Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Willie van der Merwe: die aanbidding van woorde

Onderhoud: Versindaba

WL van der Merwe (1957) het opgegroei op ’n plaas naby Meyerton in Gauteng. Hy behaal grade in die teologie en filosofie met lof aan die Universiteit van Stellenbosch en was lid van DJ Opperman se letterkunde-laboratorium. Sedert 1997 is hy professor in filosofie aan die US en het reeds verskeie kere as besoekende professor opgetree aan universiteite in Nederland en België. Hy woon saam met sy vrou, Lettie Visser, en twee kinders op Stellenbosch.

1. Van jou gedigte het Laurika Rauch al opgeneem, as ek reg het? Hoe het dit gebeur?

Dit gaan maar om een gedig wat Laurika opgeneem het. Daar is ook 'n ander gedig getoonset en opgeneem deur 'n ander Afrikaanse kunstenaar, maar dié is minder bekend. Hoe het dit gebeur? Ek was in die vroeg- tot middel-tagtigerjare deel van die sogenaamde Musiek en Liriek-beweging en het self ook gedigte getoonset, van Watermeyer, Van Wyk Louw, Ingrid Jonker, selfs van A Roland Holst, wat ek met my kitaar op verskeie plekke op die kampus uitgevoer het, byvoorbeeld by aande van die ASK. So belaglik as wat dit vandag klink, was promosie van die "luisterliedjie" (sic!), dws 'n toonsetting van 'n luisterbare liriek of gedig, 'n saak wat ons hoog in ons vaandel gedra het. Hennie Aucamp het kabaretagtige lirieke geskryf wat Jannie Hofmeyer getoonset het en wat hy en Laurika Rauch gesing het, sonder noemenswaardige kommersiële sukses. Dit was geen georganiseerde, georkestreerde "beweging" nie, maar sommige van die ander figure wat losweg daaraan meegedoen het en meer of minder bekend was in dié tyd, was Jannie du Toit (in Pretoria) en Lucas Maree en Lochner de Kock. Die meeste van ons het wel van mekaar geweet. Dit is eintlik vandag onvoorstelbaar as 'n mens terugdink aan wat die stand van Afrikaanse musiek toe was in vergelyking met vandag. In Pretoria het Jannie du Toit "musiek-en-liriek-aande" met 'n naam soos "By kerslig en musiek" (ek kan dit nie reg onthou nie) gereël. Vir een van die aande het Laurinda Hofmeyer, toe in standerd agt (graad tien), wat deur gemeenskaplike kennisse van my gedigte te lese gekry het, die gedig "Voortaan sal ek winterskemers vleilangs loop …" getoonset. Laurika het daarvan kennis geneem en dit daarna dikwels uitgevoer by konserte en 'n paar jaar later besluit om dit op te neem vir haar nuwe CD.

2. By jou as filosofiedosent moet daar talle idees en konsepte in jou kop wees. Begin jy 'n gedig met 'n konsep, teorie, ideologie wat spruit uit jou werk?
As my skoling en daaglikse nering in die filosofie op enige manier meespeel in my digwerk, is ek my nie daarvan bewus nie; of as ek my daarop betrap, probeer ek dit ironiseer of eksorseer. Ek begin 'n gedig deur op my stoel te gaan sit, meestal voor 'n leë Word-dokument op die rekenaarskerm of voor 'n ongekrewe blad. Maar soms het ek wel 'n "inval" van 'n ontroering, 'n indruk, 'n sinsnede, 'n eerste of laaste reël, en dan moet ek dit onmiddellik neerskryf en opvolg. Maar dig is by my nooit spontaan nie: ek herskryf eindeloos en is nooit tevrede nie.

3. Watter Afrikaanse digter spreek die meeste tot jou? En hoekom?
Daar is nie een digter nie, maar daar is spesifieke gedigte van verskillende Afrikaanse digters van verskillende geslagte en digterskapstyle wat tot my spreek. As ek voor 'n vuurpeloton gedaag sou word om één bundel te noem, sal dit Tristia wees, ten spyte van die intellektualistiese stront wat Van Wyk Louw ook daarin aangejaag het.

4. Wat inspireer jou om te dig?
"In die begin was die woord daar, en die woord was by God, en die woord was self God" (Joh 1:1) Ek aanbid woorde, hulle klank, hulle vorm, hulle wispelturigheid, hulle weerbarstigheid, hulle verleiding. Dig is my manier om omgang met woorde te hê. Ek wens dit kon ongekompliseerd en soos kraanwater wees, maar dit is nie: dit is 'n sadomasochistiese liefdespel.

5. Waaroor kan jy glad nie skryf nie?
Die vanselfsprekende.

6. Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees meestal meer as een boek gelyktydig. Op die oomblik lees ek veral Karen Armstrong se bloedstollende biografie van God, The History of God, die Belydenisse van Augustinus (in 'n nuwe Nederlandse vertaling), 'n verruklike digbundel van minimalistiese gedigte deur die Vlaamse digter Bart Moeyaert, Verzamel de liefde, en die nuwemaandse uitgawes van die tydskrifte Taste en Food and Home.

7. Die mooiste woord in Afrikaans?

Daar is te veel, maar vir dié onderhoud kies ek verknorsing as 'n beskrywing van menswees, die sogenaamde "condition humaine".

 

Willie van der Merwe is te sien op die Versindaba (8 – 9 September) in Stellenbosch. Vir die volledige program, besoek die webwerf www.proteaboekhuis.co.za, skakel 021 8829100, of stuur 'n e-pos na ls.protea@mweb.co.za

 

LitNet: 30 Augustus 2006

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.