Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Helder soos ’n nagtegaal klink ’n nuwe stem op

Naomi Maartens gesels met Reinet Nagtegaal-Crouse

Wie is jy en waar kom jy vandaan?

Ek sukkel op 44 steeds om presies te weet wie ek is, maar die logistieke gedeelte van die vraag is maklik — ek is in die Oos-Kaap gebore, in die Kalahari geskool, het in Gauteng my feite gekry en is besig om op Melkbos my gees te vind.

Wat doen jy vir ’n lewe?

Ek is die mede-eienaar van ’n landswye regsbemiddelaarspraktyk. Ons advokate help mense om so ver moontlik die hof te systap en mekaar te soen voordat hulle hulle beursies vir mekaar uithaal. En ai-jai-jai, die ongelukkiges wat ander benadeel het in die oortreding van wette moet dan natuurlik ook iemand hę wat, waar verdienstelik, versagting kan pleit as die staat kwaad is. En dan is ek en my minnaar van die afgelope drie en twintig jaar nou weer van voor af ingeskrewe deeltydse studente in Filosofie vir die regmaak vir ’n nuwe volgende loopbaan so binne die volgende dekades.

Wat sou jy wou doen?

As ek kon kies, juis dit hierbo — soos ek dit allengs laat manifesteer het — maar skryf en konsert hou is ook lekker.

Glo jy in inspirasie — of op watter maniere kry jou stories lyf?

Inspirasie is die suurstof in ons almal se bloed. Die alles en die niks het ewe veel om uit te put. Ons almal is maar dieselfde wanneer dit by stories kom — sommige stories glip uit en ander bęre jy diep en sug verlig dat ander dit nie uit jou donker kamers kan grawe nie. En die wat nie uitglip nie, vorm mettertyd ’n basis vir een of ander emosie wat ons dikwels nie eens self verstaan nie. Maar ek dink ek het nou jou vraag aan sy snorbaard beet. Jy wil weet of daar een of ander stimulus is wat my tot skryf inspireer (dink ek)? Indien wel, Riana Scheepers se skryfskool wat ek weens werksdruk net so gedeeltelik kon bywoon, was so ’n inspirasie, want sy het dit reggekry dat my gedagtes in vergaderings — wat vir die teenwoordige partye belangrik is — afgedwaal het na stories!

Noem boeke, skrywers en flieks wat tot jou spreek

Boeke? Biografieë oor die mikrokosmos en kwantumfisika (wat ek paragraaf vir paragraaf soos paint-by-number aanpak), prosa, poësie, filosofie.

Skrywers: Enige skrywer met ’n filosofiese aanslag op sy werk: Camus, Coetzee, Hawking, Jung, Gaarder, Grisham, Allende, Breytenbach, Brink, Tolstoy, Hambidge, Goosen, Van Heerden — nie in volgorde nie, maar ek mis hulle nie in winkels nie.

Flieks: Hoogtepunte wat ek so vinnig onthou, is Stealing Beauty, Being John Malkovitz, American Beauty, The Matrix, Six degrees of Separation, Gone with the Wind, en Camelot.

Wat geniet jy van skryf — of waarom doen jy dit?

Omdat ek ’n mens is en dit ’n kommunikasiemiddel is en ek nie kan sing of ballet kan doen nie en niemand val jou in die rede nie. EN wanneer dinge eentonig raak, fnuik jy die groter prentjie.

Waarom het jy hierdie manuskrip afgehandel? En voel jy hy’s klaar?

Koekemakranka en daar het jy my! Ewe stilletjies glip jy een in waaroor ek MOET dink. Hierdie een het saamgeval met ’n toevallige sperdatum. Ek is ’n groot ontduiker van my eie behoeftes, maar ’n getroue slaaf vir enige sisteem se sperdatums. Dis deel van regsdissipline. Toe ek vir myself die Insig-sperdatum gee, was daar nie meer ’n kans vir uitstel nie. Klaar is die manuskrip seker nie, maar dis hopeloos te relatief om oor te spekuleer. Ek het begin verveeld raak met die karakter se manewales, toe groet ek haar, maar was daarna spyt, want miskien kon sy  … hoe sal mens ooit weet?

Het jy afstand van die karakters in jou stories? Van watter een het jy die meeste of die minste gehou?

Ja, maar ek wonder tog of ’n mens nie maar aanvanklik struikel oor jou eie beleweniswęreld nie. Ek is nog baie rou. Ek hou vreeslik-vreeslik baie van ’n mens-pa met lewensvreugde.

Het die boek jóú al gelos?

Ja, toe ek skryf “Die Einde”.

Voorsien jy verdere skryfwerk in die toekoms?

Ek sal nooit weer ophou nie. Nie omdat ek dink ek het iets reggekry nie, maar bloot omdat dit een van die lekkerste ontdekkings in my lewe was (dankie, Riana!). Ek wil niks anders meer doen nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.