Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Slapeloos in Beaufort-Wes: Musiek op die N1 en in die Whistle Stop …

Andries Bezuidenhout

Op ’n vreemde manier bereik oënskynlik lelike of mistroostige plekke soms mitologiese status as gevolg van ’n beroemde persoon wat daar gewoon of gewerk het. Vat nou byvoorbeeld vir Beaufort-Wes. Die mense daar is baie trots daarop dat Chris Barnard, die hartchirurg, ’n boorling van die dorp was. In die dorpsmuseum is daar ’n foto van ’n baie jong Chris Barnard wat in die middel van Donkinstraat staan en die verte in tuur. Deesdae word jy doodgery as jy sou waag om in die middel van hierdie besige straat rond te hang — dit is immers die N1.

Maar hartchirurge en politici is nie die enigste beroemde mense nie. Daar is ook musikante en ander soorte kunstenaars. Miskien is dit juis die harde werklikheid van plekke wat mense inspireer tot Groot Kuns, of sommer net ’n catchy liedjie (soms is ’n catchy liedjie darem ook Groot Kuns).

Dalk is Hillbrow ’n goeie voorbeeld. Die rye en rye woonstelblokke is geïnspireer deur Le Corbussier se modernistiese argitektuur, maar met ’n merkwaardige tekort aan flair het Suid-Afrikaanse argitekte die klinkersteen bygevoeg om ’n baie elegante ontwerp in iets afgrysliks te verander. Daar is min plekke wat die laagtepunt in Suid-Afrikaanse argitektuur so versinnebeeld soos Hillbrow (dalk is Sandton selfs ’n bietjie erger!).

Tog het Hillbrow ’n simbool van bevryding geword vir baie jong Afrikaanssprekendes as gevolg van Johannes Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow” en Koos Kombuis se “Bomskok Babelaas” — ’n plek waar die “backstreet yuppies” uitgehang het.

Maar Hillbrow se betekenis het baie verander soos die gemeenskappe van immigrante ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Daar is min van die oorspronklike Oos-Europese Jode oor, en nog minder Afrikaanse “backstreet yuppies”. Fontana is nou ’n franchise, en Estirol Books is lankal gesluit. Dis net die meisies in Quartstraat wat steeds na kliënte roep …

’n Ander plek wat eweneens die name van gestorwe musikante oproep, is Springs. Sowel Koos du Plessis as James Phillips kom van hierdie myndorpie af. Soos Koos du Plessis sing in “Molberge”, is die wêreld daarlangs “halfpad hol”. Wat min mense weet, is dat Art Deco-entoesiaste van heinde en verre Springs toe kom om die geboue te bewonder.

Nou is Springs se myne lankal reeds gesluit en baie van die mynhope het verdwyn as gevolg van nuwe metodes om goud uit die grond te ontgin — so selfs Springs se landskap het baie verander sedert Koos Doep se hartseer lied geskryf is. Tog herinner “Molberge” ons aan die Oos-Rand se werkersklas wat nog om greinhouttafels gesit het voor die koms van plastiek, TV en die casino’s.

Maar daar is ’n rede hoekom ek nou aan al hierdie plekke en hulle minnesangers dink. Op die oomblik sit ek juis in Beaufort-Wes. Die kamervenster by my “Bekostigbare Oornag Akkommodasie” vibreer elke keer as ’n groot trok of bus in die hoofstraat verbydreun. Vir baie mense is Beaufort-Wes net ’n plek waardeur ’n mens op pad Johannesburg toe of Kaapstad toe moet ry; ’n plek waar ’n mens oornag en waar jou slaap ritmies versteur word deur die ewige gedreun van die groot goederetrokke deur die hoofstraat.

Beaufort-Wes is natuurlik een van die min dorpe waardeur ’n mens deesdae nog ry as jy die N1 Noord of Suid aandurf. Plekke soos Trompsburg, Edenburg en selfs Bloemfontein word nou heeltemal misgery. Danksy die gerief van Ultra Cities en Whistle Stops maak baie min reisigers nog kennis met hierdie dorpies.

Daar is tog mense wat soms afdraai van die gemaklikheid van die snelweg en elke nou en dan vir ’n rukkie stilhou by plekke soos Williston, Kaapsehoop, of Nieu-Bethesda. Gewoonlik word ’n mens beloon met idiosinkratiese geboue, interessante mense en vreemde stories wat vertel word in teekamers wat nog handgeskrewe spyskaarte het. In Trompsburg kan jy wonder waar die huis is waar Karel Schoeman rustig “ophou skryf” sonder die gedruis van verkeer deur die hoofstraat. In Nieu-Bethesda kan ’n mens die Uilhuis besoek en in die nag ervaar hoe dit voel om in ’n dorp sonder straatligte te verdwaal. Gewoonlik vertel die grafstene in sulke dorpies merkwaardige verhale en kan ’n mens maar net wonder oor die wêreld wat onder die grond begrawe lê.

Ek dwaal af. Terug in Beaufort-Wes. Ons is op pad terug Johannesburg toe na ’n beplande optrede by ’n rock-festival in Gansbaai. Ongelukkig het die wind so sterk begin waai dat die organiseerders teen 12-uur die aand die verhoog moes afslaan. Gevolglik kon die arme Mel Botes, Diff-Olie en ons nie optree nie — dit na ons moes nugter bly tot laat in die nag terwyl almal heerlik voortpaartie op die maat van Valiant Swart, Karen Zoid, Brasse Vannie Kaap en baie ander. So dis reeds effe afgehaal dat die Brixton Moord & Roof Orkes toe terugreis Johannesburg toe — want daar is min dinge so ontstellend soos om ’n goeie paartie te moet mis. Gelukkig was die gedagte om ’n paar kappe te maak in die dorpie waar een van ons groot musikale helde vandaan kom, effe van ’n troos.

Vir hierdie doel het ons ons elmboë vir ’n wyle op die Kolskoot Kroeg se toonbank laat rus. Ek is ’n bietjie vroeër as die res terug na ons “Bekostigbare Oornag Akkommodasie” toe. Tussen die gekreun van die trokke deur het ek net daarin geslaag om in te sluimer toe die res van die band die kamer hoogs ontstoke inbars. “Wat het gebeur?” wil ek weet. “Nee,” vertel Piet Planter, ons vriend uit Londen wat terug in die land is om sy CD op te neem, “ons het in die kroeg gesit en hoor toe hoe ’n vrou sê dat sy so pas haar vriendin ge-SMS het dat sy nou in Theuns Jordaan se dorp is.”

Ouch! Hierdie is ’n teer punt. Veral vir die lede van die band, want hulle skryf almal self musiek. Dis mos nie Theuns Jordaan wat “Beautiful in Beaufort-Wes” geskryf het nie. Dis Gert Vlok Nel! En alhoewel Theuns van die Karoo af kom, is hy beslis nie oorspronklik van Beaufort-Wes af nie.

Soos Koos Doep se “Molberge” is “Beautiful in Beaufort-Wes” ’n baie persoonlike lied. Dis immers een van Gert Vlok Nel se eienskappe — om die besondere, die persoonlike, te vat en dit so mooi en bitter te beskryf dat dit universeel word. “Beautiful in Beaufort-Wes” is ’n rou lied: dit vertel juis die storie van iemand wat haar rug keer op die liefde vir iemand op ’n klein dorpie — wat die teekamer vir die Whistle Stop verruil.

Maar soos die teekamers in klein dorpies is Gert Vlok Nel se musiek nie altyd so maklik toeganklik vir iemand wat nie moeite doen om versigtig na die lirieke te luister nie. Baie mense hou nie van sy songs nie, omdat hulle dit moeilik vind om daarna te luister. Dis juis dalk die rede waarom Theuns Jordaan met sy diep stem en meer toeganklike verwerkings “Beautiful in Beaufort-Wes” aan baie meer mense kon voorstel — hy het dit reg langs die N1 van Afrikaanse musiek gesit. Mense kan hom tog nie kwalik neem hiervoor nie. As Laurika Rauch nie “Kinders van die Wind” gesing het nie, sou Koos du Plessis waarskynlik nooit ’n lewe as ’n sanger kon gemaak het nie.

Aan die ander kant kan ’n mens sê dat dit onregverdig is dat daar mense is wat hulle eie musiek skryf en die moeite doen om aand na aand in kroeë te sit en hulle harte vir mense uit te sing sonder dat die gehore die wysies of woorde onmiddellik herken. Dit terwyl die “cover”-sangers net die songs kies wat reeds gewild is — dis tog baie makliker om geld uit ’n franchise of ’n Ultra City te maak op die gebaande weë langs die N1 (’n mens moet darem noem dat Theuns ook van sy songs self skryf). Op die ou end sou ’n mens hoop dat die “cover”-sangers die breë publiek nie net vermaak nie, maar dat hulle mense voorstel aan die wonderlike liedjieskrywers in die land.

As jy weer deur Beaufort-Wes ry, stop vir ’n rukkie langer. Daar is pragtige laat-Victoriaanse geboue en klein koffiewinkels tussen al die franchises en die Formula 1-hotel. Maak ’n draai deur die museum en kyk na die foto’s van onverbiddelike sendingpredikante met knypbrilletjies. In Nuwestraat, langs die treinspoor, is daar die Star Flats-woonstelblok wat ’n vreemde interpretasie van Art Deco is — die stoepmuurtjies se stene maak sulke speelse chevronpatrone. Aan die ander kant van Donkinstraat, weg van die spoor, is Birdstraat. Hier is koelte onder die hoë berke- en bloekombome. Mense met ’n bietjie meer geld weet ook natuurlik van die “luxury accommodation” hier, ’n entjie weg van die besige hoofstraat. Stap teen sonsondergang deur die strate en dalk hoor jy Gert Vlok Nel sing:

En jy was beautiful in Beaufort-Wes
en ek was so verskrik en verskriklik lief vir jou
en ek en jy het op grafte en op treine
en op Ford Fairlane se agterseats gevry
en nou is jy en jou man both computer analysts
en laas winter you tried to cut both of your wrists
en nou kan jy nie meer slaap nie,
nie meer lag nie,
nie meer iets vir jouself doen nie,
nooit ooit weer vir my soen nie …

Ek weet musiek gaan oor smaak. Maar ’n mens gaan mos nie Karoo-lamstjops by die Whistle Stop probeer eet nie. Ek het toevallig een keer probeer, maar kon niks van die natuurlike Karoobossie-smaak proe nie: die tjops was heeltemal verdrink in ’n generiese bottelmarinade. Nee, soms raak ’n mens te moeg vir die kitskoskultuur, vir bekende woorde en klanke, massaresepte — soms wil ’n mense iets van die “spesiale” en die “outentieke” ervaar.

Ek sê nie dat sangers nie ander mense se songs mag sing nie. Dis ’n ongelooflike kuns om iemand anders se woorde en wysie op ’n besonderse manier te herinterpreteer. Maar as jy weer ’n CD van Theuns Jordaan, Laurika Rauch of Pieter Smith koop, lees op die omslag wie die woorde en die musiek geskryf het en kyk of jy nie ook van hulle eie CD’s in die hande kan kry nie. Jy mag dalk net ontdek dat daar baie meer spesiale paaie is om te ry benewens die N1 — maar dit verg ’n bietjie inspanning en soms moet jy ’n kaart lees of die rigting vra. Dalk moet jy ’n CD-winkel vra om dit spesiaal vir jou te bestel. Dis immers waar die sangers die beautiful songs in die eerste plek gaan haal het!

Later vanaand as ek weer probeer om te slaap, sal ek seker weer die volgende woorde in my kop hoor sing:

En dis miskien soos ’n storie uit die Huisgenoot
maar jy’t een aand skielik vir my weggestoot
en in die rear view mirror jou gesig gekyk
en gesê “miskien moet ek gelukkiger lyk”
daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie
en het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf
en soos ’n roeiboot al in die rivier afdryf
ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie,
nie meer iets ooit reg doen nie,
nooit ooit weer vir jou soen nie.

Gert Vlok Nel sing oor dinge wat ons almal van weet, oor dinge waaroor ons almal soms wonder. Sy songs en gedigte gee aan ons ’n manier om dinge te verwoord wat soms moeilik is om te konfronteer. Soms moet ’n mens juis van die N1 aftrek en ’n bietjie stilstaan. Hy sing dit uit plekke soos Beaufort-Wes en Gordonsbaai, maar dit kan net sowel enige plek in die wêreld wees. Soos Koos du Plessis gesê het: “Die wêreld is maar orals halfpad hol …”

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.