PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960[1]

Hierdie teks wil die aandag vestig op bepaalde historiese en teoretiese beelde van die Afrikaanse poësie. Dit moet gelees word saam met die inleiding tot die antologie Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 deur Ronel Foster en Louise Viljoen (1997). Dit moet in gedagte gehou word dat daar sedert 1960 meer as 500 Afrikaanse digbundels verskyn het. Van die ouer digters soos Louw, Opperman, Van Heerden en Eybers was in hierdie tydperk nog aktief werksaam.

1.    Historiese beelde

Wanneer ’n leser probeer om sin te maak van ’n gedig in ’n bundel, of wanneer ’n opvoeder in die klas as fasiliteerder optree om ’n enkele gedig vir die leerders te help “ontsluit”, word daar dikwels so sterk gefokus op die implikasies van die woorde op papier, van die geskrewe teks, dat dit uit die oog verloor word dat die spesifieke teks onder die vergrootglas eintlik omring word deur ander geskrewe tekste (soos gedigte), maar ook deur niegeskrewe tekste, naamlik die “tekste” van die werklikheid: sosiale, politieke, religieuse, ekonomiese en ander “tekste”.

Dit is een ding om die beelde of beeldspraak van en in ’n gedig raak te sien of uit te wys, maar dit is ’n geheel ander saak om die enkelgedig of enkelteks te beskou as deel van ’n ryke, fassinerende, kleurvolle tekstiel van tekste. En dit is juis die oorsprong van die woord teks: Lat. textus = “tekstiel”, “weefwerk”, “weefsel”, “materiaal”, “doek”, “lap”.

Ek wil vandag saam met u kyk na enkele beelde of patrone op die doek van die Afrikaanse letterkunde, of as ons vanaf die tekstielwêreld die oog kan laat spring na die film- en televisiewêreld: beelde op die silwerdoek, beelde op die televisieskerm van die Afrikaanse letterkunde; of, in ’n ouer Afrikaans: beelde op die beeldradioskerm van die letterkunde. Aangesien ek dit vandag het oor beelde, gaan ek juis beelde (metafore) gebruik om op eenvoudige wyse sekere tendense in die geskiedenis en die teorie mee te tipeer.

1.1    Voëlvlugbeeld van die Afrikaanse letterkunde — 1652 tot vandag

    1652-1875: Oorspronge van die Afrikaanse letterkunde
    Nederlandse koloniale letterkunde Orale literatuur Eerste Afrikaanse geskrifte.

    1875-1900: Eerste Taalbeweging
    Strydgedigte Geestige poësie

    1900-1930: Tweede Taalbeweging
    Eerste geslag Tweede geslag

    1930-1940: Romantiek en die Dertigers
    Romantiek: onder meer die uitbeelding van die lokale Dertigers: onder meer belydenispoësie

    1940-1955: Veertig en vyftig
    Gestaltepoësie

    1955 en verder: Postmodernistiese poësie?

1.2    Geskiedenis

As ek op die voetspoor van die die literatuurgeskiedkundige John Kannemeyer deur die landskap van die Afrikaanse poësie loop, sien ek verskillende beelde, naamlik:

  • die tekste van die Nederlandse koloniale tydperk, die eerste Afrikaanse geskrifte en die orale literatuur (die mondelinge tradisie)
  • die strydgedigte en geestige poësie van die sogenaamde Eerste Afrikaanse Taalbeweging
  • die poësie van die twee geslagte van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.

    Hierdie beelde stel die vestiging van Afrikaans ten toon. Die volgende groep beelde raak meer uiteenlopend van aard:

  • die volkse romantiek van byvoorbeeld CM van den Heever, ID du Plessis en S Ign Mocke, en veral die belydenispoësie van die welbekende Dertigers
  • die gestaltepoësie van veertig en vyftig
  • die eklektisisme van die poësie vanaf ongeveer die sestigerjare.

    1.3    Geskiedenis sedert die Dertigers: metafore ter identifisering

    By die laaste drie groepe word ietwat langer stilgestaan. Om as geheuebruggies te dien, word gebruik gemaak van metafore wat almal met beelde te doen het.

  • Die skep van droombeelde
    In die dertigerjare het digters soos NP van Wyk Louw en Elisabeth Eybers gesoek na die juiste, die onvervangbare, subtiele, beeldskone woord. Hulle het daarna gestreef om die eie, individuele sielelewe onder woorde te bring in wat genoem word belydenis- of biegpoësie. Omdat hierdie poësie vir baie lesers ’n besondere skoonheidswaarde en droomsfeer besit, gebruik ek die metafoor van die droombeeld hiervoor. Hierdie metafoor wys tegelykertyd op die illusie van die idee dat ’n mens ooit die juiste woord sal kan vind.

  • Die maak van standbeelde
    In die veertiger- en vyftigerjare word daar wegbeweeg van die belydenispoësie van die voorafgaande dekade. Digters soos NP van Wyk Louw en DJ Opperman beoefen nou die sogenaamde gestaltepoësie deurdat hulle gestaltes (figure) benut om bepaalde emosies of gedagtes voor te stel. Hulle worstel nou nie meer soseer met hul eie persoonlike probleme en met God nie, maar skryf weg van hulself af en gee uitdrukking aan hul emosies deur objektivering. Hulle soek na ’n objektiewe beeldkorrelaat, ’n gestalte — iets soos ’n standbeeld van die engel wat deur die beeldhouer (die digter) uit die klip verlos moet word, as ek Opperman kan betrek. Die metafoor wat ek vir hierdie soort poësie wil gebruik, is dié van die standbeeld.

  • Die uitwys van drogbeelde in die maatskappy
    Die jaar 1955 is ’n belangrike datum in die Afrikaanse poësiegeskiedenis: die debuutjaar van Peter Blum, volgens my ons eerste werklik postmodernistiese digter. Sy skerp en bevraagtekenende kyk na die Suid-Afrikaanse werklikheid openbaar ’n hele paar drogbeelde in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en samelewing. Hierdie poësie bevraagteken die sosiopolitieke status quo, asook die manier waarop ons met taal omgaan, die manier waarop ons verstaan of dink dat ons verstaan.

    1.4     Oorgangsfigure — op die rand van sestig

      Ingrid Jonker: verse oor die liefde en die politiek
      Adam Small: politieke gedigte (soms in die Kaapse variant van Afrikaans)
      Boerneef: gedigte oor plaas en stad (Karoo-Afrikaans — streektaal, variant van Afrikaans)
      George Louw: verse oor die jeug en aktuele onderwerpe

    1.5     Die sestigerjare en daarna

    Wat is die beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960?

    Breyten Breytenbach se poësie verskaf by uitstek ’n beeld, of voorbeeld,of toonbeeld van die nuwe tipe vers; baie jonger epigone volg hom na (boots sy styl na). Hierdie digters beweeg weg van die gestaltepoësie van die vorige era waarin die digters dikwels ’n enkele metafoor gekies het wat hulle dan in besonderhede uitgewerk het. Die digters van die sestigerjare bedryf ’n amorfe, losser verssoort (dit wil sê sonder eindrym en ander tradisionele bindmiddele) en skryf gedigte oor die digkuns, oor die self, die eie land en ander lande; hulle skryf reisverse, politieke verse en satiriese verse. Barend Toerien se poësie het ’n eie “stem” — hy skryf oor aktualiteite en ekologiese kwessies.

  • Die voorbeeld of toonbeeld van sestig: Breyten Breytenbach
    Breytenbach dryf die kunsteoretiese of metapoëtiese vers op die spits — hy voer homself met naam en al in sy tekste in. Hy skryf politieke en outobiografiese gedigte, streek- en reisverse, liefdesverse en Zen-poësie.

  • Die “Little Magazines” as die Beeld van destyds (laat sestig tot vroeg sewentig)
    Baie digters wend hulle in hierdie tydperk tot sekere klein tydskrifte, wat teen sensuur ingestel is: Wilma Stockenström publiseer byvoorbeeld in Wurm, Ophir en Izwe. Dan is daar ook nog Donga en Taaldoos. André Letoit en Johan van Wyk publiseer in byvoorbeeld Inspan. Die tydskrif Spado word later Graffier. Ander interessante name is: Wietie, The Bloody Horse, Stet, Skryf, Akuut en Ensovoort. Laasgenoemde is waarskynlik die enigste een wat steeds bestaan (onder redakteurskap van Johann Lodewyk Marais). Om na die verskynsel van die “Little Magazines” te verwys, stel ek (ietwat tong in die kies) die geheuebruggie Beeld voor — die naam van ’n eietydse, groot koerant.

  • Vroueskrywers as boegbeelde (1970-1979)
    Tot in hierdie stadium was daar min vrouedebutante. Die volgende persentasies het betrekking op debuutbundels deur vroue:
    1955-1969: 13% van die totale getal debute
    1970-1979: 31%
    1980-1989: 24%
    1990-2000: 25%.

    Uit hierdie statistiek kan afgelei word dat die deurbraak van die vrouedigters in die dekade van sewentig plaasgevind het:

      Antjie Krog: Verruim die tematiek. Feminisme. Aktualiteite
      Sheila Cussons: Religieuse gedigte
      Wilma Stockenström: Satiriese blik op die mens. Historiese bewussyn. Verse wat ’n “onbetrokke betrokkenheid” openbaar
      Lina Spies: Gedigte oor die ervaring van die vrou
      Salomi Louw: Liefdesgedigte
      Petra Müller: Streek- en reisverse.

    Ter ere van die baanbrekersrol van hierdie en ander vroue wil ek die metafoor van die boegbeeld gebruik (in sekere opsigte is hierdie metafoor ironies). Vroeër het skepe dikwels een of ander beeld of versiersel op die boeg gehad wat veronderstel was om die skip en die bemanning te beskerm — dikwels die kop en bolyf van ’n pragtige vrou (ander figure was diere, religieuse simbole, nasionale simbole, ensovoorts).

    In die tydperk 1970-79 is daar, naas die reeds gevestigde digters, ook die volgende mense werksaam:

      Hennie Aucamp: Politieke gedigte, homo-erotiese poësie, kabarettekste
      Jan Swanepoel: Verse oor die politiek en die natuur.

  • D J Opperman en die Letterkundige Laboratorium op Stellenbosch (1960-1985)
    Opperman skep sy sogenaamde Letterkundige Laboratorium aan die Departement van Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch. In hul derde studiejaar word sekere studente (sowat 10-15) genooi om die letterkunde te kom beproef in hierdie Laboratorium — sowel skrywende siele as kritici: Lina Spies, Fanie Olivier, Rika Cilliers, Charles Fryer, Marlene van Niekerk, Daniel Hugo, Leon Strydom, EWS Hammond, Joan Hambidge en andere. Ook Antjie Krog kom onder Opperman se vleuel tereg. Ná Opperman se dood in 1985 debuteer ook enkele gewese Laboriete, soos Wium van Zyl en Ronel de Goede.
    Opperman se credo: daar moet weggestuur word van die belydenis en die regstreekse emosie, en beeldkorrelate of gestaltes moet gevind word.

  • Struggle-poësie of aambeeldpoësie (1970-1980)
    ’n Aambeeld is ’n ysterblok wat ’n smid gebruik om metale op te smee. Die uitdrukking “om altyd op dieselfde aambeeld te slaan”, beteken om oor en oor van dieselfde saak te praat. En dit is presies wat die struggle-digters gedoen het: dit was hul erns om oor en oor die aandag te vestig op die sosiale ongeregtighede in die land en die lot van die werkersklas. Dié soort digkuns het nie in die eerste plek ’n estetiese doel nagestreef nie, maar ’n pragmatiese een. Hierna word ook verwys as “Black consciousness poetry”. Hoewel Adam Small sterk politieke verse (strydpoësie) geskryf het, staan hy ietwat buite die struggle-beweging. Struggle-digters is onder meer: Patrick Petersen, Achmat Dangor, Hein Willemse, André Boezak, Leonard Koza, Vernie February en Beverley Jansen. Hierdie digters lewer ook bydraes vir die “Little Magazines”. Hulle gee hul eie werk gesamentlik uit of neem dit op in Engelse bundels.

  • ’n Eklektiese versameling beelde (1970/80 en later)
    ’n Groot en eklektiese verskeidenheid beelde kenmerk hierdie tydperk. Hoewel daar in die sewentigerjare heelwat bundels uitgegee word, word die aantal debutante tot op datum steeds minder: onder meer TT Cloete (oudste debutant, teenoor Annesu de Vos, die jongste debutant), André Letoit, Johann de Lange, Achmat Dangor, Jan de Bruyn, Joan Hambidge, Patrick Petersen, Johann Johl, Johan Myburgh, Dirk Winterbach, Gert Vlok Nel, Ronel de Goede, Trienke Laurie, Charl-Pierre Naudé, Heilna du Plooy en Zandra Bezuidenhout.

  • Spieëlbeelde van die geskiedenis?
    Heelwat van die onlangse digkuns handel oor die geskiedenis (dié van die familie, die streek, die land) of oor een of ander historiese gebeurtenis. Hierdie gedigte weerspieël dikwels nie die geskiedenis soos wat dit aan ons oorgelewer is nie (vandaar die vraagteken hierbo), maar hulle herskryf die geskiedenis deur die aandag te vestig op verwaarloosde of gemarginaliseerde figure; hulle wil die politieke en literêre geskiedenis (ook die eietydse geskiedenis) herskryf en oopskryf. Hierdie gedigte handel dikwels ook oor die hele kwessie van die manier waarop die geskiedenis (ook die literêre geskiedenis) geskryf word (dws die historiografie) en oor die manier waarop poësie geskryf word. Eksponente is: Gert Vlok Nel, Johann Johl, Joan Hambidge, André Letoit, Johann de Lange, Wilma Stockenström, Antjie Krog en Ronel de Goede.


    2.     Teoretiese beelde

  • ’n Beeldestorm — die afwys van ’n finale, afsluitende betekenis
    Vervolgens wil ek met u praat oor die postmodernisme. Die toneel voor my is so ryk en geskakeerd dat ek net op enkele beelde van die postmodernisme en die digterlike landskap sedert die sestigerjare sal kan fokus. En ons sien nie almal dieselfde lyne of figure in die lap of die laslap van die letterkunde nie.

    U is waarskynlik goed bekend met die afbeelding van ’n vrouefiguur wat op geheel verskillende maniere deur verskillende mense bekyk word: vir sommiges is sy ’n pragtige jong meisie, maar vir ander lyk sy na ’n ou heks met ’n prominente neus.
    Hierdie prent demonstreer een van die belangrikste ontwikkelinge in die onlangse poësieteorie, nl die afwys van ’n finale, afsluitende interpretasie of betekenis. Dit gaan hier om die mening wat deur vele teoretici uitgespreek word dat daar by die lees van ’n literêre teks nie uitgekom kan word by ’n finale, afsluitende betekenis wat dan die enigste en korrekte interpretasie van die teks sou wees nie. Hiervoor gebruik ek die metafoor van die beeldestorm (vergelyk die beeldevernietiging en kerkplundering in 1566 in die Nederlande deur die Calviniste — ook ikonoklasme genoem). Die postmodernisme ondergrawe vele oorgelewerde standpunte, menings, sekerhede, heilige koeie, “beelde”. Nie dat dit nou ’n splinternuwe tendens is nie — mense wonder al jare lank wie die karakters Boggom en Voertsek is in die ou Leipoldt-gedig.

    Maar wat het onderwysers vroeër in hul klasse gedoen (en ek was self ook in die onderwys — mea culpa)? Hulle het een enkele interpretasie op die leerlinge afgedwing, in plaas daarvan om hulle sensitief te maak vir die verskeidenheid van betekenisse wat daar aan ’n literêre teks geheg kan word. Soms het hulle hul eie mening in die arme bloedjies se kele afgedwing en in hul koppe ingedwing, in plaas daarvan om saam met hulle uit meer as een hoek na die gedig te kyk.

    Die standpunt van vooraanstaande teoretici dat ’n gedig nie een enkele betekenis hoef te hê nie, impliseer nie ’n “anything goes”- of laat-maar-loop-houding nie — sekere interpretasies kan of mag meer aanvaarbaar of geldig wees as ander. Indien ons ons eie interpretasie aan ’n teks wil heg, behoort ons met ruimhartigheid kennis te neem van ander se interpretasies.

    In talle van die gedigte wat verskyn het sedert die sestigerjare, is daar ’n skeptisisme oor en ontevredenheid met tradisionele opvattinge en waardes. Die siening word bevraagteken dat die wêreld berus op vaste en ewige norme. Die postmodernistiese wêreldbeskouing wat hieruit blyk, is voorts bewus van die eie tydelikheid en kunsmatigheid daarvan. Die “werklikheid” of die “geskiedenis” word nie voorgehou as ’n stel vaste waarhede nie, maar eerder as ’n reeks konstruksies wat deur die mens gefabriseer word en dus nie aanspraak kan maak op universele of ewigheidswaarde nie.

    Hierdie uitgangspunt impliseer die bevraagtekening van ’n enkele allesomvattende waarheid in terme waarvan die bestaan en samehang van alle verskynsels verstaan sou kon word. Binne die gesprek oor die postmodernisme word daar dikwels na hierdie allesomvattende waarheid verwys as ’n meesterverhaal of metanarratief. Deur tegnieke van jukstaponering en relativering word sodanige meesterverhale in die poësie ondermyn.

    Heelwat skrywers toon die afgelope vier dekades ’n voorkeur vir kleiner, meer gelokaliseerde “verhale”; juis binne ’n postmodernistiese konteks kan so ’n ryke verskeidenheid standpunte geakkommodeer word en weersprekings, fragmentering en ondermyning geduld word. Vir baie mense is dit nie meer moontlik om die omringende teks van die werklikheid te interpreteer volgens ’n enkele meesterverhaal of allesomvattende waarheid wat jou in staat sou stel om al die onderdele saam te voeg in ’n sinvolle en samehangende geheel nie. Vir baie mense is die werklikheid daar buite nie meer ’n sinvolle en samehangende geheel nie.

  • Die selfbeeld van die digter en die gedig (selfrefleksiwiteit)
    Waarskynlik die mees opvallende tendensie van die poësie wat sedert sestig verskyn het, is die neiging tot selfbesinning of selfrefleksie, heel dikwels ’n skynbaar obsessionele gemoeidheid met die self. Dit is asof digters sedert die sestigerjare nie ongeneë is om hulself ten toon te stel in hul gedigte nie — u onthou nog die vermetele jongman wat in 1964 sy digbundel open met hierdie selfportret — duidelik iemand wat worstel met sy selfbeeld, of wat nie omgee om ’n beeld van homself (anders gestel: sy self) aan die leser voor te hou nie as ’n maer man met ’n groen trui (Breyten Breytenbach se “Bedreiging van die siekes” uit die ysterkoei moet sweet; vergelyk uit 1992: Peter Snyders se “Ek skryf ’n gedig”).

    Vir gedigte waarin die selfbesinning vooropstaan, word die woord selfrefleksie dikwels gebruik — dit is ’n eeue-oue tegniek by skrywers wat nou op die spits gedryf word. Waar die benaming kunsteoretiese gedigte vroeër gebruik is vir hierdie soort tekste, word die term metapoësie tans gehanteer om te verwys na poësie wat handel oor poësie. Die fokus verskuif nou weg van dit wat geskryf is (die voltooide produk) na die skryfhandeling self (’n onvoltooide proses). Die leser word dikwels agter die skerms geneem en gewys hoedat die konstruksie van die gedig verloop — die digter word nie meer voorgestel as iemand wat deur die muses geïnspireer is nie, maar hy sit daar soos die jong Breytenbach en “stut en hamer sy langwerpige kop” om vir u, die lesers, ’n gedig te “fabriseer”, te maak, om beelde op te stapel. Vergelyk die etimologie van die woord poësie: Grieks poetes = “maker”, “komponeerder”; poiein = “komponeer”, “maak”, “doen”, “skep”; Skots cinoti = “bymekaarmaak”, “opstapel”; Oud-Slawies: “rangskik”, “opstapel”.

    Die poësie sedert sestig is dus voortdurend besig met ’n besinning oor die ontstaan en bestaan van poësie; daar word ook dikwels geskryf oor die moontlikhede en beperkinge van die taal as medium van die digter. Hierdie selfrefleksies gaan nie net oor poësie en taal in die algemeen nie. Daar word soms ook geskryf oor die geskiedenis en politiek van die taal Afrikaans, wat vir sommige ’n onderdrukkerstaal en vir ander ’n bevryderstaal is (vergelyk Marius Titus se “Taalrit” en Daniel Hugo se “Taalles”).

  • Die leser as medewerker of beeldbouer
    Omdat die skrywer nie meer in staat is om die werklikheid enkellynig of enkelvoudig te interpreteer nie, moet die leser met die proses van betekenistoekenning help — die leser word ’n medewerker. Die metafoor wat ek hier wil gebruik, is dié van die beeldbouer (image consultant) wat meewerk om ’n bepaalde beeld of projeksie van ’n persoon te konstrueer. Net so word die eietydse leser ’n medewerker wat ’n belangrike bydrae lewer om die “beeld” van die gedig te help “bou”. Lees gerus Poskaarte, p xxvii, “Die rol van die leser”.

  • Beelddiefstal of intertekstualiteit
    Deesdae wil dit voorkom asof digters onbeskaamd woorde, idees, frases en beelde by mekaar “leen” of “steel”. Na hierdie verskynsel (intertekstualiteit) wil ek metafories verwys as beelddiefstal. Anders gestel: dit lyk asof tekste met mekaar gesprek voer en asof elke teks met ander verbind is in ’n groot netwerk (vergelyk al die “Boggom en Voertsek”-naskrywings in Afrikaans, deur onder meer DJ Opperman, Pirow Bekker, David Kramer en Ronel de Goede). Lees nou Poskaarte, xxviii, “Intertekstualiteit”.

  • Flikkerbeelde van die massakultuur en die elektroniese kultuur
    Dit wil voorkom asof daar in die poësie sedert ongeveer 1960 ’n toename in die ontginning van die vroeër geminagte massakultuur is: populêre literatuur, popmusiek, films, advertensies en allerlei ikone uit die populêre kultuur word deur digters toegeëien. Die metafoor van die flikkerbeeld wat ek hier gebruik, hang ook saam met die tegnologiese ontwikkelinge soos dié in die ruimtevaart en die elektroniese bedryf, waarna dikwels in die resente poësie verwys word. Boonop is een van die kenmerke van die verbruikerskultuur dié van vervlugtendheid, van “hamburgers en hotdogs” (vergelyk EWS Hammond se gelyknamige bundeltitel), van kitsetes by McDonalds en ’n vlietende bestaan — die poësie bied aan ons flikkerbeelde van hierdie lewenswyse. Lees nou Poskaarte, pp xxviii en xxxi, “Massakultuur” en “Elektroniese kultuur”.

  • Werklikheid en ver-beeld-ing (of feit en fiksie)
    Talle van die gedigte sedert sestig plaas ’n vraagteken oor die sekerheid waarmee die grens tussen werklikheid en fiksie sedert die laat veertigerjare in die literêre kritiek getrek is. Die verhouding tussen werklikheid en fiksie word tot probleem gestel, eerder as wat daar met stelligheid beweer word waar die grens sou lê. Raadpleeg Poskaarte, p xxix, “Feit en fiksie”.

  • Die benutting van die geskiedenis — spieëlbeelde?
    Die aandag is reeds daarop gevestig dat baie resente gedigte gebruik maak van historiese stof — daar word ’n dialoog met die geskiedenis gevoer en die geskiedenis word selfs bevraagteken en ondermyn (vandaar die vraagteken in die hofie hierbo) — nie netjies weerkaats soos in ’n spieël nie, maar dikwels eerder verwring soos in karnavalspieëls wat figure grotesk of nietig of raar laat voorkom. Lees verder in Poskaarte, p xxx, “Historiese stof”.

  • Die belangstelling in randgebiede — “kleibeelde” volgens sommige
    Dit is opvallend dat sake (onderwerpe, temas, figure, ens) wat vantevore om verskillende redes uitgeskuif is na die randgebied van die poësie, of wat nie deel gevorm het van die sentrum of hoofstroom nie, geleidelik begin deel word van die sentrum. Dit wat vroeër as nietige of minderwaardige “kleibeelde“ beskou is, word nou belangrik. Lees nou Poskaarte, p xxxi.

  • Gedigte as “prente/spotprente”
    Gedigte neem deesdae allerlei vorms aan (soms tong in die kies). Op papier lyk die “prente” of “prentjies” wat die gedigte uitmaak, anders. ’n Engelse sonnet lyk immers anders as ’n Maleise pantoen. Digters is nie net vaardig wat vorm betref nie, maar skeer ook nog die gek met die lesers! So skryf Johann de Lange en André Letoit sonnette wat in werklikheid nie sonnette is nie. Lees “Verstegniese verskeidenheid” en “Speelsheid” op p xxxii in Poskaarte.

  • Geheelbeeld?
    Om ’n enkele beeld of geheelbeeld van die Afrikaanse poësie sedert die sestigerjare aan die leser voor te hou, is onmoontlik. Daarvoor is die tekstiel van die digkuns net te ryk en te bont en te gevarieerd. Ervaar dit eerder self en beoefen dit self!

    Ronel Foster
    Universiteit van Stellenbosch
    Augustus 2000

    [1] Kopiereg voorbehou. Dit is geen vakwetenskaplike artikel met ondersteunende verwysings nie, maar ’n inleiding tot die landskap van die Afrikaanse poësie, gelewer as refereraat by die simposium van die Letterkunde-Ondersteuningskomitee, 25 Februarie 2000, en aangepas vir deelnemers aan die Poësiewerkswinkels van die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch.

    Bron
    Foster, Ronel en Louise Viljoen. 1997. Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.

    terug    /     boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.