PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Witbank-blues

Joan Hambidge

i

Op my ouers se dubbelbed speel ons,
Ousus, Kleinsus, AnderSus en ek.
Ons ry see toe met Marmite-brood
en Oros. Tasse gepak. Ek's die pa
en Ousus, ma: ons stop vir petrol
op Colesberg, gooi petrol in, eet
padkos, kyk na die landskap
asof ons regtig reis. Ons hou stil
toe baba speel-speel huil, ruil
'n doek om en ry verder.
Van Witbank tot in die verre Kaap.
Agter 'n speelgoed-stuurwiel, kompleet
met toeter en rathefboom, ry ons
deur 'n Karoo-landskap, totdat
AnderSus benoud roep: "Hulle's terug!"
Die Opel-stasiewa se ligte skryn
die werklikheid oor ons spel:
die baba blitsvinnig in die kot getel,
almal lê tjoepstil in bedjies, totdat Ma
kom nagsê en ons eers die oggend
daarna van die dans vertel.

ii

Op die grasperk sit ons uitgestal:
die vier susters in mooiste Sondagklere
toe Pa 'n foto neem. Skroomvallig
die Oudste; AnderSus kyk, soos altyd, oopoog
in die son; die Kleinsus laggend op my skoot.
12 Watermeyerstraat, Witbank. 1964.
Ma speel klavier, ons doen huiswerk
en saans kla Pa oor sy lang ure by Ou Mutual,
terwyl die baba eentonig begin te hoes.
Ma verlang na die blou-blou berge van die Boland
tussen die mynhope, besoedeling, beproewinge
van kinders grootmaak en afbetaal aan 'n huisverband.
"O blou-blou berge van die Boland,"
sing sy vanaand,
verlangend asof in 'n vreemde land.

iii

Op 'n dag hoes die Kleinsus so erg
dat die dokter voorstel: "'n Ruskans by die see.
Die lug te droog en vuil." So vertrek
ons vir ses maande, Ma en ek, Kleinsus
en AnderSus na 'n kusdorpie in Zoeloeland.
Ma gee skool en elke naweek ry Pa en Ousus
met die blou stasiewa, oor berge
en deur dale, tot by die groot-blou see.
Hier leer ek die twaalfmaal-tafel, deel
en maal en sien vlugtig, ongehoord
'n tienerseun se harige "skaamdeel".
"Jy mag vir niemand vertel nie," sê
hy, toe hy dit onverwags in my hand lê.

iv

Eenie meenie, mynie moe
Catch a tiger by the toe
sing ons en Aljander-Aljander
deur die bos toe AnderSus
in 'n roosboom val. Weke lank sweer
die dorinkies een vir een uit
soos my herinneringe, ek sweer.
Aalwyn en katjiepiering.
Eenkant 'n rotstuin en posbus
met rekeninge en briewe van Ouma
uit Wellington vol trippense en ponde.
"Die lug is grys en hier is geen berge,
net mynhope, mynhope, mynhope,"
skryf Ma in 'n pers Croxley-brief.
Eenie meenie, mynie moe
Trek ellende aan die mou.

v

Ma sit voor die spieëltafel. Ek ruik
haar Blue Grass. Sy en Pa gaan vanaand uit
en Ousus moet baby-sit. "Ek hoor jy vloek," betig
sy en neem my badkamer toe. "En dat jy in die veld
vuurmaak. Dink aan al die diertjies wat kon verbrand!
Boonop niggerballs met jou Kinderkrans-geld gekoop!"
Klein miertjies skroei onder 'n Coke-glas;
dag niemand het ons gesien ...
My hande swart gevlek toe Juffrou vertel
van hoe die sondaars in die Hel
vir ewig en altyd sal brand.
Seep brand in my vervloekte mond,
wyl sy 'n vuur in my stig.
Ousus luister LM-radio,
AnderSus speel Pick-Up Sticks
en ek wonder wie de moer het gaan klik?

vi

Op 'n ander keer boek hulle ons in by die hotel.
"Julle mag koeldrank en lekkers bestel,
maar nie die kamer vanaand verlaat."
My susters speel brug, die Kleinsus slaap.
In die verte hoor ek Guantanamera en glip
by die deur uit, af, af by die gange van die Royal Hotel.
Ek sien hoe almal draai, die swiesj-geluid
van sy-aandrokke op 'n vreemde dans.
Iets soos one-two-cha-cha-cha,
later 'n salsa. Verwonderd druk
ek my vinger deur die skuifdeur
om deel te word van die grootmensspel.
Naby die kroeg sien ek hoe 'n man vir 'n ander man
se vrou 'n dubbel-whisky-on-the-rocks bestel.
Nog later op Quando, Quando, Quando sien ek
hoe hy haar stiekem na buite lok. Hul hande speel
die musiek se hartstog uit in die donkerte van die Royal Hotel.

vii

'n Ander keer breek die pote van die dubbelbed
(dalk omdat ons skelm op die bed spring?) onwetend-
wetend dat Ma en Pa soms snags die deur sluit.
'n Kondoom (onder sokkies) word deur 'n agie ontdek.
Ma gee lesse oor die lyf: "Julle moenie dat die seuns dinge
aan jul doen ..." Die bure se dogtertjie besluit
ek is die man; sy die vrou. "Kom ons soen soos in flieks."
Haar kwispelende tong verlos my vir ewig en altyd van ringe
en kondome met 'n man op 'n meerdoelige dubbelbed.

viii

Soggens stap ons skool toe: eendjies-eendjies-in-'n-ry.
Leer skryf en tel en maal en deel en lieg en vry.
Dan weer skryf en tel en maal en vloek en deel;
op my skoolrapport staan: ek droom te veel.
Smiddae stap ons huis toe: eendjies-eendjies-in-'n-ry.

ix

Op 'n dag koop Pa 'n platespeler en saans, ja saans
luister ons na die Gunther Kalman-koor se Elizabeth-serenade.
Saterdagaande is U eie keuse vol hartseer-musiek en genade.
Ek sien hoe Ma saggies huil toe Pa aankondig: ons is verplaas.





LitNet: 23 Julie 2004

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.