Uit NALN se Sarkofaag - literêre museumstukkeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wilhelm Knobel

Een van die sestigerdigters wat — ten onregte — feitlik vergete geraak het, is Wilhelm Knobel. Hoewel daar in sy lewe op persoonlike vlak besonder baie terugslae en hartseer was, en ’n mens dus steeds geterg word met die herinnering aan hierdie skadukant, was Wilhelm, volgens alle aanduidings van vriende en familie, ’n buitengewoon begaafde en mens-sensitiewe kunstenaar wat in sy gesonde tye veel vermag het as digter, dosent en musikant. Een van sy skrynendste gedigte beskryf die besonder brose verhouding wat hy met sy pa gehad het, en lui soos volg (lees ook: “Ek nooi u uit vir ’n glasie bier” en “Verjaardagbrief aan ’n vader” in Nagelate gedigte):

Ek dra ’n pak ’n onderbaadjie en ’n das van jou
As iemand my komplimenteer oor die keuse van die donkergroen en oker das
dan dink ek voldaan
ons het goeie smaak gehad
ek en my pa
want het ek dit nie vir hom gegee met sy laaste verjaardag nie
en het hy dit nie gedra nie
En as ek die effens donkerder vlekke sien om die sakke van die pak
dan doen dit my goed om te weet:
jy het ook soms ’n lekker in jou sak gesteek ...
vir later
en vergeet daarvan
tot dit taai dring deur die materiaal
Maar smôrens
as ek die beige onderbaadjie aantrek
en die warmte daarvan voel deur die dag,
wonder ek
hoe koud is jy nou
of straal daar tog warmte uit
van die idee van die wolstof dig teen my lyf

uit: Mure van mos, Human & Rousseau, 1970

Die onderbaadjie en das waarvan hy hier skryf, is onlangs vir NALN geskenk deur Wilhelm se broer, dr. Deon Knobel, wat as literêre eksekuteur na die digter se nalatenskap omsien. Deon vertel: “Die das het hy vir my pa in Parys gekoop in 1961, toe ek hom moes gaan haal ná sy ongeluk in België, en sy senu-aanval wat hom in die Hôpital St. Anne vir geestessiekes laat beland het. Dit is werklik die das en onderbaadjie” (aangewins as 3033/97/155).

Hierdie twee stukke, wat vroeg aanstaande jaar by die nuut bygewerkte Knobel-uitstalling ingevoeg sal word, gee aan die gedig ’n visuele dimensie wat dit vantevore nie gehad het nie. Dit bevestig ook die noodsaak van teks-relevante, driedimensionele items wat in ’n museum soos NALN onontbeerlik is ter visuele trefkrag.

LEES OOK WEER: Wilhelm Knobel se Bloedsteen-siklus, opgeneem in Nagelate gedigte.


Ons bly by die skrywersgeslag van die sestiger-sewentigerjare, en fokus op ’n ander buitengewone item: ’n skildery deur die digter Phil du Plessis. Dié skildery (gedateer 1966), ook ’n redelik onlangse toevoeging tot die sarkofaag, is die enigste wat Du Plessis (tot dusver) gemaak het, en is aan sy vriend en mededigter Bonaventure Hinwood geskenk vir laasgenoemde se studeerkamer. Du Plessis se titel, “om ’n bykans ondoeltreffende son te oorbrug”, word soos volg deur Vader Bonaventure vertolk:

“Die mens kom uit die geheimenis uit en gaan die geheimenis binne, en die geheimenis waarin hy voortleef, bind hierdie twee uiterstes van sy aardse bestaan aan mekaar. Die mens word as ’n radartoestel uitgebeeld, wat die sleutel tot sy eie bestaan dra. Die radartoestel is veronderstel om seine vanaf die Son op te tel, seine wat betekenis kan gee aan die misterie wat die konteks van sy bestaan uitmaak. Verder moet die seine ook leiding gee. Weens lugsteurings is die Son in hierdie opsig amper ondoeltreffend. Nogtans kom daar genoeg seine deur dat die mens betekenisvol kan lewe. Die Son is dus nie heeltemal ondoeltreffend nie.”

(Die kunswerk, aangewins 4105/98/1, is te sien in ’n perspektief-uitstalling oor die skrywersgeslag van ’60, ’70 en ’80.)


Ten laaste, en terug tot die nadere verlede: Hoewel daar reeds ’n geruime tyd lank ’n uitstalling oor die sogenaamde struggle-en-verset-letterkunde in NALN te siene is, en visuele uitstalitems grootliks beperk moes word tot selfvervaardigde rekwisiete, het daar onlangs ’n paar interessante dokumente aangekom: ’n Kalender (vir 1987), ongelukkig onvolledig, wat in die laat sewentiger- vroeg tagtigerjare deur die Vakalisagroep uitgegee is. Die kalender is in ’n oplaag van ’n paar 1 000 gedruk, en was vroeg al gewilde verkoopgoed, later ten duurste versamelaaritems oorsee. Gedigte deur onder andere Hein Willemse is op die kalender afgedruk.

[Terloops: Het iemand dalk nog ’n volledige kalender? En is daar ook vir ander jaartalle soortgelyke weergawes uitgegee?]

Saam met die kalender het ’n brosjure gekom wat opgestel is om as program te dien vir ’n People’s Art Festival wat gedurende 12-22 Desember 1986 in Kaapstad opgevoer sou word. Net mooi 24 uur voordat die eerste item sou begin, is die verrigtinge deur die Veiligheidspolisie verbode verklaar.

[Dokumente uitgestal in die Versetliteratuurkamer, aangewins 4-106/98/2 en 4-106/98/19.]

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.