Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Besoek die toneel van die misdaad saam met Marlene van Niekerk

Jansie Kotzé

Helder bruin oë intimideer met die intrapslag. Maar terselfdertyd is daar ook ’n deernis en ’n broosheid wat Marlene van Niekerk omgewe. So asof die lewe haar kunstenaarsiel al ’n paar taai snotklappe gegee het. Die sensitiewe jong digter van “troetelwoorde vir ogilvie douglas” het plek gemaak vir ’n sensitiewe ouer skrywer. Dit is hierdie mengsel van terselfdertyd hardegat en skroomteloos weerloos wees, wat ’n mens aantrek na Marlene. Haar toon- en kopstamp deel sy met ewe veel vrymoedigheid.

Marlene van Niekerk se Triomf het lesers en kritiekskrywer aan die praat en die broei. Die boek lok beslis gemengde reaksie uit. Akteur At Botha lys dit as sy gunstelingboek, terwyl ’n Engelse vriendin sukkel deur die (vertaalde) werk. Haar ma sê “sit neer die boek”, maar sy kan nie. Marlene self dink nie dis ’n boek vir almal nie. Sy het selfs haar ouers belet om dit te lees, wat blykbaar nie haar raad gevolg het nie. Behalwe dat die boek haar pa ontstel het, weet sy nie wat hy daarvan dink nie.

Nou byna vyf jaar nadat die boek verskyn het, praat Marlene nog steeds met entoesiasme, maar ook met afstand en perspektief oor haar best seller. Dit was met die opspit van haar agterplaas in die toe-nog Triomf, (nou Sophiatown — ’n voorstad in Johannesburg) dat die storie van Treppie en Kie gebore is. “Triomf het hom aangemeld via die pitgraaf waarmee ek gespit het in die groentetuintjie wat ek aangelê het. Al die rubble en albasters, porselein, geroeste rioolpype wat daaruit gekom het, het my gedwing om daarby te gaan sit. Dit was ’n stoflike en fisiese konfrontasie met die geskiedenis wat daar afgespeel het. Ek het gewonder hoe het die mense van Triomf so gekom. Watter effekte het sosiologies ingespeel? Hoe meer ek geskryf het, hoe meer het ek gevra: Hoe het dit gekom soos dit gekom het? Hoe het ander tye gekom soos dit gekom het? En daarna: Hoe het ek gekom soos ek is? En die groot vraag: Hoeveel van wat ons is, is deur ons eie keuse bepaal en hoeveel is deur omstandighede ingegee? Dit raak ’n wysgerige kwessie en daar slaan die Calvinisme lekker deur. Vir my sal dit altyd ’n mengsel wees — jy is verantwoordelik vir wat met jou aangaan, en ook verantwoordelik om te verstaan wat met jou aangaan.”

Marlene se gunstelingkarakter is Treppie, “want hy is so ’n hel, ’n anargistiese freak”. Marlene sien al die karakters as deel van aspekte van ’n mens. “Almal het verskillende soorte oplossings vir die geneuk waarin hulle sit. Hulle is almal eksistensiële opsies. Mol se opsie is gelatenheid, delusion. Lambert moer als kort en klaar as hy dit nie kan orden nie. Hy gryp die chaos en probeer dit orden. Treppie vergooi homself in chaos met verslingerdheid in taal, sy opsie is dié van die nihilis. ‘Dit is ’n fokop so let’s fuck it up some more.’ Dit is ons drie keuses om ons omstandighede te konfronteer: passief, aktief of reflektief. Hierdie mense is nie gedegeneer in soverre dat hulle nie die luukses van opsies het nie.”

Marlene besoek Triomf/Sophiatown nog soms, sy het immers drie jaar daar gewoon. “Ek word nog af en toe teruggedryf na Triomf, miskien deur dieselfde ding wat ’n misdadiger dryf na die plek waar die misdaad gepleeg is,” sê sy met ’n selfverydelende glimlag.

Sy erken ruiterlik dit was ’n moeilike boek om te skryf. “Van 1991 het die storie in my kop gespook. In Desember 1992 het ek dit begin skryf. Toe’t ek gedink: Nou gaan jy jou gat sien. Dit was baie eksperimenteel, ek het ook nie geweet waar de fok ek moes begin nie. Die boek het my laat dink. Dit het my laat grawe in argiewe, met getroebleerde gemoed laat rondloop, dit was depressing.”

Marlene het reeds ’n voorskot van ’n oorsese uitgewery vir haar volgende boek. Maar sy is huiwerig om te begin skryf. “As jy ’n boek soos Triomf skryf, maak jy nie vir jou ’n maklike bed om op te slaap nie. Nou is jy aan jouself verantwoordelik en aan alle ander mense wat jy ken.” Op die oomblik werk sy aan ’n reeks kortverhale wat haar voltyds besig hou, so, die boek sal moet wag tot die einde van die jaar.

Marlene praat ietwat nostalgies oor haar grootwordjare. Sy het grootgeword in koringbougebied bekend as die Rûens in die Suidwes-Kaap op ’n proefplaas wat haar pa ontwikkel het langs Riviersonderend. “My grootwordjare het ’n landelike allure gehad waaroor ek dankbaar is. Via plante en diere is ek sensitief gemaak vir ’n hele klomp goed soos die dubbelsinnigheid van die dood en die lewe. Jy word fisies gekonfronteer met skape wat lam en lammers se sterte wat afgesny word.”

’n Mens kry die idee dat Marlene se verbeelding aangewakker is deur die kleindorpse sagas. “Op ’n klein dorpie is ’n mens onder die indruk van die grootmense, soos die klein ontwikkelaars en die kafee-eienaars, die larger-than-life tipe verhale wat hulle self afspeel en wat jy optel. Die interaksie tussen grootmense en kinders is ook meer as in ’n stad. In retrospek was dit ’n baie romantiese tyd. Die oubaas wat die enigste bioskoop op die dorp gehad het, het gereeld die films van agteraf gespeel, of aan die slaap geraak en die films het aan die brand geslaan wat ’n groot indruk op my kindergemoed gemaak het. Ek onthou hoe die bruin mense Miranda-koeldrank van die galery afgespoeg het oor die Ku Klux Klan movies, waarvan ons natuurlik niks verstaan het nie,” nou kopskuddend oor die onkunde van toe.

Marlene was een van Stellenbosch se topstudente, en haar gedigte wat tydens haar studentejare gepubliseer is, word steeds voorgeskryf by Afrikaans-departemente landswyd. Oor haar jare as universiteitstudent wy sy nie uit nie: “Ek het net my boekies gelees.” Haar akademiese sukses skryf sy toe aan goeie leermeesters. “Op skool het ek goeie onderwysers gehad, veral ons koorjuffrou, Acáma Fick, het via koormusiek ’n hele klomp goed vir ons geleer. Soos die idee van intimiteit met die self, die idee van begeer na die volmaakte, die idee van die buitenissige erotiek. Sy het ons emosionele lewens gevorm. Alles wat ek van die lewe geleer het, het daai vrou my geleer. Sy het dinge gesê soos: ‘Wat is begeerte sonder tegniek in musiek, net soos in die liefde’ waarvan ons natuurlik niks verstaan het nie. Eers later het ek die waarde van die woorde besef. Onderwysers is potensie-lêers.”

Alhoewel Marlene in die tagtigerjare ’n tyd lank in Nederland gebly het, het sy op die oomblik geen planne om die land te verlaat nie. “Eintlik oorweeg ek dit elke nag as ek die geweerskote hoor opklink soos in ’n grensoorlog. Maar dan dink ek aan die woorde van Marcus Aurelus, ’n stoïsan uit die Romeinse tyd wat in sy Golden Note sê: ‘As ’n mens vrede in jou gemoed soek, dan moet jy nie na verre kuste verlang nie, maar diep in jouself keer waar jy hoort’,” weer die selfverydelende smile-tjie. “Ek probeer maar sy raad volg.” In enige gesprek met Marlene bly die filosofie nooit ver agter nie.

Boeke blyk om Marlene se lewe te oorheers. Haar oorlaaide boekrak getuig van ’n wydbelese akademiskus — Kant staan gemaklik langs Marx en ietwat ongemaklik langs Paglia. Ten spyte van haar (dare I say it) liefdesverhouding met boeke, het haar persoonlike triomfe nie met boeke te doen nie. “Dit het te doen met die suksesvolle laat blom van die iris germanica met die naam ‘gypsy prince’, dan is dit net moue en seinture waar jy kyk. Ander triomfe is om ’n klomp mense te nooi en plat skottels kos op te dra en te kyk hoe hulle dit eet. Dit gee my momente van diep triomfantlike bevrediging.”

Wel, Marlene is nou op pad Stellenbosch toe, en ek is seker daarvan daar sal ook honger gaste en hopelik leergierige studente wees. Sy is al die afgelope dertien jaar in Gauteng. “Ek sal definitief my huis en die reuk van die Hoëveld op ’n wintersaand mis,” maar die helder oë blink opgewonde. Ek dink die Hoëveld sal Marlene heel waarskynlik meer mis. Met haar wye belangstellingsvelde en haar vermoë om te entertain met (soms die mees bisarre) stories, het sy in ’n paar harte gekruip ten spyte van haar hardegatgeit.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.