Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Besoekie aan die hel Ö met ’n lied in die hart


Andries Bezuidenhout

In Tom Robbins se boek Jitterbug Perfume verdwyn die gode soos mense ophou om in hulle bestaan te glo. So byvoorbeeld laat Pan, een van die Griekse vrugbaarheidsgode, later slegs amper ’n reukie oor as hy in die omgewing was. Al wat nou van Pan oorbly, is daardie fluite waarop mense sulke afgryslike musiek maak by Afrikaanse “kuns”-feeste.

Die arme Pan het net ’n fluit oor, maar solank mense aanhou om songs te sing oor gode of mitologiese plekke, sal hulle bly voortbestaan.

Te oordeel aan die swaar verkeer op pad na Die Hel is daar nog ’n gesonde geloof in die mites wat hiťrdie plek aan die gang hou. Ek het onlangs my eerste tog Hel toe aangepak en kan getuig dat dit voorwaar ’n merkwaardige reis is. Tog sou ek ander pelgrims aanraai om vir die eerste probeerslag eerder ’n gids saam te neem. Veral die laaste stukkie van die pad wat jou tot heel onder neem is asemrowend mooi, maar ’n mens moet nogal goed kan bestuur om veilig daar aan te kom.

Die Hel is vir ’n aantal jaar nou al ’n redelik kontroversiŽle plek. Baie mense praat en bespiegel daaroor, maar min doen die moeite om self daarheen te reis om eerstehands uit te vind of al die stories wat hulle hoor die waarheid is. Dan is daar nog van ons eie skrywers wat bydra tot sulke mites, legendes, vertellings. Hulle droom hulle eie stories op en gebruik die plek eerder allegories as om mense oor die feite in te lig. Dit kan natuurlik baie skadelik wees vir inwoners van plekke soos Die Hel as mense spekuleer oor die aard van hulle omgewing en hulle bestaan sonder om in ag te neem dat stories maar net is wat hulle is: stories.

Maar dis nou maar een maal jou lot as jy in ’n plek soos Die Hel woon — mense kan jou nie uitlos nie. Ironies genoeg is dit tog die rede hoekom mens in die eerste plek daar gaan woon: sodat ander mense jou kan uitlos. Ver weg van die probleme daarbuite — afgesonder tussen die kranse, met die hitte, en slegs ’n riviertjie en bergwinde om koel verligting te bring.

* * *

Tydens ’n mens se reise deur ander warm plekke kan ’n mens nie help om te besef hoe ’n groot invloed ons landskap op Afrikaanse musiek het nie. Oor bykans elke dorpie, bergpiek of rivier is al ’n song geskryf. Hoeveel mense ry nie verby Matjiesfontein nie — voor hulle kan keer is “Daar’s ’n trein, tsjoe tsjoe tsjooooeeeeee tjsoe tsjoe tsjoooeeee Ö Die trein na Matjiesfontein” in hulle koppe. Jy kan dit net nie help nie — dit gebeur outomaties. Die ergste is as jy die song verpes. Ek het in Desember die voorreg gehad om verby Hartenbos en Mosselbaai te ry — voor ek kon keer het die spook van Cora Marie in my oor kom sing “Hartenbos, o Hartenbos”. Gelukkig kon sy nie die res van die liriek onthou nie. Toe kom die witborskraai van Mosselbaai en maak ’n draai om verligting te bring, en toe die spook verdryf is, hoor ek Koos Kombuis sing: “Picasso sou kon lekker bly in Hartenbos se hand, en Shakespeare sou kon poetry skryf op Mosselbaai se sagte sand.” Dan hoor jy daardie lieflike klavierverwerking op Equilibrium in jou kop en jy luister verder en probeer vir ’n oomblik van die “Melville party bus” vergeet, want jy’s nou ver van die huis af en die see is so mooi ...

Die land het seker ook vyf honderd agt en veertig of selfs meer Nooitgedachts. Al speel die radio nie meer so baie Afrikaanse musiek nie, hoor ’n mens darem gereeld nog “Dis ’n donker aand diep in Juliemaand op die pad na Nooitgedacht Ö” as jy niksvermoedend verby een van die vele Nooitgedachts ry. Of Kromdraai. Ugh. Help! “Osbraai op Kromdraai Ö” Nee, net nie dit nie! Gee my dan weer eerder “When I saw Port St Johns for the first time Ö” Dis beter.

Daar’s nog baie sulke plekke: Hillbrow, natuurlik. Die nonnatjie van Stellenbosch. Lucas Maree se kliptroon in Victoriabaai. Die meeue van Jacobsbaaaaaaai wat bohaaaaaai en bohaaaaaaai. Pretoria Jakarandastad, dis weer eksamen Ö ag, Oktobermaand. Valiant Swart se mamma is ’n stad langs ’n gryse see — oor Kaapstad. Danksy Valiant weet ons ook dat die wind waarskynlik in Worcester waai, en danksy David Kramer is ons terdeŽ bewus van MontaguuuÖhuuuuuuuu se lekker Muskadel. Deur die ganse Karoo sal Coenie de Villiers op ’n stadium sy opwagting maak — of dit nou anderkant die Dwyka of duskant Graaff-Reinet is.

Daar’s baie sulke plekke en ek begin seker nou soos Liriekeraai klink.

Waarby ek wil uitkom is ’n kort lyntjie uit ’n liriek van Stef Bos. Hy sing natuurlik oor plekke soos Soweto en Witsand ook, maar die een waaraan ek nou dink kom uit “Het Avondland”:

Ik ging voorbij de Swartbergpas, De Hel was mooier dan ik dacht ...

Hoeveel asemrowende natuurskoon en merkwaardige stories is daar nie in een so ’n lyntjie uit ’n song weggesteek nie?

* * *

Ek beplan die pelgrimstog nou al lank, selfs van voor ek Duiwelskloof gelees het. Elke keer wat ek die omgewing besoek met die Kunsfees in Oudtshoorn, kom ek net nie daarby uit om die draai verby Prins Albert te ry nie. Die idee van ’n gemeenskap wat vir honderd jaar van die res van die land afgesny was en toe weer “ontdek” is, is darem net ongelooflik interessant. Hoe lyk die plek waar hierdie mense gewoon het? En wat gaan nou daar aan? Hoe lyk Die Hel?

Dis met die Avondland se wysie (wat natuurlik deur Koos Kombuis gekomponeer is) wat ons toe die Swartbergpas in is om Die Hel te besoek. Ons was nogal onseker oor of ’n mens die tog met ’n City Golf kon aanpak, maar ons het in elk geval probeer. (Noudat ek daaraan dink — die rede hoekom ek met soveel musiek in my kop rondry, is dalk te danke aan die feit dat ek nie meer ’n radio in die kar het nie. Na die soveelste inbraak het ek besluit om maar eerder musiekloos te ry, maar darem met vensters wat nou al vir ’n rekordtyd heel bly.)

Hoekom sou Stef Bos die Swartbergpas en Die Hel uitsonder as hy oor Suid-Afrika in kontras met Europa sing?

Ek is as kind laas deur die Swartbergpas en kon ongelukkig min daarvan onthou. Om by Die Hel uit te kom moet jy van Prins Albert se kant die pad Mosselbaai toe vat — eers vir ongeveer 20 km ry jy stadig op die grondpad van die pas — om die haarnaalddraaie, langs die klipmuurtjies, skrams verby asemrowende afgronde. Dis geen wonder dat sommige mense weier om dit vir ’n tweede keer te doen nie — dit kan ’n skrikwekkende ondervinding wees as jy ’n senuweeagtige bestuurder met hoogtevrees is.

Die Swartbergpas is in 1888 reeds geopen. Thomas Bain het die droŽklipmetode gebruik om dit te bou — dis nogal vreemd om te dink dat die klippe van die slingerpaadjie waarop ’n mens langs die skerp afgrond ry, bly staan bloot omdat hulle heel noukeurig op mekaar gepak is. Daar is geen sement of ander bindmateriale gebruik nie. Tog, vir meer as ’n eeu nou word die pas gebruik sonder dat die seismiese aktiwiteite in die berge ’n ineenstorting veroorsaak het.

Daar is ongeveer honderd en vyftig grafte van gevangenes wat omgekom het met die bou van die pas. Gevangene-arbeid is gebruik om die koste te verminder van ongeveer £25 000 na net meer as £10 000. Moordenaars en ander gevaarlike gevangenes is vasgeketting terwyl hulle klippe gekap het. Indien daar spoke in die bergpas is, sou ’n mens waarskynlik maklik verklarings daarvoor kon vind ...

Die Hel, of Gamkaskloof soos dit deesdae heet, se afdraai is ongeveer op die kruin van die pas. Dit neem omtrent ’n uur se intensiewe bestuur om hier uit te kom. ’n Verdere twee uur se bestuur aan nog 40 km neem jou tot in Die Hel. Hierdie pad is eers in 1962 geopen — dis gebou nadat die regering bekommerd geraak het oor die “euwels” wat daar onder sou aangaan.

Daar is geen van die oorspronklike inwoners meer oor nie. Een van hulle belangrike uitgangsroetes na Prins Albert is toegemaak toe die Gamkaskloofdam gebou is. Verder is ’n ekonomie wat nie op markbeginsels gewerk het nie, verwoes toe die regering belasting begin gaar het — om dit te betaal het jy kontant nodig. So is die afgesonderde gemeenskappie stadig vernietig. Teen die 1990s het die laaste inwoners Gamkaskloof verlaat.

Vandag word die gebied as ’n natuurreservaat deur die regering bestuur. Slegs een familie het daarin geslaag om hul grond terug te kry — hulle boer op klein skaal en verkoop die produkte aan toeriste. Daar is geen tekort aan besoekers aan Die Hel nie.

Ons is so net na twaalfuur in die middag daar af. Die eerste 10 km is nogal stamperig as gevolg van ’n baie klipperige pad. Die eerste ander teken van lewe wat ons teŽgekom het, was ’n ou op ’n scrambler. Selfs deur sy valhelm kon ’n mens sy ontsteltenis sien. Hy het van voor af aangekom en ons gestop — “What the hell are you doing!?” wou hy weet. “No, we’re going to Hell,” het ons gelag. Hy was baie bekommerd omdat ons die pad met ’n VW Golf probeer aanpak het. Na hom het ons nog ’n aantal 4x4-bestuurders teŽgekom wat ons met ongelowige oŽ aangestaar het. Op die ou end het die Golfie ons geen probleme gegee nie — die 1,6-enjin was heeltemal sterk genoeg om ons teen die steil bulte op te dra, en as jy stadig genoeg oor klippe of vinnig genoeg deur water ry, is jy heel orraait.

(Die probleem is natuurlik dat die meeste 4x4-bestuurders slegs in 4x4 oorslaan om op die sypaadjie te parkeer as daar geen ander parkering in die stad is nie. Dus, as hulle die dag by ’n plek soos Die Hel inry, voel hulle dat die geld wat hulle spandeer aan sulke duur rytuie en al die diesel geregverdig word. En dan kom iemand met ’n Golfie verby! Die ontsteltenis! O, die ontsteltenis! Maar ek is nou gemeen. Waarskynlik sal ons iemand se 4x4 eendag nodig kry om ons uit een of ander sandbank uit te sleep — soos reeds een keer met my in LŁderitz gebeur het.)

Onder in Die Hel kon ons ’n lekker koue bier drink, danksy Mannetjie Joubert, wat op die plaas boer waar sy ma nog gebore is. ’n Mens kan ook in sommige van die huisies wat gerestoureer is, oornag, of jy kan kamp as jy wil.

Daar is rare stories wat vertel word van die ou dae in Gamkaskloof. Soos die keer toe die dominee van buite die kloof wou kom huisbesoek aflÍ. ’n Verspieder het die gemeenskap betyds gewaarsku en almal het hulle piekniekmandjies gepak. Vir ’n paar dae is hulle die wildernis in met genoeg proviand. Tot die dominee se verbasing kon hy niemand opspoor nie en is hy toe maar weer die kloof uit. Duidelik het die Gamkasklowers nie getuigskrifte van die kerk nodig gehad om werk te kry nie!

Iemand anders vertel van die maatskaplike werkster wat al die pad saam met die polisie in die kloof ingestap het. Die tog was ’n dag te voet oor klippe, deur klowe en teen hange af. Toe sy eers onder is, kon sy byvoorbeeld sien dat daar ’n ernstige jodiumtekort by die inwoners was, en kon later maatreŽls tref om die probleem aan te spreek. Na die moeŽ vrou haar pligte afgehandel het, wou sy dadelik weer terugloop. Haar metgeselle het haar aangeraai om eers te rus, maar sy het daarop aangedring. As sy rus, het sy gevoel, sal sy nooit weer opstaan nie. Sy het onmiddellik begin stap, en toe sy weer bo uitkom, moes sy vir tien dae lank in die bed lÍ om aan te sterk.

Terwyl ek my bier drink, het ek ook aan Duiwelskloof gedink. Die boek is allegories van die selfopgelegde afgesonderdheid van Afrikaners tydens apartheid. Ironies genoeg is mense in die land nie net van mekaar geskei nie, maar Afrikaners as sulks het heel “apart” geword van die res van die wÍreld — soos die mense van Gamkaskloof. Natuurlik verwys Brink se boek nie na die gemeenskap wat werklik in Gamkaskloof gewoon het nie: sover ons kon agterkom het hulle nie eers ’n kerk gehad nie en daar was ook geen dorp in Die Hel nie. Mense het nogal ver uitmekaar gewoon op plase in die langwerpige vallei.

Maar dit laat ’n mens tog wonder. Die koms van paaie en die regering se belastinggaarders het die gemeenskap heeltemal vernietig — die basis waarop hulle ekonomie gefunksioneer het, kon glad nie staande bly toe die koue winde van die mark deur die kloof gewaai het nie. Ook die norme wat die gemeenskap vir lank in stand gehou het, kon nie gehandhaaf word toe dit met die “moderne” in aanraking gekom het nie. Hulle mites het irrelevant geword, en na ’n eeu se isolasie het dit net ’n paar dekades geduur voor almal die kloof verlaat het.

’n Mens wonder oor die liedjies wat die mense onder in Die Hel gesing het, en of daar enige daarvan bewaar gebly het — oorgelewer van geslag tot geslag. Of dalk is dit vir ewig verlore nadat die eggo’s teen die vallei se kranse stil geword het ...

* * *

Miskien, oor ’n paar honderd jaar, besoek argeoloŽ Suid-Afrika. Hulle sal waarskynlik op ’n hele aantal boeke, CD’s, video’s en koerante afkom. Miskien is daar ’n kenner van antieke tale wat nog Afrikaans kan lees — dink net hoe gaan hulle sukkel om die hele Die Laaste Afrikaanse Boek te lees. Waarskynlik sal Stef Bos se Nederlands makliker wees om te ontsyfer, aangesien daar dalk naby Rotterdam ’n klein gemeenskappie van ongeveer vyf honderd mense oorgebly het wat nog ’n Nederlandse dialek praat. Miskien luister die kenner na “Ik ging voorbij de Swartbergpas, De Hel was mooier dan ik dacht Ö”

Dink net aan die konsternasie wat dit sal veroorsaak: “These people thought hell was a real place!”

Maar die besoekers kan net sowel toeriste wees wat met hovercrafts in Gamkaskloof kan inry en ’n koue bier by Mannetjie Joubert se agter-agter-agter-kleindogter kan koop. (Hopelik Ūs daar nog koue bier.) Dalk tref hulle Afrikaanssprekende mense aan wat goed kon aanpas — wat nie almal die kloof verlaat het nie. Dalk ry mense steeds in Volkswagen Golfs (model XXIII) rond, met die name van plekke soos Uniondale wat verewig is in deuntjies en woorde wat van geslag tot geslag oorgedra word.

Dis ons werk om daardie songs te skryf. Miskien vir argeoloŽ wat eendag daarna luister, maar hopelik vir mense wat tuis is in Afrika — wat die name van die landskappe, van stede en dorpe, van nuwe en ou mites in wysies en liriek verewig, sodat die kranse antwoord gee.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.