Uit NALN se Sarkofaag - literêre museumstukkeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

MER : G’n beskeie deel!

Lees ’n mens die briewe wat MER (Maria Elizabeth Rothmann) vir haar dogter Anna geskryf het,* kom jy opnuut onder die bekoring van dié buitengewone vrou: daar’s min dinge en mense waaroor sy nié ’n uitspraak te make of ’n interessantheid op te merk het nie. MER is gebore in die jaar toe die Genootskap van Regte Afrikaners tot stand gekom het, net twee weke na die amptelike stigtingsdatum van die Genootskap. Sy word een van die eerste vroue wat ’n universiteitskursus aan die Suid-Afrikaanse Kollege (Kaapstad) volg. As maatskaplike werker doen sy ’n uitgebreide en intieme kennis van die armblanke-verskynsel in Suid-Afrika op en stel later, na ’n studietydperk in die Leslie County in Kentucky — oor dieselfde probleem — ’n vergelykende studie op wat gepubliseer word as A comparison.

Wat ’n mens veral van MER onthou, is die tooilose en sober wyse waarop sy haar vertellings geskryf het, én haar outobiografie met die gepaste titel My beskeie deel. En wie, wat dit gelees het, vergeet ooit Karlien en Kandas se verse, of ’n reël soos:

Oor die kam,
oor die kam,
oor die berg se donker kam,
glip die maan se skyf so soetjies
soos die oorloop van ’n dam

MER se broer Frits het in die Laeveld naby Nelspruit geboer op ’n plaas met die naam Dzoeaan. Sy gaan in 1917 ’n tyd lank daar woon, en begin ook daar vir die eerste keer skryf (toe 42 jaar oud). En nou die mooi deel van die storie, en die skat uit die NALN-sarkofaag: ’n tafeltjie van rooi-ivoor:

Toe Frits in die middel-twintigerjare om gesondheidsredes die plaas moes verkoop, het hy by sy susters in die Boland gaan woon: eers by sy suster Annie, getroud met Jan van Zyl van die plaas Doornkloof naby Bonnievale, en vanaf 1928, toe MER haar huis op die dorp gebou het, tot aan sy dood in 1932 by haar.

Van Dzoeaan het hy saamgebring ’n stomp rooi-ivoor (Rhamnus zeyheri) wat daar gegroei het, en ’n skrynwerker op Robertson het vir hom twee tafeltjies daarvan gemaak. Dit is baie harde hout, en die man was nie kundig nie, so die tafeltjies was maar lomp.

Op ’n dag het die houtbeeldhouer Meyerowitz daar gekom, en hy was geskok om te sien wat van die hout gemaak is. Hy het toe die een tafeltjie weg, om deur ’n Duitse fynskrynwerker wat hy geken het, te laat oormaak. Die man het ’n baie fraai klein tafeltjie met spiraalgedraaide pootjies daaruit gemaak. Maar hy het laat weet, nooit weer nie, hy moes te baie beitels slyp, want die hout is so hard. Dit is kosbare hout, het hy gesê, wat in Duitsland net vir inlegwerk gebruik word.

Na Oom Frits se dood het sy kamer ’n werk- en woonkamer geword, en MER het baie van haar tikwerk op dié tafeltjie voor die venster gedoen.

(MER se pa, Gert Rothmann, was natuurlik sélf ambagsman in sy vader se wamakery op Swellendam. ’n Messelaaitjie uit hout, wat haar vader vir haar moeder gemaak het, staan in die NALN-uitstalling op die rooi-ivoortafeltjie, en is deur die skryfster as briewelaai gebruik.)

Op ’n Sondagmiddag 23 Mei 1954 skryf Ta Miem hoedat sy op ’n reëndag (met “kapok op agterberg volgende môre”) vuurgemaak het, en in die werkkamer gesit het, besig om materiaal uit die geelhoutkassie bymekaar te soek vir opname in My beskeie deel.

Nota: Terwyl almal so in die oorlogsgees is: MER het tydens die Anglo-Boereoorlog in Swellendam gewoon. Later (in 1939 en 1947 onderskeidelik) doen sy die Afrikaanse vertaling van Tant Alie van Transvaal en Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde 1900 — 1901. Vir laasgenoemde, waavan daar ten tye van haar brief (gedateer 1954) 766 verkoop is, ontvang sy £11.9.9 (± R23,00). In hoofstuk 8 van haar outobiografie gee MER haar oorlogindrukke weer, en vertel sy op haar kenmerkend droë, humoristiese manier van ’n gestoei met vuil lakens en die voorbereiding van kos-uit-rantsoene.

* Familiegeskiedenis. Briewe aan haar dogter. Tafelberg, 1976

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.