Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Twee nuwelinge in gesprek

Izak de Vries gesels met Herman Wasserman

LitNet plaas hier ’n onderhoud met Herman Wasserman. Hy is ’n semifinalis in De Kat en Human & Rosseau se Vonkfiksiewedstryd, waarvan die wenners pas bekendgemaak is.

Die wenner van die wedstryd is Nanette van Rooyen met haar verhaal “Tollie Hans”.

Onder die semifinaliste, en diegene van wie tekste vir publikasie geselekteer is, was ’n heel paar nuwe name, maar ewe veel veterane. Een van laasgenoemde, Herman Wasserman, is bekend vir sy kort, gedronge werk. Sy verhaal “ ’n Vrou se hande” is as semifinalis en wenner van een van die R1 000-pryse aangewys, terwyl nog een uit sy pen, “Diamante is vir ewig”, ook in die bloemlesing opgeneem sal word. Ons sal nog daaroor berig hier op LitNet.

Herman is in Port Elizabeth gebore en getoë en het twee honneursgrade (een in Afrikaans en Nederlands, een in die Joernalistiek), asook ’n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands behaal. (Steeds is dit het einde niet, soos ek sou agterkom toe ons aan die gesels raak.)

Sedert 1994 werk hy by Die Burger se kunsredaksie — heelwat lesers sou al met sy resensies kennis gemaak het.

In 1997 verskyn sy bundel kortverhale, Verdwaal, by Human & Rousseau-’n teks waarin heelwat kortfiksie verskyn. Gaan lees gerus die verhaal “Ek is nie nou hier nie, maar los gerus ’n boodskap” (in Verdwaal) oor hoe om nie ’n onderhoud met iemand te voer nie! Dit is een van sy langer verhale, maar vir diegene wat sy kortkuns wil beproef, kan ek solank “Gert is in die wolke” aanbeveel.

Izak de Vries het hom elektronies opgespoor in Nederland, waar sy blonde kuif nou net-net bo die swaar kraag van sy jas uitsteek.

IDV: Hallo, Herman. Ek kan begin deur geluk te sê met die Vonkfiksieprys.

HW: Baie dankie. Die prys is ’n lekker aansporing.

IDV: Jy en Helena is tans in die koue Nederland. Vertel ons ’n bietjie meer? Hoekom is julle daar?

HW: Ek is besig met navorsing vir ’n doktorale proefskrif oor multikulturalisme in die letterkunde, en doen ondersoek hier by die Rijksuniversiteit van Leiden. Verder verloor ek my kulturele onskuld deur my met oorgawe te verlustig in al die verleidelikhede van Europa se oorweldigende aanbod.

IDV: Herman, ek gaan nou-nou meer uitvra oor die studie, maar wil eers terugkom na die Vonkfiksie-idee. Ek was glad nie verbaas dat jy goed gevaar het nie, want jou styl is van nature uiters gedronge. Heelwat van die stories wat in Verdwaal verskyn het, is waarskynlik korter as 800 woorde? Hoekom?

HW: Ek het ’n baie kort konsentrasievermoë, dink ek, daarom dat die verhale so kort is! Maar ek hou ook daarvan om te suggereer eerder as om ’n ding heeltemal uit te sê.

IDV: Die groot De Vries, Abraham H., het op ’n dag vir my gesê dat ek nie moet foeter met romans nie. Kortverhaalskrywers is eenmaal kortverhaalskrywers... Ek het ’n idee dat jy nogal sal saamstem?

HW: Ek sal wel graag eendag ’n langer teks wil skryf, ek dink dit sal erg bevredigend wees om ’n roman te skryf. Maar ek sal nog eers moet leer om ’n goeie storie te vertel, om te konsentreer op ’n verhaallyn. Ek het groot bewondering vir skrywers wat deur dialoog karakters kan laat lewe en ’n intrigrerende storie kan opbou. Ek het nog veel te leer wat die aanmekaarweef van ’n lang verhaal betref. Maar ek dink jy is reg dat sekere skrywers in die eerste plek kortverhaalskrywers is en altyd op hul beste in dié genre sal voel.
    Ek is egter nog te veel van ’n groentjie-skrywer om al te se ek “is” ’n kortverhaalskrywer en niks anders nie. Wil en moet nog baie oefen, en om ander genres uit te probeer is deel van die leerskool, dink ek. Maar ja, ek is lief vir die kortverhaal, sowel om dit te skryf as om te lees.

IDV: Om die een of ander rede verkoop romans beter — ook internasionaal. Dit “puzzle” my, soos die Nederlanders sê. Aan die een kant het ons ’n hele kommunikasieproses wat gemik is op die “sound bite”, aan die ander kant verkoop kortfiksie, waarin jy een van die voorlopers is, nie vreeslik goed nie?

HW: Ja, dit is nogal vreemd. Tog is die kortverhaal in Suid-Afrika ’n baie meer produktiewe genre as byvoorbeeld in Nederland — in SA verskyn daar relatief baie kortverhaalbundels en word kortverhaalskrywers ook as skrywers in hul eie reg beskou, nie asof kortverhale maar ’n vingeroefening is vir langer werk nie. So ek dink ons is nog in dié opsig gelukkig. Maar natuurlik is die Afrikaanse mark in SA ook maar net só groot. Wat die kopersvoorkeur vir romans betref — ek dink die klem wat in romans op ’n boeiende verhaal geplaas word, trek lesers. Kortverhale, wat weens hul suggestie en “oopheid” of “onvoltooidheid” dikwels ’n groter rol van die leser verg, lyk dalk vir baie mense soos te veel moeite, te harde werk. Wat natuurlik onregverdig is — ’n mens moet nie alles met ’n lepel gevoer wil hê nie. Maar die keuse lê tog uiteindelik by die koper, ’n mens kan nie voorskryf nie. Die ideaal is dat ’n mens sou kon sê dat jy skryf of uitgee ongeag of mense dit koop en lees of nie, maar so werk dit ongelukkig nie. Die uitgewersbedryf is ’n sake-onderneming en moet hom deur die mark laat lei. Wat ook nie beteken dat die mark nie dalk aangespoor moet word om sy kooppatrone aan te pas nie!

IDV: Wat het jou maak skryf?Waar het dit begin?

HW: Ek het maar altyd nog gehou van skryf, selfs op skool al van opstelle gehou (tot groot verbasing van die ouens wat gesien het dis makliker om meisies te kry deur rugby te speel). Toe op universiteit maar gediggies gepleeg, maar ek het ’n vreeslike neiging tot sentimentaliteit wat ek makliker in toom kan hou in prosa.

IDV: Verdwaal was ’n stadsboek, deur en deur. En jy het die “groot familie” wat in die stad bly met ’n klein hoeveelheid woorde vasgevang. Nou sit jy in Nederland, een van die digsbevolkte lande ter wêreld. Skryf jy tussen jou studie deur? Ek wil eintlik weet hoe jou skrywersoog hierdie samelewing opsom?

HW: Ek probeer tyd maak vir skryf, maar skeep dit bietjie af. Hier is natuurlik soveel indrukke wat my tref dat ek nie altyd weet waar om te begin nie. Ek is ook maar versigtig om te skryf oor ’n samelewing waarvan ek nie deel is, of waarvan ek nie veel weet nie. ’n Mens kan maklik verval in toeristiese beskrywings of slim uitsprake probeer maak terwyl jy eintlik nie ’n benul het van wat hier aangaan, wat die onderstrominge, die spanninge, die energieë is nie. En bowendien: net omdat dit my eerste besoek is en ek so getref word deur verskeie dinge, beteken dit nie dat ek ander mense wat al veel meer berese is as ek met my stories van anderland mag verveel nie. Vakansiekiekies kan erg saai wees vir buitestanders. Maar reis is ’n sterk impuls vir skryf.

IDV: Jy is nogal krities oor (wit) Suid-Afrikaners wat hulle nie as deel van Afrika kan of wil sien nie. Hoe voel jy en Helena nou daar in Europa?

HW: Ek voel al meer soos die motto voor in Breyten Breytenbach se skitterende nuwe bundel Dog Heart, dat dit eers is wanneer ’n mens in geen land tuisvoel nie, dat jy kan sê jy het ’n soort vordering gemaak:

The man who finds his country sweet is only a raw beginner; the man for whom each country is as his own, is already strong; but only the man for whom the whole world is a foreign country, is already perfect.
— Erch Auerbach

IDV: Het dit iets te doen met die “multikulturalisme” in the proefskrif?

HW: Mmm, nee, ek sou nie sê my persoonlike gedagtes daaroor vloei in die eerste plek uit my navorsing uit nie. Maar dis tog interessant om te sien op hoeveel plekke ’n mens soortgelyke gevoelens raaklees. Mense wat besin oor waar en wat tuiste is.

IDV: Vertel dan vir my iets meer oor die stramien van jou studie — net so iets om my te laat verstaan waarnatoe jy mik, asseblief.

HW: Jong, ek is maar self nog aan die rondtas en kom al hoe meer agter dat Sisifus se hele berg nog voor my lê. Maar dit sal min of meer gaan oor hoe kulturele groepe mekaar sien in die letterkunde, op watter manier daar in postkoloniale tekste wegbeweeg word van ’n opposisie tussen die eie en die ander na ’n meer hibridiese situasie.

IDV: Jy het netnou gesê dat jy bang is om te skryf oor ’n omgewing wat jy nie ken nie. Nou kyk jy teoreties na die multikulturele aspek...

HW: Fools rush in where angels fear to tread, dink ek.

IDV: Jou verhaal “Lift”, uit Verdwaal, is een van die einaste verhale oor armoede wat ek nog gelees het. Waar ken jy daardie armes vandaan? Het jou joernalistiek iets daarmee te doen?

HW: ’n Mens sien maar goed rondom jou raak, en verbeel ’n klomp goed by. Ekself het baie bevoorreg grootgeword. Maar om in Suid-Afrika te leef en nie armoede raak te sien nie, is natuurlik gewoon onmoontlik.

(Hier in die helfte van ons gesprek vind ek en Herman toe uit ons is albei in 1969 in dieselfde stad, Port Elizabeth, gebore. Ons het mekaar egter eers verlede jaar ontmoet, maar klein soos die wêreldjie maar is, was ek en sy vrou, Helena, toevallig op dieselfde skool in Pietermaritzburg. Vir haar het ek wel geken, maar dis ’n stuk praat wat nou nie ter publikasie is nie. Ek was wel ondeund genoeg om hom oor sy ouderdom te pols, en vlymskerp soos hy is, word die antwoord toe volrond afgelewer binne ’n paar woorde — ’n geval van vonkfeite?)

IDV: Ek en jy is ewe oud. Twee resensente, Joan Hambidge en André le Roux, het nou al in resensies gesê dat ek maar gerus nog ’n bietjie moet leef — die skrywertjie se hakskoene is nog rooi. Ek aanvaar dit, maar wil nou aan jou as tydgenoot vra — hoe “oud” moet ’n mens wees? Kom ons praat oor jou en Tom Dryer, Jaco Botha en ek. Daar is ook Anoeschka von Meck se teks wat onlangs groot opslae gemaak het en baie goed verkoop?

HW: Ja, ek weet nie eintlik nie. Moeilike vraag dié. Dit hang saam met die kwessie van of ’n mens oor iets mag skryf waarvan jy nie deel is nie, of nie self ervaar het nie. Ek dink ’n mens mag, solank jy dit oortuigend doen. Daar is tog verskillende soorte ouderdom, nie waar nie? Jy kan tagtig jaar oud wees en steeds naïef.

IDV: Jy is nou een van die jonger skrywers wat in die tweede helfte van die negentigs gedebuteer het. Hoe voel jy oor literêre bewegings? Dink jy byvoorbeeld dat ons iets nuuts moet of kan najaag?

HW: Ek is maar versigtig vir oorkoepelende name vir bewegings, daar word dalk ’n soort monoliet geskep, nuanserings verdwyn soms by die deur uit. Maar groeperings kan ook soms handig wees, maar dit moet nie belangriker word as die individuele denke nie, die eie idees nie... Ek dink ons moet nou maar net bly wees as daar beweging as sodanig is, nie noodwendig ’n beweging met watter naam ook al nie.

IDV: Een van die goed wat wel deeglik in jou boek tot uiting kom, is die mens wat vasgevang leef in ’n al kleiner wordende wêreldjie — deels ook weens geweld? In ’n resensie oor my teks het jy, onder andere, opgemerk dat Afrika duidelik nie vir “sissies” is nie?

HW: Geweld — ek persoonlik vind dat hoe daar in tekste gereageer gaan word op die totaal waansinnige afmetings wat misdaad in ons land aanneem, ’n beslissende moment in die literatuur kan word. Vir my persoonlik is dit in elk geval te skreiend om nié daaroor te kan skryf nie.

IDV: Dink jy dat die einde van apartheid en die grensoorlog vir ons meer “vryheid” gee om temas te kies?

HW: Nee, nie noodwendig nie. Ek dink jy is altyd vry om jou temas te kies, maar as jy sosiale kommentaar wil lewer, of ten minste ’n soort sosiale verantwoordelikheid sien in jou skryfwerk, is daar vandag nog net so baie dinge om in opstand teen te kom as apartheid en die grensoorlog. Ek sê nie dat daar nou dieselfde tipe ongeregtighede is nie, maar ek voel tog dat onreg of onderdrukking op verskeie vlakke lê en nie noodwendig staatkundig nie. Soos ek netnou genoem het — ’n mens moet byvoorbeeld op die geweld reageer, voel ek. Maar ook teen ander dinge, ontmensliking, onderdrukking, vervlakking, materialisering, waar dit ook al lê. Selfs in die mees demokratiese van samelewings.

IDV: Die feit is dat Viëtnam en die Tweede Wêreldoorlog steeds internasionaal gebesig word, ook in films ...

HW: Ja, maar ’n mens moet daardie oorloë ook dikwels as metafoor sien vir ander oorloë, dink ek. Die oorloë tussen mense in slaapkamers en raadsale. Viëtnam en die Wêreldoorloë, soos by ons miskien die grensoorlog of die struggle, word bakens waarna ’n mens terugkyk en sê — kyk, so wreed kan ’n mens teenoor ’n ander mens wees, dit is waar selfs die kleinste manifestasie van geweld sy logiese uiteinde het.

IDV: Die probleem is egter dat mense ook keelvol raak vir geweld. Ek het regtig al lesers gekry wat sê: kan julle dan net oor die negatiewe berig lewer?

HW: Ja, jy weet, ek is moeg daarvoor om in ons land te hoor hoe mense altyd sê “Daar is genoeg wat terneerdrukkend is, gee ons iets om oorte lag” en dit dan as verskoning gebruik om die alleroppervlakkigste snert te kyk of te lees of te luister of wat dan ook. Daar kan ’n diep verlossende moment wees in die rondkrap in die donkerte. ’n Bewuswording van jouself en jou situasie, wat dit vir jou moontlik maak om antwoorde te begin soek. Maar as jy dit heeltyd gaan verdoof met soetsappigheid of onwerklike, lieftallige stories, gaan jy nooit met jouself of die donkerte gekonfronteer word nie. En dan bly jy eintlik maar daar vassit. Krap oop die wonde, voel ek. Maar dit vra dapperheid. Maar... ek het simpatie met mense wat gatvol is vir geweldstories. Ons land het al baie houe verduur, ons steier so ’n bietjie rond hier in ronde twaalf.

IDV: Kom ons wees positief. Kan ons uitsien na ’n nuwe publikasie, of lê die D te swaar op jou rug?

HW: Hei, ek was positief...! Ek is maar voortdurend besig om te krap aan verhale, so miskien kom daar wel iets van.

IDV: Ek moet groet. Sterkte met die studie, en mag jy en Helena julle gate uit geniet! Dalk kan ek later ’n onderhoud met jou voer oor “multikulturalisme” — wanneer jy al ’n ekspert daarop is?

HW: Moet net nie die antwoorde te gou verwag nie!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.