Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Antjie Krog

Arnold Blumer

Antjie Krog se jongste gedigbundel Met woorde soos met kerse is ’n versameling van vertaalde/verwerkte gedigte uit tien Suider-Afrikaanse tale, puik uitgegee deur Kwela Boeke met ’n inleiding deur Krog self, erkennings, ’n bronnelys en indekse van gedigte en digters. Tussen die gedigte en hoofstukke staan daar ook inligtingnotas oor die kulturele agtergrond waarbinne die gedigte ontstaan het.

AB: Ten spyte van wat u in u inleiding oor die gevare van veretnisering geskryf het, sou ’n mens hierdie bundel ’n etnografiese digbundel kon noem?

AK: Ek het so pas meegewerk aan ’n projek oor onbekende vrouetekste uit Suider-Afrika waar elke teks van ’n hoofnota voorsien is. By Ingrid Jonker staan byvoorbeeld dat sy ’n Afrikaner is, die tradisie en geskiedenis van die Afrikaner word kortliks beskryf, en ook word die politieke en literêre Afrikaanse klimaat waarbinne die gedig geskryf is, aangegee. Ek sou nie die boek van Dorothy Driver en Kie ’n etnografiese boek noem nie. Ook nie Met woorde soos met kerse nie — wel ’n poging om met hoofnotas die gedigte binne ’n konteks te plaas waarvan feitlik alles óf onbekend, óf uit ’n ander perspektief belig is.

AB: Sedert jare al bestaan daar in die etnografie twee kampe: die een sê jy kan nie ’n ander kultuur volledig beoordeel nie alvorens jy nie volkome deel daarvan geword het nie. Die ander kamp sê: As jy volkome deel van ’n ander kultuur geword het, laat jy die beoordelingsmaatstawwe van jou eie kultuur agter, dws jy sal die nuwe kultuur waarvan jy nou deel is, nie meer met “ander” oë kan sien nie. Waar staan u ten opsigte van hierdie twee kampe?

AK: As liefhebber van poësie staan ek nie in een van die kampe nie. Ek aanvaar dat ek die werk van Pablo Neruda, of Eluard, of Rilke nie werklik na die waarde binne-in hulle moedertale kan skat nie, maar weet tog dat hulle vele ander bv Engelse en Afrikaanse digters beïnvloed het. Dan is daar die dekades waarin gevra is waarom Brodsky kamma so groot is in Russies — in Engels is hy niks? Hy klink regtig niks besonders nie. Aan die einde van sy lewe het Brodsky sy eie werk in Engels begin vertaal en toe het mense begin sê: ja ons sien nou. Maar verlede jaar in Berlyn het ek gehoor dat daar tans ongelooflik pragtige vertalings van sy werk gedoen word. Vertaling is dus ’n wonderlike bydrae tot die taal waarin en die taal waaruit vertaal word — desondanks al die slaggate en hindernisse.

AB: Kan ’n mens hoegenaamd volledig deel word van ’n ander kultuur? Kan mens volledig deel wees van twee of meer kulture soos mens twee of meer tale min of meer perfek kan praat?

AK: Vir jare is gesê dat ek nie ’n Afrikaner is nie. Dus weet ek nie mooi wat bedoel word met volledig deel wees van ’n kultuur nie.

AB: As ’n mens ’n buitelandse besoeker iets wou vertel oor die ryk diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing, dan sou ’n mens graag hierdie boek in die besoeker se hand wou stop. Maar nou is dit in Afrikaans. Hoe nou gemaak?

AK: Van die mense wie se werk in die bundel opgeneem is, was bewoë van vreugde dat hulle gedigte in Afrikaans vertaal is. Dit het ’n mens onder die indruk gebring hoe erg dit is as jou taal ’n doodloopstraat geword het. As dit begin beteken dat indien jy in jou moedertaal skryf, jy nooit deel word van die land se aanvaarde, gekende en gerespekteerde letterkunde nie. Al manier hoe jy kan deel word, is om in Engels te skryf. ’n Mens sou dink dat in Suid-Afrika vertaling ’n daaglikse lewenswyse sou word. Maar nee, nie eers in Afrikaans bestaan daar ’n struktuur wat outomaties alle belangrike werke in Afrikaans in Engels vertaal en uitgee nie. So ek kan u nie met u buitelandse vriende help nie.

AB: Aangesien daar relatief min lesers in Suid-Afrika is wat Afrikaanse digbundels lees, wat het u genoop om hierdie gedigte, waarvan die meeste reeds in Engelse vertaling opgeteken is, in Afrikaans te vertaal?

AK: Eerstens: Die meeste van die gedigte is NIE in Engels vertaal nie. Plus minus 25 van die 117 gedigte is ook in Engels vertaal, maar dis feitlik onmoontlik om vandag ’n kopie van enige hiervan te bekom. Geen boekwinkel hou inheemse digbundels aan nie; die paar vertalings wat bestaan, is óf uit druk uit, óf net by ’n plek soos die nasionale biblioteek in Kaapstad beskikbaar. ’n Paar van die vertalings verskyn in tesisse. Selfs as u na die oorspronklike Bleek-argiewe teruggaan, sal u sien dat ’n keuse daaruit nie anders kan as om drasties van mekaar te verskil nie. Die paar vertalings wat ek toegang toe gehad het, is goedgunstiglik deur die keurders van die gedigte aan my geleen. ’n Engelse bloemlesing uit enige van die tale bestaan glad nie.

Tweedens: Persentasiegewys lees en koop meer Afrikaanse mense digbundels as Engelssprekendes.

Derdens: Afrikaans is die taal waarin ek dig.

AB: Daar is lankal in Suid-Afrika ’n debat aan die gang dat ’n verteenwoordiger van een kultuur nie vir ’n ander kultuur kan/mag/durf praat nie, veral nie “wittes” vir “swartes” nie. Maar met hierdie digbundel doen u presies dit. Of sien u uself as ’n woordgewer vir die stemloses?

AK: U maak ’n fout. In die gedigte praat mense uit die tale juis self. Die informasie wat beskibaar gestel is in hoofnotas, kom óf van die moedertaalsprekers self, óf uit verskeie akademies nagevorste oorde. Niemand praat dus namens iemand nie.

AB: Meermale verwys u in u inligtingnotas daarna dat ’n sekere gedig baie jare ouer is as die Afrikaanse taal. Steek daar ’n doel agter hierdie verwysings?

AK: Nee.

AB: By die deurlees van hierdie bundel het ek af en toe ’n gevoel van nostalgie (hoe anders alles sou kon gewees het) bespeur. Lees ek die bundel verkeerd?

AK: Ek dink so. Nostalgie beteken terug verlang na iets.

AB: Baie dankie vir hierdie gesprek/onderhoud/uitruiling van gedagtes (of hoe sal ons dit noem?).

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.