Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ysbreker, boegbreker, waterbreker

Izak de Vries en Coenraad Walters in gesprek met Melanie Grobler oor haar bundel Die Waterbreker

Klik op die boekomslag en koop dit nou by kalahari.net. Klik hier om uit te vind hoe jy 'n eksemplaar van Die Waterbreker kan wen!
Die Waterbreker Die Waterbreker
Melanie Grobler
Tafelberg
ISBN: 0624042294
Prys: R89.95
Sagteband
104 bladsye

Ons daag by haar huis op en reg aan die begin waarsku Melanie dat sy, soos Breytenbach, spieëls skep vir die leser.

Ons het gekuier. Ons het gepraat. Ons het menings geruil. Ons het vieruur die middag begin gesels. Uiteindelik is ons na sewe daar weg. "Dit is soos om kerk toe te gaan," het sy op 'n stadium opgemerk oor dié soort gesprek.

Vooraf het Izak die vrae hier onder opgestel, Coenraad het sy puntenerige oog daaroor heen laat gly en ons het dit toe elektronies aan Melanie gestuur. Sy het hulle toe beantwoord.

Ons besoek het plaasgevind ná sy die vrae beantwoord het. Enkele vrae is dus disjunk, maar ons laat hulle hier. Daar is van die vrae wat kon spruit uit ons onkunde omtrent haar biografiese besonderhede. Tog was dít uiteindelik juis 'n besondere aanknopingspunt, dié spel tussen vertellende instansie en "boegvrou".

Melanie sien duidelik die "boegvrou" in die bundel as 'n alter ego wat op haar heup sit. Juis hierdie wil van haar om die skrywende "ek" te projekteer op die vertellende instansie het ons 'n paar keer vir haar laat sê dat haar gedigte nie sê wat sy sê nie. Maar Melanie is slim. Ons was dus die hele tyd bewus daarvan dat ons, soos Paulus, slegs ten dele kan sien in die spieël, al het sy ons soms toegelaat om tot diep binne-in die heiligste van haar menswees te gaan krap.

Die foto op die agterblad lyk byvoorbeeld nie regtig soos sy nie. Dis 'n spel. Ek het my kamera daar gehad, maar sy het verkies dat ek nie nuwe foto's neem vir LitNet nie.

Daar ís heelwat biografiese inligting oor Melanie op die internet beskikbaar. Tik bloot haar naam in Google se enjin in as jy meer biografiese inligting verlang as wat dié onderhoud bied. Ons het, opsetlik, op Die Waterbreker gekonsentreer.

Hier is die vrae en haar antwoorde - met enkele onderbrekings. Melanie het rooi gekies om haarself mee uit te druk.

* * *

Ek wil opsetlik nie begin biografiese vrae vra nie - ek wil eers kyk of ek die bundel verstaan. Die biografiese aspekte sal ek later wil uitklaar. Die bundel is 'n storie, nie waar nie? Ek sou amper sê dis 'n novelle in versvorm. Hoe sou jy dit beskryf?

Ek hou daarvan dat jy dit sien as 'n novelle in versvorm - dis een manier om na die spel met verskillende identiteite te kyk. En die digbundel is beslis nie 'n versameling van los verse wat bloot met mekaar resoneer nie. Dis gebaseer op drie drome wat oor 'n tydperk van vyf jaar in die vorm van 'n verhaal gedroom is. Daar is eggo's van al drie drome in verskillende verse - die beeld van die boegbeeld wat deur die water klief is egter die sterkste.

Dit lyk vir my asof hierdie "novelle" 'n reisverhaal vertel. Hier is 'n verteller aan die woord, 'n skrywende verteller wat vir ons vertel van reise wat sowel na binne plaasvind as na die wêreld daarbuite.

Dis beslis 'n reisverhaal, op 'n persoonlike vlak 'n wegreis van 'n sosiaal-politieke omgewing en al sy inhoude waarin ons aktief betrokke was. In Die Waterbreker het ek deur versvorme 'n persoonlike mitologie geskep; die eggenoot en die kinders is ankers tydens hierdie oseaniese vaart.

Die bundel is in vier dele gerubriseer. Ek dink die storie val ook in vier dele uiteen. Hoe reg is ek? Ek sou die storielyn só opsom, na aanleiding van die bundel se dele:

Deel 1, baltiese binnesee: Dié deel handel oor ballingskap in die koue. Koue laat die water vries.

Weer eens: ek hou baie van die idee van ballingskap. Ballingskap resoneer vir my ook met being the outsider. Inderdaad, tydens die skryf van die digbundel was ek oorstroom deur emosies van afsondering. Ja, koue laat water vries, maar dis die boegvrou wat deur die ys breek. Miskien het die boegvrou 'n Anna Akhmatova-agtige baltiese wil.
(TERLOOPS: In haar huis, nes jy instap, sit daar 'n groot skildery vanwaar Anna lewensgroot na jou kyk. Melanie het haar geskilder.)

Deel 2, middelwaters: 'n Terugkeer na Suid-Afrika se hitte, aanvanklike aanvaarding, maar dan weer 'n hunkering na die dae van ballingskap as die ongebore kinders té gou die water breek en sterf. Dit eindig egter op 'n hoogtepunt wanneer die reis na Noord-Afrika verskuif en water weer vloei.

Middelwaters resoneer met die Middle Earth-begrip van Tolkien. Dis 'n spesifieke landskap en ook die doderyk van die digbundel. Die tyd van afskeid en vertrek. Ons leef om te sterwe en dit is 'n reis, daarom reisgedigte om die gestorwenes te vergesel.
(NERVOUS TENSION: Dis 'n doderyk vol vertroosting dié. Melanie stuur ons na die gedig "en die arend het gekom". Sy sê dis 'n gedig "vol nervous tension. Ek wens ek kon elke gedig so skryf." Ons pols haar en sy sê dat dit die rol van die skrywer is om mense "oor die grense te neem". Sy sê ook: "Ek beweeg in die ruimte in sodat ek as skrywer ongebalanseerd en dissosiatief word.")

Deel 3, die binnevrou: 'n Reis op papier en 'n ballingskap na binne, in die self in, weg van die mens wat die verteller liefhet.

As jy hier die woord ballingskap gebruik, hoop ek dat jy dit in 'n goeie lig sien, want die digbundel werk eerder met nostalgie as met verwonding - ek het dit by Garcia Marques geleer en aanvaar dit as 'n estetiese waarde. As ons dan ballingskap in hierdie sin gebruik - ja, dan is dit so, om 'n tuiste in die verbeelding te vind. Die digbundel werk met verskeie versplinterings van die vaste identiteit: die Melanie Grobler-"ek", die boegvrou en die onbekende fiktiewe vrou en haar minnaar. Dis juis hier wat dit so goed is - dat jy dit sien as 'n novelle.

Deel 4, die waterbreker: 'n Terugkeer, 'n tuiskoms in die waterbreker wat geanker staan in Suid-Afrika en daarmee saam 'n verwonde aanvaarding - nie net van die lewe nie, maar ook van die maat wat die verteller liefhet.

Wat sal van ons word as ons nie verwond word deur die lewe nie? Die waterbreker-landskap is 'n tuiste tydens die intensiewe transformasieprosesse in Suid-Afrika. Die digbundel is geskryf vir die transformasie, want dis 'n wegkeer van patriargale en apartheidsdenke na die skepping van 'n eie mitologie.
(VIVA DIE AFRIKA-RENAISSANCE? Melanie sê dit was haar "intensie om 'n bundel te skryf vir transformasie". Sy voel dat sy "onbewustelik deur apartheid geleef het" en dat dit nodig was om 'n bundel te skep wat hierdie "transformasie" in die oë kyk. Sy sê ook die bundel is beslis "sosiaal betrokke". Ek sit daar en ek dink hoe wonderlik dit is om te sien hoe "art for art's sake" só Marxisties aangewend kan word! Hier is 'n vrou wat ons vertel dat hierdie bundel geskryf is om "patriargale, hiërargiese en polariserende denkstrukture" af te breek. Mag Pallo Jordan dié bundel voorhou aan die res van ons land as struggle-kuns! As dít anti-apartheidliteratuur is, dan is daar hoop vir die kunste in hierdie land! In latere antwoorde brei sy hierop uit.)

Dit is 'n moeilike bundel. Jy laat die leser spook!

Persoonlik het dit my jare geneem om die bekende en aanvaarbare manier van kyk na dinge en die lewe te verander. Na die onbewuste kriewelrige gedommel van die apartheidsjare het ek begin om bewustelik te lewe, bewustelik met my prosesse om te gaan. Die digbundel het organies ontvou en nie rasioneel nie. Dis nie uitgedink nie, en het gebeur omdat ek alle vorme van beheer afgelê het. En ek glo dat as iemand die moeite doen om die digbundel deur te werk, dan is daar seker prosesse vir hom/haar afgehandel. Dan kan die persoon meer bewustelik lewe. Dis dus nie 'n moeilike bundel nie, maar eerder 'n reis na 'n sekere vlak van bewustelike denke.

Ek is nou al lank getroud, en hoe meer ons mekaar skuur, hoe meer leer ons mekaar ken. Ek het dieselfde gevoel met die bundel. Ek het aanvanklik baie gesukkel, maar hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek wonderlike, erotiese stukkies in die vertelling ontdek.

As skrywer glo ek dat ek grense vir mense kan verskuif. Een van daardie grense is die erotiek. Ek voel baie tuis om oor die gebied van die erotiek te skryf en sal dit graag in verdere skryfwerk verder wil ondersoek.

In die postmodernistiese literatuurkritiek sê iemand soos Roland Barthes vir ons dat uitstel 'n belangrike manier is om die vreugde van die teks te ontdek. Hy bedoel dit heel seksueel. Jy tart 'n mens, hou terug, gee en knyp, en dan kom fyndraai hier teen die einde van die bundel. Daardie laaste klomp gedigte is sprankelend en pragtig. Is ek reg as ek sê jou bundel laat die leser ook nie toe om te sê "Wham, bam, thank you Ma'am!" nie?

Dit is 'n interessante, prikkelende vraag. Ek sterf liewers as om as 'n antie of 'n niggie te skryf! Ek kom agter dat ek myself (en dan noodgedwonge ook die leser) verby die ooglopende, die gerieflike, na uiterste grense stoot. Dankie ook vir die kompliment van die gedigte!

Water is die allesoorheersende tema in die bundel. Sou ek verkeerd wees om te beweer dat water 'n lewegewende, positiewe beeld is in die bundel? Daar is vrugwater, water om te drink en water om op vaar ...

Ek was opgewonde toe ek ontdek die Egiptenare het met hulle hiërogliewe dieselfde grafiese voorstelling van water gebruik as wat op die buiteblad van Die waterbreker verskyn - om die vloeibaarheid van dinge voor te stel - dat niks vasgevat kan word nie, alles dryf en verander. Maar ek het ook nou die dag vir die eerste maal in jare in 'n beskutte baai in die see gaan swem en was verbaas oor die ondersteuning wat die seewater gebied het. Meer as dit, dit was soos om deel te wees van 'n lewende organisme. 'n Ekstatiese, erotiese belewenis!

Dan breek die water. As die water breek, word die kinders te vroeg gebore. Dit beteken smart. Maar ook, as die water oopbreek, soos voor die boeg van 'n skip, maak dit die moontlikheid oop vir 'n nuwe reis, 'n nuwe begin, nie waar nie?

Die boegvrou is 'n voorloper in my eie innerlike lewe. Sy sien dinge anders en het 'n sterk ander wil wat my lewe in rigtings stuur waarvan ek nooit kon droom nie. Sy is dié een wat die reise bepaal, ietwat van 'n waternomade. Die een wat uiteindelik wil hê dat 'n nuwe reis daagliks aangepak moet word.

Is die skryfproses ook 'n manier van reis?

Om te skryf is vir my soos om asem te haal. En die nimmereindigende reis 'n verruiming van die bewussyn. Alles word ryk en veelvoudig.

Kan dit dus ook 'n selfopgelegde ballingskap na binne wees, die skrywery?

Ja! En nog meer - Elizabeth Costello van JM Coetzee sien haarself as die Sekretaresse van die Onsigbare. Vir my is daar is geen ander manier van skrywe as om daagliks voor die skryftafel te gaan sit nie. Sekerlik kan mens eers beter skryf as jy intens en hartstogtelik geleef het.

Die eerste deel van die bundel bevat baie gedigte oor koue, ver plekke. Die Baltiese See word betrek, verskeie plekke in die noorde van die koue Russiese landskap word ingespan. Hoekom die koue Noorde? Ek soek 'n literêre antwoord - ek kom later by die biografiese aspek van die bundel.

Die landskap is baie bekend. Baie besoeke daar afgelê. Maar dis seker biografiese inligting. Hoe sal die innerlike landskap lyk as mens dit vir die eerste keer in diepte begin ondersoek? Dit sal nie 'n warmte tuiste wees nie. Mens kan hierdie landskap eenmalig vir die eerste keer betree. Die vraag kom by my op of daar dieper en verder in die bewussyn koue vlaktes is wat nog betree moet word. Nou dink ek dat ek 'n geestelike antwoord gegee het, nie 'n literêre een nie.
(GEESTELIK VS LITERÊR? Ek, Melanie en Coenraad het heelwat gepraat oor hierdie "ek" vs "skrywende self", en "boegvrou" vs Melanie. Hoe meer ons gepraat het, hoe meer het ek haar waarskuwing oor die spieël ter harte geneem. Ek en Coenraad het diep vrae gevra en heelwat persoonlike brokkies inligting opgetel. Maar uiteindelik was die speelveld nog oop vir ander se interpretasie. Ons het bly kyk na 'n literêre konstruksie wat gereeld nuwe beelde opgelewer het, wat ons opgewonde gemaak het oor ontdekkings, net om weer weg te glip ... Dit is egter belangrik om op hierdie oomblik te meld dat Melanie 'n vaart op die Baltiese See onderneem het en dat dit 'n diep geestelike ervaring vir haar was. Ons kan dus uiteindelik nie die onstuimige boegvrou se ervarings geheel en al verwyder van die stil, saggeaarde skrywer s'n nie. Later in die onderhoud verwys sy self hierna, maar dis belangrik dat sy die Baltiese See anders beleef as Suid-Afrika se landskap. Laasgenoemde, sê sy, is "polities gekontamineerd". Die Baltiese See was vir haar "nuwe waters" wat sy kon binnevaar. Ek vra so effens of ek reg is dat haar eerste bundel, Die tye en swye in die lewe van Hester H, dalk meer oor die Suide gehandel het. Sy antwoord effens ontwykend dat sy juis die "nuwe waters" van die Noorde nodig gehad het vir haar tweede bundel.)

Dit lyk vir my of daar vervreemding is, ballingskap wat daar in die Noorde ervaar word.

Praat ons hier van vrywillige ballingskap na die Noordelike binnelandskap? Na 1994 en na die wegdoen met Apartheid het ek ná 'n lang proses met die self en gesprekke met sielsgenote, veral met my een dogter, Eugenie, wat 'n terapeut is, begin werk met die konsep van bewustelik leef en uitgekom by die begrip van witnessin. Dit beteken dat mens terugstaan om jou handeling en gedagtes te ondersoek. Die nadeel of voordeel daarvan is emosies van dissosiasie en vervreemding.

Sou ek egter reg wees dat reis as sodanig positief is? Op reise in die bundel word dikwels sielsgenote ontdek, al is hulle soms medesukkelaars. Ons sien in "want ek wag op 'n gedig" die eensame "vrou met russiese gebare", die man met "duif-oë" op die plein in St Petersburg, selfs Beethoven, en die banneling-digter wat Beethoven speel. Of is die banneling-digter die vertellende instansie?

Ek assosieer baie sterk met buitestaanders en die banneling-digter is 'n fiktiewe karakter.

Die self, die vertellende instansie, word blykbaar ook dikwels raakgeloop op die reise. Daar is byvoorbeeld die persoon "in die blou kajuit" uit deel IV van die gedig "seevaart na die baltiese binnewaters". Of na wie sou die vrou met die "manjifieke kop en altstem" verwys in die gedig "klesa"?

Die persone wat raakgeloop word, is óf fiktiewe karakters, óf familie, óf versplinteringe van die self. Die self is drywend en die boegvrou wat op die heup van die self sit, stuur die skip deur die middelwaters.

Dit kom voor asof die verteller se eggenoot ook soms, amper terloops, herontdek word tydens die reise.

Ja, na jare van aktiewe politieke betrokkenheid moet die eggenoot weer ontdek word. Of meer, die eggenoot se herposisionering en oorlewing word waargeneem.
(DIE EGGENOOT: As 'n stukkie ekstratekstuele inligting kan ons noem dat Melanie se man lank 'n lid van die Volksraad was - dit verklaar die "aktiewe politieke betrokkenheid".)

Daar is egter ook 'n aanduiding dat die verteller baie gelukkig is om in die hawe te bly, soekend na inspirasie. Vergelyk byvoorbeeld dié aanhaling uit "die eiland (ii)": "ek, die skipper, weet hoe om jare langs 'n kaai te wag/ ek werk, ek lees woorde en frases van die digter".

Skielik weet ek nie presies wat ek hier bedoel het nie. Wag: het een afsplintering van die self dalk nie 'n ewigheid in die hawe op iemand gewag nie? Vergeet mens nie later waarna jy hunker nie, maar wag nog? Wag mens nie 'n hele leeftyd lank nie?

Hierdie dualisme, die vrees vir die water om op die verkeerde tyd te breek, teenoor die noodsaak om die water oop te breek, sodat verder gereis kan word, kom gereeld voor. Hoe verklaar jy dit?

Ek lees dit as 'n psigoanalitiese vraag! Miskien was ek tog opgevog toe ek die bundel geskryf het.

In die eerste deel van die bundel is die boegbreker 'n skip, iets soos 'n ysbreker, wat ingespan word om die koue waters van die Baltiese See bevaarbaar te maak. Is ek reg?

Ja, jy is reg. Die beeld van die houtskip met die boegbeeld wat op die see vaar is in 'n droom aan my gegee. Sommige drome het soveel psigiese krag dat mens daarmee kan werk.

En tog is dit uiteindelik die boeg wat seerkry?

Ek voel sterk aangetrokke tot beelde van verwonding en verminking. Ek het onlangs 'n doktoraal voltooi oor die skilderkuns van Breyten Breytenbach en voel aangetrokke tot sy kuns wat oor die algemeen deur kritici en kenners beskryf word as grotesk en afskuwelik. So ook Elfriede Jelinek se skryfwerk en grensoortreding ten opsigte van die erotiese. Soos in The piano teacher. Ek het doelbewus probeer om nie in Die waterbreker met verwonding te werk nie. As dit ingesluip het, is dit veel eerder 'n voorkeur vir kreatiewe uitdrukkings soos hierbo genoem. Ek het daaroor nagedink en sien dit as deel van my eie buitestaanderskap.

('n NUWE BUITESTAANDER: Ek sê The piano teacher is darem 'n verskriklike werk. Coenraad stem saam. Melanie sê dat haar karakters ook so verwondbaar is. Sy glo egter dat haar buitestaanders anders is as Schoeman, Coetzee en Camus s'n. Sy dink haar karakters werk deur die verwondbaarheid. Hulle bly nie vasgevang daarin nie. Haar karakters begin weer bewustelik leef - deur die proses wat sy "witnessing" noem. Dit is 'n proses om aktief, en nie bloot passief nie, waar te neem.)

Meer nog: tradisioneel is die boegbeeld 'n vrou. Die vrou kry seer as die boegbreker deur die water breek, nie waar nie? In "die walvis" swem die groot, elegante dier deur "duisend eilande van die baltiese see/ klik haar mond as sy op skeepswrakke/ of die begraafplaas van boegbeelde afkom".

Jy sal seker met my saamstem dat beelde in digkuns dikwels ontwykend is. Van die skryfwerk in Die waterbreker is prerasioneel en het hulself willens en wetens aan my opgedring. Aan die ander kant - soms resoneer 'n beeld met ander konsepte in die bundel of 'n woord word gebruik vir sy presiese klankmatige eienskappe.

Jou gebruik van kleur is opvallend. Grys gaan dikwels gepaard met ys - iets wat negatief is.

Ek wil graag 'n deurdagte antwoord op hierdie vraag gee. Ek werk die afgelope paar jaar met die opheffing van hiërargiese en polariserende denke. Of liewers, ek is erg bewus daarvan. Ek sou dus liewers grys wou sien as kleur van die Middelwaters. 'n Neutrale gebied waar enige iets kan gebeur. Ys is (vir my) nie negatief nie en daar is totale vryheid in hoe mens na dinge kyk. Ek hoop nie ek klink nou voorskrywend nie. Wil nie graag voorskrywend wees nie!

('n "TERRIBLE GEDIG": Ek stry met Melanie oor dié een. Ek neem haar byvoorbeeld terug na "plosj aan die wolga" waar die "grys as" die stolling van die "winterwaters" vooruit loop. Sy neem die bundel, lees weer die gedig en toe, sonder om my vraag te beantwoord, kom sy vorendag met 'n verrassende opmerking: "Dit is darem 'n terrible gedig noudat ek dit weer lees!")

Wit word dikwels met die dood verbind in die bundel; kyk byvoorbeeld die wit duif wat geoffer word ("en die duif het gekom") en die wit voorkop ("ek volg hierdie dinge wat gebeur"); ook die assosiasie met grafte ("somerdae"). Maar die huisie, die waterbreker, is ook witgekalk ("klesa"). Dualisme dus? Die huis beskerm moederlik, maar die ander, die waterbrekers, die tévroeggebore kinders sterf?

Dis 'n moeilike vraag om te beantwoord. Verskoon my as ek na Breyten Breytenbach en sy sieninge van die wit van gangreen verwys, en die moontlikheid vir groei wat daarin lê. Jy verwys telkens in die onderhoud na die tévroeggebore kinders. Ek glo nie ek skryf uit verwonding oor hulle nie. Dis veel meer van 'n erkenning van die potensiaal van lewe. Eerder 'n huldeblyk vir 'n kort aardse besoek.

Rooi kom baie selde voor. In die gedig "blinde lemoenbome" verwys "jou windverwaaide hare/ wat felrooi blink, die kleur van die son wat herhaal word" na die hare van iemand wat liefgehê moes word, of hoe?

Beide my broer, PC Haarhoff (wat 'n onuitwisbare invloed op my gehad het), en my ma het rooi hare gehad.

(HAARHOFF: Onder die gedigtitel "blinde lemoenbome" staan daar "vir PCH". Ons gesels oor hom. Hy was 'n geweldig intense mens. In 'n gesprek wat sy 'n ruk gelede met Francois Smit gehad het, verwys Melanie na Haarhoff se geaardheid as "Goya-agtig". Dit is egter duidelik dat sy 'n diep aangetrokkenheid voel teenoor sy nagedagtenis. Haarhoff was 'n briljante wetenskaplike en het 'n bundel grensverskuiwende kortverhale vir ons nagelaat. Melanie se hare het, terloops, ook 'n rooierige skynsel.)

Ek het opgelet dat daar 'n hele paar verwysings na bloed is, maar dat bloed nie noodwendig met rooi geassosieer word nie. Rooi is eerder hoop, soos die rooi papawers in "nou reis ek weer".

Ek is bly jy sien dit so. Ek wou graag verder as verwonding skryf.

Dan, na die einde toe, begin rooi sterker figureer. Een keer is dit om die vrou se mond rooi te maak, rooi teen die wit (in "as ek baie oud is") en in die pragtige beeld van die rooi disa ("in april kom die st. josefslelies"). Hoe kontrasteer rooi met die wit en grys ballingskap?

Die ballingskap is in die kop en in drome. Ek droom nie in kleur nie. Kleur is belangrik in die verruklike Pringlebaai-landskap.

Die twee kleure wat uitstaan, is blou en geel. Is blou positief? Is ek reg as ek dink blou gee hoop, al is baie van die gedigte gevul met die blues? Blou is ook die kleur van water, lewe dus, in teenstelling met die blues.

As die gedigte gevul is met blues is dit weer eens weens voorkeur eerder as verwonding. Vir my lê daar hope energie (dus lewe) in die blues. Blou is die kleur van water ... wonderlike poëtiese frase.

Blou is egter vreeslik Europees, soos in die pragtige gedig "ultramarine-studie". Is blou dus 'n kleur wat, danksy die water, grense oorspoel?

Hierdie is 'n uiters relevante vraag, want ek beskou die digbundel as sterk Europees. Dit het te make met 'n omarming van 'n Europese afkoms. My stammoer was Maria le Febré, 'n tweedegeslag Franse Hugenoot, wat destyds met Franz Haarhoff getrou het. Hulle het op die plaas La Motte net buitekant Franschhoek gebly en gewerk. Die meeste van my kreatiewe werk voor Die waterbreker was Afrika-georiënteer.

(EUROPA: Melanie het ook geweldig baie werk gedoen oor die skilderye van Breyten Breytenbach. Sy en 'n professionele fotograaf het baie tyd in Europa deurgebring om Breytenbach se werk te dokumenteer.)

Voorts sê die einste gedig ("ultramarine-studie") oor die kleur van lapis lazuli dat hierdie blou ook 'n klank is waarna die verteller luister in die katedrale waar "deesdae konsert gehou" word: "'n beweging van klank oor golwe/ dis die ultramarine-studie/ waarna die vrou luister as ons oor haar skryf". Wat is 'n blou klank?

Wat is blou klank anders as blou wat grense oorspoel?

Jou gebruik van geel is interessant. In "plosj aan die wolga" loop die verteller oor geel blare (herfs) net voor die water verys (winter). In die gedig "die binnevrou", wat die deel van die bundel met die dieselfde naam inlei, hoor ons die vrou moet "weereens uit die pit van borrie opstaan", want haar ballingskap (hier genoem haar "diaspora") sal "soos verstrooide borrie wees/ gemorste geel wat vergaan op wit klippe in 'n droë land". Geel is gewoonlik 'n warm kleur, maar in die bundel is dit 'n kleur van gevaar, as ek dit nie mis het nie. Selfs geelvis maak spartelende geluide, al of hulle sukkel in die see. Wil jy hierop uitbrei?

Ek het my opleiding in die kunsgeskiedenis en skilder self ook; hoofsaaklik met olieverf op doek en gebruik sterk primêre kleure. Miskien is dit die rede vir die kleur in die digbundel. Dis natuurlik relevant vir die onderhoud om hierdie vrae te vra en die onderhoud is 'n belangrike sosiale gebeurtenis. Maar digkuns is ook soos musiek. 'n Mens kan 'n vers lees en jouself toelaat om in 'n emosionele ruimte in te beweeg en dan bloot prerasioneel te beleef.

Teen die einde maak die verteller egter berusting in geel. Dit loop saam met die "ontdekking" van rooi. Sy geniet nou "geelstert in die oond gebak" (in "die belydenis"), en in die heel laaste gedig, "geel oktober",maak die verteller vrede met geel: "ek wil langs hierdie sterkte slaap / slaap by daardie boom daardie geel / daardie netwerk van wortels in die onderlandskap".

Hier word geel gebruik om die beeld van die boom met sy netwerk van wortels in die onderlandskap te versterk en te onderskraag. Groot gedeeltes van die digbundel is 'n afdaal na die onderlandskap. Die Middelwêreld.

Hang die aanvaarding van geel en rooi dalk saam met die aanvaarding, in die herfsjare van die lewe, dat kinders nie meer moontlik is nie?

Die woord aanvaarding is uit vir my. Nee. Aanvaarding is vir my 'n passiewe oorgee. In die herfsjare van die lewe? Wanneer is mens in die herfsjare van die lewe? Daar is wel drie kinders en drie gedigte wat vir hulle geskryf is.

(INVAL: Dis juis oor die kinders en oor die storie van aanvaarding waar ons nogal koppe gestamp het. Melanie het drie kinders van haar eie, maar ek het aan haar genoem dat die boegvrou in die bundel nooit aan my vertel het dat sy kinders het nie. Melanie verskil egter. Sy sê die gedigte "en die nagtegaal het gekom", asook "in april kom die st. josefslelies" is duidelik vir kinders geskryf. Goed en wel, sê ek, maar dit kan ook wees dat die boegvrou vir haar hierdie kinders verbeel ...

Melanie is egter iemand wat baie anders is dié boegvrou; sy is 'n geweldig gelykmatige mens. Sy beskryf haarself as 'n goeie ma, 'n goeie vrou en 'n goeie huisvrou.

Dan, die kwessie van "aanvaarding". Ek sê die laaste deel van die bundel is definitief vir my baie ligter, baie warmer. Melanie sê dat dit te doen het met die manier waarop sy geskryf het. Soos sy makliker geskryf het, het die laaste deel ligter geword.
)

Van jou mooiste gedigte handel oor Afrika. En dan natuurlik kos, soos ons dit hier in Afrika ken. In "'n teelepeltjie heuning" staan daar: "om jou hart te troos/ neem my handpalm, ma/ 'n teelepeltjie, 'n bietjie son/ hier mag jy slaap in die reuk van heuningpapier". En dan is daar die wonderlike "die belydenis": "liewe god, ek is versot op pampoenkoekies/ en die donker soet lyf van die man/ ook 'n koppie rooibostee     geelstert in die oond gebak/ reuke van kaneel en naeltjies/ so watter soort profetes is ek?" Wil jy iets sê daarmee? Kan jy al jou eie vraag van die laaste strofe beantwoord?

Ek het 'n alleroorheersende sin vir sosiale verantwoordelikheid en het die digbundel geskryf vir ons transformasie. Soos die Duitse skilders Joseph Beuys en Anselm Kiefer ingestaan het vir die verwonding van 'n samelewing. Van my kant af is dit iets irrasioneels. En hoe kan ek ooit so 'n groot verantwoordelikheid aanvaar as ek versot is op pampoenkoekies en die lyf van 'n man?

Ek het vroeër vlugtig verwys na die triomfantelike reis na Noord-Afrika. Die reis vind plaas net nadat die tweede deel van die bundel, "middelwaters", 'n laagtepunt bereik het in "plosj aan die wolga". Voor ons na Noord-Afrika reis, is ons terug in die koue Rusland. Die water vries: "soos leë beenholtes     die verbrande droom verval tot grys as/ wanneer die ortodokse christus die brandgang van die winterwaters stol". En dan kom die hoop in die warm Afrika-kontinent. In die laaste gedig in daardie deel (wat eintlik uit 'n drieluik bestaan) ontdek die vrou water in die "reis deur noord-afrika". Dis pragtig: "tydens ramadaan glip my/ los heupe soos 'n maangedaante uit die bed (...) weg     weg     altyd na reënvensters waar ek twee deure oopgooi/ my mond skater     ontvang die skaarste van water". Wil jy uitbrei?

Ek moet noodwendig sê dat ek 'n reis saam met my dogter Lara na die eksotiese Marokko onderneem het. Moontlik uit die KERK na ander vreemde gelowe? Ek weet nie.

Ek het nog 'n paar vrae hieroor. Sou die hitte van Noord-Afrika iets te doen hê hiermee, of is daar iets in die godsdiens? Die "ortodokse christus" kry die skuld vir die ys, maar juis tydens "ramadaan" vloei die water weer?

Ja.

Is ek verkeerd om dié nuutontdekte water moontlik eroties te interpreteer? Ek verwys na die "los heupe", die "reënvensters waar ek twee deure oopgooi" en in die derde van die drieluik die man se "fors bruin stam of wit stok/ wat nooit die soektog van 'n nuwe skede/ sal versaak nie".

As skrywer bly die erotiek vir my belangrik. Ek wil graag in die toekoms meer daaroor skryf.

Om voort te borduur ... in die tweede van die drieluik staan 'n man uit die dood op. Het dit iets te doen met die nuwe sensualiteit van die vrou in die eerste deel? Ontdek hy dalk iets wat hom op aandag laat staan?

Die teks, die digbundel, is 'n oop ruimte wat die moontlikheid bied vir vele interpretasies. Ek werk die afgelope tyd met die begrip Diep Demokrasie - dis dan vanuit hierdie vertrekpunt dat ek jou die vryheid gee om dit so te interpreteer.

Goed, vertel ons nou jóú storie. Dis tyd vir 'n stukkie biografiese inligting. Van waar die fassinasie met die koue Noorde?

Ons was op ses geleenthede in Rusland en het drie bootvaarte op die Baltiese See geneem. Om Rusland, veral Moskou, te leer ken was 'n aangrypende ervaring. My dogter was as diplomaat daar. Wat die Baltiese See betref - ek voel totaal tuis daar. Asof ek lank daar gebly het en op daardie see uitgegaan het.

Ek gaan nou-nou meer vra oor die digters van die koue Noorde. Het hulle iets daarmee te make?

Ek het groot bewondering vir beide Brodsky en Milosz se werk. Ook Mandelstam.

Wil jy iets sê oor jou eie lyf en die (on)vermoë om kinders te wek? Jou huwelik? Jy skryf Pringlebaai in die bundel in. Dis waar jy woon ...

Glo dit as jy wil, ek het wel drie kinders. Wat my lyf betref - ek was ernstig siek in my twintiger- en dertigerjare. 'n Grensverskuiwende ervaring. En as mens eers oor die grens is, kan jy nie terugkeer nie!

Die bundel is opgedra aan Pieter?

Dis my man. Hy kom uit 'n gesiene Afrikaanse familie wat sedert 1910 diep spore in die Suid-Afrikaanse politiek getrap het.

Ek wil terugkeer na daardie Noordelike digters wat so saamgesels in jou bundel. Van die aandoenlikste gedigte in die bundel is "lied vir 'n ongebore kind". Osip Mandelstam het gesê: "Perhaps my whisper was already born before my lips." Is skryf dus die vermoë om oor tyd en lewe heen te kommunikeer?

Hoe wonderlik stel jy dit. Ek kan nie daarop verbeter nie.

Joseph Brodsky, oor wie jy ook dig, het gesê: "I who write these lines will cease to be; so will you who read them." Dit het hy in sy Nobel-rede gesê, kort na dié woorde: "The poet, I wish to repeat, is language's means for existence." Sê jy dalk: "Julle (my waterbrekerkinders) het opgehou bestaan, daarom skryf ek. Daarom is ek die 'means of existence' van die blou taal"?

Ek glo nie die verlies van die ongebore kinders het my so diep geraak nie. Daar was tog ander kinders. Die gedigte wat ek geskryf het, is eerder 'n huldeblyk.

Czeslaw Milosz, jou ander diggenoot, het ook aangedui dat hy, ten spyte van sy woorde, sal verdwyn terwyl die see sal aanhou asem haal, die groente sal aanhou groei. Is dit dalk waar die wortels in jou laaste gedig anker? Daar is in die Engelse vertaling van "Conversation with Jeanne" die volgende wonderlike insig: "Untranslatable into words, I chose my home in what is now,/ In things of this world, which exist and, for that reason, delight us:/ Nakedness of women on the beach, coppery cones of their breasts,/ Hibiscus, alamanda, a red lily (…)". Sou dit ook die filosofie wees teen die einde van die bundel? Sou dit die rede wees vir die herontdekking van kos en die erotiek?

Dis 'n belangrike vraag. Want voor en na die filosofie kom die lewe. Kos, die erotiek en om in die oomblik te lewe.

Daarmee moet ek seker tot siens sê, al woel daar nog baie vrae oor dié boeiende bundel. Ons het nog nie eers oor die voëls gepraat nie! Is daar nog iets wat jy sou wou byvoeg?

Baie dankie vir die onderhoud en die goeie vrae. Dis my voorreg om met julle te kommunikeer.

* * *

My tweejarige seun het noodgewonge, maar op Melanie se uitnodiging, die uitstappie meegemaak. Na hy dikwels ons diep gesprekke met sy uitbundige lyfie gedekonstrueer het, sit hy op my heup toe ons gaan. Hy is my "boegseun," kom die term by ons op.

Ek, Coenraad en die boegseun groet uiteindelik en gaan stap langs die see waar die son ondergaan oor Pringlebaai se stil water. Toe dit sterk donker word, draai ons om.

"Tata see. Tata bamboes," sê my boegseun en waai vir die laaste strale van die rooi son.


Roepman

Die Waterbreker-kompetisie

Staan die kans om 'n eksemplaar van Melanie Grobler se bundel Die Waterbreker te wen!
(Boeke geskenk deur Tafelberg Uitgewers)
Om te wen stuur die e-pos addresse van almal wat u dink ons nuusbrief wil ontvang aan
Sharon@litnet.co.za


LitNet: 16 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.