ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Truth In Translation (Kigali, Rwanda)

Robert Koen, 2006

In ’n oorlaaide minibus krul ons deur Kigali, heuwel af tot in die vallei en dan weer op teen die hang aan die oorkant. Kinders lag en hardloop langs die motor, terwyl die ouer garde ons stil en strak aanstaar. Dis mooi hier. ’n Fotograaf se droom.

Ons groep bestaan uit 11 Suid-Afrikaanse akteurs. Saam verteenwoordig ons amper al die kultuurgroepe van ons land. Ons vorm deel van die FESPAD (Pan African Dance Festival) program met ons musikale teaterstuk Truth in Translation.

Die stuk handel oor die lewens van die groep jong vertalers wat tussen 1996 en 1999 saam met die Waarheid-en-Versoeningkommissie getoer het. Hulle moes sowel slagoffers as beskuldigdes se stories in die 11 amptelike tale in die eerste persoon tolk. Hugh Masekela het die musiek gekomponeer en ’n New Yorker genaamd Michael Lassac het die regie waargeneem. Na ’n repetisietydperk van twee maande in Johannesburg vind ons wêreldpremière komende Sondagaand hier plaas.

Hoekom Rwanda? Voormalige konfliksones is ons teikengehoor en Rwanda was van die begin af hoog op ons lys.

Ons dag begin met ’n besoek aan die Kigali Genocide Memorial Center.

Die sentrum is op ’n rantjie geleë. Vanuit die roostuin sien jy ’n goeie derde van die stad; die res lê gevleg om ’n duisend heuwels.

Net so gelaat

Ons toer begin buite, skuins onder die roostuin, waar 250 000 mense in massagrafte lê. Hulle is oor die afgelope paar jaar na dié plek gebring om saam te rus, aangesien hulle saam, binne net minder as ’n maand van mekaar, vermoor is. Die laaste graf is oop en growwe houtkiste wat met wit satyn bedek is, lê ontbloot. Soos skuldiges steeds na vore kom en vertel waar hul slagoffers/bure/vriende/familie begrawe lê, word hul gehaal, gebring en gestapel. Soms ’n ganse gesin in ’n enkele kis. As die 5x5-meter-graf vol is, word dit bedek en ’n nuwe gegrawe. Daar’s blykbaar nog baie werk om te doen.

Die res van die toer was nie maklik nie. ’n Vinnige verduideliking van “pre-genocide Rwanda”. Hoe eers die Duitsers en toe die Belge die plaaslike mense verdeel en geklassifiseer het. Hoe spanning tussen die Hutu- en Tutsistamme opgebou het oor vele dekades en hoe een man se dood die sneller tot vele meer was. Dan die gedeelte wat handel oor die massaslagting self. Geld vir AK47’s was daar nie en duisende pangas (machetes) is vanaf China ingevoer. Die word bloedig kan nie beskryf wat gevolg het nie. Oor ’n honderd dae is een miljoen mense vermoor. April 1994. Dieselfde tyd as ons eerste demokratiese verkiesing. Terwyl ons ons vryheid gevier het, het ons bure mekaar geslag, en ons het dit nie eers geweet nie. Of het ons?

Die visuele aspek van die museum is vanselfsprekend nie ’n plesier nie en iets wat my vir altyd sal bybly.

Van daar is ons na die platteland om ’n “genocide site” te besoek.

Omtrent ’n uur buite Kigali vind ons Ntarama Katolieke Kerk. Sowat vyfduisend Tutsis het hier skuiling kom soek teen die bloeddorstigheid van radikale Hutus. Om die een of ander bisarre rede het hulle gehoop – nee, geglo – dat hulle veilig sal wees in die huis van hul Vader. Ongelukkig verkeerdelik so. Twee busse vol mans het gearriveer. Die deure van die kerk is van buite geketting en granate is deur die ventilasiegate gegooi. Dit was egter net genoeg om paniek te saai tussen 5 000 mense in ’n enkele kamer. Die deure is oopgemaak en die machetes, die pangas, is ingestuur.

Wat dié kerk laat uitstaan bo die vele ander kerke waar dieselfde plaasgevind het, is die feit dat dié slagoffers nooit van die perseel verwyder is nie. Dit is twaalf jaar later en daar lê hulle nog steeds. Skedels, sommige so groot soos my hand, bene, hemde, broeke, kopdoeke, rokkies, handsakke, skoene, poppe, inkleurboeke, vetkryt, rosekranse, Bybels en nog bene, bene en bene.

Elf Suid-Afrikaners staan stil en staar na iets wat lyk soos ’n Hollywood-filmstel. Trane vloei oor wange van verskillende kleure en hier en daar skiet ’n gebedjie op.

Ons is, after all, in ’n kerk.

Buite die kerk, ’n groot pers banner wat sê NEVER AGAIN.

Never again?

Na die Herero-slagting in Namibië? Na Armenië? Na die Tweede Wêreldoorlog? Na Bosnië? Na Apartheid? Na Rwanda? Never Again? En toe Kosovo? En Darfur?

Never again?

Until the next time.





LitNet: 16 Augustus 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SÍNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.