PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Daniel Hugo: Profiel van ’n digter

Joan Hambidge

Die digter Daniel Hugo lewer al vir meer as twee dekades lank ’n bestendige bydrae tot die Afrikaanse digkuns. Dit is verse wat gekenmerk word deur ’n sterk verstegniese bedrewenheid en ook speelsheid. ’n Mens sou die digter tereg as ’n Afrikaanse Ogden Nash kon tipeer, te wete ’n digter wat die speelse, belaglike aspekte van taal uitmuntend uitbuit en digterlik ontgin.

Die digter is ook ’n bedrewe vertaler en ek is van mening dat sy vertalings (eintlik: herdigtings) van Herman de Coninck se Liefde, Miskien (Queillerie, 1996) een van die hoogtepunte in sy oeuvre verteenwoordig.

Dit is ’n digterskap wat enersyds speels is, maar andersyds ook gekenmerk word deur die melancholiese aanslag, soos in die reeks lykdigte vir sy ontslape broer in die bundel Die klein aambeeld (1983):

Jorsie Porsie

Jorsie Jorsie Kankerborsie
geswelde klier en knieë wat swik
hy’t nog nooit ’n vrou gesoen nie
net ’n ma wat oor hom snik

en terwyl sy maats nog speel en veg
raak Jorsie se asem sommer weg

weerklank

môre as hul jou graf uitkap
sal die pik teen ’n vuursteen klap
en ’n kort oomblik suiwer sing
voor dit diep in die swart grond sak

begrafnis

al die kere wat ek jou moes karwei
van rystoel na bed van hier na daar
was maar repetisies vir my
uiteindelike debuut as draer

Daar is ook ’n volgehoue kreatiwiteit rondom die digterlike proses:

die digter as hyskraan

sy staalarm is van ag tot vyf
handlanger in die boubedryf

maar snags verbeel hy hom hy beheer
— as die melkweg se ligte glim —
die agtbaan-planeetverkeer

uit: Die klein aambeeld (1983: 27)

Die digterskap gaan vervolgens op drie verskillende maniere bekyk word, naamlik die:

  • I gesprek met ander digters;

  • II die skep van die alter ego soos Daan van der Merwe / Daantjie Donnerbos / Daniël-in-die-leeukuil om ’n soort digterlike spel te skep;

  • III die volgehoue spanning tussen die doodstematiek en agnostisisme.

    Ten slotte sal die verbintenis tussen hierdie drie temas benader word om ’n nuwe lig te werp op die digter se poëtika, waar die skryf van poësie gesien sal word as ’n proses van oedipalisasie en ’n wegbeweeg van die domein van die orde van van die vaderlike gesag.

    I
    Die gesprek met ander digters:

    Die opvallende aanwesigheid van die digter DJ Opperman manifesteer veral in die digter se vroeëre werk. Die bundel Die klein aambeeld word aan hierdie digter opgedra.

    II
    Die skep van die alter ego:

    III
    Die dood en agnostisisme:

    Toepassing:

    Daniel Hugo is in 1955 in Stellenbosch gebore en sy vader was ’n NG-predikant. Hy was onder meer ’n predikant in Namibië en Greyton in die Kaap. Die vader was ook verbonde aan die NG Sendingkerk in Windhoek. In hierdie digterlike oeuvre is daar nie alleen ’n aflegging van die digterlike vader (Opperman) nie, maar ook ’n opstand teen die vaderlike gesag soos dit in onder meer in Verse van die ongeloof (1989) na vore kom. Die poësie ondersoek dus die spanning tussen die Vader/vader.

    Die naam van die vader (nom du père) in Lacaniaanse terme is die reguleerder van betekenis. By Hugo is die vader ’n letterlike domineevader en ’n figuurlike digterlike Vader (Opperman). Die afsegging van die vaderlike gesag of die opstaan teen die vader is die proses van oedipalisasie. By Hugo vind hierdie onthegting geleidelik plaas. In die eerste bundels is die aanwesigheid van die vaders opmerklik en intimiderend. Die wending in die oeuvre vind by Verse van die ongeloof plaas wanneer die digter duidelik en uitdagend afreken met die vaderlike gesag. Ook vind hier ’n poëtikale verskuiwing plaas: die digter vind sy eie stem. Die opvallende en dikwels steurende Opperman-dreun is hier nie meer aanwesig nie.

    Om hierdie komplekse prosesse te verduidelik, word die psigoanalise van Freud en Lacan gebruik.*

    Jacques Lacan se beginsels oor die vorming van die ego as ’n proses van nabootsing, soos hy dit beskryf in die Écrits — a selection (1966/1977), betrek vele komplekse psigoanalitiese prosesse.

    Die ego word gekonstitueer deur die proses van nabootsing, en die jong kind tydens die spieëlfase (h)erken homself as ’n aparte identiteit. Uit vrees vir die (simbolies) kastrerende vader, maak die kind sig los van die moeder. Die naam van die vader dui op die nee/naam van die vader (op Frans is non/nom sinonieme. Hierom vermoedelik vind ons in Hugo se digkuns ’n volgehoue spel met sinonieme). Die ego word gekonstitueer deur nabootsing sodat dit in wese as ’n entiteit buite die self ervaar kan word. Narcisisme, image (beeld) en ideaal is sentrale konsepte in Lacaniaanse denke. Die belangrikste implikasie is dat identiteit buite die ego lê wat deur nabootsing gevorm word.

    In nabootsing lê ook méconnaissance opgesluit en die self se belewenis van sigself as brokstukke. Lacan onderskei tussen die verbeelde (imaginaire), simboliese (symbolique) en die reële (réel) wat deur die sinthome (’n begrip wat inspeel op simptoom, Sint Thomas en saint, oftewel heilige) verbind word. Die drie vlakke konstitueer betekenis, te wete die pre-linguistiese of verbeelde fase wat beweeg na die simboliese fase. Buite hierdie twee vlakke is die reële opgesluit wat volledig buite bereik is.

    In die knoop (knot) van die psigose of neurose word die pre-linguistiese, simboliese en die reële saamgeknoop. Die gedigleser herken dus die knope soos wat Oedipus ’n raaisel moes oplos vir die sfinks ten einde verlossing/oplossing te vind.

    Die analis en die analysand se rolle is egter nie vir Lacan stabiel nie. Die leser is nie noodwendig die analis nie, want die teks kan die kyker manipuleer om tot ’n sekere konklusie te kom. Beide is egter parlêtres (pratende objekte) en die onbewuste moet gelees word as ’n sluiting tussen die twee. Lacan verwys ook na die manqué à être wat aan die basis van betekenisgewing lê, die gevoel dat iets ontbreek en hierom moet die ego altyd uitbeweeg en na sin soek buite sigself. Die ego egter is vasgevang in ’n doolhof van spieëls oftewel méconnaissance. Die ego voel sig vasgekeer in ’n konstruksie wat as bevreemdend ervaar word.

    Die ca parle (die pratende Id) durf nie werklike begeerte uiter nie. Hierom word begeerte gerepresseer en dit gee aanleiding tot die skep van metafore en die eindelose proses van metaforiek. Die onbewuste is vir Lacan soos ’n taal gestruktureer en terselfdertyd ook die begeerte van die Ander. Die onbewuste is nie verborge in ’n omineuse kluis soos vir Freud nie, maar kenbaar in taal en transferensie.

    Die uitgestelde betekenis, of die wete dat alles om die onvolkome (lack) handel, aktiveer eweneens die proses van signifikasie. Die sogenaamde floating signifier impliseer eweneens dat betekenis nooit vasgepen kan word nie. Die ego voel sig gealiëneerd, omdat die proses van identifikasie een van vervreemding is. Tydens die spieëlfase herken die kind hom/haarself as ’n objek buite sigself. Lacan se doktorale proefskrif Paranoid psychosis and its relations to the personality (1932) bespreek die vorming van die objek en deur die proses van paranoia te ondersoek (telepatiese kommunikasie en vervolging), kan die stappe waardeur die ego gaan, duidelik gesien word.

    Hierdie proses bepaal die optrede van die ego regdeur sy/haar bestaan, en die gevoel van fragmentasie word nooit opgelos nie. Ook is die identifikasie met die Ideaal (Ideale) tersaaklik: die ego identifiseer onbewustelik met sekere projeksies en standpunte binne die familie wat hy/sy as jong kind hoor. Dit word later uitgeleef op ’n onbewustelike vlak. Die ego is gestruktureer soos ’n taal, terwyl die ego verbeeld of nageboots is. Daarom manifesteer die onbewuste in talige vorme. Op ’n liggaamlike vlak kan die onbewuste sig letterlik laat geld deur byvoorbeeld ’n bepaalde simptoom of siektetoestand. As dit geanaliseer word, kan dit herlei word na ’n bepaalde woord wat ’n manifestasie is van ’n bepaalde geestestoestand.

    Die gerepresseerde of verplaasde signifier moet oopgemaak word omdat dit die draer is van ’n bepaalde simptoom. Woorde is vir Lacan bykans konkrete objekte wat boodskappe van die onbewuste oordra, en daarom het hy nooit sy sessies tot 50 minute beperk nie, maar eerder die pasiënt toegelaat om die assosiasies uit te brei. (Of hy het sy sessies na sewe minute onderbreek sodat daar op hierdie manier bruuske toegang tot die onbewuste gemaak kan word.)

    Ook is onderbreking ’n belangrike faktor in Lacaniaanse terapie: dit wat diskontinu is, sal langer onthou word.

    Diskontinuïteit maak gerepresseerde inligting oop. Die ego word gevorm deur identifikasie en die vermoë om met ander ego’s of ekke te identifiseer. Dit gebeur op ’n ingewikkelde wyse sodat die ego dikwels nie eens bewus is van die Ander se persona wat oorgeneem is nie. Die “ek” is nabootsings van ander ekke. In die geval van die digter Daniel Hugo is daar ’n nabootsing van die twee (V)vaders.

    Die image is dus ’n konstruksie of nabootsing. Oor die komplekse prosesse van vervreemding en ego-konstruksies skryf Lacan uitgebreid in The four fundamental concepts of psycho-analysis, wat oorspronklik in 1973 verskyn het as transkripsies van lesings deur Jacques-Alain Miller.

    In die essay “The split between the eye and the gaze” betrek Lacan die Wiederholungszwang, oftewel die begeerte tot repetisie, wat aan die basis van Freudiaanse denke is. Die struktuur van die netwerk bepaal die herhaling. Lacan beweer ook dat hierdie proses bykans soos met ’n lotery plaasvind: om lootjies te trek (tirer au sort) (Lacan, 1977: 67). As daar egter net een kaart in die pak is, kan daar net een getrek word. By Hugo is daar dikwels twee karate: die vader en die Vader.

    Die onbewuste funksioneer met ’n “sense of impediment” op hortende, flitsende wyse of dit nou drome, parapraxis of ’n briljante insig is, beweer Lacan (1977: 25) Dieselfde geld gedigte wat ook beelde of representasies is van innerlike konflik, geweld of die digter se synthome.

    Lacan vervolg: “Impediment, failure, split. In a spoken or written sentence something stumbles.” Hy verbind die onbewuste ook aan repetisie, soos Freud, en voeg hierby, dit wat die onbewuste ook ontken of verwerp (“refuse”, 43). Wiederholen is dan ook die mees komplekse aspek van die onbewuste se struktuur en is gekoppel aan trauma.

    Lacan maak dit ook duidelik dat psigoanalise nie ’n wêreldbeskouing of filosofie is nie. Dit pretendeer nie om ’n sleutel tot die geheime van die universum te wees nie. Dit het net een doelwit en dit is naamlik om die subjek terug te neem na sy signifiërende afhanklikheid. Die onbewuste is dan ook vir Lacan gestruktureer soos ’n taal en die begeerte van die Ander (Lacan, 1977: 77). Die split van die subjek, oftewel die gespletenheid van die subjek, is sentraal in Lacaniaanse denke.

    In die afdeling oor die gaze interpreteer Lacan die droom van die vader wat Freud behandel in sy The interpretation of dreams (1900). Die vader droom sy seun roep na hom, omdat hy verbrand. Wanneer die vader opstaan, is die kind reeds dood verbrand. Die filmiese voorstelling van die onbewuste dui vir Lacan op die gespletenheid in die subjek. Die objet petit a (’n konsep wat volgens Lacan onvertaalbaar is) kan as volg geïnterpreteer word: die a verwys na die Autre (Ander); die petit a (klein a) differensieer die objek van die groot A. Dit is vir hom ’n algebraïese teken.

    Agentskap (“acting upon”) verwys na die verwantskap tussen die ego, id en superego, terwyl die le semblable (“counterpart”) verwys na die ego se soeke na identiteit buite sigself. In die sogenaamde spieëlfase word hierdie aspek geartikuleer. Désir (begeerte) verwys na méér as begeerte of wensvervulling. Dit is vir Lacan eerder die krag wat alles beheer en reguleer. (Dit is dus meer as die Duitse Wunsch of wens, wat ’n individuele begeerte artikuleer.) In die vertalingsnota word dit soos volg opgesom: “Desire(fundamentally in the singular) is a perpetual effect of symbolic articulation. It is not an appetite: it is essentially excentric and insatiable” (Lacan, 1977: 278). Hierom word dit nie gekoppel aan die objek wat dit behoort te behaag nie, maar eerder aan die objek wat dit veroorsaak.

    Die pulsion (Trieb, “drive”) is vir Lacan psigies, terwyl die instink (Instink) biologiese konnotasies dra. Vir Lacan het hierdie belangrike onderskeiding vaag geraak in die Engelse vertalings van Freud. Juis omdat Lacan Freud simbolies-linguisties vertaal, is hierdie onderskeiding van kardinale belang.

    Die énoncé (stelling) is die woorde wat geuiter word en énonciation is die proses van uitering. Imaginaire, symbolique, reel (die verbeelde, simboliese en reële). Die verbeelde (imaginaire) is die imago of die self wat geformeer word in die sogenaamde spieëlfase. Die simboliese is nie ikonies nie, maar betekenaars wat alleen betekenis verkry binne ’n bepaalde konteks. Die simboliese bepaal ook die optrede en orde van die subjek. Daar is voortdurende spanning tussen die ego en sy “images” of verbeeldings.

    Die derde vlak, die sogenaamde reële, verbind die simboliese en die verbeelde. Dit staan vir dit wat nog simbolies nog verbeeld is. Dit staan ook volledig buite analitiese denke of spraak. Hierdie aspek moet nie met die werklikheid verwar word nie. Werklikheid is vir die subjek van begeerte (’n proses) in iedere geval net fantasmagories (Lacan, 1977: 280).

    Jouissance is ondefinieerbare begeerte, meer as die Freudiaanse prinsipe van plesier, dit wat die psige begeer: ’n punt van geen spanning. Jouissance oorskry selfs hierdie wet; dit is verby begeerte en dus ondefinieerbaar. Dit kan ook gelees word as ’n manifestasie van die onbewuste.

    Manque-à-être (“want-to-be”), is ’n skepping of neologisme van Lacan. Leurre (“lure”) dui op die Engelse begrip vir “enticement” en “bait”. Die term is verbind met méconnaisance, oftewel die onvermoë om te kan herken of ’n verkeerde waarneming. Die naam van die vader (nom-du-père) verwys nie na die werklike of verbeelde vader nie, maar na die simboliese vader.

    Ellie Ragland bespreek in Essays on the pleasures of death — From Freud to Lacan (1995) die retorika van die onbewuste, wat volgens Lacan duidelike matematiese verbintenisse aangaan (198). In die afdeling “The paternal metaphor”, wys Ragland op die ingewikkelde formasie van die verbeelde, simboliese en reële vlakke.

    Met taal betree die kind die domein van gespeletenheid. Taal word aangeleer, juis deur die drie samehangende, dog nie- ooreenstemmende vlakke: Klanke wat geassosieer word met woorde en ’n eienaam (die simboliese vlak); identifikasies wat die liggaam konstitueer (die verbeelde vlak); en die gevolg van verlies in die mate wat dit ’n merk laat op die biologiese organisme (die reële vlak).

    “The libidinal qualities”, skryf Ragland op bladsy 182, “produced by the gaze, the voice, and so on, are repressed as ‘objects’ that give rise to unary signifiers marked by a primary jouissance — an attachment to reminiscences of oneness. These signifiers bind the outer world to a seemingly ‘inner’ void in one single stroke. This minimal Borromean structuring of a signifying chain constitutes what we call ‘mind’ in a series of triadic units. And since one of these units — the real — infers constant loss, which, in turn, produces anxiety, people use language to seek the emotional comfort of closing out the real” (kursivering van my).

    Lacan verduidelik die taal van die onredelike of die irrasionele. Hy karteer by uitstek die struktuur van die onbewuste. So beskou sal digterlike taal die onbewuste van die regisseur verraai. Dit bly dan die letter in die onbewuste, of die wond wat dan deur digterlike taal besweer moet word. (Slavoj Zizek verduidelik die naam-van-die-vader as die dooie simboliese vader of die vader van dooie letters in Ragland, 1995: 215).

    In die Seminar R.S.I. beskryf Lacan die torus-konsep(0) wat soos ’n doughnut of ’n motorband lyk ten einde die onbewuste voor te stel. Ragland skryf: “Lacan found this figure important in his efforts to redirect thinking about the Freudian unconscious toward the idea of a real hole in being and body that places space both inside and outside a person, collapsing inside and outside into an extimate object a that is the subject. That is, the void in language, being, and body forms a torus where inside and outside define two voids — an internal and external one — that points to something real in form itself” (1995:199). Dit wat ons dan waarneem as ’n sirkel of gat word veroorsaak deur ’n ab-sens wat bepalend is.

    Reeds in die Seminar I verduidelik Lacan die belang van die oog om gereduseer te word tot die gaze: “In order to reduce us for a moment to being only an eye, we had to put ourselves in the shoes of the scientist who can decree that he is just an eye, and can put a notice on the door — Do not disturb the experimenter. In life, things are entirely different, because we aren’t an eye. So, this eye, what does it mean? It means that, in the relation of the imaginary and the real, and in the constitution of the world such as results from it, everything depends on the position of the subject. And the position of the subject — you should know, I’ve been repeating it for long enough — is essentially characterized by its place in the symbolic world, in other words in the world of speech. Whether he has the right to, or is prohibited from, calling himself Pedro hangs on this place. Depending on what is the case, he is within the field of the cone or he isn’t” (in Ragland, 1999: 203).

    Freud se Ichspaltung word by Lacan die gesplete ego. Die ich is vir Lacan die je/moi parlêtre en die Freudiaanse es, die ca of jouissance. Die objet a is die oorsaak van die begeerte waarvan sowel die funksie as die oorsaak volledig onbewus en dus on-bekend is. Soos Ragland tereg argumenteer: “The moi symbolizes the uniqueness of each person’s narcissism (or identity). And even though the person is unaware of the fictional (identificatory and linguistic) nature of his own ‘personality’ composition, the relation of ‘being’ (or unbeing) to the ca or jouissance is palpable” (1995: 7). Sy argumenteer ook in die afdeling “The paternal metaphor” dat gender-identiteit mites noodsaaklik is vir die sosiale rolle in ons seksuele maskerade. Ook word normatiewe maskerade oopgemaak (“unveiled”), sodat die effek van die Oedipale struktuur openbaar word. Begeerte is gestruktureer in Lacaniaanse terme (1995: 225).

    Dit sal dan uiteraard ook ’n effek hê op die waarneming van die moi. Die ego is ’n semblance van ’n identiteit wat ons beskerm teen die pynlike ontnugtering wat in die real opgesluit is. Hierdie insig van Lacan is uiters tersaaklik vir tekste wat spesifiek funksioneer rondom illusies en die verbreking daarvan. Ragland wys dan ook daarop dat in gemeenskappe word hierdie aspek gemitologiseer as die hel of purgatorium: “Encounters with the real — be it the loss of a beloved, of a cherished myth, or of the place in which one lives — bring one face to face with the void, shattering, or at least shaking, illusions of unity and oneness in one’s ego universe” (Essays on the pleasures of death, 1995: 31).

    Die ego is die pratende onbewuste. Dit is alleen die nabootsing van ander ego’s wat reeds van jongs af geyk word deur ouers en familie se opmerkings oor ooreenkomste met bestaande familielede. Ook dit benadruk die gespletenheid van die ek.

    Die ego kan nooit in die domein van die Ander beweeg nie. Hierom is die Ander ook ’n representasie van die onbewuste. “Both language and narcissistic identifications are defenses that protect humans from the fear of castration, and from the knowledge that an Other speaks them,” voer Ragland tereg aan (1995: 35). Narcissisme is ook tersaaklik vir die verstaan van Freudiaanse Besetzung oftewel investissement/cathexis. Begeerte word op objekte of mense verplaas sodat daar selfs verwys kan word na psigiese investering.

    Dit weer is gekoppel aan die eerste ervarings wat Lacan die snit van die moeder noem. Ragland beskryf dit soos volg: “The earliest imagos of the body - those of disintegration, dismemberment, and bursting — point to aggressive intentions, that are, in fact, real frustrations that arise as responses to the losses Lacan calls the experience of the cut. Such aggressiveness later reappears in child’s play, dreams, painting, sado-masochistic crimes, perversions, psychotic hallucinations, and so on” (1995: 34).

    Hierdie gevoel van magteloosheid word weer her-beleef tydens traumatiese of enige grensoorskrydende ervarings. Die ego is beperk en uitgelewer aan die formele beperkinge van die gemeenskap wat dikwels lei tot ’n kontradiksie tussen die onbewuste en die ego.

    Die digter Hugo heraktiveer dieselfde temas wat — Lacaniaans gesien — die posisie van neurose is, omdat dieselfde mislukkings of pyn herspeel word sodat die onbewuste as ’t ware vasgeketting bly aan die dooie tekens van die verlede in plaas daarvan om die plesier in die hede te aktiveer (Ragland, 1995: 45). Die proses word getipeer as ’n gevriesde narcissisme wat by Freud gekoppel word aan die sogenaamde herhalingsdwang.

    Dit is volgens Lacan egter onmoontlik om pynlike patrone te breek omdat dit gekoppel is aan onbewuste identifikasies en fantasie. Die begeerte van die analis (le désir de l’analyst wat op Frans letterlik beteken die begeerte tot die analis en die analis se begeerte) word hieruit ontwerp. Die analis moet die pyn van die analysand naboots. Ragland skryf: “For the analyst is enjoined to simulate the suffering underlying the analysand’s unstated, even unconstituted, desire. The analyst takes the position of semblant, simulating sorrows too deep for the patient to speak, revealing a place of empty despair and the silence of jouissance behind any question of desire” (1995: 101). Hier maak die analysand dan kontak met die real, vervreemde jouissance wat beveg word deur mite, fantasie of fiksie. Die digter konfronteer dus die kyker met hierdie proses van vervreemding of die jouissance wat gekoppel is aan eie fantasie of mite. Hierom spreek gedigte ons aan sonder dat dit volledig rasioneel begryp kan word. Die gedig aktiveer die verlies as die bepalende teken van die onbewuste en die gedig representeer hierdie verlies waaraan almal partisipeer. Die syn van die self (m’être) moet telkens gemeet word aan die meester-diskoers van die simboliese orde wat alles bepaal. Die void of leegte bepaal dat jouissance altyd in taal sal inbeweeg. Dit kan sowel ekstase as pyn verskaf. Hierdie proses is dan verantwoordelik vir uitinge soos ekstase, depressie, woede, wanhoop. Ragland skryf: “It opens onto the impossible real which never ceases to write itself in the object a (das Ding) that seeks to fill up the void (vide) of loss” (1995: 110). Daar kan nooit finaliteit wees nie. Deur hierdie proses is daar telkemale ’n afbraak van bestendighede.

    Die real of waarheid word gerepresseer: “Only when repression is lifted does an object a fall out of fantasy, allowing one to confront unconscious desire in terms of lethal jouissance that blocks it” (Ragland, 1995: 112). Lacan interpreteer die Freudiaanse beginsel van beyond the pleasure principle op ’n oortuigende nuwe wyse deur dit te koppel aan jouissance, wat dikwels verantwoordelik is vir ’n blokkasie of repressie.

    Begeerte is dus in ’n dialektiese proses, afhanklik van ’n komplekse sisteem.

    Voor dooiemansdeur:

    Die soeke na identiteit manifesteer by Hugo in die volgehoue taalspel. In Die boek Daniel:

    Letter-lyk

    Die einde van alle anekdotes
    uiteindelik as ek dood is

    In Verse van die ongeloof (1989) word die liefde in religieuse beelde besing. Die oortreding van die buite-egtelike verhouding, die “sondeval”, word hier ’n opstand teen die samelewing en die vader se gesag.

    Credo II

    liefde is die geloof van ’n heiden
    maar wat doen ek noudat jy my afjak
    my liefde ontsê: word ek ’n christen? (…)

    ’n Nuwe geloof, naamlik die seksuele “geloof”, word in hierdie bundel besing (“Lyfmistiek”: “jy’t my geleer: die tasbaarheid van die geloof”, 23).

    Die woordspel (die tekens in die onbewuste) kan alleenlik deur die dood opgehef word. Die digter probeer die vaders troef deur die “klein aambeeld” van die digkuns. Maar hy staan dikwels voor “dooiemansdeur” voor die sterk aanwesigheid van die vaderlike gesag. Die ontnugtering met die vaders word dan ook direk aangespreek in die gedig “Ontnugterde digter” (Dooiemansdeur, 1991: 46):

    Ontnugterde digter

    (vir DJO)

    dit het hy geglo op vyf-en-twintig;
    jy moet al die oseane bevaar
    as jy gesout en wêreldwys wil dig

    met ’n bottel het hy die boot beman
    en ’n dekade lank hom dol gedra
    toe tussen dek en kaai oorboord gegaan

    op vyf-en-dertig — na baie skande —
    weet hy jy kan die ryme ook takel
    teen die kimme van jou kamerwande

    hy wens hy kon die reis van voor begin
    dan sou hy beslis uit die pekel bly
    deur ’n skip in die bottel te versin

    Monnikewerk (1995) ondersoek die bekende Hugo-temas en gebruik die middeleeuse monnik as sentrale beeldwerk vir die gedigte. Ook hier word die domein van die vaderlike gesag betree en oortree. In “Palimpses” (19) word die vader aangespreek:

    Palimpses

    met argwaan praat my predikantepa
    oor die moderne poësie — ek hou my doof
    as hy begin uitvra oor een van my
    bundels: dit heet dan Verse van die ongeloof

    In die derde strofe bely die digter:

    al het ek die talent van hom geërf
    dien ons — ongerymd — verskillende belange
    sy dogma het ek lank reeds afgesweer
    maar bly opgewonde oor ’n woord soos “snode”

    En ten slotte:

    in die ongeseënde taal van ons verwantskap
    mag geen monnikehand ’n enkele rymwoord skrap.

    Skeurkalender (1998) is oorwegend minder geobsedeer met die religieuse tematiek as die voorgangers. Tog is daar in enkele verse verwysings na religieuse figure of word beelde uit hierdie wêreld gebruik, soos “Credo” (24) en “Bekeringsgeskiedenis” (25). Die religieuse tematiek word ook gebruik om die liefdesmistiek te “verklaar” (soos in “Want die Here jou God is ’n jaloerse God”, 27). In die gedig “Die jaar nul, 1954” (53) vind hy die herinneringe van sy vader wat opgeteken staan in ’n gedenkblad. Hoewel die domein van die vader dan nie meer gevolg word nie, skryf hy steeds ’n vers oor sy vader se herinneringe.

    “Geroepene” (56) handel oor die kind wat in sy vader se studeerkamer sy algebraprobleem probeer oplos (“Algekadabra”). Die taal van die vader is die taal van die simboliek en dit is ook relevant dat hierdie gedig dan handel oor die ruimte van die studeerkamer (’n tradisioneel-manlike domein) waar die vader se boeke staan. Die gedig handel oor ’n storm. Die kreatiewe daad word gelykgestel aan die storm wat buite woed en die besoek van die Heilige Gees. In “Klipwerk” (65) word Opperman ook direk aangespreek (“wees sintuiglik, wees konkreet”). Daar is egter nou afstand en verironisering oor beide hierdie vaders aanwesig.

    Die twaalfde letter (2002) — die jongste bundel tot op datum — se titel speel in op die Lacaniaanse letter van die wet. Die twaalde letter hier verwys letterlik na die liefde, maar twaalf verwys ook na die patriargale mag, naamlik die wysvinger!

    Kolofon

    dié boek is opgedra aan ’n skerp verstand
    — een wat my blaaie opnuut beletter —
    wat begryp én troos met ’n sagte hand

    die hand is glo ’n dienaar van die verstand
    — slim ontdekker van die twaalfde letter —
    maar kry tog die oorhand, langsamerhand

    En in “Begraafplas, Mamre” (14):

    II
    in die teenwoordigheid van die dood
    glo ons graag in die hierna:
    dat daar ’n oortog sal wees
    op ’n drywende kruis of ’n kano

    maar geloof alleen
    is dalk nie genoeg nie
    daarom plaas ek ’n muntstuk
    op die gehawendste grafsteen

    as aalmoes of obool
    vir die onsalige siel
    wat nog duskant ronddool





    Bibliografie:

    De Conick, Herman. 1996. Liefde, miskien. Kaapstad:Queillerie.

    Eco, Umberto. 1979. The role of the reader. Explorations in the semiotics of texts. Londen: Hutchinson.

    Hambidge, Joan.2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ’n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. Doktorale proefskrif, UK.

    Hugo, Daniel.
    1984. Breekware vir die revolusie. Kaapstad: Human & Rousseau.
    1983. Buitekamerklanke. Johannesburg: Perskor.
    1983. Die klein aambeeld. Kaapstad:Human & Rousseau.
    2002. Die twaalfde letter. Protea Boekhuis, Pretoria.
    1986. Die boek Daniel. Kaapstad:Human & Rousseau.
    1991. Dooiemansdeur. Kaapstad: Tafelberg.
    1982. Korte mette. Kaapstad: Human & Rousseau.
    1995. Monnikewerk. Kaapstad: Tafelberg.
    1998. Skeurkalender. Kaapstad: Tafelberg.
    1989. Verse van die ongeloof. Pretoria: Haum-Literêr.
    1987. Vuurdoring. Pretoria: Haum-Literêr.

    Komrij, Gerrit. 1999. Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Amsterdam:Bert Bakker.

    Lacan, Jacques.
    1966/1977. Écrits. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.
    1932. Paranoid psychosis and its relations to the personality. (De la psychose paranoïaque dans ses rapports avec la personalité). Doktorale proefskrif, Sorbonne. Parys Le Francois.
    1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Penguin.

    Leader, Darian. 1966. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.

    Ragland, Ellie.1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.



    * Hier word sterk geleun op die teoretiese uiteensetting in my tweede doktorale dissertasie oor egovorming. Dit word aangepas vir die doeleindes van hierdie ondersoek. (UK, 2000).



    LitNet: 17 Maart 2004

    terug    /     boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.