacan met die internet te make? En Schneiderman met Lacan?

Lacan se belangrikste bydrae tot die psigoanalise, myns insiens, was sy studie oor paranoia en sy bekendstelling van die 7-minute-sessie wat teen die tradisie van die 50-minute-sessie ingaan. Die analysand word dan dikwels wreed onderbreek in hierdie korter sessie en dus emosioneel gekortwiek. Hy verloor sy beheer oor die onderwerp, nes die gebruiker van die internet eweneens in sy soektog versper word wanneer hy nie die inligting bekom wat opgesoek is nie.

Dit, egter, lei dan tot nuwe verbintenisse wat nuwe horisonne verskuif. Die korter sessie maak dikwels die gerepresseerde onbewuste oop; dit konfronteer ons met nuwe inligting en waarnemings.

“Internet boosters singing the blues” is die opskrif van The Boston Globe (1 Junie 2000) oor ’n internet-kongres aan Harvard Universiteit. Die aanvanklike drome oor die internet aan die begin van die negentigerjare het helaas nie in vervulling gegaan nie. Die internet het nie alles verbeter nie. Oordrewe sieninge dat die internet onder meer konvensionele studie sou vervang, het ook nie gebeur nie.

Die internet het bykans soos “mailbox-clogging” geword en die woord “overload” is ook bekend aan alle gebruikers van die internet waar dit dikwels moeilik gaan om kwaliteit te vind.

Esther Dyson, hoof van Edventure Holdings meen die internet is soos die kookbedryf. Ons weet alles van McDonalds en duur restaurante regoor die planeet, terwyl die kok tuis steeds onverstoord aangaan met sy / haar taak.

Rekenaars is ekstensies van ons-self en enige skrywer sal ’n lang belydenis kan skryf oor die verhouding met ’n persoonlike rekenaar en die effek wat e-pos het op ego-grense. Dit verbreed en verruim; dit frustreer en ondermyn. Die hibridiese aard het dan ook te make met die feit dat dit ons denke representeer op ’n skerm. Dit agtervolg ons. Dele van ons is beskikbaar via “airmail” en die rekenaar wat gebruik word in Cambridge waar ek navorsing doen in die VSA, groet my elke dag met ’n persoonlike boodskap: “Morning mwj.ham!”

Maar daar is kere wat hierdie boodskap nie verder wil gaan nie en dat my kodewoord nie die rekening wil oopmaak nie. Dan lei dit tot vertraging, frustrasie — dus presies die omgekeerde proses waarvan Lacan praat, maar met presies dieselfde effek op die psige van die analysand voor die rekenaar.

Hibridies beteken in die oorspronklike sin van die woord ook iets soos tweeslagtig. Die verskillende personas wat die spreker op die (inter)net kan aanneem in die sogenaamde “chatrooms” bewys dit verder en Camille Paglia se Sexual personae (1991), terwyl Byatt en Sordrť eweneens skryf oor rolspel in Imagining characters (1995). Ons kan ’n genderrol konstrueer wat ons begeer en in wese nie is nie. Hiermee beweeg ons buite die voorskrifte se eng sieninge van die genderrole wat aan ons toegeken is. In hierdie opsig bevry die internet die deelnemer van sy / haar eie beperkinge.

Dit is net tydelik, want die persoon moet weer deelneem aan die werklikheid en die eise wat dit stel. En dit wat op die internet as “korrek” beskou word, is nie altyd eweneens geldig daarbuite nie. Die pedofiel wat ’n “ja” kry van ’n minderjarige kind, kan vervolg word deur die wet.

Die wette rondom die internet (“cyberlaw”) is eweneens hibried en multidimensioneel. Dit blyk ’n nuwe veld met nuwe eise te wees. Oor hierdie (hibridiese)grense behoort regsgeleerdes te skryf.

Die internet bevestig die Ander. As die skerm nie wil oopgaan nie, is dit soos ’n sessie wat onderbreek is. Die persoon voel soos die analysand ver-vreemd, des te meer in die vreemde wanneer daar belangrike boodskappe gelees / versend moet word of inligting nie gevind kan word nie.

Die rooi roman het ook as eksperiment die belangrike dimensie van die internet bewys, naamlik dat meer as een outeur kan help skryf aan ’n teks. Dit neem ons as ‘t ware terug na die Middeleeuse siening van teks wat nie behoort tot die enkel outeur nie, maar behoort aan die gemeenskap. Die teks is allemansgoed en die skrywers of vertellers herhaal dit wat reeds bekend is aan die gemeenskap. Op hierdie punt sou kuberwette fassinerend wees: in welke mate word ’n teks op die internet “erken” en dra dit dieselfde akademiese gewig as die gepubliseerde teks?

En hoe kan ’n skrywer sy uitsprake beskerm teen kubercowboys wat kan inbreek en oorneem? Op amazon.com word hierdie outeur se tekste geadverteer. Maar selfs dit wat beskikbaar is, word gerieflikheidshalwe (?) as “uit druk uit” aangegee.

Engels is dan die taal wat kolonialisties heers op die internet, ten spyte van Dan Roodt se www.praag.org waarin belangrike polemieke oor die toekoms en stand van Afrikaans verskyn. Die vloedgolf van Engels kan helaas nie gestuit word nie en ook dit skep vir die Afrikaanse leser / spreker ’n nuwe hibridiese toestand: Engels is bykans orals die lingua franca, ten spyte van MWeb se hartlike verwysings na Afrikaanse webblaaie en kruisverwysings wat vanaf die nuwe Breytenbach-CD tot Emsie Schoeman se etiketboeke insluit.

Bestaan daar alreeds ’n etiketboek vir die internet? So ver my wete strek, word dit as brutaal en ongeskik ervaar wanneer ’n boodskap in HOOFLETTERS geskryf word. Daarmee illustreer die spreker sy of haar aggressie.

Sou daar ander (implisiete) reŽls bestaan?

Dit sou werklik ’n kenner moet wees wat hierdie prosedures van moet / moenies aanstip, maar na my gevoel is die internet die ruimte van oortreding en transgressie. Hier mag jy vloek, jil, pornografie aflaai, ’n rol vertolk en op die branderplank die oneindigheid ingly ...

Dit verruim en verbreed fantasie, maar ironies genoeg vernou dit ook ’n mens se lewensuitkyk. Vanaand, 2 Junie, kyk ek in Cambridge na ’n TV-soapie waarin John Lithgow die rol van ’n professor vertolk wat aanvanklik rekenaar-ongeletterd is. Wanneer sy vroulike kollega en kinders dit uitvind, dryf hulle met hom die spot. Hy raak egter op ’n komiese wyse so behep met die rekenaar dat hy later net in rekenaarspeletjies belangstel en selfs ’n rekenaarskerm in die klas laat opsit sodat hy nie meer fisies daar hoef te verskyn nie!

Ons ken almal die programme waarmee mens die Tate of Van Gogh-museum kan besoek. Die advertensie hiervoor in die VSA is van ’n man wat uitgeskel word omdat hy aan Vincent van Gogh se skildery raak. Bly egter tuis, dan kan jy nader beweeg, vat en weer kyk!

Gaan die vermoeienis van werklike, fisiese reis opgehef word deur die kuber-reis?

Of gaan ons voortaan net in tekste (inter-tekstualiteit) reis? In The Boston Globe verwys alle strokiesprente op een dag na Peanuts in ’n unanieme huldeblyk. Virginia Woolf het vir haar tyd ’n opspraakwekkende roman soos Orlando gelewer waarin gender-verandering voor die leser se oŽ ontvou. Hoe gaan die internet dit verander of verbreed?

Sou iemand ’n simbolehandboek kon skryf oor die betekenis van die (verhulde) simbole op die internet en hoe dit alreeds ons denke verander het? Iets soos Tom Chetwynd se belangrike Jungiaanse studie waarin al die dimensies van die self via argetipes beskou en behandel word?

As die onbewuste deur Freud sedert 1900 gekarteer is in die menslike denke, hoe lyk die onbewuste nou in die jaar 2000? Waarskynlik het die donker, geheimsinnige onbewuste wat hom self net bekend maak deur drome, tongslippers, grappe nou plek gemaak vir ’n oorbewuste. Dat alles uitgestal en uitgeskryf is en niks meer behoort tot die domein van die (donker) of (gerepresseerde) onbekende nie. Waar id is, sal ego wees. Waar internet is, sal talle ego’s wees.

Vir die kreatiewe persoon skep die internet nuwe metafore. Skielik kan daar nuut na die alledaagse gekyk word:

    M: 1-2

    PoŽsie is af te lees uit treinroosters
    soos die trein van Providence na New York
    oftewel, die trein van Voorsienigheid na Nuwe Hoop
    skryf ’n Duitse digter iewers. In ’n popliedjie
    - die rymdwang misgekyk — slaan die digterlike ritme
    soms deur. Selfs in ’n filmresensie oor Tom Cruise se M:I-2
    word daar gekyk na die visuele poŽsie. Ook ’n nies
    (“Bless you!”) poŽties verwoordbaar. ’n ParanoÔa-
    aanval (die digter staar vernietiging in die gesig
    soos Tom Cruise in Mission impossible)gekoppel aan die proses.
    Die man neffens my probeer iets skryf, maar sy pen stol.
    Boonop keer die rekenaar my: MWeb ontken my kodewoord
    (****)en so tel selfs die kuberruimte die boodskap op:
    die gedig is nie opgewasse teen die lewe se verandering nie.

Terwyl ek in die VSA navors en skryf, gaan ek daagliks in 24.com. Die hele Helderberg-ondersoek wat die reisiger in die ou-ou dae eers by terugkoms sou kon lees, is nou onmiddellik beskikbaar. Ook dit gee beelde vir die vrugbare verbeelding:

    Die anatomie van melancholie

    Presies halfpad deur my lewensreis
    (inderdaad ver van haard en huis)
    beloer ek die ID-foto van die self:
    in die eerste helfte (glo my vry)
    te veel verse op ander se rugge berym -
    iets soos ’n donkerogige Louis Washkansky
    met ’n oorgeplante hart. Kortstondige roem
    in die hospitaalkamer van die troos-my-nie.
    Jaag soos ’n besete Jimmy Lauder
    roekeloos die liefde na. Durende letsels.
    Ontplof soos die Helderberg met vermeende tydbom.
    Og, alles die vuur van ongerymd-
    heid ontwille. Ter wille van die ydel
    spel. “Die digter is ’n dief, ’n voyeur,
    veral ’n vivisektor van die woord”,
    word die digter iewers neergepen.
    Plus-minus (veral minus) op veertig jaar
    gee die verbrande Louis Washkansky hart in;
    sweer die Jimmy Lauder-letsels uit. Boonop ontplof
    al haar sekerhede soos die Helderberg:

    ’n Tweede ondersoek dringend gevra.

    Op Church Street in Cambridge Massachusetts
    presies vier nm en dus 10 nm Suid-Afrikaanse tyd
    word die swart boks verdoemend gedekodeer:
    “Digterlike ontploffing beslis weens ’n gebrek
    aan erbarming en kennis van die prosodie.”

    Vorm en eenheid is nie een nie

    Die begin van ’n vers is verkeerdelik
    herleibaar na ťťn insident of indruk.
    Dit is kwalik ook terugvoerbaar na ’n oomblik
    soos vlugnommer 212 van Atlanta na SA 10.30 nm.
    Of die Helderberg vlug SA 325 ...
    Net soos daar ’n paar tydsones oorgesteek
    word met ’n lang internasionale vlug
    is ’n gedig op reis: tussen aankoms en vertrek;
    tussen skryf en lees; tussen misverstand en reg
    begryp; tussen hier en ontsettend ver, daar.
    Die begin van ’n vers is onherleibaar
    na ’n vervlietende oomblik of gebaar;
    Die einde en begin word wederregtelik,
    deur die strenge prosodie beklink.

    Net selde word vermeld: die digter sit
    alvorens die vers in vorm en eenheid beslag kry
    opgeskeep met iets so bedreigends soos jetlag.
    Die begin van ’n vers is dus verkeerdelik
    herleibaar na hierdie lesing of eerste indruk.

Die belangrikste dimensie van die internet is dat dit metafisika verskuif. Miskien skryf hierdie subjek eerder ’n gedig hieroor:

    God is (soos) die internet

    Hoe vind mens vir God ’n metafoor?
    Hoe stel ’n mens die almagtigheid voor
    van die jeugdige onthou “daar is geen land
    so ver of woes geleŽ”? Die majesteit?
    God is die internet met al sy webruimtes
    en onderafdelings en soektogte na verbande
    en verbintenisse en aansluitings ...
    Die aansluiting tussen die verre en die nabye;
    die onmiddellikheid; die oplossing van ’n probleem ...
    dikwels ook die soektog wat al hoe verder en verder
    uitkring of terugbeweeg na die eerste soekende vraag.
    God is die internet. Soms kliek ons op die adres
    en die webruimte kan weens tegniese probleme nie gevind
    word nie. Net soos ons geloof verloor. Tydelik. Dit terugvind
    onverwags soos ’n webruimte wat oopmaak, ’n oneindige internet.

Nou moet ek hierdie teks versend na my kollega Etienne van Heerden by etiennev@mweb.co.za sodat hy die internet-kongres se eerste bydrae kan takseer. Stellig sal ek hom ook moet vertel dat ten spyte van die feit dat ons deesdae alles via die internet kan doen, is die menslike faktor steeds belangrik. In ’n ontmoeting met Barbara Johnson by Harvard meen sy dat ’n mens die literÍre teoretikus se persoonlike lewe ook moet in ag neem ten einde sy werk te begryp. Beteken dit iets dat Roman Jakobson se vrou sy redakteur was? Dat Roland Barthes die strate van Parys in vroueklere ge-cruise het?

Die dood van die outeur? Lank leef die subjek, al is dit net ’n internet-konstruksie!

3 Junie 2000, geskryf in Cambridge, Massachusetts

Bibliografie:

  • Barthes, Roland: “The death of the author” in David Lodge (red): Modern criticism and theory — a reader. Longman, Londen. 1988.

  • Writing degree zero. Vertaal deur Annette Lavers en Colin Smith. Hill and Wang, New York. 1953/1967.

  • Byatt, A S & Sodrť, IgnÍs: Imagining characters. Six conversations about women characters. (red Rebecca Swift). Vintage, Random House, Londen. 1995.

  • Chetwynd, Tom: A dictionary of symbols. Paladin Grafton Books, Londen.

  • Lacan, Jacques: …crits — a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 1966/1977.

  • Levine, John R., Baroudi, Carol & Levine Young, Margaret: Southern African Internet for dummies. IDG Books, Johannesburg. 1998.

  • Malcolm, Janet: The purloined clinic. Selected writings. Papermac, Londen. 1992.

  • Paglia, Camille: Sexual personae — Art and decadence from Nefertiti to Emily Dickinson. Penguin, Londen. 1991.

  • Schneiderman, Stuart: Jacques Lacan: The death of an intellectual hero. Harvard University Press, Cambridge, Mass. 1983.

  • Van Heerden, Etienne: Die rooi roman. Internet-roman. 24.com. Human & Rousseau, Kaapstad. 1999.

  • Woolf, Virginia: Orlando. A biography. Hogarth Press, Londen. 1928.

    LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SÍNet by redlitnet@mweb.co.za

    Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.